Lesersbrief: Meneer die President, ons voel moedeloos

Lorenda Mudge van George skryf:

Lorenda Mudge

Kom ons wees eerlik meneer die President, hierdie brief sal jou seker nooit bereik nie en nog minder sal jy hom verstaan, want jou party is mos allergies vir Afrikaans.

Tog voel ek dit nie nodig om aan jou te skryf in Engels nie, al is ek vlot tweetalig.

Hoekom?

Ek is in Afrikaans gebore en grootgemaak.

Dit is my moedertaal.

Ek is gebore in apartheid, maar grootgemaak onder die ANC.

Ek is gebore in Suid-Afrika. Hierdie land is my land ook. Hierdie grond bevat my DNS. Ek het net soveel reg soos jy hier. Om ʼn bestaan te maak hier. Om my kinders hier groot te maak. Om te swem in die see onder die Afrika-son.

Ek is wit, Afrikaans, ʼn vrou, ʼn mamma, en eienaar van ʼn klein besigheid en kom ek vertel jou gou ʼn ding:

Ek is nie arm nie, elke aand is daar kos op my bord. My kar ry nog, al brand die enjin-liggie nou al ʼn geruime tyd en ek het nog ʼn dak oor my kop. Na my man huur betaal het, kan hy nie eers vir hom ʼn Wilson-toffie koop nie. Nee daai salaris maak net ʼn pitstop in die rekening.

Hier waar ek bly is dit amper onmoontlik om ʼn huis te huur vir minder as R10 000 en dan is jy gelukkig as jy jou kinders en plastiekvissie mag saam trek, want hier is plekke nie kinder- of dierevriendelik nie. Party van die advertensies vir huurhuise laat jou wonder of jy mag asemhaal in die huis.

So hoekom trek ons nie stad toe nie, daar is huur mos goedkoper?

Maar ek het.

Ek het meneer die President.

Ek is twee keer deur ʼn gewapende roof en amper gekaap, so toe trek ek terug na my grootworddorp toe en probeer nou maar ʼn bestaan maak.

Ek het genoem ek is die eienaar van my eie besigheid. Fancy nè?

Dink weer.

In Maart 2020 het jy vir my en ander besigheidseienaars belowe jy gaan na ons kyk en seker maak ons is oukei. Jy het begin uitdeel soos Oprah. ʼn Ietsie vir jou, ʼn ietsie vir jou.

Nee oom Cyril, ek het nie eers ʼn bietjie van daai ietsie gekry nie.

Want ek is te wit.

Ek kan nie eers ʼn besigheidslening kry om ʼn bietjie uit te brei nie, want ek maak te min en al die toelae wat jy so uitdeel is nie op my van toepassing nie.

Ek verdrink onder al die prysverhogings. My kar lag vir my elke keer wat ek R200 ingooi. Die naald lig nie eers nie. My kragboks kan net tot 30 tel, want daar is nooit meer as R100 vir krag nie. Dan praat ons nie eers van kospryse nie. O nee, ʼn pakkie 2-minuut noedels is al amper ʼn brood se prys en die brood kos al amper wat ʼn T-been kos.

En kom ons gesels sommer oor beurtkrag.

Ek het in ʼn week van 40 uur, meer as 10 uur se werkstyd verloor. 10 uur se inkomste waarsonder ek nou moet klaarkom. Wat doen jy hieraan? Jy laat my meer betaal vir krag wat ek amper nooit het nie.

Wanneer gaan ek saak maak? Ek is wit, Afrikaans,“previously advantaged” en ek sukkel om te oorleef.

Jy doen absoluut niks oor my finansiële welstand nie en nog minder oor my veiligheid.

Ons besighede word in die daglig beroof. Mans wat hulle vroue amper doodslaan kry ʼn boete en mense wat hulleself verdedig gaan tronk toe, terwyl die verkragter en moordenaar vry rondloop.

In plaas van dat jy jouself, jou kabinet, jou party en die land regruk, vat jy eerder vir Steve Hofmeyr hof toe omdat hy sê hoe hy voel.

Ons almal voel iets oom Cyril. Ons voel moedeloos. Ons voel verlore. Ons voel moeg.

Dink daaraan as jy vanaand jou sakgeld onder jou bank se kussing bêre.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Delene ·

Duisend dankies Lorenda! Jy verwoord die presiese issues waarmee ek en my lewensmaat, naaste familie en vriendekring daagliks mee worstel. Ons is uitgelewer aan genade brood en aan ‘n Regering in ‘n land wat ons as bywoners beskou en hanteer……..

Dapper Patriot ·

Ek stem volkome saam.
Moet net nie vir Cyril “oom” noem nie.
Asseblief

Waarnemer ·

Lorenda,die Afrikaanse spreekwoord “so n bek kort jem” of die Engelse een ” Give that lady a Bells” is op jou van toepassing.Jy het jouself en derduisende blanke Afrikaans sprekendes verteenwoordig met jou brief.Dit is regtig jammer dat Cyril dit nie te lese sal kry nie…hy sal dood van skaamte…Welgedaan!!!

@n0Niem77 ·

Dankie vir jou brief Lorenda. Dit sal nie Cyril se gewete of die ANC se morele kompas aanraak nie, maar jy het met jou brief baie SA’ners bymekaar gebring.

annie ·

Nee, hierdie brief is ‘n samevatting van die tragedie waarin die sg onderhandelaars hul naaste laat beland het. Om ‘n man om genade te smeek wat sou gesê het Afrikaners sal soos paddas in ‘n pot kookwater wriemel, terwyl die hogere uwe self in sy eie swartpot van moleste stowe, is onuitspreeklik erg. Ons moet eerder besef dat dié hulpgeroep soos een by die tranemuur in Israel opstyg ten hemele en sekerlik Bo gehoor word. Ons moet op ons knieë by die Regte Plek gaan huil. Die ANC is nienand.

Frieda ·

Dis so jammer hierdie fantastiese brief word deur die verkeerde mense gelees en nie dié wat die oorsaak van al die ellende is!!

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Grootse dank vir hierdie treffende brief. Daar is beslis ANC-en EFF-leiers wat Afrikaans kan lees en verstaan.
Jy is ‘n rolmodel wie gesien word op te staan vir ware geregtigheid. Mag vele mede-Suid-Afrikaners ook sodanige rolmodelle word: swartmense, bruinmense, geelmense en witmense wat geregtig is op ‘n beter lewe in hierdie wonderlike land Suid-Afrika.

Johan ·

Om ‘n brief aan die president te rig wat nie by die president gaan uitkom nie is eintlik nutteloos!
Hoekom doen jy nie moeite om dit in sy inboks te kry nie?

Piet ·

Dankie Johan. Alhoewel dit ons huidige situasie is, help dit niks om vir cyril te skry op Maroela Media nie. Die afduime sukkel ook met die konsep.

Vexed ·

Voorstel, ek glo Lorenda sal jou met graagte toestemming gee om dit in Cyril se inboks te kry. Dankie.

Stephen ·

Ek salueer jou. Vertaal hierdie brief en stuur dit vir die Presidensie. Ek twyfel egter of hy dit sal verstaan.

Suzette ·

Baie goed gestel Lorenda – ek hoop van harte dat jou brief wel by cyril uitkom…

Martie Smartie ·

Wil jy sy antwoord hoor? Mmmm, my plan werk, my party se plan werk puik, witmense gaan onder, die paddas kook al lekker …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.