Afrikaans se oorlewingstryd by die Universiteit Stellenbosch

stellenbosch

Argieffoto.

Prof. Hermann Giliomee

Die oorspronklike artikel is vertaal vanuit die Engelse weergawe wat op 17 November 2015 op Politicsweb verskyn het. Die Afrikanerbond het die vertaling moontlik gemaak. Die vertaalde weergawe is egter weer aangepas deur prof. Giliomee, omdat omstandighede en besluite intussen verander het.

Oorlog oor taal

Dit is geen oordrywing om die stryd op Stellenbosch te sien as deurslaggewend vir die voortbestaan van Afrikaans in die land nie. ’n Terugslag vir Afrikaans sal beteken dat dit ook in die beste hoërskole in die Wes-Kaap die knie sal moet buig. Afrikaans loop die gevaar om weer net ’n informele geselstaal te word.Afrikaans staar ’n oorlewingstryd in die gesig by die Universiteit Stellenbosch (US) nadat die bestuur besluit het om Engels die hoofmedium van onderrig en amptelike kommunikasie te maak. Omrede behoorlike prosedures nie gevolg is nie, is dit ná ’n spesiale vergadering van die US Raad se uitvoerende komitee herroep. Die Raad sal op 30 November besluit oor die taalbeleid wat volgende jaar gevolg sal word.

Op die gebied van taal, kultuur en onderwys is die prentjie ten opsigte van Afrikaans kompleks en op die oog af vol teenstrydighede. Op die vlak van verbruik of konsumpsie lyk dit of Afrikaans floreer. Koerante, tydskrifte, boeke, musiek, ’n nasionale radiosender, ’n televisiekanaal, en woord- en kunstefeeste getuig van ’n lewenskragtige kultuur. NB Uitgewers is tans die grootste uitgewery in die land en kykNET is naas sport een van die winsgewendste kanale op die Multichoice-boeket.

Op hul eie kry die Afrikaanse dagblaaie finansieel swaar, maar hulle vorm deel van ’n magtige mediakonglomeraat met die vermoë om die koerante as verliesmakers te subsidieer. Talle Afrikaanse boeke sou nooit verskyn het sonder ’n subsidie van ’n kragtige fonds soos die Hiemstra Trust of die Dagbreek Trust nie. In die land is daar ’n groter literêre produksie in Afrikaans as in Engels. ’n Gesofistikeerde nuwe generasie Afrikaanse films maak sterk opgang.

Die bloei van Afrikaans mag egter misleidend wees ― amper soos ’n sonsondergang waar die kleure intens is net ná die son verdwyn het. Dit is sekerlik waar as ’n mens verby produksie en verbruik kyk na reproduksie. Sonder Afrikaanse onderrig in skole en universiteite waar ’n nuwe geslag van Afrikaanse verbruikers gekweek moet word, moet die produksie en verbruik van Afrikaans as literêre en wetenskaplike taal al meer afneem.[1]

Media van onderrig

Daar word algemeen aanvaar dat wanneer ’n moedertaal een is waarin alle wetenskaplike begrippe “inheems” gemaak is, onderrig in hierdie taal ’n meerderwaardige vorm van onderrig tot aan die einde van voorgraadse studie verteenwoordig. Afrikaans is so ’n taal. In 1980 was dit 25ste op die lys van artikels waarvan die opsommings in Index Medicus verskyn het en 32ste in die geval van Chemical Abstracts. Dit was in ’n hoër posisie as wat Hindi en Arabies beklee het.

Die ondergang van Afrikaans by die US sal noodwendig hoërskoolonderwys dwarsdeur die hele Wes-Kaap nadelig raak. Belinda Bozzoli van die Demokratiese Alliansie het uitgewys dat Afrikaanssprekendes van alle kleure hul grondwetlike reg om in Afrikaans te studeer, ontneem sal word.

Die bruin Afrikaanssprekende gemeenskap, met die laagste deelnamekoers van alle gemeenskappe aan tersiêre onderwys, sal veral swaar geraak word. Indien Stellenbosch omskakel na ’n oorwegend Engelsonderrigmedium sal dit hierdie gemeenskap se hoop om eeue van verwaarlosing onder slawerny, segregasie en apartheid af te skud, die nekslag toedien.

Die verskuiwing weg van Afrikaans as enkelonderrigmedium by universiteite het kort ná die oorgang na ’n inklusiewe demokrasie in 1994 begin. Stemme het wel opgegaan dat hierdie verskuiwing nie te ver moet gaan nie. In 1996, toe die Universiteit Stellenbosch aan pres. Nelson Mandela ’n eregraad aangebied het, het hy gesê: “Om dit in die eenvoudigste en duidelikste woorde te stel: dit moet sekerlik moontlik wees om in ’n stelsel met meer as twintig universiteite ’n ooreenkoms aan te gaan dat daar ten minste een universiteit is wie se hoofdoel die volgehoue ontwikkeling van Afrikaans as akademiese medium sal wees.”

