AfriForum by die VN: Deurbrake, insigte en perspektief

Ernst van Zyl (Foto: AfriForum/ Verskaf)

AfriForum het in 2023 sy internasionale bewusmakingsveldtog by die Verenigde Nasies (VN) voortgesit. Net soos met ons 2022-besoek aan die VN, was hierdie veldtog ook veelsydig en meerdoelig.

CERD

AfriForum het weggespring deur deel te neem aan VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) se hersieningsproses van die stand van rassediskriminasie in Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaanse regering het voor CERD verskyn vir ʼn vierjaarlikse evaluasie van hul rekord wat die bestryding van diskriminasie betref.

Toe AfriForum in 2022 ʼn verslag by CERD ingehandig het, is ons genooi om in 2023 ʼn addisionele opvolgverslag in te dien. Ons 2022-verslag het verskeie van die ergste voorbeelde van rassediskriminasie teenoor minderhede sedert 2020 volledig gedokumenteer. Dit sluit gevalle van rassediskriminasie deur die regering in sowel as gevalle deur ander weens regeringsdruk asook haatspraak teen minderhede soos “Kill the Boer”.

In ons 2023-verslag het ons spesifiek gefokus op die meer as 116 rasgebaseerde wette wat sedert 1994 deur die Suid-Afrikaanse regering bekragtig is. Die indiening van die 2023-verslag het ook gepaardgegaan met ʼn geleentheid om ʼn mondelinge voorlegging voor die VN-komitee te doen. Inligting uit beide AfriForum se verslae en my voorlegging is tydens die hersieningsproses deur CERD benut in die ondervraging van die Suid-Afrikaanse regering.

Tydens die voorleggingsgeleentheid is die verslag se inhoud aangevul met voorbeelde van diskriminasie, soos die Dis-Chem-memo wat ʼn moratorium op die aanstelling en bevordering van wit mense aangekondig het. Solidariteit het ook ʼn verslag ingehandig en ʼn voorlegging gedoen, wat beteken het dat ek gelukkig nie Afrikaner-alleen by CERD se hoofkwartier in Genève opgedaag het nie.

Beide AfriForum en Solidariteit het ook deelgeneem aan ʼn vraag-en-antwoord-sessie met die komiteelede waartydens meer detail verskaf is rakende ons voorleggings.

Volgende op die program was die afvaardiging van die Suid-Afrikaanse regering, onder leiding van die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, se voorleggings en CERD-komiteelede se vrae aan hulle.

AfriForum en Solidariteit se impak op die forum is eerste gereflekteer in die vrae wat oor rassekwotas in sport gevra is – soos uiteengesit in my aanbieding. Minister Lamola het in reaksie hierop valslik beweer dat die regering rassekwotas in sport “afgeskaf” het.

Régine Esseneme, ʼn CERD-komiteelid, het die Suid-Afrikaanse regering se afvaardiging uitgevra oor plaasmoorde, haatspraak wat plaasaanvalle aanhits, plaasmoorde-ontkenning deur Julius Malema, en wat gedoen word om hierdie kwessies die hoof te bied. Esseneme het spesifiek na die wrede moord op Brendin Horner as voorbeeld verwys.

Lamola het oudergewoonte plaasmoorde afgeskryf as doodgewone geweldsmisdaad en het ongelykheid as dryfveer aangevoer. Hy het verder ontken dat boere in Suid-Afrika geteiken word en het die onderwerp probeer verander na plaaswerkers wat deur hul werkgewers mishandel word. Mxolisi Nkosi, die ambassadeur en permanente verteenwoordiger van Suid-Afrika by die Verenigde Nasies in Genève, was op sy pos as Lamola se eggo wat hierdie narratiewe betref.

Esseneme het die Suid-Afrikaanse afvaardiging se antwoorde as “vaag” bestempel en bygevoeg dat ʼn verslag wat by CERD ingedien is (AfriForum se 2022-verslag), minstens twee gevalle van plaasmoorde gedokumenteer het wat direk met die “Kill the Boer”-dreunsang verband hou. Sy het versoek dat die regering meer besonderhede oor hierdie sake asook oor die vervolging van plaasmoordenaars aan CERD moet verskaf. Lamola het onderneem om dit te doen.

