Afrikaans: Soeke na regte wat Grondwet verleen

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Dat die howe ’n lewensbelangrike rol in die handhawing van Suid-Afrika se demokrasie speel, staan bo alle twyfel.

Dat dié rol netto positief is, ook. Male sonder tal het verskillende regbanke die ANC-regering nou al skerp in die bek geruk weens korrupsie, magsmisbruik en wanbestuur.

Deel van ’n demokratiese kultuur is egter ook dat burgers kritiek op die regbank mag uitspreek wanneer dié beslissings neem wat na mense se mening twyfelagtig is. Uiteraard moet die kritiek met respek geopper word. Te veel mense meen daar is ’n regstreekse korrelasie tussen die desibels wat jy in jou verontwaardigde geskreeu genereer en die oortuigingskrag van jou argument.

By die waardering wat ’n mens dus vir die rol van die howe by die trek van grense vir die regering het, is daar een veld waar ’n mens met reg kritiek kan hê. Dit is in die hofuitsprake oor Afrikaans in die onderwys – en hier word veral verwys na die uitsprake in die sake rakende die Universiteite van die Vrystaat en Pretoria en Unisa, asook die voorneme om Engels as enigste hofverslagtaal toe te laat.

Verskeie uitsprake het die betrokke universiteite die reg gegee om Afrikaans as onderrigtaal af te skaf. Uiteindelik moet die appèlhof nou toestemming gee dat die saak na die konstitusionele hof verwys word.

Uiteraard moet ’n hof verskeie oorwegings in ag neem wanneer hy ’n beslissing formuleer. Maar uiteindelik moet wat die wét sê deurslaggewend wees.

Nou goed dan, wat sê die wet? In die Grondwet, wat uiteindelik die swaarste moet weeg, is daar verskeie relevante artikels.

Die eerste is art. 2: “Hierdie Grondwet is die hoogste reg van die Republiek; enige regsvoorskrif of optrede daarmee onbestaanbaar, is ongeldig, en die verpligtinge daardeur opgelê, moet nagekom word.”

Die tweede is art. 6, wat 11 tale – met inbegrip van Afrikaans – as amptelike tale identifiseer. Art. 6(2) verplig die owerheid om “praktiese en daadwerklike maatreëls” te tref om die “inheemse tale” (veral die swart tale, maar Afrikaans is bewysbaar ook een) se status “te verhoog en hul gebruik te bevorder”. En 6(4) bepaal dat “alle amptelike tale gelykheid van aansien (moet) geniet en billik behandel word”.

Vervolgens moet verwys word na art. 9(3), wat die staat verbied om onbillik te diskrimineer op grond van ’n aantal gronde, waarvan “etniese herkoms” een is. Dit beteken dat daar ook nie teen Afrikaanssprekendes gediskrimineer mag word nie, tensy (subart. 5) “daar vasgestel word dat diskriminasie billik is” (waarmee regstellende aksie bedoel word).

Volgens art. 18 het almal “die reg op vryheid van assosiasie”.

Spesifiek oor onderwys bepaal art. 29(2): “Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is”. Die staat moet “alle alternatiewe” oorweeg, “met inbegrip van enkelmediuminstellings”, met inagneming van “billikheid, doenlikheid” en regstelling van diskriminasie uit die verlede.

Daarop volg dan art. 30: “Elkeen het die reg om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem”. Die beperking is dat dit nie “onbestaanbaar” met die ander regte in die Handves van Regte (artikels 17-37) mag wees nie (overgezet zijnde: Dit mag nie tot diskriminasie teen ander lei nie). Art. 31 sê basies dieselfde, maar in ’n enigsins ander bewoording.

Nog ’n relevante artikel is 36, wat bepaal dat die regte in die Handves slegs beperk mag word “in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid”. Dit moet saamgelees word met art. 39(1)(b), waarvolgens ’n hof by die uitleg van die Handves die volkereg in ag moet neem.

Nou ja, ek is geen regsgeleerde nie, maar wel – hopelik! – normaal intelligent en in staat om ’n dokument soos die Grondwet te verstaan. Wat ek daarin lees, kom daarop neer dat eentalige onderwysinstellings toelaatbaar is, mits dit nie teen mense van ’n ander taal diskrimineer nie.

