“Aan de Boeren…”

Deur Werner Human

Op 21 Mei 1838 rig goewerneur George Napier ʼn brief[1] aan die Voortrekkers, getiteld: “Aan de Boeren”. In die eerste gedeelte van die brief word die misnoeë wat die Britse Ryk jeens die Voortrekkers huldig duidelik uitgespreek. Die trek “over de grenzen van der kolonie” was voorafgegaan deur ongegronde vrese, swak oordeel, onkunde – en was boonop onwettig – lui die brief.

Paneel 1 wys waar die Voortrekkers die Kaapkolonie in 1835 verlaat. Die beeldhouer is Peter Kirchhoff. (Foto: Verskaf.)

Volgens Napier, kon die rampe wat die Voortrekkers getref het aan dié redes toegeskryf word, wat in kort, ʼn “gebrek aan vooruitzicht” om die kolonie te verlaat, daarstel. Die oogmerk van Napier se brief was egter wyer as dié fel woorde van kritiek. Nadat Napier verwys het na die barmhartige en weldadige eienskappe wat hy en die Britse Kroon nastreef, reik hy uit na die Voortrekkers.

Hierdie brief stel aan die Voortrekkers dat hulle weer toegelaat word om na die kolonie terug te keer, om hul grond weer te beset, om met hul werksaamhede voort te gaan, en uiteindelik ʼn lewe te lei soos wat hulle voor die trek gedoen het. Verder, word die Voortrekkers van enige boete of straf kwytgeskeld wat hulle opgedoen het weens hulle onwettige optrede om die kolonie te verlaat.

Maar, daar is ʼn voorwaarde hieraan verbonde: Die “Boeren” moet aanvaar dat hulle onderdane van die Britse Ryk sal bly!

Die stand van die Groot Trek ten tyde van die brief was benard. Dit volg na die moord op Piet Retief en sy manskappe, die Bloukransmoorde, en die slag van Italeni. Verder het daar onenigheid begin ontstaan oor die rigting wat die trekkers moet inslaan. Dié droewige stand van sake het egter verdiep in die maande ná die brief.

Stoflike en geestelike oorwegings voor en tydens die Groot Trek

Napier se brief lê klem op die stoflike aspekte en laat volkome buite rekening die geestelike oortuigings, wat die sterk vryheidstrewe van die Voortrekkers gerig het.

Vir die Voortrekkers was daar ʼn sterk verband[2] tussen die stoflike en die geestelike oorwegings om te trek. Die stoflike oorwegings kan beskryf word as die omstandighede waarin die Boere ʼn bestaan gevoer het, en die geestelike oorwegings vertolk hul strewes om vry en volhoubaar voort te bestaan.

Die Boere het toenemend die Kaapse Kolonie as ʼn onvriendelike en selfs vyandige owerheid ervaar. Besluite van die owerheid is sonder raadpleging deurgevoer, die strekwydte van die owerheid het al meer ingedring in die gewone lewens- en bestaanswyse van die Boere, en daar waar ingetree moes word om die vele uitdagings by die grense aan te spreek was weer ʼn gebrek aan owerheidsgesag.

Met Engels as amptelike taal het die angliseringsbeleid in die kerk en skole ernstig toegeneem, en die verligte denke uit die era wat beleid in die kolonie begin bepaal het, het alles gelei tot die slotsom dat die Boere op vele vlakke blootgestel word. Vandaar die Boere se aandrang om seggenskap in die landsbestuur te mag uitoefen.

In hierdie tydperk was die selfstandigheidsbesef van die Boere aan die groei met klem op selfvoorsiening en selfbestuur. Opregte pogings is veral deur Piet Retief gevoer om die kolonie-owerheid te oortuig dat geskikte kanale in die regeringsorde moet bestaan vir groter inspraak in landsake, maar dit was tevergeefs. Daarom ook die beklemtoning in Retief se Manifes vir ʼn eie-regering.

