Flip Buys antwoord ope brief oor ‘jammer sê’

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, antwoord Surita du Toit rakende haar ope brief aan hom wat vroeër hier verskyn het. Du Toit het geskryf: ‘As jý nie wil jammer sê nie, dan sal ék’.

Buys antwoord:

flip-buys-voorsitter-van-solidariteit-beweging-2018-08

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Beste Surita,

Baie dankie vir jou openhartige skrywe aan my oor die leed van die skreiende armoede onder soveel van ons swart landgenote. Ek deel jou diep en opregte deernis met die armes, al verskil ons deels oor die oorsake en oplossings daarvoor. My artikel oor die redes waarom Afrikaners moeg is om jammer te sê, beteken nie dat die armoede van mense, ongeag ras of kleur, my nie diep raak nie.

Maroela se hoof, Susan Lombaard, het voorgestel dat ek jou ope skrywe aan my openlik antwoord omdat jy onderwerpe aanraak waaroor baie mense in die land dink en praat. Daarom reageer ek graag in die gees van ons groot Afrikaanse denker NP van Wyk Louw, wat gesê het dat die “sirkulasie van gedagtes vir ’n volk net so noodsaaklik is as wat bloedsomloop vir die liggaam is.”

Sonder om jou skrywe te vereenvoudig, sien ek die kern daarvan dat jy opreg glo dat arm swart mense se leed aan apartheid en Afrikaners se optrede te wyte is. Daarby voel jy dat Afrikaners se betreklike voorspoed die erfenis is van die bevoorregting van apartheid. Dis my beste probeerslag om jou siening kortliks saam te vat.

Armoede-oorsprong

Die debat in Suid-Afrika is so vertroebel, dat ek eers met ’n globale oorsig oor die vraagstuk waaroor ons praat, wil kom voordat ek by Suid-Afrika en jammer sê uitkom.

Ek het aan die begin reeds gesê dat ek jou deernis met die armes deel. Daarteenoor voel ek dat jou ontleding van die oorsprong (Afrikaners en apartheid), en oplossings (langdurige regstelling en jammer sê) ongelukkig op ’n growwe vereenvoudiging van die saak berus, en nie tot oplossings vir armoede sal bydra nie.

Kom ek verduidelik kortliks wat ek bedoel, deur na my gunsteling go to-denker, die swart Amerikaanse ekonoom prof. Thomas Sowell te verwys. Net soos ek en jy, het hy ’n besondere deernis met arm gemeenskappe. Verskoon sy taamlik snydende verwysings na linkses, maar hy gee soveel om vir die armes dat hy soms sy geduld verloor met politici wat hulle (dalk vir selfsugtige politieke redes?) in armoede vaskluister. Ek het hom juis gekies omdat swartmense in die VSA eers in die sestigs volle burgerregte gekry het, en dat ons belangrike lesse by hulle kan leer.

Prof. Sowell begin by die begin: “What do the poor most need? They need to stop being poor. And how can that be done, on a mass scale, except by an economy that creates vastly more wealth? Yet the political left has long had a remarkable lack of interest in how wealth is created. They think that wealth exists somehow and the only interesting question is how to redistribute it. These kinds of leftists concentrate on inequalities that can be dealt with by turning money and power over to people like themselves.” (Nou ja, ek het jou gewaarsku dat prof. Sowell reguit praat.)

Dit is verstaanbaar dat ons in Suid-Afrika met sy duidelike verskille tussen ryk en arm groepe, maklik tot die gevolgtrekking kom dat wit mense die oorsaak van swart armoede is, en dat Afrikaners se groter voorspoed uit bevoordeling spruit. Dit is immers die meesterverhaal wat ons nou al vir twee dekades op skool, in die media en van politieke- en ander leiers hoor. Maar armoede is ’n historiese en wêreldwye verskynsel, wat nie net in apartheid Suid-Afrika voorgekom het nie. Kom ons luister weer na Prof Sowell: “There’s no explanation needed for poverty. The species lived in poverty for centuries. So what you really need to know is what are the things that enable some countries, and some groups within countries, to be prosperous.”