In 2001 het die Mbeki-regering ’n komitee onder die voorsitterskap van dr. Jakes Gerwel aangestel om die saak te ondersoek. Die komitee het aanbeveel dat Afrikaans as onderrigmedium by ten minste twee instellings gewaarborg moet word. Daar moes ’n statutêre verpligting op hulle wees om Afrikaans “sistematies” en “nougeset” as ’n medium vir wetenskaplike navorsing en openbare kommunikasie te bevorder. Hulle moes jaarliks aan die parlement verslag lewer. Ongelukkig het die Afrikaanse rektore hierdie gulde geleentheid verspeel. Potchefstroom en Stellenbosch was gretig om hierdie verpligting op hulle te neem, maar die drie ander universiteite het hulle daarteen verset. Hulle wou hul aandeel aan die Afrikaanse mark behou.

Wêreldwyd is dit die geval dat dubbelmediumonderrig (twee onderrigtale wat afwisselend in dieselfde lesing gebruik word) gou die minderheidstaal doodmaak, veral as dit in kompetisie met Engels is. In die geval van parallelmedium (afsonderlike bane) is die doodstryd aan universiteite maar net meer uitgerek. Die praktyk leer dat streng beheermaatreëls nodig is om dit in skole te laat slaag. Dit is te betwyfel of dosente op universiteitsvlak hulle aan hierdie tipe maatreëls sal onderwerp.

Die Frans-Kanadese geleerde J.A. Laponce stel dit baie mooi in sy baanbrekerboek Languages and Territories: “Tweetaligheid in onderwys is gewoonlik ’n tweetaligheid van oorgang wat op die ou end taalkundige assimilasie fasiliteer.” Hy voeg by dat selfs ’n volwaardige stelsel van parallelle onderwys eintlik ongebalanseerd is ten gunste van daardie taal (Engels of, in die geval van die Sowjetunie, Russies) wat die omgewing buite die skool oorheers.[2]

Die Histories-Afrikaans Universiteite

In die loop van die twintigste eeu het Afrikaans ontwikkel van ’n informele taal met lae status tot ’n openbare taal wat op alle lewensterreine gebruik word. Hierdie prestasie word slegs deur Hindi, Maleis-Indonesies en Hebreeus geëwenaar. Afrikaans is die enigste nie-Europese/nie-Asiatiese taal in die wêreld wat volle universiteitstatus bereik het.

Teen die 1990’s het Afrikaanssprekendes, wat op daardie tydstip 15% van die bevolking uitgemaak het, 38% van die persoonlike inkomstebelasting en 26% van die binnelandse besteding op onderwys betaal. Hulle het ’n belangrike teikenmark vir universiteite verteenwoordig. In 1995 was ’n derde van al die leerders wat matriekvrystelling behaal het, Afrikaanssprekendes; 42% van alle hoër grade en 37% van alle wetenskap- en tegnologiegrade is aan Afrikaanssprekendes toegeken.[3] Meer as 85% Afrikanerouers het op Afrikaans as onderrigmedium in skole en universiteite aangedring.

Tot ongeveer die middel van die tagtigerjare was daar ses universiteite wat hoofsaaklik of uitsluitlik deur medium van Afrikaans onderrig verskaf het:  Potchefstroom Universiteit (PU), die Universiteit van Pretoria (UP), die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) wat sy naam na die Universiteit van Johannesburg (UJ) verander het, die Universiteit van die Vrystaat (UV), die  Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) en die Universiteit Stellenbosch (US). Die Universiteit van Port Elizabeth (UPE) het Afrikaans én Engels in ’n parallelmedium-onderrigvorm gebruik.

Oor die volgende drie dekades was daar vinnige transformasie met Engelsmediumonderrig wat in verskeie vorme by alle Histories-Afrikaanse Universiteite (HAU’s) ingevoer is. Afrikaansmediumonderrig het by UWK en UPE verdwyn. Teen 2005 het Afrikaans nog redelik veilig gelyk. Die groot meerderheid van die ongeveer 44 000 Afrikaanse studente het op Afrikaansmediumonderrig aangedring. Daar was egter kommerwekkende tekens. Alle Afrikaanse onderwys- en tegniese kolleges is vroeg al uitgewis.

Tussen 2005 en 2015 het die posisie van Afrikaans by die HAU’s drasties agteruitgegaan. Die UP, wat saam met die US die meeste Afrikaanse studente trek, het ’n markmodel gevolg. Wanneer daar nie die minimum studente vir die Afrikaanse been van ’n  parallelmedium-module ingeskryf het nie, is dit geskrap. Die gevolg was ’n skerp daling van die parallelmedium-aanbod en ’n styging van die Engels-enkelmediumaanbod. Teen 2014 was daar buite die Departement Afrikaans feitlik geen Afrikaans-enkelmediumklasse oor nie. Engels-enkelmedium het van 30% tot 43% van die totale aanbod gestyg. Parallelmedium het van 46% tot 31% gedaal en dubbelmedium het van 21% tot 25% gestyg.

