AfriForum: Wat ons oor apartheid gesê het (en nie gesê het nie)

Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Reint Dykema

Opponente van AfriForum en dié wat ons ideale wil verhoed deur ons veldtogte te diskrediteer, is mal daaroor om ons met strooipop-argumente aan te val. Hulle hou veral daarvan om dit óf in ons afwesigheid te doen óf op platforms waar ons weinig geleentheid kry om te reageer – vermoedelik omdat hulle besef dat dit nie wys is om in mense se teenwoordigheid iets aan hulle toe te skryf wat nie waar is nie.

Die gunstelingstrooipop is om AfriForum óf as ondersteuners óf as ontkenners van apartheid te etiketteer. AfriForum het inderdaad al dikwels in die openbaar kommentaar oor apartheid gelewer. Hoewel ons geen genot daaruit put om oor apartheid te praat nie, is dit ’n onderwerp waarmee ons dikwels gekonfronteer word. Wanneer AfriForum oor apartheid praat, is dit byna altyd in reaksie op ’n bewering wat oor apartheid gemaak word met die doel om AfriForum se argumente te diskrediteer. ’n Flukse leser sal reeds goed ingelig wees oor wat presies AfriForum al oor apartheid gesê het (en nie gesê het nie).

Maar ter wille van dié wat dalk onseker is, kom ons stel dit duidelik…

Kritiek op apartheid

AfriForum het apartheid al herhaaldelik in die openbaar veroordeel. Apartheid was ’n staatsgedrewe beleid van sosiale ingenieurswese (presies dit waarteen ons baklei). Dit was ’n beleid wat klaaglik misluk het en wat beëindig moes word. Dit was ’n beleid waaronder mense se waardigheid geskend is en waar die staat homself as die morele gesag probeer posisioneer het. Onverdedigbare vorme van diskriminasie het onder apartheid plaasgevind. Daar was ook gruweldade, soos die moord op Steve Biko in polisie-aanhouding en die minister van justisie, Jimmy Kruger, se reaksie op Biko se dood deur bloot te sê, “Dit laat my koud”.

Dit was nie net ’n beleid wat swart mense se waardigheid geskend het nie. Die onbedoelde gevolge van hierdie beleid was ook dat anti-apartheidsaktiviste geneig was om die anti-apartheidsbeweging se gruweldade onder die mat te vee of selfs om die ANC se moordveldtog teen sagte teikens te probeer regverdig. Die gevolg was ook dat Afrikaners se saak geweldig gediskrediteer is en dat enige Afrikaner wat vir die behoud van sy identiteit of kultuur standpunt inneem, met beskuldigings oor apartheid gekonfronteer word.

Wollerige konsep

Ons vriende in die media is mal daaroor om AfriForum te beskryf as ’n organisasie wat apartheid as ’n “wollerige konsep” beskryf het. Die konteks waarbinne die verwysing gemaak word, was tot dusver sonder uitsondering om AfriForum op subtiele wyse as regs of rassisties te etiketteer. Dit skep die indruk dat AfriForum probeer om apartheid te verdedig of goed te praat, of om kritiek teen apartheid te neutraliseer.

Die waarheid is dat AfriForum wel daardie woorde gebruik het. Ek het dit op ’n TV-debat met Pieter du Toit, eertydse nuusredakteur van Netwerk24 (later redakteur van Huffington Post Suid-Afrika en tans adjunkredakteur van News24) gebruik. Die konteks van my stelling was egter eenvoudig: Apartheid het ’n gonswoord geword.

Om iets as ’n gonswoord te beskryf, is nie om ’n waarde-oordeel daarvoor of daarteen te vel nie. Al wat dit beteken, is dat baie mense daaroor praat, maar dat daar nie duidelikheid bestaan oor wat dit presies behels nie. Daar is positiewe gonswoorde soos demokrasie en menseregte en daar is negatiewe gonswoorde soos rassisme en apartheid. Vra vir twintig mense wat demokrasie, menseregte, rassisme of apartheid beteken en jy sal waarskynlik twintig verskillende antwoorde op elkeen van hierdie vrae kry.

Daar is mense wat sal sê dat apartheid ’n diskriminerende beleid was (wat korrek is), of dat voorkeurbehandeling aan wit mense gegee is (wat korrek is met betrekking tot areas wat as wit gebiede geoormerk was en vals is met betrekking tot die swart tuislande). Daar is mense wat beweer dat apartheid ’n beleid van slawerny was (wat vals is), of nog erger, dat dit ’n beleid van volksmoord was (wat grof vals is). Om die waarheid te sê, die swart bevolking het tydens die eerste twee dekades van apartheid verdubbel en tydens die volgende twee dekades weer verdubbel. Klink dit soos volksmoord?

