Lesersbrief: Charlize, Amerika het jou laat vergeet

Charlize Theron (Foto: Amy Sussman / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Liewe Charlize

Hierdie is ʼn brief van #45. Ek neem aan jy’t nog nie die nuus gekry dat ek terug getrek het en dat ons nou weer 45 is nie. Ja, in 2001 het my Afrikaanse familie van vyf na Amerika verhuis.

Ek is al sedert 2010 terug op die donker kontinent en bly nou al die afgelope sewe jaar in Namibië, waar my vrou gebore is. Terloops, hier is ook ʼn gesonde getal Afrikaanssprekendes onder wie die meerderheid nie eers wit is nie, wat gerus by die 44 van Suid-Afrika getel kan word.

Onthou jy die gesegde wat lui: “Jy kan ʼn aap uit die bos uit haal, maar jy kan nie die bos uit die aap uit haal nie”? Wel dié aap het (sonder my ouers en susters) teruggekom bos toe en in amper 13 jaar het ek nog nie terug gekyk nie.

Met ons kultuur, taal en mense gaan dit immers beter as wat jy die wêreld probeer vertel het. Dit is so, ons is gewond maar groeiend. Passievol oor die regte goed. Gehard, alhoewel ongelukkig ook verhard. Gereeld teleurgesteld, maar meer dikwels trots. Bekommerd, maar hoopvol. Partymaal bang, maar meestal oortuig van ʼn hoër Gesag.

Miskien is ons maar net mense wat genot daarin vind om die glas half vol te sien – ek is bevrees jy sien nou al die glas soos jy gesê word om hom te sien. Dit bring die gedagte van die bogenoemde aap na vore.

Ek het nou al ʼn vlaag briewe, memes, sosialemediaplasings, en berigte gelees wat gerig is op jou onlangse foutjie. Ek dink die nommer 44 sal vir jare nog ʼn gevoel van naarheid in Afrikaners opwek. Dit daar gelaat.

Ek wil tog my stem by die res bylas om te sê ons vergewe jou naïewe stelling en die manier waarop jy die res van ons, ja óns, Afrikaanse mense probeer onderdruk het. Slegter goed het ons al oorgekom en ons het dit ook oorleef. Ek wonder tog of jy nie dalk maar net tans deur ʼn slegte tyd gaan nie.

Ek onthou self dae in Amerika waarin ek soveel heimwee beleef het dat ek fisies siek gevoel het. En wanneer ʼn mens so voel, is jy partymaal geneig om ander af te druk, sodat jy so ʼn bietjie “hoër” kan voel. Miskien moet iemand jou net weer (met baie liefde) herinner waar Dawid die wortels, jou wortels, gegrawe het.

Jy’t ʼn geleentheid gemis om jou mense, jou land, en jou taal trots te verteenwoordig en ʼn oomblik die kollig te gee. Deesdae voel dit of ons die nuus vir al die verkeerde redes haal, en tog is jy een van ons pragtigste prestasies waarmee ons die nuus behoort te haal vir al die regte redes.

Die Afrikaanse mense (al 44) is teleurgesteld, maar ons sal oneerlik wees om te dink ons is beter of maak nie foute nie. Daarom kan ons ook nie anders as om jou te vergewe nie, om jou te vra om dit reg te stel nie, en trots te bly op dit wat jy bemagtig het in jou trek na Hollywood nie.

Jy is een van ons en sal altyd een van ons bly. Dit is eintlik so diep in jou murg en bene dat selfs ʼn DNS (Afrikaans vir “DNA”)-toets dit sal bevestig. Net soos ʼn berispelike kind nie deur sy familie weggegooi kan word nie, net so kan en sal ons jou ook nie weggooi nie.

Op die ou einde moet jy vir die Amerikaners vertel wat jy goeddink, maar weet net – jy bly ʼn kind van Afrika. Mag jy daar ver oor die see wees, die lewe te geniet, vooruitgang beleef, dinge sien en doen wat ons net ooit op die TV in die Huisgenoot sal sien (en mag jou huis altyd krag hê), maar mag jy ʼn manier vind om dit te doen sonder om die 44 (nou 45), waarvan jy een is, as ʼn byproduk of basterkind te laat voel.

Seën-groete,

Joshua J. Kruger

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

Kan ons nie nou maar van haar vergeet nie, sy het tog net AANDAG gesoek??????

Treurwilger ·

Mooi brief, Joshua, baie dankie.
Altyd interessant mense se ervarings in die buiteland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.