By die Universiteit van die Vrystaat is die amptelike beleid dat Afrikaans figureer in ’n parallelmedium-opset. Anders as in die geval van die UP en US wil die bestuur egter nie besonderhede verskaf oor die proporsies van die onderskeie voertaalopsies wat aan die universiteit gebruik word nie. Die indruk is dat Afrikaans onder groot druk verkeer.

Die Raad van die Noordwes-Universiteit het pas besluit dat klasse steeds in Afrikaans aangebied sal word met fluistertolkdienste terwyl kursusse in groter klasse in parallelmedium aangebied word.

Daar was veral drie redes vir die afname van Afrikaansmediumonderrig by die HAU’s. Eerstens het regeringsbeleid toenemend vyandig teenoor Afrikaans geword. Die Mandela- en die Mbeki-regering se versigtige beleid is vervang deur die Zuma-regering se aggressiewe taalfascisme.

Tweedens was daar ’n groot proporsionele vermindering van Afrikaanse studente by die HAU’s as gevolg van ’n beduidende vloei van sowel wit Engelssprekendes en swart studente. Die afname in die proporsie Afrikaanse studente verskyn in die tabel hieronder.

Tabel 1: Proporsie registrasies van Afrikaanse studente

 

Instellings             2005                     2012

US                          60%                      48%

UP                        35%                      30%

NWU (Potch)           85%                      80%

UV (Bloem)             38%                      36%

KSUT                      22%                      19%

’n Aansienlike proporsie van die Engelse studente wat teen 2012 by die HAU’s ingeskryf was, was Engelse studente wat van transformasie by die histories-liberale universiteite gevlug het.

Die derde rede vir die afname van Afrikaansmediumonderrig by HAU’s moet gesoek word by regeringsbeleid.

In 2001 het die Departement van Onderwys sy Nasionale Plan vir Hoëronderwys in Suid-Afrika  gepubliseer. Dit het verskyn teen die agtergrond van verskeie HAU’s wat parallelmediumonderrig ingevoer het sonder dat hulle bykomende staatsubsidies ontvang het. Klasse is aangebied in Afrikaans én Engels in parallelle bane met geen vergoeding ten opsigte van salaris of verlof aan dosente nie. Niks soortgelyks het by sowel die histories-liberale universiteite as die histories-swart universiteite plaasgevind nie.

In die omgangstaal verwys Afrikaanse dosente na die “taalbelasting” wat hulle moet betaal aangesien daar nie van nie-Afrikaanse dosente verwag word om ’n soortgelyke taak te verrig nie. Dit was onvermydelik dat hierdie oefening, wat klasse verdubbel het, ’n negatiewe uitwerking op navorsingsuitset sou hê en om hierdie rede het sommige van die topnavorsers na enkelmediumuniversiteite gevlug. Dit is insiggewend dat Wits én UK, die twee instellings met die grootste proporsie geleerdes wat deur die Nasionale Navorsingstigting gegradeer is, albei enkelmediumonderrig gebruik.

Die regering se Nasionale Plan meld niks hiervan of die moeite wat die HAU’s doen om parallelmediumklasse in te voer nie. Dit kritiseer eerder die HAU’s omdat hulle nie parallelmediumonderrig op ’n meer omvattende manier invoer nie. Die algemene indruk wat ’n mens uit die dokument kry, is dat Afrikaans beskou word as ’n struikelblok en ’n oorlas eerder as ’n hulpbron en ’n model vir ander nie-dominante tale om hul volle potensiaal te ontwikkel.

Aanpassing by die regeringsbeleid

Die vraag is watter rol daardie sakeleiers wat Stellenbosch-alumni is hierin gespeel het. Oor hierdie saak moet ’n mens jou met omsigtigheid uitlaat. In 2005 het Koos Bekker, wat in daardie stadium die HUB van Naspers was, ’n sterkbewoorde artikel geskryf waarin hy aanvoer dat daar ’n behoefte aan Afrikaansmediumuniversiteite bestaan omdat daar ’n oorversadiging van blootstelling aan Anglo-Saksiese kultuur was.

Bekker het met ’n sterk waarskuwing afgesluit: “Indien US Engels word, kies hy na my mening die pad van lafhartigheid. Hy draai sy rug op ons wortels in Afrika en op ons bruin broers en susters. Watter soort gemeenskap bou ons op hierdie manier in die Wes-Kaap?” (Om kritiek voor te spring dat hy ’n geïnteresseerde party sou wees, het Bekker aangetoon dat slegs 10% van Naspers se omset op Afrikaansgebaseerde produkte steun. Vandag is die proporsie waarskynlik minder as die helfte van hierdie syfer.)[4]

In teenstelling hiermee het Edwin Hertzog, op daardie tydstip HUB van Mediclinic en US Raadvoorsitter, sy argument in verband met “taalpragmatisme” en die vrye mark aangebied. Hy het verwys na die noodsaaklikheid van transformasie wat die regering as nie-onderhandelbaar beskou. Hertzog sê verder: “Die US Raad glo in pragmatisme ten opsigte van taalreëlings, nie in ongevoelige konfrontasie wat ontwerp is om die goeie orde in die klaskamer te versteur nie.” Verder moes die beleid die finansiële beperkings in ag neem.