Komiteelid YKJ Yeung Sik Yuen, met AfriForum se 2022-CERD-verslag in die hand, het die Suid-Afrikaanse afvaardiging versoek om besonderhede te verskaf oor die vordering van die hofsake teen Malema en die EFF met betrekking tot die “Kill the Boer”-dreunsang. Lamola het gesê die Gelykheidshof het beslis dat dié dreunsang nie haatspraak is nie, maar dat ʼn appèlsaak (deur AfriForum) hangende is.

AfriForum het op vele terreine deurbrake gemaak deur ons deelname aan hierdie CERD-sessies. Een van die noemenswaardigste hiervan is dat die netelige kwessies van plaasmoorde en “Kill the Boer” vir die eerste keer deur ʼn VN-komitee amptelik bespreek is en dat ons regering op hierdie vlak daarmee gekonfronteer is. Daarby, was dit uit die regeringsafvaardiging se antwoorde opmerklik dat die ANC geen daadwerklike oplossings vir die land se kernprobleme het nie. Hulle strategie fokus hoofsaaklik op die formulering van desperate en fabelagtige verskonings.

Die regering se verteenwoordigers het dit ooglopend onmoontlik gevind om hul moedeloosheid en selftwyfel te verdoesel. As AfriForum-verteenwoordiger, wat elke week met my kollegas oplossings bedink en bydra tot die praktiese uitvoering daarvan, was ek verlig dat my lot nie hoofsaaklik in die hande van hierdie kaders is wat só verslane, planloos en oorweldig klink nie.

Die skreiende kontras tussen AfriForum en Solidariteit se filosofie wat wentel rondom bou en die soeke na oplossings en die ANC se benadering wat wentel rondom die soeke na verskonings en om ander vir hul mislukkings te blameer, was onmisbaar. Die een kant veg om sy verantwoordelikhede te eien en uit te brei, terwyl die ander veg om hul verantwoordelikhede te ontken of uit te kontrakteer.

Die VN se Forum vir Minderheidskwessies

AfriForum se suksesvolle deelname aan die CERD-komponent van ons VN-veldtog is opgevolg deur ons deelname aan die jaarlikse VN-forum vir Minderheidskwessies. Hierdie jaar was ons spreekbeurt sommer tweede op die lys van ʼn groot aantal deelnemers van oor die hele wêreld. In my voorlegging het ek veral die kollig laat val op plaasmoorde, die “Kill the Boer”-dreunsang, asook die regering se lang en groeiende lys rasgebaseerde wetgewing.

Van die voorbeelde van rassediskriminasie wat bespreek is, was die regering se planne om boere uit te sluit van tariefvrye uitvoere na die Europese Unie en die Verenigde Koninkryk as hul plase as te wit geag word en die Departement van Water en Sanitasie se gebruik van rassekriteria as voorwaarde vir watergebruikslisensies.

Die voorlegging het groot belangstelling onder van die verteenwoordigers by die forum uitgelok. ʼn Kultuur kan nie bekostig om ʼn eiland te wees nie. Alle kulture het vriende nodig, veral in ʼn vyandige omgewing. AfriForum het op hierdie besoek met verskeie vriende van die Afrikaners geskakel.

Slot

Hierdie besoek aan die Verenigde Nasies het weereens uitgelig hoe belangrik dit is om te verstaan dat ons lot gelukkig nie in die VN óf die ANC se hande rus nie. Ons lot gaan hoofsaaklik bepaal word deur ons planne en aksies. Ons moet dus groot dink én groot doen.

Soos bespreek, is daar egter talle vrugte om te oes uit AfriForum se internasionale veldtogte. Enige stryd vir vryheid word noodwendig aan vele fronte gevoer. Elke nuwe gemeenskapsaksie, bondgenoot, erkenning, spreekbeurt, buurtwag, bouprojek, en instelling is ʼn klip wat pas in die bergpas wat ons vir onsself bou op pad na vryheid en voortbestaan.

Soos JD Kestell tereg uitgewys het: “ʼn Volk red homself!”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Heinrich ·

Dankie AfriForum en Solidariteit vir die geweldige groot werk wat julle doen.

Ryan ·

Wat is die presiese deurbrake waarna julle verwys, en het dit enigsins n invloed en verbetering van ons omstandighede te weeg gebring?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.