Dan is daar mense wat aanvoer dat apartheid ’n beleid was waaronder swart mense op ʼn streep deur die apartheidsregering uitgemoor is. Dit is inderdaad so dat swart mense deur die apartheidsregering doodgemaak is, maar die korrekte syfers sal baie mense verbaas. Die Menseregtekommissie en die Waarheid-en-versoeningskommissie het bevind dat rofweg 21 000 mense tussen 1948 en 1994 in politieke geweld gesterf het. Van daardie 21 000 mense is rofweg 100 deur wit regses doodgemaak en rofweg 600 deur die veiligheidsmagte. Rofweg 19 000 mense het gesterf tydens die ANC se People’s War teen swart mededingende organisasies.

Die verwysing na apartheid as ’n wollerige konsep was ’n pleidooi dat apartheid inderdaad gekritiseer moet word, maar dat dit gekritiseer moet word vir wat dit was en nie vir dit wat mense daaroor aanvoer wat nie op feite geskoei is nie.

Sogenaamde ongeregtigheid

Daar word soms in die media na AfriForum verwys as ’n organisasie wat apartheid as ’n “sogenaamde ongeregtigheid” beskryf het. Waldimar Pelser het met verwysing hierna die opmerking gemaak dat AfriForum duidelik ’n probleem het met sy openbare skakeling. Miskien is dit waar. Dié probleem is egter nie dat bedenklike standpunte ingeneem word nie, maar dat rasionele, moreel regverdigbare standpunte deur kwaadwillige (of nalatige) verslaggewers gemuteer word in iets wat nie net bedenklik is nie, maar wat lynreg in stryd is met wat AfriForum se standpunt in die eerste plek is.

Die organisasie word dan aangeval nie bloot op grond van iets wat ons nie gesê het nie, maar op grond daarvan dat iets aan ons toegedig word wat as’t ware presies dit is waarteen ons baklei.

So hier is die feite: AfriForum het die woorde “sogenaamde ongeregtigheid” gebruik, maar nie met verwysing na die beleid van apartheid nie. AfriForum het nooit gesê dat apartheid ’n “sogenaamde ongeregtigheid” was nie. As jy die hof se minderheidsuitspraak van City of Tshwane Metropolitan Municipality versus AfriForum lees, sal jy sekerlik glo dat AfriForum inderdaad na apartheid as ’n sogenaamde ongeregtigheid verwys het. Die uitpraak skep vir seker daardie indruk. As jy die moeite wil doen om daardie skreiende uitspraak te lees (skreiend om redes wat nie vir die doel van hierdie artikel relevant is nie), wil ek jou nooi om AfriForum se hofstukke in die saak te lees.

So wat het ons gesê?

Die hofsaak het gegaan oor die Tshwane Metro se poging om 27 van Pretoria se mees prominente straatname te verander. Die Tshwane Metro het egter nie die nodige prosedures gevolg nie en AfriForum het aangevoer dat die naamsveranderings ongeldig was omdat die proses wat gevolg is om die veranderings aan te bring, vol prosedurele en statutêre gebreke was. Die Tshwane Metro het aangevoer dat die name verander moet word om die ongeregtighede van die verlede reg te stel. Daar was net een probleempie: baie van die name het niks met ongeregtighede uit te waai gehad nie. Gevolglik het AfriForum se regspan in dringende hofstukke die volgende paragraaf geskryf:

“Dit blyk uit die Raadsbesluite wat aanleiding gee tot die verandering van die ou straatname dat die onderliggende redes daartoe grotendeels neerkom op ’n poging om die sogenaamde ‘historiese ongeregtighede van die verlede’ reg te stel. Indien die oorsprong van die betrokke straatname oorweeg word, sal dit blyk dat die groot meerderheid daarvan nie rasioneel gekoppel kan word aan die oorweging om sogenaamde historiese ongeregtighede van die verlede reg te stel nie.”

Die punt was eenvoudig. Dit was nie ’n ontkenning dat enige ongeregtighede plaasgevind het nie, maar ’n uitwysing van die argument dat ’n naam soos Kerkstraat verander moet word om ’n historiese ongeregtigheid reg te stel, ’n drogargument was. Die woord “sogenaamde” is gebruik om uit te wys dat die argument vir die verandering van baie van die straatname, binne die konteks waarin dit aangevoer was, irrelevant was omdat die name nie aan historiese ongeregtighede verbind kan word nie. Met die voordeel van nabetragting kan mens sekerlik aanvoer dat ons die argument anders kon verwoord het, al was dit slegs om kwaadwillige vertolkings van AfriForum se posisie te voorkom.

Die apartheidsvlag

AfriForum word soms as apartheidsimpatiseerders voorgehou weens die feit dat AfriForum as respondent ingesleep is by ’n hofsaak om die ou Suid-Afrikaanse vlag (die 1928-vlag) te verbied.