Hertzog het ook gemeld dat indien die US daarop aandring om uitsluitlik in Afrikaans te onderrig, sou dit ’n “onbekostigbare verlies aan studente” meebring.[5] Dit is opmerklik dat daar geen bewyse was vir Hertzog se bewering dat die US ’n ernstige verlies aan studente sou ervaar het indien dit op Afrikaansmediumonderrig sou aandring nie.

Enkele voorstanders van die verhoogde gebruik van Engels gebruik ’n ander argument; hulle voer aan dat die Grondwet én regeringsbeleid dit onmoontlik maak om hoofsaaklik Afrikaansmediumonderrig te gebruik. In ’n regsmening wat in 2011 aan die universiteit gelewer is, het Jan Heunis SC dit betwis. Volgens hom het ’n taalbeleid wat Afrikaans as die verstektaal gebruik en wat toelaat dat Engels in besondere omstandighede gebruik word nie in stryd is met óf die Grondwet óf regeringsbeleid nie.

US gee die stryd gewonne

Onder sowel dr. Chris Brink as dr. Russel Botman, wat tussen 2002 en 2014 agtereenvolgend die pos van rektor beklee het, was die taalkwessie ’n groot twispunt. In April vanjaar het dr. Wim de Villiers die pos aanvaar. Anders as sy voorgangers is hy in Stellenbosch gebore en getoë. Sy pa, A.B. de Villiers, was die dekaan van die regsfakulteit.

Enkele weke gelede het De Villiers aangekondig dat Engels, wat hy as die “algemene taal van die land” beskryf, die onderrigtaal van die universiteit sal word. In groot klasse (250 plus) sal Afrikaansmediumonderrig steeds plaasvind as deel van ’n parallelmediumaanbod. Engels sal die vernaamste taal van amptelike kommunikasie en van openbare kommunikasie by koshuise word.

Die aankondiging het spesifiek die Open-Stellenbosch-beweging, wat volgens enkele ingeligte bronne ongeveer 50 voltydse studente by US het, bedank. Die rektor het herhaalde versoeke van die voorsitter van die Konvokasie van US, met meer as 100 000 lede, oor die afgelope drie maande vir ’n vergadering geïgnoreer. Hy het ook nie met Adam Tas, ’n pro-Afrikaanse studentebeweging, byeengekom nie.

Die voorgestelde beleid van De Villiers en sy span was duidelik in stryd met die universiteit se gepubliseerde taalbeleid wat slegs deur die Raad verander kan word. Soos voorspel, is ’n opskudding ontketen. Ná ’n buitengewone vergadering van die Raad se uitvoerende gesag op Sondagaand 16 November, het dit gelyk of die bestuur terugdeins.

Maar in ’n verklaring wat ’n dag later, op 17 November uitgereik is, het die bestuur teruggekap. Hulle het aangedui dat hulle moontlik die aanbod in Engels mag uitbrei. Terselfdertyd het hulle belowe om nie die aanbod in Afrikaans te verminder nie. Dit beteken waarskynlik dat die aanbod in Engels na 100% opgestoot sal word, terwyl die aanbod in Afrikaans op 65% sal bly. Die verklaring het niks oor die taalkwessie in administrasie en koshuise gemeld nie, maar dit het ook niks teruggetrek nie.

Die ANC het die stap deur US met applous verwelkom. ’n Spotprent in Beeld het Blade Nzimande uitgebeeld waar hy die rektor verwelkom met “Kameraad De Villiers, veronderstel ek” onder ’n banier met die woorde “Maties wil Engels wees”.

Hoe het die US wat in 1918 gestig is om die wit Hollandse en Afrikaanse gemeenskap te dien, op hierdie punt beland?

Die onmiddellike rede was druk van die Open-Stellenbosch-beweging en Blade Nzimande, maar die dryfveer die afgelope 15 jaar was wit Engelse studente wat van transformasie (oftewel Afrikanisering) op die  kampusse van die histories-liberale Universiteite (Wits, Natal, Rhodes en Kaapstad) gevlug het. Die dramatiese viervoudige vermeerdering in hul getalle by US word in die volgende tabel vertoon.

                               Afrikaans           Engels                   Totaal          

1995                     10 985 (74%)     3 039(20%)            14 946        

2005                      11 338 (59%)        7 364 (32%)          22 569

2015                     12 754 (44%)       13 316 (44%)            30 150

Ongeveer 90% van die Engelssprekendes is wit. Die vermeerdering was die produk van onbeplande groei. Vroeër hierdie eeu het die Raad beplan om die studenteliggaam by US tot 15 000 te beperk, maar daar het niks van gekom nie.