Blaampolitiek

Sowell is skerp krities oor die blaam- en skuldpolitiek wat in die VSA – nes in Suid-Afrika – baie gewild is. Hiermee bedoel ek dat een groep die ander vir hul probleme blameer, en dat die ander groep skuld aanvaar. Dit bring immers politieke oplossings (herverkiesing) vir politici, hoewel dit ongelukkig nie tot ekonomiese oplossings vir arm mense lei nie. Die rede is dat beide die oorsake en oplossings hierdeur buite die bereik van die armes gestel word, wat hulle natuurlik dan ontmagtig om daaruit te ontsnap.

Daarom sê Sowell: “There are few talents more richly rewarded with both wealth and power in countries around the world, than the ability to convince poor people that their problems are caused by other people who are economically more successful.”

Maar voordat jy dink ek haak net by een denker vas, wil ek graag vir Coleman Hughes, ’n ander swart denker laat saampraat. Die rede is dat hy in sy studie, “Black American Culture and the Racial wealth gap”, belangrike vraagstukke aanroer waarmee ons ook worstel. Hy het bekend geword omdat hy vir wit liberales gesê het dat “niemand hom sonder sy toestemming ’n slagoffer moet maak nie”.

In sy studie bevind hy, onder meer, “I do not know of a single instance in which an underachieving ethnic minority rose to economic prominence by asking the government for cash transfers, preferential policies in education and employment, or apologies for past injustices.”

Surita, net soos Sowell, lê Hughes se belang vir my daarin dat hulle in oplossings vir armoede belangstel, en nie vashaak by die vraag oor wie se skuld dit was nie. Hy sê betekenisvol dat welvaart geskep word: “The wealth of modern nations was not plundered; it was, and continues to be created.”

’n Laaste woordjie oor die vergelyking van Amerika en Suid-Afrika. Die VSA met sy magtige ekonomie en omtrent 90% rykes kon dit nie regkry om die 10% armes op te hef nie. Tog word die 10% “rykes” in Suid-Afrika heeltyd beskuldig vir die armoede van die 90%.

Suid-Afrika

Kom ons keer terug na Suid-Afrika, want ek kan my indink dat jy al ongeduldig is omdat jy wonder of ek die verlede se aandeel in swart armoede gaan probeer verswyg. Dit is so dat apartheid swart mense benadeel het, net soos Britse Kolonialisme Afrikaners verarm en verdruk het. ’n Mens hoef net te dink aan die perke op swart mense se eiendomsreg in “wit” gebiede, al was daar in swart gebiede tradisioneel óók nie eiendomsreg nie. Daarby was ons voorouers, soos bykans elke ander gemeenskap in die geskiedenis, vol vooroordele teen ander gemeenskappe. Die morele verskuiwing onder wit mense het hier ’n dekade of selfs twee langer as in ander Westerse state geneem omdat die omstandighede soveel verskil het.

Suid-Afrika is kunsmatig deur die Britte geskep ná die onderwerping van al die gemeenskappe in die land. Ons is deel van Afrika, en deel benewens die wonderlike dinge van ons kontinent – ook al die struikelblokke vir ontwikkeling wat ons vasteland al eeue kniehalter. Dit is faktore soos ’n gebrek aan eiendomsreg, die lae status van vroue, gesinsverbrokkeling, hoë bevolkingsaanwas, ’n swak kultuur van ondernemerskap, en ’n wankelrige regsorde.

Oplossing

Die les van die geskiedenis is dat armoede net opgelos kan word met ekonomiese ontwikkeling deur mense wat verantwoordelikheid vir hul eie opheffing vat. Jare se jammer sê help party mense miskien beter voel, maar help nie die armes nie. Ongeag die foute van apartheid, het die land in 1994 oor ’n moderne infrastruktuur beskik wat die grondslag kon lê vir vinnige swart ontwikkeling. Lande soos Singapoer, Suid-Korea, China en Indië sou wat wou gee vir so platform vir groei. Ten spyte van die gebrek daaraan het net China en Indië in sowat 25 jaar, meer as 750 miljoen mense uit armoede ontwikkel.

