Afrikaans op universiteit – ‘Kom ons trek ’n streep!’

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die onthulling verlede week dat Afrikaanssprekende inwoners van sekere koshuise aan die Universiteit Stellenbosch (US) verbied word om Afrikaans met mekaar te praat het soos ’n bom ontplof. Verskeie kommentators (onder wie die uwe) het skerp gereageer, net soos talle briefskrywers in die koerante.

In die aanvanklike berigte is gewag gemaak van twee koshuise. Ná ’n buitengewoon flou reaksie van die universiteit (dat dit nie beleid is nie en dat geen klagte ontvang is nie) het geblyk dat die praktyk veel wyer en in heelparty koshuise voorkom.

Dit gaan gepaard met ’n nuwe taalbeleid wat die universiteit voorstel en wat sonder twyfel aanvaar sal word. Die bietjie Afrikaans wat nog in lesings oorgebly het, sal dan so te sê heeltemal verdwyn: Die US sal vir alle praktiese doeleindes sy naam amptelik na Stellenbosch University kan verander.

Die vraag is: Is dit erg? Wat is verkeerd met ’n Engelstalige SU waar Afrikaans net ’n effense versiersel is?

Die opvoedkundige prof. Jonathan Jansen, ’n gewese rektor van die Universiteit van die Vrystaat – wat self ’n groot rol in die verengelsing van dié gewese Afrikaanse instelling gespeel het – het in ’n artikel op LitNet ’n rede vir die bohaai aangevoer:

“I have come to the conclusion that at root, the struggle of the taalstryders is the difficulty of accepting the loss of power. When you have been dominant for so long in politics, economics and culture, it is really difficult to settle into a democratic order where you no longer call the shots. Afrikaans, make no mistake, is being wielded by the few as a form of cultural power when almost all other kinds of power have slipped from their grasp. Here is the unpleasant reality: cultural power and racial power often walk hand in hand when it comes to conservative Afrikaans speakers.”

Met ander woorde, as jy wil veg vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal op Stellenbosch of elders, hunker jy terug na Afrikaner-baasskap en apartheid.

Jansen is seker nie hééltemal verkeerd nie; ek weet persoonlik van verskeie individue vir wie sy waarneming waar is. Maar ’n oorweldigende meerderheid van die Afrikaners wéét – al is dit dikwels eerder tussen hul ore as in hul hart – dat apartheid en Afrikaner-oorheersing verbý is en dat dit nie weer terugkom nie.

Jansen se bitterbek-waarneming illustreer ’n fundamentele foutlyn in die Suid-Afrikaanse taalpolitieke debat: Verreweg die oogrote meerderheid van dié wat ’n behoorlike plek vir Afrikaans in die onderwys wil behou, doen dit op akademiese en rasionele gronde. Wat mense soos Jansen egter hóór, is ideologiese emosie.

Is Jansen en dié wat soos hy dink, moedswillig? Of word hul houding dalk self deur ideologiese emosie – ’n afkeer van die gewese Afrikaner-apartheidsdrywers – bepaal?

Kom ons kyk na die rasionele gronde vir die behoud van ’n vaste plek vir Afrikaans.

Enige taal word op vyf vlakke gebesig: Tuis, waar taaloordrag van ouers na kinders plaasvind; in die kuns; wetenskap en onderrig; in die ekonomie; en op owerheidsvlak. Taal moet nút hê.

Soos Jaap Steyn dit stel: “Die geskiedenis leer dat, hoe minder funksies ’n taal het, hoe kleiner is sy oorlewingskans (tensy ’n heeltemal afgesonderde groep die taal gebruik). Wanneer ’n taal sy vernaamste lae funksie – die taal van die huisgesin – verloor het, is die moontlikheid op oorlewing bitter skraal, al herwin hy later die hoër funksies.”