Volgens Nzimande het die proporsie swart studente verminder vanaf 15,4% in 2001 tot 14,6% in 2015. Die proporsie bruin studente het verdubbel vanaf 10,2% tot 15,5%, maar baie van hulle praat vlot Afrikaans.

Volgens die US se statuut is beheer oor die universiteit in die Raad gesetel. Oor die afgelope 15 jaar het die Raad nooit helderheid oor die optimale aantal studente vir die US gekry nie. Dit is niks buitengewoons nie. Toe ek ’n senior administratiewe beampte van UK vra waarom getalle by sy universiteit so vermeerder het, was sy reguit antwoord “agtelosigheid”.

Oor die afgelope 15 jaar het die universiteit nooit regtig die kwessie van die optimale aantal studente vir die universiteit oorweeg nie en die dorp Stellenbosch bars uit sy nate. Ek was lid van die Raad tussen 2007 en 2010 en kan geen sodanige bespreking onthou nie.

Die saak van onderrigtaal is nooit behoorlik gedebatteer nie. Dit het aanvaarbaar geword om voorstanders van Afrikaans as “taalbulle” wat oor die verlies van Afrikanermag rou, uit te kryt.

Om die kroon te span het die Raad die ernstige flater begaan om sekere fakulteite toe te laat om hul eie onderrigtaalbeleid te volg. Dít is iets waarteen die Europese Gemeenskap se taalraadgewers baie spesifiek waarsku. Vanaf 1998 het die Fakulteit vir Kuns en Sosiale Wetenskappe groeiende getalle wit Engelssprekendes toegelaat en is daar meer en meer Engels in die klas gepraat in ’n gees van “taalvriendelikheid”. Geen druk is op studente uitgeoefen om vaardig in Afrikaans te word nie.

Op hierdie manier het die skandalige “T-opsie” (tweetalige opsie), waarvolgens Afrikaans en Engels op ’n 50:50-basis in die klas gebruik is, tot stand gekom. Geen behoorlike toesig is ingestel nie. Dr. Van Zyl Slabbert het tereg hierdie opsie as “pedagogiese nonsies” afgemaak. Toe hy van die T-opsie hoor, het Jean Laponce verklaar: “Afrikaans sal by Stellenbosch slegs as ’n versiering oorleef.”

Slegs een wetenskaplike opname is deur ’n buitestander gemaak. In 2008 het Lawrence Schlemmer sy bevindinge gepubliseer. Hy het bevind dat 83% van die Afrikaanssprekende studente en 43% van die Engelssprekende studente ’n beleid wat Afrikaans-enkelmedium “hoofsaaklik en konsekwent” as voertaal gebruik, sal aanvaar of neutraal daarteenoor sal staan. Die Raad het die verslag in die doofpot gestop.

Bewyse van ander universiteite is dat Afrikaanse studente eerder die situasie aanvaar as om hulle daarteen te verset wanneer Engels die dominante onderrigmedium word as gevolg van oorreding of intimidasie deur dosente. Swart studente het deur die bank parallelmediumonderrig verkies, maar die meeste dosente het dit uit desperaatheid vermy omdat geen bykomende personeel aangestel is nie.

En so het dit gebeur dat ’n kulturele tragedie hom moontlik nou afspeel met Afrikaans wat stadigaan tot bywonerstatus gereduseer word. Die meerderheid van die US Raad het toegelaat dat bestuur die taalbeleid neerlê; op sy beurt het topbestuur die besluit na die dekane van die fakulteite afgeskuif; dekane, wat elke vier jaar voor ’n verkiesing staan, het op hul beurt weer meer en meer Engels aanvaar. Niemand het verantwoordelikheid aanvaar nie.

Een professor by ’n universiteit waar Afrikaans as onderrigmedium oor ’n tydperk van tien tot 15 jaar uitgewis is, het die proses sardonies soos volg beskryf: “Sover dit die personeel aangaan, het die oorgang na Engels as enigste medium nooit plaasgevind nie. Dit is ’n sluipende siekte wat niemand bereid is om te erken nie ― baie soos melaatsheid of Alzheimer se siekte.”

Natuurlik het rektore aangehou om versekeringe te verskaf. Dr. Chris Brink het in 2002 gesê: “Die een manier waarop ons ons van ander onderskei, is om te sê dat ons in Afrikaans klas gee.” Sy opvolger, Russel Botman, het ouers die versekering gegee dat hul kinders sal voortgaan om in Afrikaans klas te ontvang. Wim de Villiers het dit aanvanklik soos volg gestel: “Ons is nie ’n Afrikaanse, Engelse of Xhosa-universiteit nie.”

