Demokratiese verskeidenheid skep hoop

Leierskap-bemagtig

Argieffoto.

Hoop uit ons oormaat leierskap

Izak Nel Mentz skryf in ʼn artikel “Noodkreet van ʼn leierlose uitgeworpene” oor sy benoudheid vir Afrikaans en vir Afrikaners wat so leierloos is. Hy stel die uitdagings van vandag en dit lyk asof hy moed verloor omdat ons so verdeeld is, anders as ons helde van vroeër.

Ek kan hom ʼn  dag of twee besig hou met die talle uitdagings wat Afrikaans in die gesig staar. Ek moet egter van hom verskil oor hierdie twee punte:

  • Afrikaners het eerder te veelleiers as ʼn tekort aan leierskap en
  • Dit was vroeër ook so.

Te veel leiers

Vir Izak is Max du Preez en Steve Hofmeyr, Solidariteit, Afriforum en die Vryheidsfront Plus bewys daarvan dat Afrikaners in ʼn leierskapskrisis is. Die diversiteit stemme wat vir die Afrikaner praat verwar hom en oortuig hom dat niemand die krag het om ons te verenig nie. Selfs kerke skeur.

Ek sien dit anders. Ek sien ʼn paar persoonsname wat aan die een kant jare lank gevra het hoekom Cecil John Rhodes se standbeeld nog staan en aan die ander kant meer as een keer ten gunste van die behoud van Paul Kruger se standbeeld gaan protesteer het. Dit is ʼn bewys van lewendige opinies, mense wat dink oor dinge – en wat nie presies dieselfde dink en sê nie. Dis krities vir enige ware gesprek dat die verskillende partye nie net een siening moet hê nie. Hoekom die verwydering van Rhodes enigsins met Kruger in verbinding gebring moet word, is hoeka iets wat ek omtrent so sleg verstaan as die verbintenis tussen Rhodes en die standbeeld ter verering van die perde wat in die 3-jarige oorlog gely het.

Ek sien ʼn vakbond en ʼn burgerregte-organisasie en ʼn politieke party. Net soos Cosatu, die Black Sash en die ANC. Jy kan een, twee of al drie ondersteun sonder dat die een in die ander opgaan of mekaar hoef teen te gaan. Soms kom hierdie verskillende organisasies teen mekaar te staan, soos wanneer die ANC onder Manual planne maak vir ʼn meer kapitalistiese ekonomiese beleid en Cosatu minimum lone wil opjaag. Daardie spanning is normaal en nodig.

Dalk moet ons eerder bly wees in tye waar die “strop om jou nek al stywer trek” dat daar soveel keuses is vir waaragter jy jou gewig kan ingooi as jy lief is vir Afrikaans. As jy nie tussen die FAK en die Voortrekkers en Steve Hofmeyr en Orania en die Kaapse Federale Alliansie en Die FW de Klerk-stigting en Huisgenoot en Aardklop en Francois van Coke en Max du Preez ʼn tuiste kan vind nie, is dit waarskynlik tyd dat jy jou eie baken vir die Afrikaner word. Wanneer jy dit doen, sal jy vinnig vind dat dit logies is om saam te werk met die bestaande lys leiers. Daar is baie waaroor ons saamstem. Gevalle soos die vriendskap tussen Steve en die Orania Beweging of die verband tussen Solidariteit, Afriforum en Helpende Hand is voorbeelde hiervan.

Verdeelde leierskap was nog altyd aan die orde van die dag

Dreigende skeuring in die kerk is vir Izak ʼn punt van kommer. Ek moet erken dat ek onseker is oor watter kerk se skeuring dit is wat hom bekommer. Die APK het reeds van die NG Kerk afgestig, net soos die Steeds Hervormers van die NH kerk afgestig het. Maar dis ook net soos wat die Gereformeerde kerk van die NGK afgestig het. Net soos wat die Hervormde en Gereformeerde bene van die Nederduitse kerk vir ʼn ruk moes stry oor wie nou eintlik afgestig het! Dit bevat al die elemente van ʼn Griekse tragedie wanneer mense nie eens in die kerk eensgesindheid kan vind nie. Dit doen Christenskap skade. Maar dit is nie terselfdertyd ʼn rede om moed te verloor vir Afrikaans nie.

