Lesersbrief: Dink hulle ons is dom?

Johan Wagener van Pretoria skryf:

DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Facebook / DA)

Dertig jaar se ondervinding in die Suid-Afrikaanse staat het my by die punt gebring waar ek nie anders kan nie as om met oortuiging te sê dat die huidige staats- en ekonomiese bestel ʼn massiewe bedrogspul is.

Teen die lamppale word daar tans net een storie vertel: “Alles moet oorgebou word”.

Hoekom het al die Suid-Afrikaanse partye in een of ander vorm die boodskap dat alles oorgebou moet word? Was hulle nie veronderstel om dit wat gebou is in stand te hou en daarvandaan verder te bou nie? Hierdie partye dink so min van die dekades se harde werk en intelligensie van die Suid-Afrikaanse kieser, dat hulle skaamteloos sal voorgee dat die klad van pligsversuim op hulle deur niemand opgemerk word nie.

Hierdie skaamteloosheid is algemeen onder die elite in Suid-Afrika en waarskynlik ook ander lande. Dit is waarom ʼn leidende lig in die Nasionale Party se onderhandelingspan van die 1990’s trots verklaar dat hy oortuig is dat hy die regte ding op die regte tyd gedoen het. Hy moet gekonfronteer word met die feit dat alles nou oorgebou moet word. Hy moet gekonfronteer word met al die belasting wat teen hemelhoë koerse op die publiek gehef is vir dekades en wat alles aan skerwe lê.

Sal hy of enige van die partye wat nou wil “red” bereid wees om eerlik vir die kieserskorps te vertel hoeveel geld deur hulle hande is en waarvan daar nou min oor is! Wanneer ʼn politieke party vir my sê: “Jy wil nou vir die mense vertel wat werklik aangaan” weet ek dat eerlikheid nie ʼn karaktertrek van hierdie bestel is nie.

Wat bly oor?

Ignoreer die verkiesings totdat daar daadwerklike stappe geneem word om die bedrog en manipulasie stop te sit.

Op ʼn besoek van my aan ʼn munisipale gebied in die Noord-Kaap reeds meer as tien jaar gelede is die finansiële hoofbeampte smoorkwaad. Hy word gedreig dat hy vir korrupsie ondersoek gaan word. Dit terwyl die munisipale bestuurder by twee gebiede aangestel is. Die munisipale bestuurder erken dat hy by twee gebiede in beheer is. Hy is deur die invloed van “belangrike mense” in beide gebiede aangestel.

Dit bevestig maar net weer vir my wat ek by talle geleenthede opgemerk het – daar is parallelle strukture oraloor. Hoe kan dit moontlike wees?

Die antwoord is voor die hand liggend. Bedrog en manipulasie is algemeen, want die kieserskorps is oningelig en die fondse is beskikbaar. Die oningeligte kieserskorps verskaf alles wat nodig is om hulleself in die voet te skiet.

Die elite gee voor dat hulle in staat is om hulle funksies met integriteit uit te voer. Verkiesings is hulle stapelvoedsel. Stop! Dit is die eerste vereiste en verander daarna die belastingstruktuur om dit moontlik te maak om hulle befondsing af te sny! Eers dán behoort daar weer (eerlike) boodskappe op die lamppale te wees!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Amelia ·

Elkeen net bekommerd oor hul eie sakke Nie een van hul bly in n plakkerskamp nie nie een van hulle bly in n arm of slef middelklas woongebied nie hul besit almal huise van miljoene sowel as kare nee wat dis net hul eie sakke wat gevul moet word so waarvoor stem jy vir ander se sakke om gevul te word

Kremetart ·

Lees ek reg? Jy gaan nie stem voor iemand dinge gaan verander nie?
Maar dis juis waarom jy moet stem: sodat iemand dinge kan verander!!! ????

Moira ·

Ek dink ons moet alles doen wat ons kan. Stem maar vir die beste van die slegtes, demokrasie is altyd baie lelik. En dis altyd so toevallig hoe die lelik net voor n verkiesing uitkom. Maar om weg te bly en te dink dit gaan help is sinneloos.
Ek dink wel ons kort n beter opsie. En as dit nie bestaan moet ons dit dalk maak.
Ek dink nie iemand anders gaan nie.

Manie ·

Ek lees elders by monde van Gayton dat die PA met 5 ander kleiner partye in die WK gaan saamwerk om die DA uit te skop en dat hy as die premiers kandidaad vir die WK gaan staan. My opinie hieroor is dat dit dieselfde gevolge as Boland Rugby sal hê, die een onderlinge geveg op die ander totdat dit uiteindelik op chaos uitloop. Om terug te kom na die stemmery, ons moet eenvoudig almal gaan stem en ons moet slim stem. In die WK weet ons ten minste wat ons in die DA het, al is hulle nie perfek nie, is hulle nog steeds strate beter as enigiets anders.

Joan ·

Kom ons verwyder diehuidige party aan bewind met al sy trawante, en ONS bou hierdie SA terug tot verrrrrr bo wat hy was. Stem tog net reg(s)!

Bolandse Nooi ·

Mense, sê wat jul wil … stem wat jul wil. Ons, die minderheid wat hier lees, kan “sweet blou all” verander aan wat aangaan in die land. As jy werklik glo dat álle stemme getel word en dat die verkiesings “free & fair” is, sal jy ook glo dat die maan van kaas gemaak is en bewoon word deur die “man op die maan”!!! NIKS, soos in NIKS, NIKS, NIKS gaan verander na 29 Mei 2024 nie.

En INDIEN iets gaan verander, gaan daar sop, bloed en derms spat soos hierdie land nog nooit gesien het nie. Dink julle – vir een oomblik – dat die regerende massas en hul part in die groen-swart-en-goud gaan terugstaan ás dit so gebeur dat hulle minder as 50% kry en dan sê: “wel, ons het nou die verkiesing verloor, so kom ons onderwerp ons maar aan die ander partye …………”

DINK WEER!!!!!!!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.