En so het Afrikaans by die US oor 15 jaar gegly vanaf die enigste onderrigmedium tot die verstektaal van onderrig, tot gelyke status met Engels met beskerming, tot gelyke status sonder beskerming, tot die punt waar daar ’n wesenlike gevaar is dat dit slegs ’n sekondêre onderrigtaal kan word en slegs in private gesprekke op die kampus gebesig sal word. Die bestuur het so pas voorgestel dat Afrikaans as taal van administrasie en openbare kommunikasie in koshuise afgeskaf word.

Veel hiervan is geregverdig ingevolge ’n strewe na uitnemendheid. Maar soos ’n afgetrede rektor aan my gesê het: “Geen universiteit wat sy getalle verdubbel het en wat sy onderrigtaal verander het, kan standaarde handhaaf nie.”

Telkens, oor die afgelope 15 jaar, wanneer die bestuur die beleid so verander het dat dit Afrikaans meer kwesbaar gelaat het, was hulle verweer dat dit “onafwendbaar is en dat hulle geen ander keuse gehad het nie”. Dit herinner my aan die afsluitingswoorde in Margaret Macmillan se uitstekende boek oor die onbeplande uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, The War that ended Peace: How Europe ended peace for the First World War (Profile Books, 2013).

“Indien ons vingers vanaf die 21ste eeu wil wys, kan ons diegene wat Europa laat oorlog voer het, van twee dinge beskuldig. Eerstens, ’n gebrek aan verbeelding om nie te kon voorsien hoe vernietigend so ’n konflik sou wees nie, en tweedens, hulle gebrek aan dapperheid om diegene wat gesê het dat hulle geen ander keuse had as om oorlog te voer nie, teë te staan. Daar is altyd keuses.”

Daar is ’n basiese keuse waarvoor die US staan. Dit kan óf (i), ’n streng gemoniteerde tweetalige universiteit word met ’n beleid van gelykberegtiging vir Afrikaans en Engels óf (ii), dit kan Afrikaans toenemend versaak.

Laasgenoemde keuse het tot dusver beteken die opoffering van ’n unieke kultuurerfenis ten einde wit Engelssprekendes in te neem wat weggevlug het van transformasie by die tradisioneel-liberale universiteite, en om die regering te paai.

As hierdie keuse beleid word, kan verwag word dat Afrikaanse hoërskole vinnig sal volg. Afrikaanssprekendes se stryd om Afrikaans as ’n onontbeerlike en lewensvatbare kultuur uit te bou, sal ’n nekslag kry. Die US sal ook sy plig teenoor bruin Afrikaanssprekendes op die Wes-Kaapse platteland versaak. Dit is die gemeenskap met die laagste deelnamekoers aan universiteitsopleiding. Al die mooi woordjies oor die bestuur van toegang, uitnemendheid en inklusiwiteit sal gesien word vir wat dit is: oëverblindery vir ’n lafhartige oorgawe.

  • Hermann Giliomee is mede-outeur, saam met Lawrence Schlemmer, van ’n Vaste Plek vir Afrikaans: Taaluitdagings op Kampus (Sun Press, 2007). Hy was lid van die US Raad vanaf 2007 tot 2010.
  • Die Afrikanerbond het die vertaling van die artikel vanuit Politicsweb moontlik gemaak. Kontak die Afrikanerbond: Skakel 011 782 7180 of stuur ‘n e-pos aan [email protected]

Bronne:

[1] Vir ’n omvattende oorsig van die onderwerp vergelyk Hermann Giliomee, “Die troebel toekoms van Afrikaans en Afrikaners”, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54, 4 (2014).

[2] J.A. Laponce, Languages and Territories (Toronto: Toronto University Press, 1987), p. 123.

[3] Bertie du Plessis, Toewysing van universiteite volgens onderrigtaal, Hermann Giliomee et al. (reds.) Kruispad: Die Toekoms van Afrikaans as Openbare Taal (Kaapstad: Tafelberg, 2001), pp. 15-33.

[4] Koos Bekker, “Keira, wat is jou ringtone?” Die Burger, 26 Oktober 2005.

[5] Edwin Hertzog, “Taal dien US-ideaal”, Die Burger, 5 Oktober 2005.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Hermann Giliomee

Meer oor die skrywer: Hermann Giliomee

Hermann Giliomee was 'n professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad. Hy skryf gereeld oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis en kontemporêre politiek. Hy woon tans in Stellenbosch.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Johannes Comestor ·

My waarneming is dat Afrikaanssprekendes steeds die meerderheid studente aan die US is. Die rede waarom hulle deesdae reeds as ‘n minderheid aangedui word, is omdat baie bruin studente voorgee dat hulle eintlik Engelssprekend is. Polities korrek word hierdie Afrikaansdislojaliteit meesal verswyg.

Christo Volschenk ·

Baie dankie, Hermann, vir jou berig. Net enkele vrae: Net die Raad kan die taalbeleid verander. Sou die Raad vandag stem, wat sou die resultaat wees? Vir of teen die Bestuur se voorstel? Wanneer sal die Raad gevra word om te stem? Dankie. En groete.