Die Duitse taalteoretikus prof. Hans-Jürgen Sasse wys in een van sy studies daarop dat wanneer mense hul eie taal as minderwaardig teenoor die dominante taal beskou, hulle ophou om dit te praat. As ’n taal sy prestige verloor, is daar slegs één pad – bergafwaarts.

Só het talle kleiner tale al gesterf. En dis nie onmoontlik dat dieselfde met Afrikaans kan gebeur nie, al sou dit ’n pynlike en uitgerekte affêre wees.

Maar is dit erg as Afrikaans sterf?

Kom ons bly maar by die kwessie van onderwys, veral op tersiêre vlak. Daar is wêreldwyd letterlik honderde akademiese studies wat die waarde van moedertaalonderwys op alle vlakke onomstootlik bewys.

In Suid-Afrika het die taalkundige prof. Vic Webb die prestasie vergelyk van eerstejaarstudente wat aan verskeie fakulteite in 1999 aan die Universiteit van Pretoria in hul moedertaal gestudeer het met dié wat in ’n tweede of derde taal gestudeer het. Hy het bevind dat laasgenoemdes minstens 10% swakker as eersgenoemdes gevaar het.

Geeneen van dié studies berus op Afrikanernasionalistiese emosies of woede oor die verlies van mag nie. Hulle is almal akademies, rasioneel en nugter.

Maar dit gaan verder: Die Frans-Kanadese taalsosioloog Jean Laponce het in sy vergelykende studie van Kanada, België, die Sowjetunie en ander Oos-Europese lande bevind dat “… a bilingual school and university system generally has only the appearance of equality. Even when it is balanced at the level of courses it is in fact unbalanced in favour of the dominant language, which dominates the environment outside the school. Bilingualism in education is thus generally a bilingualism of transition, which in the long run facilitates linguistic assimilation.”

Laponce se waarneming word bevestig deur die taalsituasie aan Suid-Afrikaanse universiteite. Die verengelsingsproses van die meeste Afrikaanse kampusse – die ou Randse Afrikaanse Universiteit, Pretoria, Bloemfontein, Stellenbosch – het geleidelik en via tweetaligheid gebeur.

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Van die residensiële kampusse is dit net Potchefstroom wat nog Afrikaans is. En al moet ’n mens nie noodwendig te pessimisties wees nie, is dit nietemin ’n feit dat die druk om te verengels ook dáár aan die opbou is.

Wat oorbly, is wat ek wil noem die Koster-opsie. Die koerante het die afgelope weke groot aandag gegee aan die wyse waarop die inwoners van Koster en Swartruggens die ineenstorting van watervoorsiening in hul munisipaliteit (deur die ANC oorheers en dús volkome onbekwaam en korrup) self oorgeneem en reggeruk het.

Ons kan en moet veg dat Potch Afrikaans bly. Maar daarnaas het Solidariteit met sy private Afrikaanse universiteit Akademia en tegniese kollege Sol-Tech die rigting aangedui.

Natuurlik gaan dit óók oor die oorlewing van die Afrikanervolk. Sonder ons taal kan ons volk nie voortbestaan nie.

Maar dit gaan ook oor die belange van die Afrikaanssprekende bruines. Dit gaan ook oor die nugter belange van ons kinders, wie se opvoeding bewysbaar die beste deur opleiding in hul moedertaal geskied.

Uiteindelik gaan dit ook oor menseregte. In sy dolle gejaag om die ANC terwille te wees, is die Stellenbosch University duidelik bereid om menseregte te vertrap.

Kom ons trek ’n streep in die sand. Tot hiertoe en nie verder nie!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Groen Ghoen ·

Mooi so Jonathan Jansen. Jou rassistiese onderrok hang uit, vir almal om te sien. So vernietig jy ook die bruin Afrikaanssprekendes se voorreg om in hul moedertaal te studeer. Jy en Wim de V. is rysmiere. Ons kan duidelik sien waar jul vernietingswerk gaan eindig. Ja, trek ‘n streep en laat ons almal saamstaan en red wat nog te redde is. Om Steve Hofmeyer aan te Haal: “Ek wil nie ‘n beter verlede bou nie maar ‘n beter toekoms.” Dit geld ook vir Afrikaans en al sy rassistiese teenstaanders.

