Afrikaans: Hef aan! Verdere stryd lê voor

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

ʼn Mens kan jou maar regmaak vir ʼn hele paar vuurwarm debatte en aksies oor Afrikaans. Die grondslag daarvoor is reeds einde verlede jaar gelê. Dit gaan oor ʼn nuwe taalbeleidsraamwerk vir hoëronderwysinstellings.

Ingevolge die nuwe beleid van die departement van hoër onderwys is Afrikaans weggelaat uit die definisie van inheemse tale. Die departement het bepaal dat “net tale wat in Afrika ontstaan het en aan die suidelike Bantoe-taalfamilie behoort, as inheems erken word”. Oeroue tale soos die Khoi, San en Nama word ook heeltemal uitgelaat. Ironies genoeg dui navorsing daarop dat veral die Sanmense lank voor enigiemand anders in suidelike Afrika gebly het – omtrent 20 000 jaar gelede. Trouens, die Sanmense word geag as van die oudste inwoners op aarde. Hulle bestaan word teruggevoer tot soveel as 100 000 jaar gelede. Dr. Conrad Steenkamp van die Afrikaanse Taalraad beskou die weglating van dié mense uit die definisie as “bisar”.

Die DA het by die debat betrokke geraak en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gevra om die diskriminasie teen Afrikaans en die Khoisan en Nama te ondersoek. Die DA het ʼn betoging gehou en ʼn petisie by dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, se kantoor in Pretoria gaan aflewer. Die party het ook die regering by die Verenigde Nasies se Unesco gaan verkla oor die regering se diskriminasie teen die betrokke tale. Ander belanghebbende organisasies het ook betrokke geraak, soos die DAK Netwerk in die Kaap en die Afrikaanse Taalraad.

Emeritusprofessor Ernst Kotzé van die Nelson Mandela Universiteit se Skool vir Tale, Media & Kommunikasie het destyds saam met mede-akademikus C de Ruyter interessante navorsing oor die ontstaan van Afrikaans gedoen. Hulle het onteenseglik bewys dat Afrikaans op hierdie bodem uniek uit ʼn veelvoud van tale en invloede ontwikkel het. Hulle wys daarop dat die Portugese seevaarders reeds in 1488 met verskillende gebiede in die Ooste begin handeldryf het. Die Nederlanders van die VOC het eers in 1596 om die Kaap geseil en in die Ooste begin sake doen. Intussen (bietjie langer as ʼn eeu), het ʼn geradbraakte Portugees/Maleisies ontwikkel sodat die Portugese en plaaslike gemeenskappe darem ʼn bietjie kon kommunikeer.

Dieselfde het gebeur toe die Nederlanders die Portugese begin uitdruk het. Dus het ʼn basiese Afrikaans in 1596 begin ontstaan. Algaande is die Portugese verdryf en het die Nederlanders Batavia in 1619 as ʼn handelsgebied gevestig. Dit was ʼn deel van die Indonesiese eilande. Daar is sowat 200 tale aangeteken. Slawe-handelaars het glo spesifiek probeer om mense van verskillende tale te koop. Dit was om seker te maak dat hulle nie onderling kon kommunikeer en moeilikheid maak nie. So het wedersydse interaksie van Nederlands met verskeie ander tale gevolg. Kotzé en De Ruyter noem die mengeltaal Austro-Nederlands – Nederlands van die suidelike oseane.

Sedert die handelspos aan die Kaap gevestig is totdat die Britte in 1806 oorgeneem het, is na raming by die 63 000 slawe van die Ooste na die Kaap verskeep. Daar moes hulle verder aan die mengeltaal werk sodat mense mekaar darem ʼn bietjie kon verstaan. Benewens mense wat reeds in die Kaap gebly het, was daar ook duisende Nederlandse avonturiers, oftewel tuisvaarders, wat by die Kaap op pad na die Ooste aangedoen het. Almal saam het aan die taal in wording gehelp bou. Die skrywers meen ʼn vorm van Afrikaans kon teen 1740 onderskei word met ʼn woordeskat van sy eie, spesifieke taalkonstruksie en eie uniekhede soos die dubbele negatief.

Eerder as om self die inheemsheid van Afrikaans verder akademies te beredeneer, kan die gevierde digter Breyten Breytenbach aan die woord gestel word met ʼn aanhaling uit ʼn ope brief aan die minister.

