Lesersbrief: Wat is eintlik fout met Pride-maand?

Alf Olivier van Pretoria skryf:

‘n Aktivis se silhoeët word deur ‘n reënboogvlag gesien tydens ‘n Gay Parade in Kiëf op 25 Mei 2013. (Foto: Sergei SUPINSKY / AFP)

Pride-maand ondersteun die LGBTQ+-gemeenskap met verskillende seksuele oriëntasies, -identiteite en -uitdrukkings. In baie plekke word daar nog sterk teenoor hierdie gemeenskap gediskrimineer.

Behoudende Christene glo dat seksuele diversiteit teenstrydig is met die Christelike leer. Liberale Christene voer aan dat Jesus se kruisdood vir al ons sondes betaal het – en ons nie meer skuldig hoef te voel oor seksuele sondes solank dit niemand benadeel nie.

Vandag is almal gebreinspoel om skuldig te voel oor diskriminasie – en besef nie dat mense juis hierdie gevoel in ons misbruik om ons goedkeuring af te dwing om in sonde voort te leef nie.

Paulus skryf dat “daar ʼn tyd sal kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.”

Spreuke 16:18 wys waarheen hoogmoed lei: “Trots kom voor die ondergang, en hoogmoed kom voor die val”.

In 1 Johannes 2:16 lees ons “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die trots van die lewe, is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld”. Dit is teenstrydig met God se wil.

Paulus skryf in Romeine 1:24-25 dat God mense wat hulself meer as vir Hom vereer, Hy in wellus vir mekaar laat swig.

Trots is ʼn sonde omdat dit ʼn oordrewe selfliefde en selfverheffing vertoon, wat kan lei tot die minagting van ander mense en selfs rebellie teenoor God. Daarenteen is nederigheid ʼn deug, wat ʼn regte verhouding tot God en ander mense bevorder.

Daar is beslis mense wat daagliks sukkel met seksuele oriëntasies – maar dit is nie regverdigbaar om as Christene vir diegene te sê dat hulle volle uiting aan hul welluste moet gee as dit teenstrydig met die Woord is nie.

Alle sonde lei tot die dood – en slegs deur die aanvaarding van Jesus se kruisdood kan jy die ewige lewe bekom. Paulus skryf in Romeine 6:12-23 dat as ons dit weet, hoekom sal ons in die vlees aanhou lewe? Onthou jy dan nie die gees het die vlees oorwin nie? So moet ons nou almal wat met die vleeslike stry aanspoor om in die gees te lewe – want dít is die waarlike lewe – wat lei na die ewige lewe.

Laat ons in liefde en empatie uitreik na mense wat nog in die vlees wandel – en ook diegene wat soms struikel en val en sukkel om weer op te staan. Maar laat ons nie mense onder ʼn wanindruk plaas en verkondig dat wat verkeerd is in die Here se oë reg is nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.