Afrikaner wees tussen liefde en kritiek

NP-van-Wyk-Louw

NP van Wyk Louw. Foto: Af.wikipedia.org

Kan ’n mens tegelykertyd met oorgawe Afrikaner én uiters krities op die Afrikaners wees? Die antwoord kan in die name van twee mense opgesluit word: NP van Wyk Louw (wat vandeesweek presies ’n halfeeu gelede gesterf het), en Elsa Joubert (wat in die naweek in ’n hoë ouderdom oorlede is).

As daar ooit twee Afrikaners was wat dié spanning tussen liefde vir jou eie volk en kritiek op jou mense beliggaam het, was dit Van Wyk Louw en Joubert. Kom ons kyk na hoe hulle dit reggekry het en wat ons as moderne Afrikaners van hulle kan leer.

Een van Van Wyk Louw se bekendste uitsprake kom uit sy reeks opstelle Lojale Verset: “Opstand is net so noodsaaklik in ’n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ’n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ’n hele geslag sonder protes sal verbygaan.”

Dus het hy geskryf: “’n Volk sonder kritiek is verlore.” Sulke kritiek “ontstaan wanneer die kritikus hom nie buite nie, maar in die midde van die groep stel wat hy kritiseer, wanneer hy weet dat hy onverbreekbaar verbind is in liefde en noodlot en skuld aan die volk wat hy waag om te bestraf; wanneer hy nie praat van ‘hulle’ nie, maar van ‘ons’.”

Maar Louw se denke was te breed om die Afrikanervolk as die alfa en omega te beskou. In teenstelling met die aanbidding van die volk deur die Nazisme of Fascisme het hy geskryf: “’n Volk is nie een wese nie; hy het geen eenheid van oorleg, geen eenheid van wil nie; hy maak nie een besluit nie. Hy bestaan uit tallose individue, en waar hy dus ‘besluit’ of ‘kies’, is dit die resultaat van tallose oorwegings en beslissings, halwe oorwegings en tam beslissings …”

Ten grondslag hieraan, het hy in Maskers van die erns geskryf, is dat die “intellektuele mens” (wat by implikasie sy ideale mens is) honger is “na idees omdat hy verlang na waarheid – omdat elke idee vir hom die moontlikheid van iets waars voorhou. En hy is krities – krities teenoor elke idee, ook sy eie. Sy kritiek is die proefbuis waarin elke idee, ook sy eie, ontbind word om daardie een element, die moontlike paar grein waarheid, uit te haal.”

Hoe het Louw die fondamente wat hy só geskets het, op die politiek toegepas? Daar moet onthou word dat hy sy belangrikste werk gelewer het in ’n tyd waarin totalitêre onverdraagsaamheid – regs by die Nazi’s en Fasciste, links by die Kommuniste – hoogty gevier het. Dit was nie maklik om nugter en gematig te bly nie.

Daarom het hy in Liberale Nasionalisme chauvinisme bestempel as “die swart engel van die nasionalisme” wat “bestendig naas hom soos sy skaduwee” bly. En, het hy bygevoeg, “dit is juis omdat die ware nasionalis hierdie gevaar ken, dat hy die chauvinisme as ’n doodsvyand moet beskou”.

Daarom, in ’n klein, bedreigde volk, “moet die ware nasionalis kritiek en aansporing in ’n fyn ewewig hou – só fyn dat hy seker, maar selde, voel dat hy sy taak behoorlik verrig”.

Dit bring ’n mens by die een aanhaling wat, myns insiens, die pilare van Louw se politieke filosofie bevat: “’n Mens het ’n volk lief, nie omdat hy heerlik en die beste volk op aarde is nie; jy het hom lief om sy ellende … Ek gebruik die woord ellende hier in die pregnante sin van ’n diep gebrek. En hierdie ellende is sekerlik nie alleen ekonomies nie.”

En dan kom dié woorde, wat op my altyd ’n diep indruk gemaak het: “By ’n volk vir wie ’n mens werklik liefhet, sien jy sy vooroordele, sy kleinlikhede, sy geestelike agterstand.” Die begrip liefde definieer hy vervolgens: “Dis nie in hoofsaak gerig op deugde of krag of skoonheid nie, maar op swakheid, verblindheid, hulpeloosheid en ’n blote moontlikheid.”