Ter afsluiting, Surita, gemeenskappe wat suksesvol ontwikkel het, het ophou vra: “Wié het dit aan ons gedoen en wát moet ons nou aan hulle doen?”. Hulle het eerder gevra: “Wat het óns verkeerd gedoen en wat moet ons nou reg doen”.

Laat ons dus eerder saamwerk aan die toekoms, as om met mekaar te stry oor die verlede. Kom drink gerus ’n koppie koffie as jy saam oor praktiese saamwerkprojekte wil praat.

Groete,
Flip Buys

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

59 Kommentare

Frik ·

Dankie , met insig geantwoord , ek help maar ook klaar met jammer

Piet ·

Wel gedaan Flip. As ons almal net die blaming game” kan los en begin, hoe klein ookal om te bou sal ander aansteek en die ding sal groei.

minnie muis ·

beslis…. maar ek ook moeg om te hoor van apartheid… bbc het gister weer uitgesaai daaroor …. ons arm blankes het niks gekry uit wit regering nie, ons moes maar self sien kom klaar

Stefan ·

Natuurlik gaan dit nie die armes skielik laat ryk word as daar jammer gese word en empatie getoon word nie. Dit is wel nodig om toekomsgerig te dink en oplossings te vind vir die probleme van vandag. Maar Surita se stuk het nie daaroor gegaan nie. Haar stuk het gegaan oor menswaardigheid en om dit deur werklike meegevoel in ons landgenote te herstel. Restitusie het 3 bene. Politieke restitusie, ekonomiese restitusie en emosionele restitusie. Die eerste 2 is wat Flip Buys aanspreek. Die 3de een is wat Surita aanspreek. Dit het ongelukkig grotendeels nog nie plaas gevind nie. Die rede hiervoor is dat ons as Afrikaners gedurig, net soos Mnr Buys, in die eerste twee bene van restitusie vaskyk. Ons raak dan moeg en moedeloos vir daardie twee dat ons vergeet van die 3de een. Die maklikste een wat deur gewone mense toegepas en uitgeleef kan word. Ons hoef nie vinger te wys en skuldgevoelens te dra nie. Eenvoudige liefde, deernis, omgee, begrip en die bereidwilligheid om te luister. Dis al.

Martin ·

In die kol Stefan. Maar os moet egter ook besef die emosionele restitusie beteken egter nie ons kan maar nogsteeds bakhand staan en wag dat alles vir ons gegee en gedoen word nie.

Frans ·

Oor vereenvoudiging.Al drie was beskikbaar in tuislande.Ek was daar en weet waarvan ek praat.Miljoene rande blanke en swart belastinggeld is ingepomp,maar korrupsie het al drie bene soos vandag gekniehalter.Kyk na die mense in die parlement, lyk hul vir jou honger? ‘n President bie R19.5 miljoen op ‘n buffelkoei en kalf en die minister van Finansies lyk of hy uit sy vel kan bars.

Anton ·

Dankie Stefan. Daardie derde been word in Flip se antwoord totaal buite rekening gelaat.

Luister ·

Is jy seker dat daar net 3 bene is? Jy het vergeet van die landelike restitusie.

Plaaskind ·

Oom Flip, jy is ‘n YSTER!!! Dankie dat jy opstaan vir ons volk en nageslag.

Charles ·

Uitmuntend!

Ek wag vir Surita se antwoord ….

Solidariteit en sy leiers is TOPS!