Met ander woorde, ’n eentalige Afrikaanse universiteit is in orde, solank hy nie sprekers van Engels, Xhosa, Tswana of hoe ook al aktief of passief buite hou nie, en solank sy eentalige onderwys redelikerwys doenlik is.

Wel, die praktyk bewys dat daar allereers ’n behoefte aan Afrikaanse onderwys op alle vlakke is. Dat sommige Afrikaanstalige studente deesdae te kenne gee dat hulle Engelse onderrig verkies, het te make met die stigma wat die ANC (en – skandalig – bepaalde Afrikaanse akademici!) aktief aan die taal koppel.

Ten tweede bestaan die wíl én die vermoë om Afrikaanse onderrig aan te bied al dekades lank. Dié vermoë is met groot moeite en opoffering deur agtereenvolgende geslagte opgebou (lees Jaap Steyn se skitterende Ons gaan ’n taal maak), iets wat tans sienderoë, moedswillig en geesdriftig deur verskeie universiteite (Stellenbosch, Pretoria, die Vrystaat en Unisa) afgebreek word.

Die Potchefstroom-kampus van die NWU het ook deur sy fluistertolkstelsel prakties bewýs dat ’n eentalige inrigting só bedryf kan word dat dit nie anderstaliges en gekleurdes hoef uit te sluit nie. Dis ook met groot sukses in bepaalde fakulteite op Stellenbosch bedryf, voordat die huidige rektor met sy dryfjag teen Afrikaans begin het.

Ten slotte is dit relevant dat die volkereg die laaste dekade of twee, drie steeds meer minderheidstaalregte in beskerming neem. Daar is verskeie internasionale konvensies in die Europese Unie en die Verenigde Nasies wat minderheidstaalregte erken.

Trouens, minderheidsregte word gesien as ’n intrinsieke onderdeel van menseregte as sodanig.

Teen dié agtergrond vra ’n mens jou in alle billikheid en met respek af hoe regters die drie universiteite in Pretoria en Bloemfontein die reg kon gee om Afrikaans heeltemal af te skaf.

Beteken die Grondwet dan níks vir die regters nie? Het Afrikaanssprekendes dan géén taalregte nie? Is die ANC se politieke narratief dan vir regters meer bepalend as die Grondwet?

Hopelik kry AfriForum, een van die min instansies wat vir Afrikaans veg, toestemming om tot die konstitusionele hof te appelleer. As die regters op dié regbank die hoë reputasie wat hulle tot dusver opgebou het, weer gestand wil doen, kom hulle die Grondwet na.

Want dít is al wat Afrikaanssprekendes vra. Hulle soek nie diskriminasie nie. Hulle soek nie bevoorregting nie. Hulle soek nie ’n terugkeer na apartheid nie.

Hulle vra wel dat die regte wat die Grondwet aan hulle verleen, nagekom word. Is dit te veel gevra?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

15 Kommentare

theuns ·

More Leopold, Ek volg jou en Herman Toerien se politieke en kultuur kommentaar elke dag met aandag. Beide van julle is ysters. Die rede hoekom ek so min van my laat hoor is: 1. Dat dit moelik is om repliek te lewer op weldeurdagte kommentaar behalwe om miskien te se “Hoor Hoor”. 2. Ek betwyfel die Afrikaner se vermoe om met sy eie politieke toekoms vertrou te word. Ons beskerming soos aan ons in die grondwet verleen word verwater deur stilswye en om vir die verkeerde partye te stem. Die grootste oposisie party gebruik ook maar net die Afrikaner vir sy eie agenda. Wag tot hy aan bewind is dan sal jy die ware kleure sien!
Groete my goeie vriend.
Theuns

MCH ·

Groot amen op u opmerking oor die Afrikaners se vermoe om met sy eie politiek toekoms vertrou te word. Dit is bewys, in die verlede, asook in die huidige tydsgreep. Byvoorbeeld, Afriforum waarna verwys word in die artikel, het 186000 lede waarmee hul aardskuddende inisiatiiewe loods. Dis n skande dat so weinig Afrikaners hul tasbaar ondersteun. Die apatiese houding gaan ons nog duur te staan kom. Moontlik ook maar die gevolg van te veel vertroue in leiersfigure stel wie se rigting hopelose uitkomste gebied het.

Leopold Scholtz ·

Beste Theuns, dankie vir die mooi woorde. En ja, jy is reg oor die politici. Die beste is om maar baie sinies te wees. Dis nou maar die werklikheid. Lekker dag vir jou.