Daar word meestal van die Groot Trek as een gebeurtenis gepraat. As dit waar is, waarom word die datum algemeen aangegee as 1834-38? Lang Hans van Rensburg se trekgeselskap was al vermoor toe Maritz, Retief, Uys en Pretorius nog in die Kaapkolonie gesit het. Daar was boonop geselskappe saam met Louis Trichardt, Hendrik Potgieter, Sarel Cilliers en Casper Kruger – gelukkig het die laaste drie vroegerig saamgesmelt. Die vertrek weg van Britse bewind af was allermins ʼn bewys van die eenheid van Afrikaners.

Die Tweede Vryheidsoorlog is afgesluit in Afrikaanse verdeeldheid. Daar was van die 60 verteenwoordigers steeds 6 wat wou aanhou veg. Daardie verdeeldheid het, ten spyte van pogings tot eenheid van onder andere die NG kerk, in 1914 aanleiding gegee tot die rebellie waarna Jopie Fourie tereggestel is. Party se lewens het nou verweef geword met dié van die statebond. Ander kon nie ʼn werklikheid aanvaar waarbinne hulle vir Engeland se voordeel sou veg nie. Daardie skeiding was genoeg om mekaar oor dood te maak.

Ek sou nog voorbeelde kon noem, maar ek sal hierby volstaan. Per slot van rekening is dit bloot nie waar dat Afrikaners nou meer verdeeld is as tevore nie. Die verhaal van Afrikaans is een wat deurspek is met die voorbeelde van die oormaat leierskap wat in alle rigtings trek.

Tog is daar ʼn lewenskragtigheid in daardie selfde veelvuldigheid van inisiatiewe. Dit sal lekker wees as daar groter eenparigheid kan kom oor waarheen om te mik. Maar dan moet ons weet waarheen. Die regte pad is nie iets wat vir ons bekend is en wat ons bloot moet volg nie.

As jy nie weet waarheen om te trek nie, móét jou verkenners in alle rigtings uitgaan. Dit is al manier om te weet waarnatoe elke pad lei: jy moet ʼn paar treë in elke rigting aflê! Terwyl dit aan die gebeur is, lyk dit asof elkeen sy eie pad inslaan en deels is dit ook waar. Solank ons net kontak met mekaar behou, verseker hierdie verskeidenheid paaie dat ons baie vinniger ons weg vind. Dit is die krag van verskeie menings.

Nou is nie die tyd om moed te verloor nie. Net soos dit nie die tyd was om op te gee toe die Bataafse bevind tot ʼn einde gekom het en plek gemaak het vir Engelse regering in die Kaap nie. Net soos die rebellie nie die einde van Afrikaans ingelei het nie. So is die skare wat bereid is om leiding te neem waar dit moet, die rede dat ek nie nou hoop gaan verloor vir my taal en die kultuur wat hy dra nie.

Henri Boshoff

  • Boshoff is ‘n 26-jarige aktuaris van Johannesburg

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Henry ·

Goed gestel.
Die alewige temery oor leiers wat ons kwansuis so dringend sou benodig, is inderdaad ‘n vreemde verskynsel. Soos die skrywer aantoon is daar reeds talle “leiers’ wat gevolg kan word. Jy kan selfs ‘n verskeidenheid van siele en organisasies volg, indien jy so ‘n behoefte aan leiding sou hê!
Pasop tog vir die blindelingse volgery.
Ons geskiedenis tot baie onlangs is vol voorbeelde van die foute wat gemaak is, deur sogenaamde groot leiers blindelings te glo en te volg.

FJD ·

Jy praat die waarheid – my opinie of my woorde omtrent die Afrikaner verskil net so effens met wat jy sê – geskiedenis het bewys dat die Afrikaner nie altyd 100% met mekaar kan saamstem en staan nie want elkeen wat ‘n sê te sê het wil die Leier/baas wees – en dat jou broer maklik ‘n mes in jou rug kan steek – en ek sê nie dat dit ‘n slegte ding is om jou eie opinie te hê nie MAAR daar is ‘n tyd dat samesyn en hande vat die voorkeur moet kry en nie voor daardie mentaliteit verdwyn het nie sal ons steeds aan die agterspeen suig

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.