Lesersbrief: Laat die kindertjies na My toe kom

Heidi Kluever skryf:

(Foto:
Giorgio Trovato/Unsplash.)

Ek sien die foto’s van al die pragtige kinders by merietefunksies en ek weet rapporttyd is om die draai. Jou kind het dalk uitstekend presteer, of miskien is daar nog trane oor ʼn leiersposisie wat sy toe nie gekry het nie… Die feit bly staan, die druk is hoog! Dit beaam elke ouer waarmee ek praat, en selfs die onderwysers.

Ek hoor van kinders wat tyd moet afknyp, in hul reeds besige skedules, om ekstra klasse by te woon om hulle plek op die top 10 te behou.

Ek lees ʼn ander ma se pleidooi op Facebook. Sy vra die vraag of al die graadeentjies soveel huiswerk kry en verduidelik dan dat haar seuntjie in die middae sit en huil. Hy wil tog so graag net gaan buite speel…

Dan wonder hierdie mamma-hart, waarmee is ons besig?

Akademie en prestasie het so belangrik geword in ons samelewing en in plaas daarvan dat dit net een deel van ʼn kind se lewe moet wees, oorskadu dit nou die grootwordjare.

Jy gaan dalk ʼn rapport kry, een wat miskien beter kon lyk. Onthou asseblief een ding – al lyk daardie rapport hoe sleg en verdoemend, jou kind het steeds ʼn skeppingsdoel. Elke kind op aarde het ʼn skeppingsdoel en ʼn roeping!

Die Here het steeds ʼn plan vir jou kind, al vertel die rapport ʼn ander storie. En ja, ʼn mens moet jou beste gee, maar akademie is nie al wat tel nie.

Dis tyd dat ons ons gedagtes weer kalibreer hierdie Desembervakansie. Vra jouself die vraag: “Waarmee is ons besig?”.

Is daar dalk iets wat ons moet los volgende jaar of dalk minder van moet doen? Of iets wat meer aandag kort? Wat is regtig belangrik?

En vra hierdie vrae met ʼn ewigheidsperspektief in gedagte. Hoe gaan dit met my kind se geestelike welstand? Wat is sy vrese, sy drome?

Diep binne my wonder ek. As Jesus by ons merietefunksies sou opdaag, sou ons dalk verwag dat hy op ʼn ereplek in die voorste ry gaan sit en hard hande klap vir al die prestasies? Dan wonder ek tog of Hy nie dalk juis iets radikaal sou doen nie soos om die kinders te roep na sy skoot en voete en dan vir hul ʼn storie te vertel – soos wat net Hy kan.

Is dit nie dan ook die plek waar ons eerder ons tyd in die volgende jaar moet spandeer nie? Knus, langs mekaar by Jesus se voete.

Mag ons tyd maak om hierdie vakansie by die kinders se harte uit te kom en sommer baie te gesels en laf te wees. Trek jou kind nader en fluister in sy oor, kyk diep in sy oë, sodat hy kan weet hy ís geliefd!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Ek verstaan merite aand is ‘n groot ding in ouers en kinders se lewens. Maar dit is ook iets in die kind, wat baie harder as die ander moet werk om bo uit te kom, om nie na uit te sien nie. Ek was ‘n deel van my laerskoolloopbaan in Frankryk op skool, in ‘n staatsskool. As vreemdelingbin ‘n vreemde taal, was dit baie moeilik maar ek is daar deur. Wel, aan die einde van die jaar was daar ook toekennings. Ouers woon nie sulke goed by nie. Maar elke kind het ‘n boekprys gekry. Die beste, die dikste boek en die wat s die swakste gevaar het, die dunste. Maar daar is verby die dikte geky, want elkeen was trots op sy boek. Daar was ook ‘n toekenning vir kameraadskap, wat ek die 2 jaar gewen het, sonder dat ek geweet het dat daar vir my getem was. Dit was spesiaal. So, ek stel voor dat elke kind, veral die ou kleintjies ‘n toekenning kry, maak nie saak hoe onbenullig dit vir ander lyk nie, en kyk hoe blom sp ‘n kind. Dis wst ek sou doen.

kulukind ·

Dankie Heidi, vir ‘n uit-die-ouer-hart brief. Ewigheidsperspektief. Ewigheidswaarde. Ek geniet en waardeer hierdie insette!

OW ·

Goeie skrywe.Stem saam dat leierposisies en goeie punte nie alles op skool is nie.Daar is baie kinders wat eers na matriek begin om rigting te kry.Dit lyk my dit is nog dieselfde as in my jare op skool.Die onderwysers het swanesang gehad vir die uitblinkers,maar die agterbankers word maar net van vergeet,minwetend dat daar juwele in die groep is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.