Dirk ·

Leopold Scholtz het ‘n goeie artikel geskryf. Dit is moeilik om uit ‘n kritiese objektiewe oogpunt te weeg of die onderliggende vertrekpunte eties en logies korrek is, ek wil nie dit debateer nie, maar ek dink die oplossing bly maar om vir beide Flip Buys en Frans Cronje altwee te ondersteun.

Petrus Albertus ·

Feit – per kop lewer die bruin Afrikaanssprekende gemeenskap die minste graduandi op nasionaal gesproke. Waarom? Want die Nasionale Party regering het die UWK verEngels en nou word die US ook heeltemal verEngels. Wat ‘n skande. Afrikaanssprekendes hou onmiddelik op om julle kinders na universiteite te stuur waar hulle geld en prestasie belangrik is maar hulle kultuur die deur gewys word! Nooit in die geskiedenis was daar instellings wat so min waarde aan die kultturgroep van oorsprong geheg het soos die voormalige Afrikaanse universiteite in Suid-Afrika nie. Die Afrikaner intelligentsia wat hierdie instellings sonder slag of stoot verEngels het behoort hulself te skaam – wag maar, die verdere verloop van die geskiedenis sal van diesulkes ‘n streng rekenskap eis.

KhoiKhoi ·

Petrus Albertus, stem nie ten volle saam nie.
Dit was toe nie die Nasionale Party wat UWK verengels het nie.
Dit was die NP en die Afrikaners wat Bruinmense geforseer het om te verengels.
Ek wat ‘n liefde vir Afrikaans het, het besef dat my kinders, soos ek, nie welkom was by Afrikaanse skole, universities, Afrikaanse groepe soos die ATKV, ens.
Daarenteen het die Engelsprekendes – met soms hewige amptelike protes vanaf Afrikanergeledere, my en my kinders aanvaar.
Vandag is hulle en hul kinders Engelssprekend.
Hoop dat Soltech en Akademia nie dieselfde foute gaan maak nie.

MT ·

Vriend Leopold, dit is hopeloos te laat om strepe oor enigiets te trek.

Toe die geleentheid daar was, het die linkse pers die streeptrekkers afgemaak as ‘dom en agterlik’, en die ander klompe etikette waarmee ek glo jy ook bekend is.

Al wat nou nog oor bly, is om rustig te sit en kyk hoe die tsoenami die bietjie wat nog staan, finaal verswelg.

Baklei-tyd het gekom en gegaan.

Vrijburger ·

Nou, nou na al die jare wil jy / julle wakker skrik? Nou, noudat dat die wolf ook teen julle huis blaas.

Onthou jy hierdie: “Daar word ook bevind dat die T-opsie op Stellenbosch sodanig toegepas word dat die eindproduk waarskynlik eerder ’n eentalige Engelse Stellenbosch is.” Jou woorde in 2008!

“Kom ons trek ’n streep in die sand. Tot hiertoe en nie verder nie!”
Rerig? Nou?

annie ·

Praat neef Leopold en vroulief tuis Afrikaans of is Afrikaans sy inkomstebron? Bruin Afrikaanssprekendes kan nie die Afrikanerwa deur die drif stoot of trek nie, eenvoudig net omdat dit rassisties sou wees hoewel Netwerk-take-2 baie hard opleiding gee, soos RSBEE. Om so oor die see te skree, via vingertaal het sy tekortkominge. Strepe trek kan nogal skeef opeindig. Afrikaners se bestaan hang nie van Afrikaans af nie maar van die Gewer van tale.

