Afrikaans is Groot!

afrikaans-is-groot-2018-pretoria-steve-hofmeyr

Steve Hofmeyr sing ‘Die Land’ saam met Jay du Plessis, Ruhan du Toit, Bok van Blerk en Bobby van Jaarsveld by Afrikaans is Groot 2018 in Pretoria. Foto: Afrikaans is Groot/Instagram.

Deur dr. Morné Diedericks, akademiese hoof by Aros

Malherbe se standaardwerk oor die Afrikanervolk Driehonderd jaar Nasiebou beklemtoon veral hoe divers en jonk die Afrikaner is. Die Afrikaner bestaan, volgens Malherbe, uit 50% Nederlanders, 27% Duitsers, 17% Franse en 6% Skandinawiërs en ander nasionaliteite. Hierdie diversiteit was veral sigbaar by die jaar se Afrikaans is Groot wat in Time Square in Pretoria gehou is

Die Afrikaner het baie talent en styl. Kunstenaars soos Juanita du Plessis, Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Theuns Jordaan, Karlien van Jaarsveld, Jay, Riana Nel, Dewald Wasserfall, Elvis Blue, Corlea Botha, Touch of Class, en ander. Almal mense met besonderse talent en styl. Afrikaans is Groot beklemtoon die diversiteit van die Afrikanertalent. En tog beleef mens ’n besondere samehorigheid as al 8 000 mense uit volle bors saam ’n mooi Afrikaanse lied sing.

Dit was nie net die sangers wat uitgestaan het nie, maar ook die choreografie en musikante. Mense swaai uit die dak uit, ligte op die regte tyd en plek, uitstekende beeldmateriaal en besonderse klank. Die hele aand was ’n groot belewenis.

Afrikaanse musiek het veral die laaste paar jare weer diepte gekry en die inhoud van die lirieke het verander van bokkie-sokkie na woorde wat die harte van mense aanraak. Daar is natuurlik ruimte vir bokkie en sokkie, maar dit behoort nie die enigste kenmerk van Afrikanermusiek te wees nie.

’n Verdere unieke bydrae van die aand was die musikante wat uitgesproke is oor hul Christelike geloof. Die Afrikaner is seker een van die mees uitgesproke Christelike volke in die wêreld. Afrikaners kan mekaar lekker opdraande gee oor die verskillende denominasies, maar ons is ʼn volk wat nie skaam is om hardop alle eer aan die Here te gee vir die gawes en talente wat ons ontvang.

Die Nederlandse, Duitse of Franse bloed wat in ons is, maak dat ons ook altyd ’n bietjie kritiek moet lewer. Die kritiek se bedoeling is om Afrikaans is Groot te verander na Afrikaans is Groter – die agtergronddansers kan soms meer op die agtergrond wees as op die voorgrond. Die dansers se kleredrag en danspassies is nie altyd geskik vir jong kinders nie. Kry gerus die musikante met styl se insette vir volgende jaar se vertoning.

Dosente en onderwysers kan vir studente baie leer wat die waarde van Afrikaans en waarom moedertaalonderrig belangrik is, maar daar lê baie meer waarde vir studente en leerders om ten minste een Afrikaans is Groot by te woon. Aan die organiseerders, welgedaan! Afrikaans is Groot en kan selfs nóg groter. Die publiek gaan julle aanhou ondersteun as julle aanhou om vir ons harte te skryf en te sing.

Alle eer aan die Here vir die verskeidenheid gawes en talente wat die Afrikaner ontvang het.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.