Frans ·

Jare gelede in die dae van apartheid besoek ons die vaaldam wat so vol is dat die sluise opgemaak is vir skouspel soos min.Daar staan ons en vergaap ons aan dit wat ons sien.Ons bevind ons naderhand op ‘n
bruggie met genoeg plek vir ‘n voertuig om verby te steek.
Toe kom daar een, ‘n groot oopkap motor met drie meisies agter op die agterste sitplek.Hul hare en hoede se lintjies wapper in die wind en word die hoedjies met een hand vasgehou. Daar staan die ses van ons in ons tuisgemaakte kakie broekies en hempies en dogters in tuidgemaakte rokkies.
Na by ons vra die een naaste aan ons-nadat ons op en af bekyk is.:Who are they?’ Die antwoord kom vinnig van middelste een.’O-they are poor whites'”.
So Surita klim van jou jammer sê perdjie af. Baie van ons ouer geslag ken armoede.Ons het deur harde werk die geleentheid,dieselfde wat swart mense nou het,met albei hande aangegryp en met sweet en trane en gebed bo uit gekom.

minnie muis ·

beslis, ons eerste huis gehad toe ek 20 jaar was, het gebly in karavaan en tent, was in koshuis, pa het asbeshuise opgesit ….so hoekom moet ek bly se jammer

Charles ·

Anders as in lande soos Duitsland, Finland en Swede wen linkses hier in ons wêreld gelukkig nie argumente gegrond op linkse gesprekspunte, die blaam-speletjie en emosionele post-modernistiese drogredenasies nie.

Welgedaan Mnr Buys!

Afrikaners is die beste volk op aarde, teen die hele wêreld vry!

Johan ·

Ek het ‘n ou vriend wat nou sou laat hoor het: “Dank Vader vir die waarheid!”

Chris ·

Beter sou ek dit ook nie kon stel nie. Dit is ongelukkig ‘n emosionele onderwerp en moddergooiery en beskuldigings sal oor en weer geslinger word. Negentig persent van die kere as iets met jou verkeerd loop, slaan eie hand in boesem en soek die oorsaak by jouself hoekom jy in ‘n betrokke situasie beland het.

Wessel ·

Daar sal altyd foute gemaak word. Die foute van die huidige bestel, is by verre baie groter, as die opgeblase foute van Apartheid.

Die Waarheid ·

Hoeveel swart skole is deur wittes gebou teenoor hoeveel afgebrande is deur wittes.
En.
Hoeveel swart skole is deur swartes gebou, teenoor hoeveel deur swartes afgebrande is.
So ook universiteite en hospitale.

Dink daaroor.

Charles ·

JIP, ONGELUKKIG DAAG DIE BEWUSWORDING ALTYD BIETJIE TE LAAT OP VIR LINKSES – SIESTOG.

Lizel ·

Presies my gevoel. My generasie was 4/5 jaar oud toe apartheid geeindig het. Ek gaan nie my kind leer jammer sê vir iets waarvoor hulle hard gewerk het en ek en my man hard gewerk het, en ons ouers hard voor gewerk het – namens ander mense nie. En nog minder die blaam neem vir die regering se swak bestuur en korrupsie. Dis maklik om jammer te voel vir armoede maar wat DOEN jy daaromtrent om hulle lewe beter te maak? As jou antwoord is jy doen niks dan wat gee jou die reg om Flip te oordeel vir ay rykom – jy geniet seker ook ‘n koppie koffie of hoe? Hoekom moet jy jammer sê as dit geld is wat jy voor werk? Ek stem saam daar is nie plek vir rassisme meer nie. Maar gaan ons maak of blankes nie ook onder blatante rassisme deurloop op ‘n daaglikse basis nie? Maar wag in ons land kan net witmense mos rassiste wees.

DERICK ·

Hoop sy sal dit verstaan. Dalk bietjie te hoog. Ek stel voor sy gaan kyk op You Tube na wat pastoor James David Manning te se het oor sekere mense. Miskien sal haar oe dan oopgaan.

