Afrikaans: ʼn onderwerp ter sprake

(Foto: Woordeboek van die Afrikaanse Taal/Facebook)

Wanneer daar oor die toekoms van Afrikaans gepraat word, gaan die gesprek toenemend ook oor Kaaps. Wat is Kaaps se verhouding met Afrikaans?

Twee interessante bydraes het die laaste week of wat die lig gesien. Die een, deur Johan Bekker (wat meestal onder die skuilnaam Johannes Comestor skryf), is op die webwerf LitNet gepubliseer; die ander, deur die taalgeleerde Fred Pheiffer (mederedakteur van die WAT), het op Netwerk24 verskyn.

Bekker is hoogs krities oor die hoë Engelse inhoud van Kaaps.

Pheiffer het ’n interessante taalkundige studie van Kaaps in die geskrifte van die digter Nathan Trantraal geskryf, maar die angel is in die laaste paragraaf: “Kaaps se uitspraak is veel losser as Standaardafrikaans s’n, en die sterk Engelse invloed is opmerklik. Is dit nie dalk hoe Afrikaans sou geklink het sonder die standaardborstrok nie?”

Voor hulle het mense soos die digter Pieter Odendaal en die mederedakteur van die WAT, dr. Gerda Odendaal, ook al daarvoor gepleit dat Afrikaans “geherstandaardiseer” moet word.

Dis ’n saak wat sterk emosies na alle kante oproep. Dit moet egter met deernis, nuanse en begrip vir die uiteenlopende rigtings benader word; dit help nie om mekaar sleg te sê nie. Verskeie punte is hier van belang.

Ten eerste: “Suiwer” Afrikaans bestaan nie. Moderne Standaardafrikaans is ’n mengelmoes van 17de eeuse Nederlandse dialekte met invloed van Maleis, Khoi, Engels en ’n tikkie Frans en Duits.

Trouens, daar is geen enkele “suiwer” taal ter wêreld nie. Hier in Nederland kyk ek dikwels na Skandinawiese televisiereekse (met onderskrifte), en dis interessant om te hoor hoe Engels se woordeskat en uitspraak deur Noors en Deens beïnvloed is – ’n gevolg van die Wiking-oorheersing van die Middeleeue.

Tweedens: Moenie van my verwag om my minagtend oor Kaaps uit te laat nie. Die neerhalende uitsprake wat jy uit sommige monde oor Kaaps hoor, herinner sterk aan wat Engelssprekendes ’n eeu en langer gelede oor Afrikaans kwytgeraak het.

Die historikus P.H. Zietsman het byvoorbeeld die volgende uitsprake opgeteken: “Barbarous tongue, mongrel language, hotchpotch taal, awkward unidiomatic speech, ox-waggon vernacular, cacophonous jumble, undignified gabble, a dialect degenerate and decaying, mongrel patois.”

En kyk tot watter hoogtes het Afrikaans geklim! Dis net een van vier tale wat in die 20ste eeu van ’n kombuistaal tot ’n volwaardige handels-, administratiewe, literêre en akademiese taal ontwikkel het. (Die ander is Maleis, Hebreeus en Hindi.)

Die ontwikkeling van Afrikaans het ’n ongelooflike belegging van bloed en sweet, inspanning, deursettingsvermoë, politieke wil en intellektuele kapitaal geverg. Dit het dekades geduur. Die volledige verhaal is breedvoerig deur Jaap Steyn opgeteken in sy meesterlike ‘Ons gaan ’n Taal Maak’: Afrikaans sedert die Patriot-Jare (Kraal, 2014).

Dis nie vir my as wit Afrikaner om namens die bruin mense te besluit of Kaaps dieselfde paadjie kan volg nie. Het die bruines daardie selfde – ’n mens wil dit noem hardkoppigheid – om Kaaps van sy huidige kombuistaalstatus te verhef waar hy met “volwaardige” tale soos Engels, Duits, Russies (noem maar op) kan meeding?

Dis iets waaroor net die bruin mense self kan besluit. As hul antwoord positief is, moet hulle geen illusies hê nie: Dit gaan nie vanself kom nie. Hulle sal kan reken op die steun van welwillende Afrikaners, maar die harde werk, die rugbreekarbeid – dít sal hulle self moet doen.

As dit alles gesê is, wag ’n derde belangrike kwessie. Wanneer Kaaps nou ordentlik gevestig is, wat gaan hy wees?

Dis eintlik twee verwante subvrae. Wat gaan sy verhouding tot Standaardafrikaans wees, en gaan dit ’n aparte taal wees? Kom ons kyk na albei.

Sommige Afrikaanse geleerdes pleit vir ’n herstandaardisering van Standaardafrikaans soos ons hom nou ken. Dis nie vir my 100% duidelik wat daarmee bedoel word nie.

Word daarmee bedoel dat Standaardafrikaans erkenning moet gee aan Kaapse taalvorms, soos Standaardnederlands plek maak vir tipies eiesoortige woorde en uitdrukkings in Vlaams, Limburgs of Gronings? Soos Hoogduits voorsiening maak vir afwykende vorms van Switserse of Beierse dialekte?

