Dr. Richard Harding skryf:
Bewerings van owerheidsongerymdhede is nou ʼn realiteit wat op menige sosiale platforms en in koerante verskyn. Wat ook deur myself, in verskeie koerante aangedui is. Hierdie is die gevolg van openbare amptenare wat die nou pad van billike en regverdige administratiewe optrede byster geraak het.
Beweerde wandade, korrupsie en ander onetiese vergrype wek die persepsie dat standaarde rakende dienslewering ten opsigte van publieke administrasie by die dag versleg. Dus verloor die publiek vertroue in die diensleweringsvlakke van die regering. Die geloofwaardigheid van staatsinstellings word ook bevraagteken.
Die belangrike vraag is dus: is geregtigheid ʼn moontlikheid of bly dit ʼn onwaarskynlikheid?
Staatsdepartemente se samestelling sentreer rondom die implementering van tydige dienslewering, die daarstel van ordelike en veilige gemeenskappe, om landsburgers te beskerm en elkeen vryheid te verleen om hul passie en lewe sinvol te leef.
Tans is die mensdom vasgevang in ʼn web van komplekse reël-gedomineerde staatsinstellings waaruit hulle nie kan kom nie. Diesulke benaderings lei tot onbillike besluite en ʼn skending van geregtigheid.
Elke persoon het die reg tot regsgeldige administratiewe optrede wat dus regverdigbaar en wesenlik prosedureel billik is.
Wat egter tans ervaar word, is wanadministrasie, korrupsie, nepotisme, kader-ontplooiing en die ignorering van diensleweringsverantwoordelikhede.
Dit is van uiterse belang dat doeltreffende gevolgebestuur toegepas word sodat diegene wat nie presteer nie uitgewerk kan word.
Die fokus moet berus op die ontwikkeling van bestuurders en werknemers – om te beplan en verwagtinge vas te stel, uitkomste te evalueer en te hersien, ooreenkoms te bereik oor verbeteringsplanne en soms (slegs indien die organisasie wel presteer) prestasie te beloon.
ʼn Holistiese beskouing van, of geïntegreerde benadering tot, prestasiebestuur behoort die neem van korrekte besluite en die aanstelling van die regte personeel in te sluit. Asook die belyning van werksinhoud met die doelwitte wat bereik moet word, teikenbepaling, opleiding, die vasstelling van standaarde, die meting van uitkomste, prestasiebeoordeling, monitering en mentorskap.
Werknemers moet alle beskikbare interne beleide en prosedures benut om wanpraktyke aan te spreek en bloot te lê. Om ʼn paar te noem: die instelling se gedragskodes, grief-prosedures, skedule agt van die Wet op Arbeidsverhoudinge, regsdienste, die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), en die gesamentlike pogings van alle belanghebbendes om lae standaarde en onaanvaarbare vlakke van dienslewering aan die lig te bring.
Al die bostaande beginsels en uitdagings kan in realiteite omskep word deur jou stem reg te gebruik – reageer reg, dink reg, stem reg en behou jou reg. Die hand wat sy deelname weier, is die hand wat Suid-Afrika se demokrasie versaak.
Nee wat doktor, SA is nou ‘n misdaad ashoop. Kyk maar na al die indekse. Ons wêreldtjie hier is op sy kop gedraai. Sake sal nie verander nie, want dis duidelik dat die ANC reeds die mag aan buitelandse misdaadsindikate en ander regerings oorhandig het.