Lesersbrief: Aborsie mag ons nie gevoelloos los nie!

Joseph Oosthuizen, predikant by die Gereformeerde Kerk Bet-El, skryf:

(Foto: AP Photo/Ted S. Warren)

Die massa kindermoord wat in die wêreld (1 miljard die laaste 100 jaar; tans so 73 miljoen elektiewe aborsies per jaar – 200 000 per dag) en spesifiek in Suid-Afrika (ongeveer 2,2 miljoen kinders sedert 1997; tans so 100 000 per jaar) besig is om plaas te vind, kan en mag gelowiges in Suid-Afrika nie neutraal en gevoelloos los nie.

Die kinders wat in die baarmoeder deur mediese prosedures, mediese pille of mediese apparate vermoor word, word ten sterkste deur God veroordeel (Spr. 6:16-17). Hierdie veroordeling van God oor die sonde van kindermoord gee natuurlik ʼn wonderlike geleentheid om aan mense die goeie nuus oor Jesus te vertel.

Want dit is Jesus wat aan die kruis ook vir die sonde van kindermoord betaal het. Daar is altyd vergifnis by Jesus vir die wat na Hom bekeer en glo dat Hy vir al hulle sondes gesterf het (1 Pet. 3:18).

Hoe weet ons dat kinders van ontvangenis af, wanneer die sperm en eiersel ʼn nuwe lewe vorm, ʼn volwaardige mens is? In Psalm 51:7 leer ons dat elke mens in sonde ontvang word. Tog is dit slegs ʼn mens wat sonde het en wat sonde kan doen, daarom is elke lewe in die baarmoeder ʼn volwaardige mens by ontvangenis.

Verder verbied God in die sesde gebod dat mense, en dus kinders, doodgemaak word. Die ma wat haar kind doodmaak is skuldig aan moord, so ook die pa, dokter of enige ander persoon wat help om die kind dood te maak.

Mag die kerk van ons Here Jesus Christus opstaan met ʼn duidelike stem teen hierdie bose praktyk om kinders aan Molog te offer (Lev. 18:21). En mag gelowiges só die ware godsdiens bedryf wat die weeskinders in hulle nood help (Jak. 1:27). Ja, die kinders wat deur hulle ouers verwerp word om doodgemaak te word, is in werklikheid weeskinders.

Mag die Here ons genadig wees.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter9 ·

Stem 100% saam. Elke keer wat ek hier in ‘Nou Pra’ jy’ gese het dat aborsie niks anders as moord is nie, het die redakteur dit nie geplaas nie. Dus verwelkom ek hierdie mening van ‘n mede gelowige.

Nettie ·

2.2 miljoen sedert 1997?
Sjoe. Soveel meer as wat ek besef het. :-( Dis so bitterlik hartseer!

U is reg, ons moet uitpraat, al maak dit mense seer of kwaad. Ons kan dit nie stop, indien ons nie die “ander kant” stel nie. God se kant. Tans hoor meeste mense net die kant van die wat dit voorstaan. Ons mag ons nie laat stilmaak omdat mense dit nie wil hoor nie.

VaalDonkie ·

daar word jaarliks wereldwyd so om en by 50 miljoen aborsies gepleeg

AndrewL ·

Absolute nare waarheid. Daar is organisasies wat wêreldwyd veg vir sogenaamde menseregte. Hul uitgangspunt is om aborsies oral te wettig en dan ook aan te moedig.

George Soros staan met sy allemintige rykdom aan die voorpunt van hierdie beweging en hou die geld god voor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.