Therese ·

Hoe ironies dat die persoon wat rééds sowat 20 jaar gelede beséf het dat die Afrikaanse Taal ernstig onder beleg is en met verswelging bedreig word, as ekstreem-regse gebrandmerk en vandag steeds persona non grata is.
Wat Dan Roodt se groot sonde is, behalwe dat hy die Pro-Afrikaanse Aksie Groep (PRAAG) gestig het, is ‘n raaisel?
Dit lyk beslis nie of die verskeie taalrade en -versoeningskommissies veel uitgerig het nie.

MT ·

Die enigste doel van die duisende gesprekke, en rade, en kommissies is bloot ‘n flou poging om soort van legitimiteit aan die proses van verwoesting en vertrapping te gee.

Die uitkomste is reeds vooraf bepaal, en enige teespraak of afkeur word verwerp of eenvoudig ignoreer.

Dit is belangrik om te besef dat Suid-Afrika NIE ‘n demokrasie is NIE. Dit is ‘n kommunistiese staat in-wording, en in teenstelling met ander streke en lande, neem die gewapende en maatskaplike revolusie wat gewoonlik so ‘n verandering inlei, bloot langer in ons geval.

Human ·

Die beterweeter kommentators het weer die wysheid in pag en is weer vol van hulself. Het seker ‘n behoefte vir aandag? Sommiges het vir almal raad behalwe vir hulself

MT ·

Human, dit wil hier voorkom asof jy ‘n opsomming van jouself geplaas het. Dis vreemd, maar ek is nogtans dankbaar vir jou eerlikheid. Min mense sou die waagmoed he om hulleself so te ‘ontbloot’.

Eden ·

Natuurlik moet daar gestry word om Afrikaans te behou, hoewel die terugveg poging maar bra futloos is vir ons minderheidsgroepie sonder enige politieke mag. Ongelukkig het ‘n houding van gee en gee oor die jare by SA akademiese instellings die ruggraatloosheid veroorsaak. Afrikaners wat hul poste wou behou is al vir jare besig om Afrikaans in hul eie universiteite af te takel. Leopold, ek weet nie wat gaan jou streep in die sand nou juis beteken nie. Jy moes dalk mense 20 jaar terug oorreed het daarvan. Maar toe het die euforie van Mandela mos nog oor ons “leiers” en joernaliste gehang. Kleurlinge en swartes wat eerder in Engels wou onderrig ontvang mag mos nie uitgesluit word nie. Mense wat die ramp sien kom het was mos regses en taalbulle.

Marianna ·

Ons het toegelaat dat die regering oor ons loop. Ons het toegelaat dat die liberaliste hul sin kry. Toe ons moes opstaan en sê tot hier toe en nie verder nie, het almal nog gedroom oor ‘n reënboognasie. Ek kan sien hoe US ook gaan verval, vuil en vernietig gaan word want daar gaan ‘n toestroming kom in Engels wat gratis onderrig wil hê. Dankie Akademia. Hou net asseblief die Engelse daar uit.

Annatjie ·

Leopold Scholtz goeie mening maar ons vat dit van wie dit kom. Jy self was nie voorheen bereid om die streep te trek nie.

Anton ·

Ek gaan my kinders na ‘n Xhosa universiteit stuur en aandring dat almal Engels moet praat. :-)

Kompas ·

Glad nie mal oor Prof. Jansen. Hy het UOFS verengels en nou probeer hy dieselfde by Stellenbosch. Hy is ook gekant teen Afrikaanse skole . Ek hou nie vas aan die verlede nie maar is trots op my taal.

Andrew ·

Te laat. Jy kan maar huil. “Multiculturalism” beteken almal praat, dink en eet een taal. Dit is mos wat die klassieke liberaal vir so lank voor beklei het , “Multiculturalism” . En toe hijack die sosialiste julle in elk geval na die val die muur. Trek jou eie streep daar in Holland, ons het lankal ons eie goed weer begin bou.

Zombie ·

Ek wonder waarna Jansen hunker, as hy die taal van die grootste kolonialiste so vrypostig gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.