Gail ·

Ek wil graag vra dat Cyril Ramaphosa die vak, Slagsregister of jou stamboom op skool aanbring. Daar sal baie mense die waarheid van ons land leer. Dit moet verpligtende vak wees. Dit moet Slagsregister wees met dokumente. Dokumente, soos, Testament, en oorlogs dokumente, slawe dokumente ens. Ek dink hierdeur sal alle rasse sien hoe ons land verander het. Van die eerste oorlog, die swaarkry, waar alle mense dood is. Hoe mense saam gelewe het en wanneer die skeiding van die wit en swart mense in ons land op ons forseer was. Hoe boere, vroue, kinders saam met hulle slawe teresestel was, wat nie die eed wou aflê nie. Hoe hulle geldjies in hulle Testament vir sy vrou, kinders en slawe gelos het. Asook gevalle, die boer se vrou voor hom oorlede is het baie van hulle met hulle slawe getrou. Plase asook geldjies was vir sy slawe vrou en kinders gelos. Die geslagregisters moet so van aard wees om die familie se Stamvader te soek wat in die land gekom het. Hierdie is ons geskiedenis. Waarheid.

Karien ·

Thomas Sowell het ook gesê: “Rassisme is soos tamatiesous. Jy kan dit op enige iets sit, maar bewaar jou siel as jy vir bewyse daarvan vra.”

Surita sal baat by ’n korrekte weergawe van die geskiedenis.

Die vorige regering het die mees vooruitstrewende land in Afrika aan die swart meerderheid oorhandig. Daardie land was gebou met die arbeid van beide wit en swart Suid-Afrikaners binne Suid-Afrika.

Suid-Afrika het toe reeds heelwat swart professionele persone gehad met uitstekende universiteitskwalifikasies. (die ANC het hulle “sell outs” genoem en hardhandig vervolg).

Die plan was om ALLE kundigheid in die land te gebruik om dit meer suksesvol te maak.

Die ANC het geweier. Hulle wou ’n Kommunistiese stelsel, gebaseer op die mislukte Sowjet-Unie patroon, hier vestig. Hulle het nie net wit hulp geweier nie, maar ook die kennis van swart kundiges.

Die emansipasie van Suid-Afrika se swart gemeenskap was alreeds volstoom aan die gang VOOR die ANC oorname.

Johan Venter ·

Surita, dis dalk nou die tyd om met passie en durf die toekoms aan te pak , om te help dat ons van hierdie land ‘n wensukses maak, sluit by Solidariteit en Afriforum aan, staan hulle by in die grootste poging wat ons nog beleef het. Neem jou huishulp en familie by die hand, saam met pioniers die toekoms in.

Louis ·

“Empirisme vs Rasionalisme ‘n skeppingswonder wat die balans handhaaf!!

Gawie ·

Mooi so, Flip!
Sal nou graag haar antwoord hierop wil lees.

Riaan ·

Ek gee niemand toestemming om namens my om verskoning te vra vir apartheid nie.

Die situasie is baie kompleks, en dit is eenvoudig net nie moontlik (of eerlik) om “alles wat verkeerd is” onder die apartheid mat in te vee nie.

Alhoewel ek glo daar is sekere aspekte wat daarop kan dui dat sekere groepe as gevolg van apartheid skade gelei het, glo ek dat elke persoon verantwoordelik is vir sy of haar optrede, al is dit ook hoe maklik om iets of iemand anders vir jou situasie te blameer.

Woeter ·

Ek weet wel wat Afrikaners verkeerd gedoen het inverband met Apartheid, dit is die verlede . Maar nou vra ek Flip Buys asseblief wat moet ons nou reg doen? Hoe kan ons as Afrikaners ‘n toekoms bou in Suid-Afrika, is daar n plan van aksie of is dit maar net woorde.

Charles ·

Sluit aan by Solidariteit, dan sal jy die-plan-van-aksie eerstehands beleef.
Groete,

Kruger ·

Kan die boodskap nie in al ons landstale vertaal en versprei word nie???? Teiken veral anc/eff (as hulle kan lees en verstaan)

Anton ·

Flip se “oplossing” het maar weer retoriek van blaamverskuiwing. Dalk is nog ‘n vraag… Hoe kan ons help om die narratief en retoriek waarvan hierdie antwoord getuig te verander?

Frieda ·

Dit antwoord baie vrae en gee die jammer sê nou asb. rus!

Magda ·

Dankie baie mooi gestel – ook KLAAR met jammer se, en ook met hulp.

