Lesersbrief: Die Eskom-sage

Maarten Kruger skryf:

(Foto: Rodger Bosch / AFP / 2023)

Kom ons noem dit nou maar die Eskom-sage, maar eintlik verwys ons na die punt in die land se geskiedenis toe die land besef het dat as die ligte afgaan, gaan staan die land.

Almal is gou om die ANC te beskuldig. Maar is die ANC alleen te blameer vir die gemors of is iemand/ iets ander hier te blameer? Kom ons kyk nou maar na die laaste 10 maande of so.

Eers het ons die Zondo-verslag gekry wat ons niks vertel het wat ons nie geweet het nie. Die 101 opposisiepartye in die land het soos een man geskree en daar het niks daarvan gekom nie. Toe het ons die Phala Phala-foutjie van ons president gehad. Weereens het die opposisie opgestaan en baie lawaai gemaak en weereens het niks daarvan gekom nie.

En toe kom ESKOM. ʼn Probleem wat nou al vir seker 20 jaar met ons is maar wat nou uiteindelik die opposisiepartye se aandag gekry het. Weereens ʼn geskree deur al die opposisiepartye en 6 maande verder sit ons nog presies waar ons was – fase 6-beurtkrag.

Ons praat nie eers van die toestand van die paaie in die land of die SAL wat eens op ʼn tyd die beste in die wêreld was en wat nou nie meer bestaan nie. Ons praat nie van ons spoornetwerk en hawens nie. Ook nie van ons SAPD en SANDF nie. Ons regstelsel (met die beste Grondwet in die wêreld) is in so ʼn gemors dat ʼn korrupte voormalige president homself nou al 15 jaar uit die tronk uit hou deur van die skuiwergate gebruik te maak.

Feit is ons hele staatsdiens het inmekaar getuimel.

Ek moes al self seker so 5 jaar terug my paspoort gaan hernu het, maar het na 3 ure opgestaan en uitgeloop. Ons praat ook nie van die gevare wat die landbou in die gesig staar soos ʼn jaarlikse bek-en-klou-uitbraak en gebrek aan entstowwe en nog meer nie. En elke keer as daar na een van die probleme hierbo verwys word maak die opposisiepartye lawaai wat op niks uitloop nie.

Kan ons die ANC vir al die gemors blameer?

Waar was die opposisiepartye dan toe die ANC die land inmekaar laat stort het? Of is die probleem nie miskien dit nie? Ons politieke stelsel werk nie!

Het ons ʼn politieke stelsel waar die opposisie se hande heeltemal afgekap is en waar hulle miljoene betaal word om eintlik niks te doen nie? Gaan die oplossing van ons land se probleme nie miskien gevind word in ʼn nuwe politieke stelsel waar die regerende party nie basies ʼn diktatorskap is nie.

Dit moet duidelik vir almal wees dat die ANC die laaste 30 jaar gemaak het net wat hy wil. En ons sit vandag met die resultate daarvan. Het ʼn meerderheidsregering aan die einde van die dag nie groter probleme vir die meerderheid gemaak nie? Kan ons die land se probleme regmaak met dieselfde politieke stelsel wat dit veroorsaak het en reeds bewys het dat dit nie werk nie?

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JvR ·

Wie ookal ANC blameer, gee hul hopeloos te vee krediet. Nie een van hulle het die verstand om so iets uit te dink nie

Republikein in die Wes Kaap ·

Die politieke stelsel het misluk. SA het misluk. Hy kan nie reg gepanelbeat word nie. ‘n Nuwe staatkundige bedeling is nodig.

Treurwilger ·

Goeie artikel!
Die Opposisie-partye kom tandeloos voor, maar is glad nie alleen skuldig nie.
Die formele Sakesektor en veral die Georganiseerde Landbougemeenskap het die hef in hand om véél meer daadwerklik op te tree oor sóveel onregte.
(Leer ‘n paar trieks by Franse en Nederlandse boere.)
‘Geduldig, Gedienstig, Gedweë’ klink net goed in gedigte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.