Lesersbrief: Wysheid

Annelie Gericke

Annelie Gericke van Heidelberg, Gauteng, skryf:

Middeljarig. Ja, ek is nog aan die “regte” kant van 60, net-net, maar darem. En ek word in besit geneem van ʼn gevoel van saligheid.

Toegegee, die gedagte aan die onvermydelike fisiese degenerasie wat noodwendig in ʼn mindere of meerdere mate deel is van die genade van oudword, vul my nie juis met opgewondenheid nie, maar daar is ook ʼn teenpool… wysheid.

Daai plek wat ʼn mens net kan bereik deur die stampe en stote van die lewe… om ʼn deelnemer te wees en nie ʼn toeskouer nie; om ʼn reisiger te wees en nie ʼn toeris nie; om vas te meer, te parkeer en nie net stil te hou nie.

Die bevryding van die wete dat ek niks meer hoef te bewys nie: nie aan ander nie, nie aan die wêreld nie en ook nie aan myself nie. Ek is die bewys… ʼn  bewys van ʼn deurwinterde lewe… ʼn sameflansing van vervulde drome en dalk ook verspeelde kanse. En… dit is oukei!

Ek kyk in die spieël en ek sien nie plooie nie, maar lewenslyne, my lewensverhaal. Die bewys van my lewe. Ek sien nie rekmerke nie, maar die nalatenskap van die wonder van swangerskap en die gawe van ʼn nuwe lewe skenk.

Ek blameer nie ander of omstandighede vir my situasie nie, maar aanvaar verantwoordelikheid vir my eie besluite − goed of sleg. Daar is die kans, met elke nuwe dagbreek, om nuwe geleenthede te skep, ʼn nuwe kans om van voor af te begin en ʼn verskil te maak.

Die wete dat gister verby is, water onder die brug, en môre nog op pad is. Al wat ons het, is vandag. En eintlik is vandag nooit verby nie, want môre − wanneer dit aanbreek − is maar weer net ʼn vandag. Die enigste ding wat dus werklik belangrik is, is die huidige oomblik. Die waarde van hierdie oomblik word bepaal in hoe teenwoordig ons op daardie moment in die situasie is.

Mark Twain het eenmaal gesê: “Daar is twee belangrike dae in ʼn mens se lewe: die dag toe jy gebore is en die dag wanneer jy uitvind hoekom jy gebore is”. Dit is ongetwyfeld só, want as jy weet hoekom jy hier op aarde is, gaan jy jou lewe daarvolgens rig. Dit is die bepalende faktor vir daardie periode tussen geboorte en sterwe… die lewe. Hierdie wete gaan bepaal of jy asemhaal en of jy werklik lééf. Dit gaan bepaal of jy ʼn fontein is of ʼn drein.

Ek glo die meeste mense (wat vrede in hul lewens ervaar) kom op ʼn punt waar dit nie meer gaan oor die bymekaarmaak van besittings nie, maar eerder die bymekaarmaak van herinneringe, van ervarings. Die ware betekenis van menswees. Daai bestaanswệreld wat jou gebring het waar jy is en jou gemaak het wie jy is. Daardie wete dat ons almal hier is om mekaar te dra deur al die seisoene, totdat ons uiteindelik “tuis” gekom het. En intussen, totdat ons daardie eindbestemming bereik het, om die reis te geniet!

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Daar is onderwerpe en onderwerpe en dan is daar voorwerpe; dinge soos spiese, swaarde, gewere en giftige stowwe. Bogenoemd tema handel oor ‘n naamlose giftige stof. Los dit vir ouens wat met sulke dinge werk in klein donker kamertjies en nadat hulle klaar is hul hande goed skrop. Die goed is gevaarlik!

Hendrik ·

Baie waar die besef waarom jy in die lewe is maar ook wie die EEN is wat agter jou lewe staan. Ons lewe is alleen bedoel om koninkryks- skeppend te wees en daarin le die sin van alles en lewensgeluk.

Pietertjie ·

Toe ekself jonk was (is nou al aan die verkeerde kant van 60) het ek altyd gewonder hoekom oumense so “weird” is. Noudat ek self oud is, besef ek hoekom dit so is, en hoekom dit nie vir jonger mense beskore is nie: dis kennis, ondervinding, ervaring wat oumense weird laat voorkom. En hulle wéét wat jonger mense dink en doen, want die oumense was sélf al daar…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.