Charmaine Griffiths ·

Dankie Leopold. Ek is Engelssprekend en behoort aan Afriforum. My seun was in Afrikaanse H/skool en het sy Engelse leerboeke in die klas gebruik as handleiding. Hy is volkome tweetalig en praat suiwer Afrikaans en praat Xhosa ook nou wat hy by sy medewerkers aanleer. Ek was in Afrikaanse dubbelmedium skole en het met die jare deur besigheid en my man meer Engels gepraat en dus so verengels maar my Afrikaans is suiwer en ek hou my besig met Afrikaanse blokkieraaisels. Dis ‘n pragtige taal en maak ons uniek ! Siek en sat dat dit nou so weggegooi word.

Rupert Ashford ·

Dagse Leopold. Jy se hier wat so baie van ons mee vereenselwig het in ’94: Dat ons die status quo kon gebruik as platform en wegspringplek om waarlik iets besonders in Afrika te kon bou. Let wel nie om die status quo te handhaaf nie maar uitmuntendheid wat reeds bestaan het te beskerm en dit uit te brei vir almal. Maar dit is ongelukkig toe nou nie hoe die “res” dit gesien het nie. Sal graag jou mening wou lees of hierdie afbreek mentaliteit nie ook tans ‘n wereldwye tendens is nie en indien wel hoekom dit so is.

Leopold Scholtz ·

Beste Rupert, ja, daardie mentaliteit kom ook elders in die Weste voor. Ek skat mense sal seker nooit heeltemal oor alles saamstem nie. Jy soek ‘n gesonde ewewig tussen geregtigheid vir almal en selfbehoud, ‘n soektog wat die Afrikaners al dekades lank kenmerk. Jy sien dit nou weer in Europa ook met die onlangse instroom van vlugtelinge (wat – vir eers – afgeneem het). Die een vind selfbehoud belangriker; die ander geregtigheid. Ek weet dis ‘n baie algemene antwoord, maar ek kan nie spesifieker wees in die klein ruimte wat ek hier het nie. Hoe ook al, dankie vir jou bydrae.

Helizna ·

Solidariteit en Afriforum het ‘n gulde kans met die godsdiens hofsaak om dit oor minderheidsregte en minderheidsinvloed te maak. Sou die OGOD wen, kan Afri beweer dat minderheid (1,6%) die godsdiensbelied van SA skole bepaal, dus kan ‘n minderheid (Bv. Blanke Afrikaans sprekendes) mos die beleide van ‘n instansie bepaal. (Ek weet Afrikaans is nie ‘n minderheidstaal nie, maar 2de of 3de mees algemene, maar jy verstaan mos my punt) As OGOD verloor kan bepaal word dat die meerderheid (bv. Afrikaans sprekendes by Potch) by ‘n instansie mos die beleide kan bepaal daar, Wen-wen, beide kante toe, vir die taalstryd…

Johann ·

Jy moet na die beheerrade van die skole kyk en nie Afrikaans in sy geheel as ‘n persentasie nie, dis waar jy die pot mis sit. As ‘n skool se beheerraad sodanig sou besluit, is dit die meerderheid in daardie beheerraad wat die besluit geneem het.

Leon van Rensburg ·

Hallo Dr. Scholtz, buiten ons tal wat verag word, word ons mense met ‘n ligte velkleur ook verag. Ek is ‘n jaar gelede aangekla van moord nadat ek ‘n onwettige Mosambiekse immigrant/inbreker doodgeskiet het. Selfs die staas aanklaer het aan my bevestig dat as dit swart op wit, swart op swart was sou die saak lankal uitgegooi was. Hoekom teiken die regstelsel blanke mense wat opgetree het soos die normale man op straat?
My velkleur???

Hoop om van u te verneem?
Leon

Leopold Scholtz ·

Beste Leon, dis seker moontlik dat jou kleur iets daarmee te make het. Ek ken nie die besonderhede van jou geval nie, en dis dus nie vir my moontlik om werklik iets daaroor kwyt te raak nie. Maar sterkte en voorspoed!

