AfriForum se besoek aan VN werp vrugte af

Verenigde Nasies (Foto: Romain Doucelin / Hans Lucas / Hans Lucas via AFP)

Ek en my kollega Ernst Roets het AfriForum se internasionale bewusmakingsveldtog van 2022 met ʼn skakeltoer na Europa afgesluit.

Ons belangrikste oogmerke was om ʼn mondelinge voorlegging by die Verenigde Nasies (VN) se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland, te lewer en om ʼn volledige verslag oor haatspraak en diskriminasie teen minderheidsgroepe in Suid-Afrika by die VN se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie (CERD) in te dien.

Op 2 Desember het AfriForum die geleentheid gekry om ʼn voorlegging by die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede te lewer. Die VN se raadsaal was vol verteenwoordigers van verskeie state en nieregeringsorganisasies van regoor die wêreld. Die nieregeringsorganisasies is elk twee minute gegun om hul saak voor die saal en die VN se verteenwoordigers te stel. Goeie tydsbestuur en kort en kragtige kernfeite was dus van kardinale belang.

Roets het saam met Ernst van Zyl, AfriForum se veldtogbeampte vir strategie en inhoud, die konferensie bygewoon (Foto: Ernst Roets, Twitter)

Ernst Roets het namens AfriForum ʼn voorlegging in sy toegestaande twee minute gelewer. Hy het die fokus op die ANC-regering se meer as 125 rassewette geplaas, asook op kwessies soos maatskappye soos Dis-Chem se verbod op die aanstelling en bevordering van wit mense.

Hy het ook verwys na AfriForum se formele klag by die Gelykheidshof oor onwettige rassediskriminasie teen die TEARS-stigting, wat geslagsgeweld beveg maar nie regeringsbefondsing kon kry nie omdat sy bestuur te wit was.

Verder het hy na die rassistiese Covid-19-toerismefonds van 2020 verwys, wat lenings en toelaes op rassegrondslag aan klein toerismeondernemings geweier het. Hy het ook die VN bewus gemaak van Julius Malema se openbare aanhitsende haatspraak teenoor minderhede, deur veral op sy mees onlangse uitlatings te fokus.

Ten slotte het hy ook die VN gewaarsku dat hulle te veel klem op diplomasie plaas, eerder as om skuldige lande behoorlik vas te vat oor hul diskriminasie teenoor minderhede.

Dit was onthullend en insiggewend dat die Suid-Afrikaanse regering hul blatante minagting vir minderheidskwessies op die internasionale verhoog ten toon gestel het deur skaamteloos nie op te daag nie toe die VN-voorsitter hulle versoek het om tydens hierdie sitting verslag te lewer oor hoe minderhede in Suid-Afrika beskerm word.

Hierdie minagtende afwesigheid van die ANC-regering bewys hoekom dit belangrik is dat ʼn organisasie soos AfriForum moet opdaag en opstaan om minderhede se saak by die VN te stel – aangesien die Suid-Afrikaanse regering nie daar was om oor hierdie kritieke kwessie verslag te doen nie.

Die tweede groot oogmerk vir AfriForum was om ʼn volledige verslag oor haatspraak en diskriminasie persoonlik by die kantore van CERD in te dien. Hierdie verslag poog om alle onlangse diskriminerende wetgewing, beleide en voorvalle wat sedert 2020 in Suid-Afrika geïmplementeer is, voorgestel is of plaasgevind het, te dokumenteer en op die rekord te plaas.

Dit sit ook aanvullende besonderhede uiteen van die mees prominente voorvalle van haatspraak en aanhitsing tot geweld teen minderhede deur hoëprofielpersone gedurende dieselfde tydperk.

AfriForum het hierdie omvattende verslag saamgestel om CERD-lede bewus te maak van die mate waarin daar teen minderhede in Suid-Afrika gediskrimineer word. Veral deur polities gemotiveerde haatspraak, aanhitsing tot geweld en diskriminerende wetgewing.

verenigde-nasiesDie mate waarin Suid-Afrika, en meer spesifiek die Suid-Afrikaanse regering, diskriminasie teen minderhede beveg gaan in 2023 deur CERD hersien word. CERD het aan AfriForum die versekering gegee dat ons verslag ʼn belangrike deel van hierdie proses sal uitmaak.

Die doel van skakeltoere soos hierdie is nie om die VN te oorreed om ons hier aan die suidpunt van Afrika te kom red nie. VN-verteenwoordigers het by die byeenkoms erken dat hulle in die verlede nie sterk genoeg opgetree het om minderheidsgroepe regoor die wêreld te beskerm nie. AfriForum se internasionale skakeltoer het egter ons kerndoelwitte bereik en in sommige opsigte ons verwagtings oortref.

Een van die mees betekenisvolle uitkomste daarvan is dat dit bygedra het om AfriForum as ʼn betroubare en leidende stem in die internasionale arena te vestig. Deur feitelike voorleggings voor ʼn wêreldgehoor by die VN te lewer en deur betroubare verslae van hoë gehalte met baie detail daar in te dien, bou ons as organisasie aan ons geloofwaardigheid en reputasie oorsee. Op sy beurt kan dit vir AfriForum baie meer deure oopmaak en geleenthede vir meer hoëprofielvergaderings skep.

Deur ons voorleggings en verslae plaas AfriForum die diskriminasie en haatspraak wat in Suid-Afrika teenoor minderheidsgroepe plaasvind op die internasionale en historiese rekord, sodat niemand eendag kan sê hulle het nie geweet nie want niemand het hulle daarvan vertel nie.

Die persoonlike bywoning van hierdie geleenthede skep geleenthede waar verteenwoordigers van AfriForum talle organisasies en individue ontmoet wat potensiële bondgenote en waardevolle buitelandse kontakte kan word.

AfriForum kan natuurlik ook nuttige praktiese lesse by minderhede in ander lande leer wat soortgelyke uitdagings ervaar. Ons het byvoorbeeld opbouende gesprekke met die VN se spesiale rapporteur vir minderheidsregte, Fernand de Varennes, gehad en het met die VN se hoë kommissaris vir menseregte, Volker Türk, gekorrespondeer rakende ons verslag.

CJ Langenhoven het gesê: “Die waarde van die koelte is in die warm son rondom hom”.

David_Goliat_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

As die waarde van AfriForum se skakeltoer gedeeltelik gemeet moet word aan die reaksie daarop van diegene wat rassediskriminasie en haatspraak teenoor minderhede in Suid-Afrika verskoon of selfs ondersteun, dan was hierdie toer beslis ook ʼn groot sukses. Hierdie pro-diskriminasie-aktiviste is so bang vir buitelandse veroordeling soos die duiwel vir ʼn slypsteen.

Minderheidsgroepe het betroubare verteenwoordigers op internasionale platforms broodnodig, sodat gesprekke oor hul belange nie bloot deur die stemme van state oorheers word nie. Dit is gereeld juis hierdie einste state wat minderheidsgroepe vervolg en hul stemme probeer doodsmoor.

AfriForum is gelukkig nie plaaslik of internasionaal alleen in hierdie stryd teen diskriminasie teen minderhede nie. Ons maak net seker ons doen ons deel en ons huiswerk in hierdie wêreldwye simboliese Dawid-teen-Goliat-stryd. By AfriForum hou ons moed en glo ons vas dat ons ʼn verskil kan maak deur so goed as moontlik vir die stryd wat voorlê voor te berei.

Moenie vergeet nie, dit kos net een van ons goed gemikte klippies om die diskriminasiereus tussen die oë te tref.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.