Dit is geboekstaaf dat AfriForum die 1928-vlag (let wel dat dit nie die “apartheidsvlag” is nie, aangesien die vlag lank voor apartheid reeds in gebruik was en ook ná die beëindiging van apartheid steeds amptelik in gebruik was) nie by ons byeenkomste toelaat nie.

Ons beskou dié vlag as ’n politieke vlag en nie as ’n kulturele vlag wat Afrikaners verteenwoordig nie. Om die vlag te vertoon, doen ook na ons mening meer skade as goed. Dit is waarom AfriForum sy ondersteuners altyd versoek om die vlag nie by AfriForum-byeenkomste te vertoon nie en ook waarom AfriForum sover moontlik nie deelneem aan byeenkomste waar die vlag gebruik word nie. AfriForum het nie ’n lojaliteit teenoor die vlag nie en is bewus daarvan dat daar mense is wat die vlag as aanstootlik en beledigend beskou.

Aan die ander kant glo AfriForum nie dat dit sinvol is om enigiets bloot op grond van die aanstootlikheidswaarde daarvan met die regstelsel te verbied nie. AfriForum is sterk gekant teen aanhitsing en ook teen haatspraak. Aanstootlikheid is egter nie genoeg om iets as haatspraak te kwalifiseer nie. Die korrekte definisie van haatspraak is dat dit ’n oproep tot aksie teen ’n spesifieke groep moet bevat. Om bloot ’n vlag te vertoon, is dus nie haatspraak nie. Verder glo ons dat dit geen probleem gaan oplos deur die vlag te verbied nie. Dit gaan ondersteuners van die vlag se denke nie verander nie, maar kan wel daarin slaag om hulle daarin te laat verhard. Die Barbra Streisand-effek leer ons ook dat die gevolge van ’n verbod kan beteken dat iets inderwaarheid meer gewild word. Om ’n vlag te verbied omdat dit aanstootlik is, kan dus maklik die teenoorgestelde uitwerking hê as wat beoog word.

Hoewel ons nie die vlag wil beskerm nie, wil ons wel die beginsel van spraakvryheid beskerm. Douglas Murray het tereg opgemerk dat die probleem met die beskerming van spraakvryheid is dat jy dit nooit kan beskerm op presies die gebied wat jy gehoop het nie.

Misdaad teen die mensdom

Daar het omtrent ’n mediastorm losgebars toe Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, op 702 gesê het dat apartheid nie op ’n soortgelyke wyse as Nazisme as ’n misdaad teen die mensdom geklassifiseer kan word nie, maar dat apartheid wel veroordeel moet word aangesien dit tot die skending van mense se waardigheid gelei het. Dit is nie veronderstel om ’n omstrede stelling te wees nie. Die anti-apartheidsaktivis en vriend van Nelson Mandela, Alan Paton, het reeds in 1985 gesê dat dit ’n prostitusie van taal is om apartheid met Nazisme te vergelyk.

Die ideologiese aktivis en 702-aanbieder Eusebius McKaiser het hom onmiddellik na die sosiale media gewend om hierdie onthulling te ontbloot. Hy het egter seker gemaak dat die feite nie in die pad van ’n goeie exposé staan nie en Kriel se standpunt geheel en al buite konteks aangehaal. Hoewel McKaiser hom met die onderhoud voortdurend in die rede geval het en hom nie ’n geleentheid gegee het om sy standpunt te verduidelik nie, kon Kriel darem genoeg woorde uitkry om ’n mate van konteks aan sy stelling te gee.

As jy slegs na McKaiser se vertolking van die gesprek luister, sal jy die indruk kry dat AfriForum hom ten gunste van apartheid uitgespreek het. Om dit aan te voer, is niks anders nie as kwaadwillige en bedrieglike joernalistiek. Kriel het verduidelik dat dit nie sin maak om aan te voer dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was, maar terselfdertyd voor te gee dat kommunisme (’n beleid waaronder 100 miljoen mense doodgemaak is) nie ’n misdaad teen die mensdom is nie. Kriel kon tussen McKaiser se onderbrekings deur die geleentheid kry om te verduidelik dat apartheid inderdaad ’n beleid was waaronder mense se waardigheid geskend is, maar dat dit ’n gesprek vir ’n ander dag was, aangesien die onderwerp ter bespreking die statistieke oor plaasmoorde was. Woordvoerders van AfriForum het nog altyd hul kritiek op apartheid uitgespreek en uitgewys dat Kriel se opmerking nie ’n kondonasie van apartheid was nie, maar ’n uitwysing van die feit dat daar nie konsekwent na die geskiedenis gekyk word nie.

