Lesersbrief: Waarom skeep ons lees stééds af?

Prof. Surette van Staden skryf uit Innsbruck:

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

As nasionale navorsingskoördineerder vir die PIRLS 2021-studie in Suid-Afrika, het ek my meesal uit die media gehou na die aankondiging van die resultate op 16 Mei 2023.

Enersyds om te sien wat die reaksie uit verskeie velde gaan wees, andersyds omdat ek weet dat die media (en veral sosiale media) dikwels reeds op die hoofopskrif besluit het so gou as wat die vergelykende grafieke met ander lande vertoon word. Tyd vir tegniese verduidelikings, aanmanings oor korrekte gevolgtrekkings en hoe om die data te interpreteer is daar nie juis voor plek nie.

Maar so gebeur dit dat ek reeds verlede jaar in Februarie ʼn leessimposium in Stellenbosch bywoon, een van die vele pogings tot intervensie om dinge beter te laat uitsien vir kinders wat regoor grade sukkel om te lees in ons skole. En prof. Jonathan Jansen vra ʼn interessante vraag: As ons weet lees is belangrik, waarom word dit steeds geminag? Waarom kry ons dit nie reg nie?

Op pad terug na Johannesburg daardie aand maal die vraag in my kop en ek kry die geleentheid in die week van die PIRLS-bekendmaking om dit weer met die dekaan van die opvoedkundefakulteit by die Universiteit van Pretoria te bespreek. My slotsom is dit: skoolhoofde in wanfunksionele skole vertel vir my dat hulle gelukkig is indien hulle leerders graad 9 of selfs matriek bereik.

In informele gesprekke erken skoolhoofde dat die meeste van hierdie kinders die sisteem verlaat en meisies word waarskynlik swanger vir die bietjie SASSA-geld wat beter is as niks, terwyl seuns meesal by kriminele bendes en aktiwiteite betrokke raak om vinnig geld te maak om luukses te koop wat die beeld moet poleer.

Om vir hierdie kinders te propageer dat geleerdheid (en hierby lees, natuurlik), hulle uit hulle armoede sal kry, is geen geloofwaardige argument nie. Vir die onmiddellike behoefte is daar geen geldeenheidswaarde aan ʼn oplossing en drome van geletterdheid wat uiteindelik, dalk, na ʼn eerbare werk met ʼn beginsalaris ver onder verwagting sal lei nie. Lees het eenvoudig niks waarde nie.

ʼn Oorvereenvoudiging dalk? ʼn Growwe veralgemening? Want ek weet hoe die harde werk in gemeenskappe met ondersteuning van onderwysers en ouers by die huis daardie klein persentasie van kinders raak vir wie lees wel deure oopmaak tot ʼn groter bewussyn en beter realiteit. Maar vir die oorgrote meerderheid kinders in kwintiel een, twee en drie skole, wat by gebrek aan vaardige ouers en ondersteunende gemeenskappe self probeer sin maak uit hulle realiteit, is lees nie die aantreklike opsie wat vinnige resultate en gewenste verandering aan onmiddellike nood sal meebring nie.

Ek woon en werk sedert November 2023 in Innsbruck, Oostenryk, ʼn skrille kontras met die konteks waar ek vandaan kom. Maar op pad werk toe, in my omgang met studente hier en die dophou van gesinslewens soos ek dit hier sien, kan ek nie help om op te merk dat die waarde van die onmiddellike getroef word deur die waarde van wat ons vandag lees ter wille van môre wat die skaal laat kantel nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MARELIZE ·

Lees begin tuis. As die ouers nie vir die klein kinders, kleuters, stories lees nie, sal hulle nie die wonderwêreld van boeke ontdek nie. As daar geen voorbeeld van lesende ouers is nie, hoe sal die kind boeke as skatkisse vol geheime, avontuur of kennis sien?

Maar veel meer nog, ons dwing kinders gans te vroeg in selflees en leer lees in. Dit skep ‘n vrees vir hardop lees (ek kan nie, die kinders lag vir my) wat uitdraai op ‘n algehele aversie in boeke. Die biologiese/fisiologiese ontwikkeling van seuns en dogters verskil uiteenlopend. Dis so belangrik om die kinders eerder later as vroeër te leer lees. Prikkel die nuuskierigheid, stel die wonderwêreld van boeke bekend, maar moenie hulle daarin dwing nie!
Dogters mag op 7-8 leesgereed wees, maar seuns is dit eers vanaf 10 jaar af.

Tog dwing ons hulle al vroeër en vroeër na papier en boek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.