Die eintlike probleem met my kleur

velkleur

Foto: Prime-journal.com

Deur Nicole Viljoen

Ek was nog nooit iemand wat my veel steur aan politiek of die menings van mense wat ander mense in bokse plaas nie.

Ek het baie vroeg in my lewe geleer dat ʼn mening nie elke keer gegee moet word nie. ʼn Mening wat jou oningelig laat klink, doen meer skade en gooi petrol op die vuur.

Die meeste menings het baie woede as ondertoon. Ek wil nie my velkleur ʼn fokuspunt maak nie. Ek voel dat wat ek nou gaan deel nie noodwendig ʼn mening is nie maar ʼn ervaring. Ek gee ook glad nie raad oor hoe ʼn mens te werk moet gaan as dit by rassisme kom nie. Ek is maar net iemand wat probeer verstaan.

Ek kyk vir myself in die spieël. Ek het nog nooit gevoel ek moet ʼn ander kleur wees nie. Ek wonder toe as ek kon kies of ek ʼn ander kleur sou wou wees. Sou iemand graag my kleur wou wees? Ek het nooit gevoel in my lewe dat ek voordeel getrek het uit my kleur nie. Ek is grootgemaak dat alle mense ewe veel waarde het ongeag status, kleur of agtergrond. Tog word daar vir my gesê ek het. Dit bly maar weereens die mening van iemand wat my nie ken nie en dus dra dit geen water nie.

Tog dra ek ʼn juk op my skouers omdat my velkleur ʼn simbool is vir ander wat swaar gekry het. Dit verteenwoordig pyn van ʼn tyd toe ek nog nie eens gebore was nie. Haatspraak word teen mense met dieselfde kleur as ek uitgespreek uit woede oor die verlede. Ek besef toe hoe moeilik mense vergewe. Ek besef ook hoe mense so graag gehoor wil word en hul pyn gesien moet word.

Daarmee gesê, voel ek tog woede in my. Ek kry nie my “kop” om sekere dinge nie. Daar word baklei vir die reg om vryheid van spraak te hê, maar as iemand dalk net iets sê waarvan iemand nie hou nie, word dit ʼn “media frenzy”. Vryheid van spraak is nie so vry nie.

Ek glo ook nie dat vryheid van spraak vir enige mens altyd ʼn goeie ding is nie. Dit is nie opbouend nie. Sekere dinge hoort in jou dagboek.

Ek kan nie verstaan hoe een mens openlik ander kan aanspoor om mense van ʼn ander kleur of geloof te vermoor nie. Ek kan nie verstaan hoe een mens die besluit neem om ouer mense en boere te teiken om hul punt oor te dra nie. Ongeag kleur. Dit kom neer op wat jy as mens van gemaak is in jou binneste. Dit kom neer op die vergifnis wat jy weier om te aanvaar of te gee.

Kom ons sê al die mense wat jy dink jy haat, word uitgewis op die aarde, dink jy vir een oomblik dat jy vrede gaan hê? Inteendeel, as al die mense wat jy haat weg is, gaan jy jouself in die gesig moet staar. Die een of ander tyd gaan jy met jou verlede moet afreken. Die verlede en dinge van die verlede maak nie wie jy is nie. Dit is iets wat met jou gebeur het. Vergifnis is vrede.

Hoekom is vergifnis nêrens te sien nie?

Ek kom tot die groot besef: Die probleem met my velkleur lê nie by my nie. Die probleem lê by die persoon wat seer het. Dié wat so bang is om te vergewe, want hulle glo hul hele identiteit is gegrond op hoe swaar dit was, of hulle nou deel van daardie tyd was of nie. My velkleur is maar net ʼn slaansak en al word ek uitgewis, gaan daardie persoon nog steeds seer hê.

My velkleur is nie wie ek is nie, my velkleur is die pakkie waarin ek kom en ek is trots op wie en wat ek is.

My velkleur is nie my probleem nie. My velkleur is die simbool van die seer waarmee jy weier om vrede te maak.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johanna Botha

Presies en dankie vir dit …vertaal asb want baie ander mense moet die stuk ook lees en begin dink en fokus op hulle toekoms !

John

Hoekom mag mense met ‘seer’ altyd net donker velle he? Hoekom gaan bly mense met ‘seer’ altyd in lande of in gemeenskappe van mense met ligte velle, veral as dit so ‘seer’ is om tussen hulle te wees? Hoekom wil donker mense met ‘seer’ altyd he die mense met wit velle moet verander en hulle ‘seer’ akkomodeer? Hoekom weier donker mense met ‘seer’ om ook te aanvaar dat daar witmense met ‘seer’ is en ook mense soos hulle is? Hoekom glo donker mense met ‘seer’ witmense wil hulle die heeltyd ‘seermaak’? Hoekom lyk donker mense met ‘seer’ se eie lande… Lees meer »

Jan

Ander mense se etikette kom saam met die pakkies, hul geskiedenis het dit klaar daar opgeplak, so het baie mense en nasies gedragpatrone wat aan hul toegedig word, met natuurlik uitsonderings. Byvoorbeeld die Switsers vir hul horlosies, edm.

Nelia

‘n Baie goeie stukkie skrywe.

callie

Dit bly n “issue” omdat sekere mense nie trots is op wie hulle is en hoe hulle opgevoed is nie. Ek is trots om wit te wees, trots oor hoe ek grootgemaak is en bowenal trots daarop dat ek n Christen is. Ek is nie beter as ander mense van ander kleur nie, net trots op wie en wat ek is. Ek glo ek was reg toe ek grensdiens gedoen het. Ek het geglo ek beskerm my land en my volk net soos wat die vryheidsvegters(terroriste) geglo het hulle is reg. Ek het nie bomme geplant en onskuldige vroue en… Lees meer »