Lesersbrief: ’n Mondvol herinneringe

Anelia Heese (Foto: Verskaf)

Anelia Heese van Neurenberg in Duitsland skryf:

Ouma-beskuit. NikNaks. ProNutro. ʼn Blikkie Creme Soda verby die vervaldatum.

Vakuumverpakte biltong van wie-weet-watter-bees. Vra enige Suid-Afrikaner wat in die buiteland woon: ons gee toe dat ons by tye hierdie dinge ten duurste aanskaf.

Maar wie wil nou massavervaardigde Ouma-beskuit koop as jy vars Italiaanse biscotti kan eet?

Hoekom is jy in vervoering oor die sintetiese aarbeigeur van ʼn Fizzer, wanneer jy ʼn stroopsoet aarbei op ʼn eeue oue Europese mark kan koop? Wat skuil agter die magie van Simba-blatjanggeuraartappelskyfies wanneer jy ʼn varsgebraaide shawarma kebab met warm, komplekse geur kan geniet? Verruil jy nie liefs die kalorieë van ʼn glibberige, drillerige blob Peppermint Crisp-tert vir die sagte, ryk genot van ʼn Duitse Käsekuchen nie?

Wanneer die nostalgie ons tref, dan raak die kos uit ons kinderdae eweknie met die veiligheid van ʼn Suid-Afrikaanse ambassade. Die etiket van ʼn blikkie Lucky Star Pilchards raak die amptelike permit van geborgenheid. Die papiertjie van ʼn Wilson-toffie word ʼn seël op ʼn lugposbrief vir ons mense.

En ja, as die somer weer in Europa arriveer, sal ek dalk ten duurste Oros-koejawelsapkonsentraat koop. Ek sal ʼn koppie daarvan in ʼn plastieksakkie gooi, dit toeknoop en in die vrieskas sit. Dit sal my terugneem na ʼn dag in Januarie 1996 waar ek kaalvoet op ʼn siedende grondpad skoleatletiek gedoen het en ʼn tannie uit haar plakkershuis vir my ʼn laafnis teen 50c verkoop het.

Wanneer die verlange onuithoudbaar raak, dan soek ons trooskos. Huiskos wat ons herinner dat daar ʼn land aan die suidpunt van Afrika is wat ons gemaak het wie ons vandag is.

Bobotie is vir die openhartiges, braaivleis vir die pioniers. Beskuit word nie deur die atmosferiese gesteldheid geïntimideer nie en sal jou getrou op ʼn ossewa of sneltrein vergesel.

Mieliepap is ʼn oplossing vir rasende tieners wat vroegoggend van Vleesbaai se strand terugkeer. Dis ʼn oomblik van rus onder die wingerdkappe saam met Gladys, waar sy haar maal in ʼn verbleikte roomysbak vir “mirrag” met my deel.

Pannekoek is ʼn aangename verrassing op ʼn skoolaand ná ʼn donderbui. Dis ʼn geldinsameling wanneer die beslag in ʼn 50 liter-oliedrom met ʼn (skoon) tuinvurk geklits word.

Wanneer ʼn familielid ʼn huldeblyk opneem en vir Herklink stuur om dit in ʼn virtuele begrafnisdiens te verwerk, word daar die mooiste dinge oor hul geliefde gesê. Daar word hulde gebring aan hul pligsgetrouheid, familieverhoudings en stokperdjies. Die hulde is dikwels verweef in ʼn herinnering aan kos.

Daar is die storie van die oom wat vir sy Namakwalandse familie gaan kuier en tot skemeraand met die kinders krieket speel. Die wedstryd word met ʼn maal van boerbrood, kaiings en korrelkonfyt afgesluit. Daar is die tannie wat ander graag by haar huis ontvang en altyd met koffie regstaan – sodanig dat sy sélf agt koppies koffie per dag gedrink het.

Daar is die oom wat by die spoorweë gewerk het en elke middag “proppers” in die kantoor tafelgedek het om die kos wat sy vrou vir hom ingepak het, te nuttig. Daar is die matriarg wat plegtig elke Sondag ʼn manjifieke melktert gebak het, en toe ʼn vriendin die befaamde familieresep volg, toe “bak die ding nie eens ʼn halfduim hoog nie”.

Soms moet ons met die dood gekonfronteer word om te besef hoe belangrik ons daaglikse brood is, en hoe geheg ons aan die mense is met wie ons brood breek. Voedsel is fisieke sekuriteit, en kos is geestelike geborgenheid. Die IVB oftewel IPC (infeksievoorkoming en -beheer) se Februarie 2021-verslag dui dat byna 12 miljoen Suid-Afrikaners weens die pandemie se impak op voedselpryse en werkloosheid aan honger ly.

Ons medeburgers verdien beter: beter kos, ʼn beter lewe. ʼn Beter huldeblyk.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.