Snowball ·

Daar is ‘n verskil tussen erbarming, naasteliefde en jammerte gebore uit ‘n misplaaste skuldgevoel. Laasgenoemde, veral as dit luidkeels verkondig word, lei nie tot veel nie, behalwe miskien groter wrewel by mense wat moeg is om sondebok te moet speel.

Nell ·

Goed geantwoord.
MAAR ek sou ook graag by Surita wou hoor of sy dink armoede ooit uitgewis kan word? In die lig van Markus 14:7 sê Jesus self dat die armes altyd met ons sal wees. Hy gee nie redes vir wat daardie armoede veroorsaak het nie, maar stel dit as ‘n voldonge feit – en natuurlik ook dat dit ons, wat meer bevoorreg is, se plig is om daardie armoede te help verlig. EN doen ons as Christenne nie al vir dekades lank só ons deel nie?
Ek het ‘n paar jaar gelede gewerk aan ‘n projek vir ‘n bekende welsynsorganisasie in die RSA (‘n gesamentlike nie-winsgewende sosiale organisasie van die VGK en die NGK wat nood oraloor in die land help verlig) EN die meeste donateurs en hulpverlening gelys in hulle jaarverslag was afkomstig van blanke organisasies! Nou vra ek vir Surita hoekom moet ek (en sy ook) ALWEER jammer sê vir Fransinha. Doen ons as blanke Suid Afrikaners nie alreeds ons daaglikse deel soos van ons verwag nie?
Nee wat my ”jammer sê ‘ het lankal opgedroog.

Johan ·

Wonderlik! Ek hoop dit open BAIE mense se uitkyk. Wel gedaan Flip!

Sagvoet ·

Die grootste dreigement vir die regerende party is ń opkomende middelklas. Terwyl armmoede mense afhanklik van die staat hou en hulle dmv aalmoese amper gedwing word om kinders te baar, word die blote dreigement dat hierdie aalmoese deur ń ander party afgeskaf gaan word, die waarborg dat daar weer vir die ANC gestem word. Dus is armoede die huidige regering se snelweg om aan bewind te bly.

Kattebol ·

Uitstekend gestel, Flip. Rasioneel, analities en oplossing – georiënteerd.

Hoe nou? ·

Beide briewe is puik geskryf. Die raad om aan te beweeg, is dalk voortydig en meer sulke gesprekke is nodig. Vergewe, vergeet en beweeg aan maar intussen broei al die ongesegde dinge wat mense pla in hulle voort totdat iemand ‘n senuwee aanraak en dit uiting vind in ‘n kommentaar kolom van ‘n Ope brief. Want, ‘n rasionele, gebalanseerde weergawe van Apartheid sukkel om die lig gesien.

Hoe nou? ·

Uit baie kommentaar blyk dit ook dat sommige Afrikaners, nooit die sg. bevoordeling van Apartheid eerstehands ervaar het nie. Bevoordeling was dalk, soos vandag, grootliks beskore vir ‘n klein groepie Elite. Die Elite groepie het waarskynlik nie ‘n morele ontwaking ervaar as motivering om apartheid te beëindig nie. Eerder ‘n bewustheid van die enorme potensiaal om ‘n enorme ekonomie uit swart mense te skep waaruit hul hulself verder kon verryk. Dis dalk hulle wat herhaaldelik verskoning vra, want al hul verskonings is hol.
Vir hulle bestaan ‘n Afrikaner volk nie. Arme onderdrukte en verdrukte swart mense, nog minder. Net ‘n kleurlose gepeupel wat bydra tot hul mag en rykdom. Dieselfde geld vir die huidige bewind van ‘n klein groepie Elite wat hulself begunstig en verryk, wyd en syd diskrimineer, terwyl soveel swart mense nog steeds krepeer van armoede. Sodra SAners dit besef sal hulle hande vat en saam staan teen die “two peas in a pod”.

Hoffie ·

Ek het brandarm groot geword. Die enigste geleentheid wat ek gehad het was om my beste te gee op skool en so bo die armoede uit te styg. Moet ek iemand om verskoning vra?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.