Dis vanuit dié ingesteldheid dat Louw sy drama, Die pluimsaad waai ver, geskryf het, waarin hy die swakheid en magteloosheid van die held pres. MT Steyn in die finale vernedering van die Anglo-Boereoorlog geskilder het. Vir die destydse premier, dr. Hendrik Verwoerd, was dit te veel – vir hom mog alleen die krag en onoorwinlikheid van die Afrikanernasionalisme besing word, nie die volk se swakheid nie.

Hoe ook al, dit wys hoe Louw sy eie volk hartstogtelik kon liefhê en terselfdertyd sy mense se swakhede kon uitlig.

Elsa Joubert (Foto: Omslag, Spertyd deur Tafelberg Uitgewers)

Op haar eie manier het Elsa Joubert dieselfde gedoen. Sy het in ’n intens Afrikaner-nasionalistiese gesin grootgeword, maar wanneer sy met die ellende van swart vroue – veral haar eie huishulp, Poppie Nongena – gekonfronteer word, ervaar sy die verwoestende uitwerking van dieselfde Afrikanernasionalisme op hulle. In ’n Wonderlike geweld beskryf sy dit só:

“Ek rou oor die dood van die kind van ses wat ’n patriot wou wees. Die kind van 16 met ’n brandende fakkel in haar hand wat haar wil uitgiet in die brandende olie vir haar volk. Die kind wat deur my verraai is.”

Joubert se Die Swerfjare van Poppie Nongena het aan die einde van die sewentigerjare verskyn, toe apartheid en die Afrikanernasionalisme op hul hoogtepunt was. Die boek, wat die verdriet, swaarkry en ellende van één swart vrou as slagoffer van die apartheidsbeleid oopvlek, het die Afrikaners soos ’n bom getref en baie gedoen om die volk se gewete wakker te skud.

Rapport het weke lank lang uittreksels uit die boek gepubliseer. Die Stellenbosse filosoof prof. Johan Degenaar het apartheid se strukturele geweld daarin raakgesien, waar “diskriminerende wette geld wat deur blankes gemaak is om die lewe van nie-blankes te reguleer tot voordeel van die blanke wetgewers”. Hy het Afrikaners se aandag daarop gevestig dat “óns hierdie wetgewers is”.

Die eindoordeel van Danie van Niekerk, Joubert se uitgewer, was: “Ek dink die boek het meer as enige ander Afrikaanse boek gedoen om Afrikaners van gedagte te laat verander.” Inderdaad het die boek ’n belangrike voorbereidende rol gespeel om die oorgangsperiode van 1990-’94 moontlik te maak.

As ek ’n derde naam kan byvoeg, wat in dié konteks egter nie relevant is nie, is dit dié van Hermann Giliomee.

Ook in ons eie tyd sien jy hoe ekstremisme en onverdraagsaamheid opnuut onder Afrikaners toeneem. As jy nie met hul chauvinisme (wat soms die grens van rassisme oorsteek) saamstem nie, is jy (snak na asem) ’n liberalis! In elk geval geen wáre Afrikaner nie.

Ek woon agter die liefde aan in Nederland. My ervaring is dat ek in die 12-13 jaar van my verblyf in die buiteland steeds minder Suid-Afrikaans voel, deels omdat my bleek velkleur van my ’n ongewenste persoon in my geboorteland maak. Terselfdertyd voel ek my steeds meer Afrikááns en Afrikáner.

Solank dit begryp word dat die inhoud van my Afrikanerskap nie dié van Eugène Terre’Blanche is nie, maar dié van Van Wyk Louw en Elsa Joubert.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

vreemd dat n geleerde man soos Johan Degenaar gese het “die Afrikaners het die apartheidswette gemaak”. Dis net gedeeltelik waar. Die basis van baie van daardie wette le by wit Britse koloniale heersers wat die wette oorspronklik uitgedink het. Aparte woonbuurte vir swart mense byvoorbeeld, kom reeds uit die britse kaapkolonie en natal, waar swartes wat in dorpe en stede gewerk is, verplig was om in “the native location” aan die buitewyke van die dorp of stad te bly.
En dis maar net een van die wette. Daar was baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.