Veroordeling van die verlede

Daar is geen twyfel oor die feit dat apartheid ’n wapen geword het nie.

Dit is ’n wapen wat deur die regerende elite gebruik word om hul diskriminerende beleide te regverdig en hul mislukkings te verdoesel. Aan die ander kant is dit ’n wapen wat deur regse groepe gebruik word wanneer die regering misluk, deur aan te voer dat apartheid beter was as die huidige bedeling. Daar is ook al ’n lys van invloedryke swart politici wat hulle oor apartheid uitgespreek het wanneer die ANC-regering misluk, deur aan te voer dat apartheid op een of ander manier beter was. Dit sluit Julius Malema se verwysing na die apartheidsregering se gesondheidstelsel en Mamphela Ramphele se verwysing na die apartheidsregering se onderwysstelsel in.

Die feit is dat ons nooit naïef oor die verlede moet wees nie. Ons moet, met die voordeel van nabetragting, lesse uit die verlede neem sodat ons die foute nie herhaal nie. Ons moet terselfdertyd waak daarteen om historiese tydperke te veroordeel vanuit die moderne lens van menseregte wat in daardie stadium nie bestaan het nie of nog in die ontwikkelingstadiums was. Ons moet ook waak teen die valse digotomie en die versoeking om na ’n tydperk in die verlede te kyk asof alles wat gedurende daardie tydperk gebeur het, óf hel op aarde óf hemel op aarde was.

Ons moet apartheid nie verdedig nie. Ons moet dit bestudeer en verduidelik sover ons kan. Hoe beter ons die psige agter die opstellers daarvan verstaan, hoe meer kan ons daaruit leer en hoe meer kan ons verseker dat dieselfde foute nie herhaal word nie. Ons moet nooit skroom om die foute wat die apartheidsregering gemaak het, uit te wys en te kritiseer nie. Aan die ander kant moet ons besef dat daar ’n verantwoordelikheid op ons rus om histories akkuraat te wees in ons beoordeling en veroordeling van die verlede. Dit verg van ons om dit ook uit te wys wanneer wanvoorstellings oor die verlede gemaak word of wanneer dinge as ’n feit gestel word ten spyte van die bewyse dat dit nie gebeur het nie – soveel te meer wanneer daardie wanvoorstellings gemaak word met die doel om een of ander politieke of ideologiese doelwit te bevorder.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
VLAG

O hel Afriforum jammer as ek julle verkeerd opgesom het .. julle se die vlag is NIE verteenwoordigend van apartheid nie TOG laat julle dit nie toe nie en aanvaar dat mense negatiewe konnotasies daaraan het?? Weet julle aan watter kant van die draad julle staan? Die NUWE vlag laat MY AAN PLAASMOORDE dink .. maar dit swaai julle al te lekker rond, en vergeet van Wilmientjie wat deur haar pa se BLOED geloop het voordat sy tereggestel is? Ek dog jy het ‘n boek daaroor geskryf ERNST?

Gerhard

Die probleem is dat jy nooit by ‘n punt gaan kom waar jy redelikheid van die wraak soekers kan verwag nie. Die enigste manier is om ‘n eie staat in werking te begin stel. Dit beteken julle sal jul lede moet begin oortuig om dit te aanvaar as die enigste uitweg. Of dit of hel lê voor vir toekomstige Afrikaners in die Nuwe Suid-Afrika.

Anti-drogbeelde Ystervark

Die Franse Revolusie slagspreuk “Liberté, égalité, fraternité” is wollerig. Netso ook die drogbeeld begrippe “demokrasie”, “menseregte”, “rassisme” en “apartheid”. Geen wonder die eindlose geskille oor hierdie begrippe nie. Instede dat ons almal fokus op ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid vir ‘n beter Suid-Afrka.

Waarheid

Feite en ek leer self daaruit. Kritiek sal julle kry al sê julle die lug is blou. Fokus op die stryd teen verkragting van ons grondwet en ons mense regte. Dit doen julle uitstekend. Baie Dankie.

Rasper

Ten spyte van wat daar gesê word oor Afriforum, glo ek dat hulle nog altyd strategies was met wat hulle doen. M.a.w, dat daar ‘n groter prentjie is. Dan kyk ‘n mens verby sekere goed, solank daar ‘n aanvaarde eintdoel is. Ek is net so bang dat Afriforum besig raak met baie dinge, baie debatte en hopelik nooit, baie doodloop argumente. My vraag is, en ek het nog nooit ‘n reguit antwoord gekry nie. Waarna werk Afriforum? Probeer hulle die hele Suid-Afrika regmaak, so op hulle manier, of gaan ons ernstig begin gekoordineerde Afrikaner konsentrasie? As ek reg kan onthou,… Lees meer »