‘Jy is te jonk om kanker te hê’

(Foto: Marlinné Pienaar)

Marlinné Pienaar skryf:

Ek is nou 24 jaar oud, ʼn rekenaartoepassingstegnologie-onderwyser aan die Hoërskool Monument en getroud met Francois Pienaar.

Hiermee my storie oor die pad wat ek met borskanker moes stap. Ek dink dis gepas vir Oktobermaand.

“Jy is te jonk om kanker te hê.”

Boonop was 2022 veronderstel om ons jaar te wees, want dit was uiteindelik die jaar waarvoor ons so lank gewag het omdat ons troue vir die 1ste Oktober beplan is.

In Mei 2022 op ʼn rustige Sondag ontdek ek dat ek ʼn knop in my regter bors het. Onmiddellik het ek paniekerig geraak en na ʼn nooddokter toe gegaan. Die dokter het my ondersoek en gesê dat die knop normaal is op my ouderdom, want ʼn mens kan nie borskanker kry as jy 23 jaar oud is nie. Hy het my toe gestuur vir ʼn sonar wat normaal terug gekom het.

ʼn Paar weke daarna begin die knop seer raak, ek raak ongemaklik en my vel verkleur en dis toe ek besluit dat ek vir ʼn tweede opinie moet gaan. Weereens word gesê dat dit normaal is en ek is net “paranoïes”. Enige mens weet as daar fout is. Ek het geweet daar is fout.

Na my derde opinie by dr. Annemie Koekemoer word ek van Robert Broom Medical Centre in Krugersdorp verwys na prof. Carol-Ann Benn by Milpark.

Ek moes weer ʼn sonar doen, na die resultate ʼn biopsie en op die 31 Augustus 2022 – ʼn dag voor dit ʼn maand voor ons troue sou wees – is ek gediagnoseer met fase 2-tripel negatiewe borskanker.

Dit het gevoel of my lewe in mekaar stort. Ek het nog so baie wat ek wil doen, ek wil graag ʼn gesin begin en ek het soveel doelwitte wat ek nog wil bereik.

Nie te min, ek moes gaan vir baie toetse en doktersondersoeke wat op daardie stadium gevoel het of dit nie wil end kry nie.

Ek moes inspuitings kry om my te beskerm sodat ons eendag ʼn gesin kan begin. Dit was die seerste van alles waardeur ek was.

Twee weke voor die troue kry ek my eerste chemoterapie. Al wat ek kan onthou was dat ek ongelooflik naar was, dit my gebrand het en dat ek ʼn snaakse metaal smaak in my mond gekry het.

(Foto: Marlinné Pienaar)

Ek het toe begin soek na pruike want ek het geweet wat kom … Mike and Liz in Linden het tot my redding gekom waar ek twee pragtige pruike kon kry.

Ek het my hare toe gesny in ʼn kort bob-styl.

Dit is 1 Oktober 2022, en so breek ons troudag aan waar ek met die pruik getrou het. Ons dag was geseënd en beeldskoon. Die aand toe ons in ons kamer kom en ek die pruik afhaal toe val die eerste klomp hare uit.

Ek onthou hoe ek angstig begin raak het en hoe my man my rustig gehou het.

Ons het Maandag 3 Oktober vertrek op ons wittebrood by Magoebaskloof en het daar besluit om my hare af te skeer. Ons kon niemand kry wat dit vir ons kon doen nie, toe het my wonderlike man dit vir my gedoen. Dit was baie swaar vir hom gewees.

Ek het daarna elke derde weke gegaan vir chemoterapie vir ses rondtes. Na die tweede chemo-sessie het my kanker reeds met 90% gekrimp.

In Februarie 2023 het ek ʼn lumpektomie ondergaan waar die kanker verwyder is en vir ʼn ruk met drie dreine in die bors probeer funksioneer.

Ses weke na my operasie, in April, het ek met radiasie begin en moes ek 31 sessies voltooi.

Vir nou is ek in remissie en besoek die dokter weer in November vir my opvolg-afspraak en toetse.

Hierdie pad wat ek moes stap was glad nie maklik nie, maar ek het nader aan die Here gekom. My familie, vriende en werkskollegas by Hoërskool Monument het my in hierdie tyd gedra.

As ek vir enigiemand raad kan gee: Moet nooit in jouself twyfel nie. Jy kan, jy wil en jy gaan.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karoo ·

Marlinné en Fransios julle “weg spring” in die lewe is voorwaar anders en uitdagend. Dankbaar dat jy dit ontdek het, dat daar hulp is, dat jy die behandeling kan bekostig en dat jy ‘n maat het wat jou bystaan. Sterkte met jou gesondheid en dankie dat jy jou storie deel, ons Dames moet in gewoonte kom om van vroeg as “screening” te doen. Kanker is nie meer’ n oumens siekte nie.

Ann ·

Daardie dokter weet nie waarvan hy/sy praat nie. Kanker vra nie hoe oud jy is nie!
Ek is geinspireer deur jou verhaal. En nie net omdat jy dit reggekry het om dit te oorwin nie – omdat jy aangegaan het met jou lewe.
Hats off!

Marlinné ·

Baie dankie Maroela Media vir die geleentheid om my storie te deel met ander.

Marlinné ·

Ek het my hele journey gedeel op my Facebook page. Dis nie iets om oor skaam te wees nie. Mens kan ander inspireer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.