SeMaarNet ·

Leon Ek voel jou pyn – ons het in presies dieselfde situasie verkeer – ‘n Lesotho burger sonder ‘n werkspermit het een van ons vriende aangeval met ‘n stok en ‘n klip en na 2 waarskuwingskote het my man hom in die bobeen gewond … NIKS het gekom van die feit dat hy ons vriend gedreig het om hom te vermoor en sy huis en besigheid af te brand nie – nee – my man is aangekla vir poging tot moord en het 4 nagte in die tronkselle spandeer!!!

JC ·

Dankie Leopold, hierdie is werklik een van jou bestes.
Ek HOOP dat die “regters” jou artikel lees en hul koppe in skaamte laat sak, want hulle het die ONDENKBARE gedoen EN TOEGELAAT.
Die stryd IS EGTER nie gewonne nie, ONS GAAN INTERNASIONAAL!!!

Leendert ·

Leopold, dit wat jy hier bo verduidelik gaan ook my verstand tebowe. Ons sien nogal nou en dan sodanige uitsprake wat deur die gewone hof, of hooggeregshof gegee word en wat op appél heeltemal omgekeer word. Hoe verstaan mens dit? En dit is nie op ‘n tegniese punt of twee nie, nee. Ek kan nie glo dat daardie regters wat tog ook ‘n gesonde verstand het, of behoort te hê, EN dan nog die regskennis, dit so verkeerd kan hê nie. Verseker moet hulle ‘n ander of verskuilde agenda hê. En dat hulle waaragtag kan dink, en vas daaraan glo, dat hulle vir ons ore aansit. Of gee hulle net nie om nie?

Dit laat my aan Zuma dink, of nou soos met Molefe en Eskom, waar die mense wat voor die parlementêre kommittee getuig het, net voort storm met hul eie storie, hou hulle daarby sonder om ‘n oog te knip. En dan dink hulle die ander mense is dit oningeligtes en kan nie deur hulle sien nie. Byvoorbeel, as mens die statute en regulasies van Eskom sou lees, kan enige mens mos sien of hulle knoei en roei.

In alle geval is hier net eenvoudig te veel sake in hierdie land wat aanmekaar geappeleer word, so asof die regters nie bevoeg is nie.

Fanie ·

Leopold, in die praktyk is politieke mag sterker as grondwetlike gesag. Die oorskatting van grondwetlike regte en ruimtes, en die onderskatting van politieke mag agv die magsverskuiwing van die afgelope dekade, het die grondwetlike bepalings in die praktyk verander. In die VSA weet almal dat Regters politieke oortuigings het- waarom sal dit hier anders wees? Met nie-ideologiese sake soos korrupsie is politiek nie ter sprake, maar met taal-en kultuur, kapitalisme en eiendomsreg gaan dit nog swaar gaan. Dis die onbedoelde maar voorsienbare gevolge van ‘n Grondwetlike ooreenkoms wat nie gemeenskappe erken nie en nie oorspronklike magte aan hul toeken soos in regte Federasies wêreldwyd nie. Hierdie sou nooit in bv België, Kanada ens gebeur het nie.

Gideon ·

Geagte Dr Scholtz. Die antwoord op u vraag is ongelukkig ja. Die grondwet is ‘n stuk papier. Die meerderheid inwoners van hierdie land se sentiment is anti-Afrikaner, dus anti-Afrikaans. Chamberlain het die inwoners van Brittanje verseker dat Hitler vrede bedoel, hy het immers die skriftelike waarborg in sy hand gehad. Retief het ook die bewys gehad wat hy in goeder trou onderhandel het. De Klerk het die grondwet aan die Afrikaner voorgehou as ‘n waarborg. Honderdduisende Afrikaners het sederdien die land verlaat. Meeste van ons hoop die grondwet sal bly geld, maar die wat kan het reeds of oorweeg om die pad te vat. Ons hoop en verwagtinge stem nie ooreen nie. Vir die gewone mens (my ervaring), word dit elke dag bietjie moeiliker om as Afrikaner in Afrikaans in Suid-Afrika te funksioneer. Die storie van die padda in die pot water is van pas – die water word stadigaan warmer, dit is al so warm dat hy nooit nou daarin sou klim nie, maar omdat dit stadig warm geword het, hou hy uit, totdat dit te warm is en hy verbrand. Slegs ‘n wonderwerk kan ons as Afrikaners se voortbestaan verseker. Wees positief – hoop, glo en dra by waar jy kan. Speel maar in die orkes, al is die skip se naam Titanic, die ysberg smelt dalk voor ons dit tref.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.