Paul de Beer ·

Goed, laat ek nou maar sê wat ek dink nie een Afrikaner wil hoor nie, of die wat nie omgee nie. Ons Afrikaners het meesal lamsakkig geword oor ons herkoms. Ek noem dit die FW-sindroom. Die ag ekskuus-tog, jammer ek leef – sindroom. Ag tog, ek het sekerlik geen reg om vas te skop nie, want ek is mos skuldig bevind deur die wêreld. Die “mensdom” het mos my skuldig bevind aan ” misdaad teen die mensdom” (Watse twak tog!).
Om bg redes moetr ek stil bly en aanvaar dat my volk geen reg het op voortbestaan nie!? Die anderdag moet ek ook nog hoor dat ek nie ‘n Christen kan wees en my volk ook voorop wil stel nie. Asof dit ‘n keuse is wat ek moet maak, of Christen, of Afrikaner….(Weereens, watse twak tog!)
Dit, mense, noem ek die FW-sindroom. Jy sien, hy en sy medewerkers van daardie tyd net voor ’94 het nie vasgeskop en rug reguit gemaak nie, en dit was die voorbeeld wat ons sogenaamde leiers aan ons gestel het. Nou is ons Afrikaners maar almal FW’s! Jy weet wat ek mos bedoel, lamsakkig en ruggraatloos, ag ekskuustog jammer, jammer, jammer!
Daarby probeer ek geensins die vorige bedeling verdedig nie, nee, maar ek bevraagteken met erns die manier van “oorgee”! Daardie voorbeeld by die sogenaamde onderhandelings tafel het die tafel gedek vir ‘n bedeling wat Afrikaner vernietiging ten doel het. Van sogenaamde gelykheid is daar geen sprake van nie. Ons het die een onregverdige stelsel vir ‘n net meer onregverdige stelsel verruil, en betaal nou die gelag daarvan!
So, die keuse is eenfoudig: Het ek nog die reg om as Afrikaner (en Christen) in hierdie land voort te bestaan, of nie? Hierdie is ‘n saak wat ek as Afrikaner vir myself sal moet uitmaak. Nie net ek nie, maar elke afrikaner, veral die Europeese Afrikaners, maar eintlik maar al die Afrikaners.
Indien ek nee antwoord, dan moet ek nie nou oor hierdie aangeleëntheid eers beraadslaag of deelneem aan die debat nie. Indien ek egter ja antwoord, dan moet ek leer, en vrede maak, om die ongemaklikheid te verdra wat gaan meeloop met rug styf maak. Dan sal ek moet leer om rug styf te maak in die eersteplek. Dit gaan beteken dat ek sal moet geneë wees daarmee om dit voortdurend te doen. Niemand anders gaan dit vir my doen nie, en daarom sal èk dit moet doen! Ek sal moet ondersoek of die party waarvoor ek stem my belange op die hart dra en of ek bloot wil opponeer in die poletiek! Ek sal moet aandring om in my taal besigheid te doen, waar dit prakties s’n maak natuurlik, en ek sal moet meedoen aan aksies om my taal en kultuur uit te leef en te beskerm. Indien ek enigsins in ‘n posisie van mag is, sal ek nog meer verantwoordelik moet optree teenoor my besluit om wel ‘n Afrikaner te wees. Dan sal ek moet bereid wees om getel te word onder die Afrikaners wat rug styf maak, of om my FW-sindroom te toon soos die US-dekaan…..
Staan sterk Afrikaner, staan saam en staan vas!!!

Reinhardt ·

Paul, kan jy asseblief uit my kop uitklim? Want jy sê presies wat ek dink. Ek self lei aan die FW-sindroom, en ek dink dis tyd dat ek genees word. Soos Francois van Coke sê:”Jy praat van rewolusie, ek praat van die enigste uitweg tot my voortbestaan…”

anna ·

Baie dankie vir die wonderlike skrywe Proff. Dit word werklik waardeer. Dankie dat dit ook so mooi uiteengesit is sodat ons gewone Afrikaanssprekendes dit ook kan verstaan.
Dit is duidelike dat Wim voor sy aanstelling by Maties al hierdie idee in sy kop gehad het. Die 50 “Open Stellenboschhers” het dit net vir hom makliker gemaak. Miskien was hulle daar “gepant’? Dit is seker waarom hy aangestel was. Geen haan het gekraai omdat hy wit is nie wat nogal snaaks was.
Hierdie probleem dat Afrikaans weereens moet bes gee moet asb gestop word. Wat kan on doen om dit te keer? Sal dit dalk in ‘n hofsaak ontaard?
Ek sou graag u inset hieroor wil hoor.
Baie dankie dat U vir ons taal opstaan!!!.

anna ·

Dankie aan Proff. vir ‘n mooi uitgelegde brief. Verstaanbaar. Wat vir my snaaks was toe Wim aangestel was , is die feit dat nie ‘n haan gekraai het omdat hy wit is nie. Nie ‘n woord was daaroor ge-uiter nie. Ek dink daar was al voor sy aanstelling besluit dat die taal-drama in 2015 gaan begin en met die 50 Open Stellenbosch – wat ek terloops dink daar geplant was deur die Engelse fakulteit – het die deure wyer oopgeswaai vir hom om dit te doen.
Die 50 was seker deel van die groter plan.
Hoe kan ons nou ons taal red?
Deur ‘n hofsaak?
Ek sou graag almal se kommentaar hieroor wil hoor en indien ek dit verkeerd het – aanvaar dan my apologie.

