Lesersbrief: Skot loof Afrikaanse gasvryheid, vriendskap

Greg Senior (Foto verskaf)

Greg Senior, van Skotland, het ʼn jaar gelede begin om Afrikaans te leer. Hy het voorheen spesiaal ʼn brief aan Maroela Media se lesers geskryf. Hy deel graag ook dié brief wat gepubliseer word net soos hy dit aan ons gestuur het. Die brief is nie geredigeer of teksversorg nie. -Red

 

Dit is nou ongeveer vier maande sedert ek die voorreg gehad het om ’n artikel vir Maroela Media te skryf. Ek wil begin om baie dankie te sê vir elke goedhartige persoon wie ’n mooi boodskap aan my gestuur het of ’n aanmoedigende kommentaar op Maroela Media se Facebook blad gelewer het.

In die artikel ek oor die Afrikaner se gasvryheid en tegemoetkomendheid gepraat het – die terugvoer het bevestig my opsomming was nie verkeerd nie. Vriende-versoeke, boodskappe van wyd en syd, lekker smaaklike beskuite (wat deur ’n Suid-Afrikaanse vrou wat in Engeland woon gebak was) en baie baie uitnodigings om te kuier – te veel om te tel. Alhoewel daar een Oom was wie oortuig was dat ek ’n Mormoon is en die taal geleer het omdat ek wil die Boere Volk mislei. Ek is ’n getroue lid van die Kerk van Skotland en ek kan Oom gerusstel ek sal nie, onder enige omstandighede, aan Oom se voordeur klop nie!

Tussen die opbeurende boodskappe was daar mense wat probeer het om my ’n behoorlike Afrikaner te maak. Iemand het voorgestel dat ek moet vir die Bulle skree – ek het ’n bietjie navorsing gedoen en tot die besluit gekom dat ek ’n stoere Pumas ondersteuner sal wees. Ek dink die Pumas het nog nie die Curriebeker gewen nie, so niemand kan my ’n glory-hunter noem nie! Die mees belangwekkende boodskap was van iemand wie gesê het, en ek haal hom direk aan, ‘jy kry nie beter as ’n boerenooientjie nie’. Ek het geen rede om hom te betwyfel nie so as daar iemand van KykNet is wat hierdie brief lees kan ons dalk seisoen een van Skotsman Soek ’n Vrou bespreek?

Sedertdien ek het nog nie my passie vir hierdie wonderlike taal verloor nie ten spyte van my ouers wie aandring dat ek die Hollandse waarskuwings en instruksies op karton verpakking vir hulle vertaal. Hulle is verstom dat ek, tot ’n sekere mate, in staat is om dit te doen maar om gesproke Hollands te vertaal is iets heeltemal anders. Na 18 maande aanraking met Afrikaans, vind my ore die Hollandse aksent uiters vreemd. Miskien dis omdat die taal het nie die voorreg gehad om in die Afrika vasteland te ontwikkel nie. Of miskien dit is die losbandigheid van Amsterdam wat beteken hulle ’n bietjie verwronge klink – ek is nie seker nie.

Om af te sluit ek wil, weereens, al die eer aan Die Here gee. Ek is oortuig dat die wysheid en motivering om duisende woorde in ’n vreemde taal te leer kom net van Hom. Onlangs het ek die sommetjies gedoen en oor die afgelope 556 dae het ek vir 1,400 ure Afrikaans gestudeer. Hoe was ek in staat om aan te hou toe my onderwyseres gesê het ‘ek hou van honde’ en ek gedink het sy wou haar liefde vir die Japannese motor vervaardiger verklaar? En hoe het ek nie in verleentheid opgegee nie toe ek na ’n onderhoud geluister en gedink het die ander gas Engels was toe een van die aanbieders die klassieke Afrikaanse uitdrukking ‘soos die Engelsman sê’ gesê het?

Ek grap sommer met hierdie voorbeelde maar die punt staan: elke goeie ding kom van Die Here en ek kan nie vir ’n oomblik die krediet aanvaar nie. As iets Die Here se wil is Hy sal jou toerus en voorsien. Daarom is ek meer opgewonde as ooit om te sien hoe God die Afrikaanse taal in my lewe sal gebruik en waarheen Hy my sal stuur. Vir Sy heerlikheid en nie myne nie.

Groete uit Skotland.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

FM ·

Baie dankie Greg.
Jy het voorwaar beter taalgebruik as baie Afrikaanssprekende jongmense. Hier word ‘n roesemoes van Afrikaans-Engels gebesig.
Ek vra alewig dat daar suiwer Engels of suiwer Afrikaans gepraat word.
Die geskrewe taal is ‘n verleentheid omdat die spelling ver tekort skiet.
Baie geluk met jou gebruik en skrywe van ons mooi taal.

Blikkies ·

Wel Gedaan Greg. Jy maak ons Suid Afrikaners trots. Kom kuier gou weer.

Hetta ·

Wonderlik, kom kuier dan stel ek jou aan my kleindogter voor

LeonS ·

Dankie! Lekker gelees aan jou brief. Bly jy sal Pumas ondersteun.

Lizanne ·

Greg, dit is ‘n ware riem onder die hart om van jou liefde vir Afrikaans te verneem! Dis waar: Jou Afrikaans is stukke beter as vele Afrikaanse moedertaalsprekers! Mag die aanleer van die Afrikaanse taal jou wêreldbeeld verruim en vergroot! Ons almal hier aan die suidpunt van Afrika is vreeslik opgewonde oor die nuus dat ‘n jongman uit Skotland Afrikaans leer, want om iemand se moedertaal aan te leer, is die grootste kompliment wat jy hom/haar kan gee. Die heel mooiste is egter die wyse waarop jou opregte liefde vir die Here sterk deurskemer! Jy dra waarskynlik kennis van Andrew Murray, ‘n Suid-Afrikaans gebore Skot wat diep spore in ons land getrap het. Sover ek weet, is al sy werke is in Afrikaans beskikbaar. Kyk of jy dit in die hande kan kry, want ek is seker dat jy groot vreugde en seën daaruit sal put. Mag die Here jou ryklik seën en mag Hy jou Afrikaans gebruik om die koninkryk van ons Here Jesus Christus te bou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.