Luister: Ma se pelgrimstog vir oorlede seun

Lihan en Elphia du Plessis. Foto: Facebook

Lihan en Elphia du Plessis. Foto: Facebook

Hierdie brief is deur Elphia du Plessis geskryf. Maroela Media het ook met Du Plessis gesels oor die pelgrimstog wat voorlê.

In Junie 2014 het Maroela Media ‘n paar berigte oor my seun, Lihan du Plessis, wat op 16 Junie 2014 in ‘n fratsongeluk op ‘n plaas naby Bismarck (Washburn) in North Dakota in die VSA dood is, geplaas. Die manier waarop die berig geskryf was, het so baie harte aangegryp en ek het van heinde en ver ondersteuning gekry, van bekendes en onbekendes, van Afrikaanssprekendes en anderstaliges, van mense uit my verre verlede, ouers wat al in dieselfde bootjie was.

Dis nou byna ‘n jaar later, ‘n jaar van baie vrae en min antwoorde, van hoogtepunte en laagtepunte, ‘n holderstebolder getuimel waar dit partymaal gevoel het of my wêreld heeltemal uit sy wentelbaan geruk word.  Al daardie eerstes sonder my grootseun – sy 28ste verjaarsdag ‘n maand na sy dood, my verjaarsdag sonder die vroegoggend telefoonoproep waar hy eers baie laf vertel dat die OU vrou darem nou regtig oud raak en dan hy wat bewoë raak wanneer hy dankie sê vir alles wat sy ou moedertjie vir hom en sy boetie doen, Kersfees, toe 2014 sy laaste asem uitblaas en sy plek vir 2015 verruil en ek nie die gebruiklike HAPPY HAPPY-boodkap kry nie.

Die heel ergste was die 30ste April, daardie dag toe ek hom die laaste keer lewendig gesien het, daardie dag toe hy op die Kaapse lughawe op die vliegtuig geklim het en met groot drome en sterre in sy oë op ‘n volgende groot avontuur vertrek het.  As ek maar geweet het dat ek hom nooit weer sal sien nie, sou ek hom net ‘n bietjie langer styf teen my vasgedruk het, sou ek nog een keer vir hom gesê het hoe lief ek vir hom is en hoeveel hy vir die hele familie beteken.  Moedersdag, oupa Dirk se begrafnis!

Ek het intussen na ‘n nuwe dorp verhuis, by ‘n nuwe werk begin en vang ek myself nog gereeld dat ek vir hom ‘n whatsapp wil stuur oor iets wat gebeur het, of ‘n foto van ‘n mooi plek wat ek besoek het.  Maar dan tref dit my dat daar nie ‘n telefoonlyn of selfoonsein hemel toe is nie en dat net die selfoon op my bedkassie gaan bliep met ‘n boodskap wat ek self gestuur het.

Maar die lewe gaan aan. Mense vergeet, fokus weer op hulle eie dinge, hartseer tref ander families en ondersteuning word verplaas na waar dit nodig is. Maar daar is geen seerder seer as vir ‘n ouer wat ‘n kind aan die dood afgestaan het nie, maak nie saak hoe oud die kind was of wat die omstandighede was nie.  My ouma Botha was ‘n vreeslike verbitterde vrou tot en met haar dood in 1979 en niemand kon verstaan waarom nie, maar nou weet ek – Ouma het 6 kinders in die wêreld gebring, waarvan net 2 haar oorleef het.  En in daardie tyd was ‘n psigiater wat kon help met antwoorde op die vrae, ‘n rariteit en pille was ‘n euwel.  Die arme predikant moes maar instaan vir al die ondersteuning en was nie altyd daarvoor opgelei nie.

Hierdie is ‘n lang inleiding om by die kruks van die storie uit te kom – ek vertrek die 10de Junie op ‘n pelgrimstog North Dakota toe en wil probeer om binne 10 dae in my kind se voetspore van die laaste 6 weke van sy lewe te loop, of liewer te hardloop want hy was altyd aan die beweeg. Die eienaar van die plaas waar die ongeluk gebeur het, was so gaaf om toestemming te gee dat ek die 16de Junie die plaas en die ongelukstoneel kan besoek.  Daardie dag gaan bitter moeilik wees, maar ek wil dit doen en ek wil dit alleen doen.  Hopelik kry ek dan berusting en kan daarna weer aangaan met my lewe.  Die Bismarck Wolves (veral die kaptein en spanbestuurder, Tyler Everding) waar Lihan American Football gespeel het, het gehelp met my reisreëlings, en ek het afsprake met verskeie mense wie se paaie syne gekruis het daardie 6 weke in North Dakota.

Ek wil vra dat al die lesers van Maroela Media hulle gebede en positiewe denke saam met my sal stuur. Hierdie is ‘n hoofstuk wat nou afgesluit moet word, want terwyl ek nog daarmee besig is, skeep ek my Jurie-kind geweldig af en terwyl hy en Melissa opgewonde en entoesiaties besig is om aan hulle troue van die 3de Oktober te reël, sit ek nog elke dag in my kokon van hartseer en treur vasgevang.  Daar sal seker nooit antwoorde op al die vrae wees nie, maar ek glo en vertrou dat die intensiteit van die vrae met tyd minder sal word.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Karmenaadjies, Podsendings, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Charlotte van Leeuwen

Jy doen die regte ding. Dit gaan seer wees, maar dit gaan ook vir jou soveel mooi herinneringe gee om te beleef waar jou kind sy laaste dae deurgebring het. Baie sterkte en mag jou siel gevoed word. Ek ken jou pad en weet dat tyd die seer sagter maak, maar omdat ons hulle lief het bly hulle vir altyd in ons harte. Mag die Here se genade ook vir jou genoeg wees.

chris

Wat ‘n hartseer verhaal. Elphia, ek wil jou alle sterkte en krag toebid vir jou pelgrimstog. Weet dat die Here saam met jou die pad sal stap en dat jy deur Sy groot genade en liefde die krag sal ontvang om weer vrede te kry. Ek het self my seun van 25 jaar so ongeveer ses maande aan ‘n massiewe hartaanval verloor, in sy slaap. DIE VRAE HOU NOOIT OP NIE EN DIE GEMIS RAAK SOMS TE VEEL. !! Sterkte .

Louise

Ek glo jy sal aanvaarding en berusting kry as jy die paadjie stap – sterkte, pas jouself mooi op! Kom veilig terug met ‘n hart vol herinneringe!

Sharon Anderson

Dankie aan die polisie. Ek kan net met lof praat elke keer wat ek met ons manne blou te doen gekry het.

HEVW

Elphia, dit is baie duidelik jy het nog nie afskeid geneem nie,en die rouproses is nog nie afgehandel nie. Die geleentheid was nie daar nie,maar jy is beslis daarmee besig. Ek vertrou dat jy berusting sal vind by die besef van die finaliteit van die dood wat n werlikheid in ons aardse lewe is. Wees verseker,in n noue verkouding met jou Verlosser sal daar genesing kom en selfs ook weer vreugde al is dit moeilik om dit op hierdie stadium te glo. Sterkte en seen op hierdie weg word jou toegebid.