Of is die bedoeling dat Kaaps Standaardafrikaans mettertyd moet verváng? Dis ’n vraag waaroor die voorstanders van herstandaardisering openlik antwoord moet gee.

Die tweede, verwante vraag is: Is die Kaaps, soos Nathan Trantraal en ander dit gebruik, bloot ’n wisselvorm van Standaardafrikaans, of wyk dit só sterk af dat dit eerder as ’n aparte taal gesien kan word?

Sowel Bekker as Pheiffer wys op die veelvuldige gebruik van Engelse woorde. Bekker dui nog iets anders aan: Engelse woorde word korrek geskryf, maar Afrikaans/Kaapse woorde word sodanig gefonetiseer dat ’n mens soms twee, drie keer moet kyk (en dit hardop uitspreek) voor jy dit herken.

Bekker se geskrif is skerp gestel, skerper as wat ek dit self sou doen. Tog moet ’n mens diep hiéroor nadink: “Sprekers van Kaaps dink reeds in Engels met suiwer Engelse of Angel-Saksiese begrippe en gemeenplase …”

Dié standpunt word onderskryf deur Kaat van Ongeval, wat in haar magisterverhandeling (Universiteit van Gent, 2010), op grond van haar navorsing daarop wys dat bruin tieners Kaaps as “ongepas” en verouderd beskou, en die toekoms as Engels sien. Vir hulle is Kaaps dus ’n halfwegstasie onderweg na eentalig Engels. Sy maak daarom ’n onderskeid tussen “Kaapse Afrikaans” en “Kaaps”.

Die implikasie van dié onderskeid is dat Kaaps nie dieselfde is as Afrikaans nie, maar ’n aparte taal.

Nou moet ’n mens versigtig hier wees. Vlaamse dialekte is byvoorbeeld ook duidelik onderskeibaar van Standaardnederlands, net soos Switserse en Beierse dialekte duidelik anders is as Hoogduits, maar hulle word nie as aparte tale beskou nie.

Tog is hier ’n verskil. Vlaamse, Switserse en Beierse dialekte is verreweg nie in dieselfde mate deur ander tale beïnvloed as Kaaps deur Engels nie. Dis waarom my gevoel is dat Kaaps eerder as aparte taal beskou moet word – wat nie beteken dat dit nié tot hoogstaande taal verhef kan word nie.

Nog één gedagte: Die erkenning van Kaaps, hetsy as aparte taal of as vorm van Afrikaans, beteken nie dat Afrikaans se standaardvorm betekenisloos is nie. Elke moderne taal het ’n standaardvorm naas wisselvorms.

Die bestaan van die standaardvorm beteken veral in ’n situasie soos dié van die druk wat van alle kante op Afrikaans uitgeoefen word, ’n vaste hawe wat die voortbestaan van die taal kan verseker. Sonder dat ek enigsins op Kaaps of sy sprekers wil neerkyk, moet dit in alle eerlikheid gesê word: Kaaps gaan Afrikaans nie red nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

J ·

Ons trek klere aan wat by die geleentheid pas … kerkdrag, sportdrag, werksuniform, stranddrag ensovoorts.

Met ons kleuters praat ons kindertaal, met ons vriende praat ons ‘los’taal en met ons vennote en kliënte praat ons ‘sake-taal.

Ons gaan belaglik voorkom as ons met kerkdrag op die strand opdaag of met swemdrag in die kerk.

Só ‘gooi’ ons die Afrikaans wat pas by die tyd en die geleentheid.

Oppas dat jy nie ‘n gek van jouself maak deur onvanpaste (verkeerde) Afrikaans te probeer afdwing op ‘n ‘situasie’ nie. (Soos bv die EFF wat probeer ‘aandag trek’ met rooi werkersuniforms in die parlement … ha … ha ..!)

Soveel tale wat jy ‘kán’ soveel male is jy ‘man’!

Jaun ·

Met groot respek gesê: Kaaps ís ‘n kombuistaal. Net soos wat Afrikaans dit op sy dag óók was. Maar daar is wel ook verskille: 1) Afrikaans het homself baie vinniger (‘n eeu reeds) aan sy kraag beetgekry en homself tot akademiese en wetenskaplike taal opgetel. Kaaps is nog nie daar nie. 2) Kaaps is meer Engels as wat dit Afrikaans is. Waarom gaan herstandardiseer die akademici nie Engels en los Afrikaans uit nie? Kaaps sal moet besluit wat hy is – of Engels, of Afrikaans of Kaaps. In laasgenoemde geval moet hy homself dan as afsonderlike taal beskou en ontwikkel.

Die ‘geleerdes’ moenie Engels met ‘n agterdeur in Afrikaans kom wil vermeng met hul herstandardisering nie. Dan word Afrikaans sowaar weer ‘n kombuistaal. In plaas daarvan dat akademici mense opvoed om behoorlike Afrikaans te besig wil hulle Afrikaans opvoed om sy sprekers te besig. Effens gat oor kop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.