Onnie kla oor aanlynskoleregistrasieproses

skool-skoene

Foto: Pinterest.com

’n Onderwyser van Pretoria skryf:

Maroela Media se berig oor die aanlyn-skoolstelsel rus swaar op die Gautengse departement van onderwys (GDO) se inligting en weergawe van die saak. As ʼn senior bestuurder by ʼn groot skool is my belewing van die nuwe stelsel net die teenoorgestelde.

Daar is ontsaglike probleme met die stelsel, maar skole het geen toegang tot die aanlynstelsel om die aansoeke te bevestig of te bestuur nie. Volgens die GDO gaan skole eers twee dae voor die aansoeke sluit op 12 Junie kan sien hoe hul aansoeke lyk. Volgens die stelsel moet ouers egter binne sewe dae ná die aanlynaansoek hul papierwerk by die skool van keuse indien om hul aansoek te bekragtig!

Skole kan glad nie aansoeke verifieer of foute regstel nie. Die GDO het ʼn hulplyn beskikbaar gestel, maar skole nou formeel opdrag gegee om te stop om mense te verwys na die klagtelyn! Distrikskantore is ook oorstroom deur klagtes/mense wat nie aanlyn regkom nie.

Midstream se ouers kan byvoorbeeld glad nie by hulle naaste openbare skole (Rooihuiskraal Laerskool of Hoërskool Zwartkop) aansoek doen nie, maar kry Birchleigh en Kemptonparkse skole. Hoërskool Uitsig neem nou net Engelse leerders in vir gr. 8, maar Afrikaanse leerders in The Reeds kan nie aansoek doen by Hoërskool Zwartkop nie. (Hulle kan wel as skool van keuse op die B-lys van hierdie skole kom al is dit hulle naaste skool, maar dan word hulle eers geplaas as al die A-lys aansoeke toegelaat is!)

Skole, Fedsas en AfriForum moet eis dat die stelsel ter wille van deursigtigheid onmiddellik vir skole oopgestel word! Soos die stelsel nou bedryf word, is daar alle ruimte vir grootskaalse knoeiery.

Kom ons sien die nuwe aanlynstelsel vir wat dit is: ʼn sentralistiese stelsel wat ten doel het om die mag van skoolbeheerliggame te verplaas na die Gautengse LUR vir onderwys, Panyasa Lesufi. Dis sy strategie om skole te transformeer, te verengels en Afrikaanssprekendes en ons taal te marginaliseer.

Ouers moet die stelsel gebruik, maar hul besonderhede ook by hul voorkeurskole gaan ingee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

SARIE VAN HEERDEN ·

My dogter woon in Pretoria oos gebied. Toe sy haar dogter wil inskryf by Waterkloof omdat dit naaste aan haar is het die departement haar die keuse van DRIE skole gegee. Nommer 1 was Tembisa (op pad Kempton toe) , nommer 2 was Boys High in Pretoria (haar kind is ‘n dogter) en die ander skool was in Pretoria noord se kant toe. Die kind is uiteindelik toe Waterkloof toe met ‘n groot gesukkel. Lekker deurmekaarspul.

Gedoriewaar ·

Dit was presies ons keuses ook voor Waterkloof, verlede jaar (en myne ook ‘n dogter). Eindelik reggekom deur niks keuses in te vul nie, net ons adres (3.5km van skool). Weliswaar wil ek hierdie onderwyser prys vir sy deursigtige en absoluut feitelike openbaring van dié euwel. Ek het ook dadelik gewonder oor die ‘cloak-en-dagger’-houding; iets ruik na ‘n rot. En ek vermoed die arme Afrikaanse leerders gaan weer aan die kortste ent trek.

Disselboom ·

Daar is natuurlik ‘n alternatief op die huidige regering se stelsels, naamlik om meer moeite te doen om privaatonderwys op te soek; en te ondersteun, as die opsie met ‘n toekoms en dus eintlik nie opsioneel nie, maar eerder dit wat uitgebou moet word. Maar privaatskoolwese is iets wat maar vreemd is en te veel moeite vir ‘n Afrikanervolk wat in die 20ste eeu aan bewind gekom het, sosialisties ingestel geraak het met die staat wat goed bestuur is en dus alles verskaf het (bv medies, sekuriteit, onderwys, maatskaplike instellings, landbou- en veeteeltondersteuning). Hierdie ingesteldheid bly nog steeds, met min inisiatief en baie verwyte en kritiek op wat die staat verskaf. Kritiek dalk geregverdig, maar selfs as jou kind nou in hierdie skole kom, wat is sy identiteit anders as massa-mens wat staatsverslaaf grootword en magteloos bly ronddobber?

Nico K ·

Ek stem saam met Disselboom. Privaatskole sukkel baie, so dit lyk nie of dit te sleg gaan in staatskole nie. Maar ek erken daar is seker foute by privaatskole ook, waarvan groot kostes een is. Dit wil voorkom of party privaatskole (en naskoolse privaat inrigtings) net as ‘n besigheid beskou word. Ander privaatskole is weer baie ingestel op ‘n spesifieke groep en nie oop vir die hoofstroom kinders nie. Meer privaatskole sal verwelkom word.

Disselboom ·

Het verneem dat daar staatskole is wat aansoekfooie van soveel as R1500 hef – hoes en betaal om jou aansoek net oorweeg te kry. Wonder of dit waar is, maar die stelling kom van mense wat nie sommer hulle aan gerugte steur nie. Miskien kan die joernaliste bietjie navraag doen by prominente Afrikaanse skole in Pretoria en omstreke bv. Dit mis bietjie die punt van openbare belang as daar sulke hekke in die aansoekpad geplaas word.

Lucy ·

Die korrekte spelling is “Birchleigh” en nie “Birchley” nie…

Janie du Plessis ·

Dagsê Lucy,
Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir daardie glips, en dankie dat jy ons daarop gewys het. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

balao ·

Sjoe, R1500 is maar min, hier by ons in Namibia is registrasie en skool ontwikkelings deposito tot R23 000.00. Dit is nou buiten jou maandelikse skoolfooie van om en by 3000 tot 5000

Disselboom ·

Die stelling is dat ‘n aansoekfooi gehef word om te sorg dat die aansoek net oorweeg word.

thelsa ·

Ek werk ook by ‘n skool en is gemoeid met die onskrywong van leerders. Die slegte ervaring waarvan berog word het ek nog nie ondervind nie. Daar is wel voorsoening gemaak dat ‘n ma ‘n leerder by 3 skole kan inskryf en ‘n pa kan dit by 2 skole kan doen. Dus 5 altesaam. Ek ontken geensins dat die stelsel flatervry is nie. Dalk is onkunde oor die stelsel ook ‘n rede

thelsa ·

Ek werk ook by ‘n skool en is gemoeid met die onskrywing van leerders. Die slegte ervaring waarvan berig word het ek nog nie ondervind nie. Daar is wel voorsiening gemaak dat ‘n ma ‘n leerder by 3 skole kan inskryf en ‘n pa kan dit by 2 skole kan doen. Dus 5 altesaam. Ek ontken geensins dat die stelsel flatervry is nie. Dalk is onkunde oor die stelsel ook ‘n rede

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.