Uiteindelik het ʼn vrye bestaan die botoon gevoer, gerig op die geestelike oortuiging van die Voortrekkers – dit wat Napier en die kolonie in die brief gering geskat het. Retief skryf in sy manifes:

“Ons gee nou die vrugbare land van ons geboorte prys, waarin ons ongekende verliese gely en volgehoue teistering deurleef het, en betree ʼn wilde en gevaarlike landstreek; maar ons vertrek met ʼn vaste vertroue op ʼn alsiende, regverdige, en genadige Wese, wat ons sal strewe om te vrees en ootmoedig te gehoorsaam”.[3]

Aan die Boeren…” in vandag se beskouing

Napier se brief is ʼn indringende versoek vir inlywing tot die orde van die dag. Die gevolg is dat die Boere moet berus by die Britte se beskouing oor die Boere se lewens-en-bestaanswyse. In ons tyd kan ʼn soortgelyke gevolgtrekking gemaak word waar kulturele ruimtes toenemend moet plek maak vir ʼn eenvormige siening oor die gebruik van taal, onderwys en beroepsbeoefening, in besonder.

Soos met die omstandighede van die opbou tot die Groot Trek, is dit die hedendaagse owerheid wat die openbare orde reël en deur wetgewing hulle beskouings afdwing. Vir die Afrikaner, maar ook ander kultuurgroepe, om uit pas te wees met die owerheidsbeskouing, veronderstel noodwendig ʼn breuk omrede ons geestelike oortuigings nie strook met die stoflike omstandighede waarin ons onsself bevind nie.

Dit mag wees dat die spanning tussen die stoflike en geestelike oortuigings – soos hier beskryf – veel meer toepassing as in enige tyd voor die Groot Trek het, of minstens tot voor die totstandkoming van die Boere-republieke.

Dit is die moeite werd om in hierdie opsig by te voeg dat die verband tussen die stoflike en die geestelike tussendeur die opvolgende ordes verskillende vorme aangeneem het. Daar moet kennis hiervan geneem word. Die oorwig van die Afrikaner se geskiedenis sedert die Groot Trek wys egter dat waar die geestelike die stoflike oorwegings oortref het en rigting aan die vryheidstrewe van die Afrikaner gebied het, het die stoflike uiteindelik die geestelike oortuiging weggekalwe.

Meer direk gestel: die omstandighede wat geskep was om ʼn volhoubare en vry bestaan te voer – die stoflike – het uiteindelik bygedra tot die verlies van inspraak in ons eie sake – die geestelike.

Hoe lyk die bevordering van die Afrikaner se vryheidsideaal vandag?

Die stoflike en geestelike oorwegings moet in ʼn samebindende begrip beskryf word en dit lê in ons begrip oor vryheid.

NP van Wyk Louw skryf in die Ewige Trek[4] dat “die moeilikste les wat die geskiedenis leer, (is) dat mens aan die toekoms geen ‘raad’ kan gee nie, buiten jou eie wil en strewe”. Verder oor geskiedenis skryf Louw dat die “die geskiedenis treur nie oor ʼn volk wat ondergegaan” het nie.

Louw gaan verder en skryf dat die bestaansreg van ʼn volk daagliks deur wil en daad geskep moet word. Dit veronderstel ʼn verantwoordelikheid wat deurlopend geld om te bou en te skep.

Sonder dat vryheid deur verantwoordelikheid vir ons sake opgeneem word, is die Afrikaner, en ander kultuurgroepe, verdoem tot onderdanigheid van ʼn heersende orde.

[1] Uit die Lantern; Oktober 1988 Jaargang 37 nr.4, p.13

[2] Uit die Lantern; Oktober 1988 Jaargang 37 nr.4, p.10

[3] Piet Retief-Manifes, gepubliseer op 2 Februarie 1837

[4] NP van Wyk Louw: Versamelde Prosa I, p.94

  • Werner Human is die operasionele hoof van die Solidariteit Beweging

Hierdie artikel het eerste op die Vryheidstigting se webblad verskyn en kan hier gelees word. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.