Lesersbrief: 16 dae-veldtog herinner aan kwesbaarstes in die samelewing

Henda van der Merwe skryf:

(Argieffoto: pixabay)

Ons is weer in die tydvak van die jaar wat die 16 dae-veldtog wat geweld teen vroue en kinders beklemtoon, op elke denkbare mediaplatform is.

As maatskaplike werk- en kinderbeskermingsorganisasie word CMR Gauteng-Oos byna daagliks hiermee gekonfronteer. Ons kantore moet die gevolge van hierdie plaag op ons samelewing hanteer. Nie honderde nie, maar duisende slagoffers word jaarliks deur ons bygestaan.

Vroue wat fisies aangerand is, kinders ook, wat vir hulle alternatiewe lewensreëlings moet vind om weg te kom van die aggressor en hulle in ʼn nuwe lewe te vestig. Dit is maar een deel van die realiteit waarmee ons werk.

Om net fisies weg te kom, is nie die einde of die oplossing nie. Hierdie vroue en kinders word ook emosioneel, verstandelik en geestelik geteister. En die skade wat aan hul menswees aangerig is, gaan baie dieper as fisiese wonde – wat vinniger genees as emosionele wonde.

Ons bied ondersteuning op baie maniere, en berading het ʼn groeiende behoefte oor die hele spektrum van hulp geword. Ons maatskaplike werkers is opgelei om te help met verskeie maatskaplike kwessies, en waar nodig verwys hul ʼn kliënt na ander gemeenskapshulpbronne.

Alles kom egter teen ʼn prys, en sommige kliënte kan dit nie bekostig nie. Die stryd woed dus ook op die finansiële front. Nodeloos om te sê, as ʼn NRO is ons altyd meer as dankbaar vir diegene wat hul pad oop sien om ons te help om ander te help.

Maar om agterna te help is soos ʼn pleister op ʼn wond, wat nie daar moet wees om mee te begin nie. Ons samelewing is die oë en ore om te help. Mishandeling is dikwels ʼn teken van disrespek.

Daarom moet die werk begin wanneer ʼn kind gebore word. Om groot te word met respek vir ander en hul regte op lewe en veiligheid, behoort die verandering te maak en mettertyd die geweld wat op die kwesbaarstes toegepas word te verminder.

  • Henda van der Merwe is direkteur van CMR Gauteng-Oos.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacob ·

My seun, nou al uit sy twintigs en ‘n belowende besigheidsman het eendag vir ‘n vriend gesê; “My pa het my net een keer ‘n ordentlike pak slae gegee en ek het ‘n permanente sielkundige toestand as gevolg daarvan. Hulle noem dit respek vir ander mense.”
Geen mishandeling van vrouens en kinders kan geduld word nie en dit moet nie 16 dae teen geweld teen vrouens en kinders wees nie, maar 365. Tog kan ‘n ordentlike loesing met selfbeheersing en liefde, die kind vir wie jy so lief is, op die regte pad stuur.
Wat mevrou aanbetref; ek het die wereld se respek vir haar geliefde gietyster pan.

Tienie ·

Sestien dae. En wat dan nou van die ander drie honderd nege en veertig dae.

My persoonlike opinie is dat geweld teenoor vroue en kinders n oorerflike siekte is.

My pa het my getug soos wat Die Bybel hom beveel het om te doen, ek het dit voortgesit en my seuns het dieselfde gedoen.

Nog nooit het my pa of ek of my seuns hul hande gelig teenoor hul vrouens nie.

Persentasie gewys, hoe is die geweld teenoor vroue en kinders in die verskillende rasse groepe. Dit sal nogal baie interessant wees om te weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.