Irving de Swardt ·

Prof ,BAIE dankie vir u duidelike uiteensetting van ons taal se geskiedenis by US. As ons alle argumente vir die oomblik opsy skuif. Wat is billik en eties korrek.Behoort ‘n US wat binne sy begroting as ‘n wereldklas universiteit presteer het,nou onder aandrang van ‘n regering wat alles wat hy bestuur het,vernietig het,die perel van ons kultuur te hanteer en bestuur? Vanaf watter hoe grond kan die regering en sy hulp by US opereer sodat hulle enigsins geglo kan word na al die chaos en verwoesting waaraan ‘n eens hoogs geindustrialiseerde SA,onderwerp is..Met dit as agtergrond,wie durf die US vertel om ‘n lokale klein eilandjie van uitnemendheid op die kruuste wyse weg te vee? Ons het ‘n morele hoe grond saak. Dit moet deur ons verdedig word sodat iets gewys kan word vir al die negatiewes waartoe ons meegegee het en te vrot was om dit soos mans te verdedig. As die Afrikaner hierdie ook laat verbygaan,sal toekomstige geslagte verwonderd staan dat die nageslag van Geus,Hugenoot en Duitser so roemloos oorgegee het.

Irving de Swardt ·

Prof Giliomee,BAIE dankie vir die geskiedenis van Afrikaans aan US.Die engelsdrywers aan US—hoe lyk hulle en van watter morele hoe grond kan hulle opereer1) die ANC met sy veelgeroemde demokrasie en stemreg en beter lewe vir almal,het die industriele en ekonomiese juweel van Afrika total verwoes. Tot so ‘n mate dat hierdie ANC bestel besig is om totaal die vergelyking met die Apartheidsera—-hoe sleg en verkeerd ookal te verloor. Die vernedering en selfveragting wat Apartheid vir agtergeblewenis gebring het,is deesdae weinig teenoor dit wat die ANC bestel oor sy eie mense gebring het.Selfs Swart en Bruinmense is besig om tot hierdie besef te kom.Nou,die regering het sy totale onkunde oor skoolopleiding getoon tsv ‘n massiewe begroting Watter hoop het hy om tersiere inrigtings en hul taal te bestuur. Kan die engelsdrywers hierdie argument hanteer dat die Afrikaanssprekendes gerus kan wees.? Die ANC weet presies niks van taal behalwe wat hulle kan oplees nie. Hulle ken geen taalstryd,taalbou en die fyn goedjies van Westerse kultuur nie.2) Die Afrikaanse engelsdrywers —-die ANC handlangers.Wat se mens van jou eie mense wat voor hulle oe sien hoe die land verwoess word ,maar nie weet dat kultuurgoedere van uitnemendheid beskerming nodig het nie. Wat is ‘n wonderlike taal wat so presteer het in so ‘n kort tydjie ,gereken teen erkenning van die regering(?) van die dag.As ons die onreg van die verlede kan regstel met inklusiwiteit,transformasie(= alles swart en engels,swart akademici en rektor,met hopelose resultate) Dit,terwyl die land vol is van Engels universiteite met 3 goeies ‘n hanetree van US. “Carry coals to Newcastle”—word gelag vir die “useful idiots” Ek moet bely dit dit lekker is om die ANC handlangers in hul geliefde Engels te kasty.. Hoekom moet US se taalbeleid net Afrikaans bly? Ons eer is op die spel. Moet ons kinders eendag wonder—hoe is dit moontlik,watter mutasie en metamorphose het die 1994–2015 afstammelinge van GEUS,Hugenoot en DUITSER ondergaan om hul land sonder slag of stoot weg te gee. Ook hul taal,sonder veel druk het hulle prysgegee omdat hulle te vrot was om hul beskawing te verdedig.

Frans ·

Die statistieke vervat in die skrywe in insiggewend en is dit duidelik dat veeltalig onder die ANC se invloed vervang word met eentalig (engels).

Is die geskiedenis besig om sigself te herhaal en word die versugting van C P Hoogenhout van: Engels,Engels.Alles Engels.Engels wat jy sien en hoor;In ons skole (en nou ook Universiteite),in ons kerke word ons moedertaal vermoor, weereens waar?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.