“…die taal wat uit ʼn smeltkroes van saambestaan gesmee is, uit vele oorspronge op Afrikabodem, die vrug van ons veelvoudigheid, en veelvuldigheid, die taal van die werker en die pagter en die boer en die baas en die bediende en die arbeider en die aktivis en soms selfs nog tuis die taal van besluitnemers, die enigste taal op die kontinent wat haarself onbeskaamd en vanselfsprekend Afrikaans noem…”

Die ironie is dat president Cyril Ramaphosa verlede jaar ʼn soortgelyke uitspraak oor herkoms in ʼn toespraak op Erfenisdag tydens die bekendstelling van die eerste woordeboek van Afrikaaps gemaak het: “…Dis ʼn taal… wat gevorm is deur die tale van die Khoi en die San, die Nederlanders, die Portugese en die Engelse, asook Arabies en die suid-oos Asiatiese tale. Die woordeboek is ʼn belangrike hulpbron wat ʼn bydrae tot ons land se erfenis en geskiedkundige rekord sal lewer.”

Dit blyk dus asof die president en sy minister van mekaar oor die status van Afrikaans verskil. Ramaphosa het ook gesê taal moet gebruik word om mense te verenig, nie te verdeel nie.

Breytenbach se skrywe het op ʼn tirade deur die minister gevolg dat “Afrikaans verlos moet word van ʼn wit regse agenda en eng rassistiese Afrikaner nasionalistiese motiewe”. Maar in ʼn uitspraak van regter Steven Majiedt van die Konstitusionele Hof het hy reguit gesê dat Afrikaans inheems is. En as Afrikaans dan nie inheems in Suid-Afrika is nie, waar ís dit dan inheems, het hy gevra. Hy het ook daarop gewys dat die meeste van die taal se sprekers “nie-wit” is. Dit was die uitspraak in ʼn saak wat deur AfriForum aanhangig gemaak is oor Unisa wat al sedert 2016 nie meer Afrikaans as onderrigtaal gebruik nie. Die regter het beslis dat dit ʼn ongrondwetlike besluit was.

Hoewel dit regeringsbeleid is om meertaligheid te bevorder, het bitter min sover gebeur. Dis nou ondanks die feit dat dit in die grondwet voorgeskryf word dat inheemse tale bevorder moet word. Pansat (Pan-Suid-Afrikaanse-Taalraad) wat die waghond vir die beskerming en bevordering van tale moet wees, is deur regering-inmenging tot niet gemaak.

Die uitspraak van regter Majiedt het ook implikasies vir universiteite se taalbeleide – soos Stellenbosch waar ʼn nuwe taalbeleid vanjaar ingevoer is. Alle tersiêre instansies sal na aanleiding van die Konstitusionele Hof waarskynlik opnuut na hul taalbeleide moet kyk. Aktiviste se vrees is dat die verlaagde status van Afrikaans misbruik kan word om staatsubsidies aan universiteite in te kort. Die departement se minagting van die inheemsheid van Afrikaans, Khoisan en Nama sal moet verander – anders sal dit in die hof uitgedaag word of deur die Menseregtekommissie aangevat word.

Hef aan! Verdere stryd lê voor.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Groen Ghoen ·

Om C.J. Langenhoven aan te haal: “Die helfte van die parlementslede is nie donkies nie.”

wim ·

Daar was sedertdien ‘n aansienlike aanwas onder die ander helfte.

Janine ·

“Hef aan! Verdere stryd lê voor.” En so moet ons bly baklei vir dit wat deur ons voorouers opgebou is….

Marianna ·

Engels is ‘n uitlandse taal. Dink maar net wat sal die Franse sê as Engels skielik verpligtend gemaak word en Frans as ‘n agterspeentaal behandel word? Hoe sal die Duitsers op soiets reageer? Engels is nie inheems nie! Maar ‘n taal wat hier gebore is, is uitheems.

annie ·

Ja dis alles waar: My ouma het die ware verhaal wat reeds eeue loop aan ons vertel saans nadat ons huisgodsdiens gehou het. My grootjie se grootjie se grootjie was ongelukkig maar ‘n dom en lui tannie wat die heeltyd maar in die kombuis voor die vuurherd gesit het aan die knie van die slim ou uitlandse Oosterling. Waar sy leer praat het… dis nou pront-Afrikaans. Maak jou mond groot oop as jy praat… Was die gereelde raat… O, en dan het sy ook leer kook, hoor! Ek wonder soms hoe het my grootjie van destyds gelyk. Laat weet, Freek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.