Agterstand in skole-infrastruktuur vereis onmiddellike aksie

klaskamer

Foto: Feliphe Schiarolli/Unsplash.com

Deur Christine Botha, regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Onlangse berigte oor die enorme skaal van “onreëlmatige” en “vrugtelose en verkwistende” uitgawes wat deur staatsdepartemente aangegaan is, het die publiek verslae gelaat. Volgens mediaberigte, het die ouditeur-generaal van Suid-Afrika (OG) onlangs in die parlement aangekondig dat die staat se vrugtelose uitgawes (uitgawes wat vermy sou kon word indien redelike sorg aan die dag gelê is) met 200% toegeneem het – van net onder R1 miljard in die vorige finansiële jaar tot R2,5 miljard in die huidige jaar.

Hierdie hoë tendens van vermorsing van kosbare hulpbronne kom ook voor in die geouditeerde finansiële state van die departement van onderwys. Die OG het in die departement se 2017/18-jaarverslag aangedui dat die onreëlmatige uitgawes (uitgawes wat aangegaan was in teenstelling met die wetgewing) in 2017/18 sowat R154,478 miljoen beloop het en dat ʼn gebrek aan kontrole en die afwesigheid van aanvaarding van aanspreeklikheid oor aankoopprosesse die hoofoorsaak was.

Die voorsiening van skole-infrastruktuur en die beveiliging van skole is belangrike komponente van die grondwetlike reg tot basiese onderwys. Op 9 Oktober 2018 het die Finansiële en Fiskale Kommissie van Suid-Afrika (FFK) die gebrek aan nakoming in dienslewering in die versnelde skole-infrastruktuurleweringsinisiatief (ASIDI) beklemtoon (FFK 2018-inligtingsessie).

Die ASIDI is in 2011/2012 in die lewe geroep met die doel om behoorlike en daadwerklike aandag aan die swak toestand van openbare skole se infrastruktuur te gee en die toekenning van fondse aan skole te kontroleer. Die ASIDI se teiken was om openbare skole op te knap sodat dit voldoen aan die 2013 Minimum Uniforme Norme en Standaarde vir Openbare Skole-infrastruktuur (Infrastruktuur Norme en Standaarde) wat ook sperdatums bevat vir die voorsiening van basiese dienste soos water, elektrisiteit en sanitasie aan skole ten einde die agterstand van skole-infrastruktuur uit te skakel.

Die School Infrastructure Backlog Grant (die toelaag) is ʼn indirekte toelaag wat spesifiek geskep is om die ASIDI te befonds, en dit word deur die nasionale onderwysdepartement namens die provinsiale onderwysdepartemente bestee. Die toelaag was, volgens die FFK, egter slegs bedoel om ‘n tydelike hoë impak- en korttermyninisiatief te wees. Mens sou dus verwag dat besteding van die toelaag hierdie feit sou weerspieël. Soos die FFK egter aantoon, was die besteding van die toelaag, ten spyte van ʼn toename in 2017/18, oor die algemeen uiters swak met ʼn gemiddelde besteding van slegs 66% sedert 2011. Dit, tesame met die verstommende gebrek aan bereiking van die ASIDI teikens – soos byvoorbeeld die feit dat slegs 189 van die ongeskikte skole van die aanvanklike teiken van 510 tot Maart 2018 vervang is – kan eenvoudig nie deur die parlement aanvaar word nie.

Dit wil voorkom asof ʼn gebrek aan oorsig in die ketting van aanspreeklikheid ʼn herhalende en kernprobleem is. Volgens die FFK word ASIDI-projekte deur twee implementeringsagente bestuur, naamlik Eskom en die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika.

Dié twee instansies stel subkontrakteurs aan om die werk te doen, wat dan weer op hul beurt klein, medium en mikro-ondernemings aanstel om die projekte uit te voer. Daar is dus min werklike oorsig in die ketting van aanspreeklikheid en kritiese swakpunte sluit, volgens die FFK, “swak kommunikasie en deling van inligting, gebrek aan ʼn effektiewe oorsigstelsel van diensverskaffers en veral demotivering van implementeringsagente weens die feit dat hulle nie die eienaars van die projek is nie”, in.

Die FFK het ook beklemtoon dat skole-infrastruktuurprojekte op provinsiale vlak verder benadeel word deur die feit dat die beplanning, begroting en implementering daarvan deur verskillende staatsdepartemente en implementeringsagente uitgevoer word. Dit veroorsaak ʼn verdere gebrek aan toesig en beheer. Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat die verskaffing van skole-infrastrukture die verantwoordelikheid van die nasionale onderwysdepartement is. Hierdie aspek is in Julie 2019 deur die Oos-Kaapse hooggeregshof in Bisho bevestig in die saak van Equal Education and Amatolaville Primary School v the Minister of Basic Education and Others. In die saak is regulasie 4(5)(a) van die Infrastruktuur Norme en Standaarde, onder meer, ongrondwetlik verklaar, aangesien dit in wese ʼn geleentheid vir die ontduiking van aanspreeklikheid deur die nasionale onderwysdepartement skep. Regulasie 4(5)(a) het bepaal dat die implementering van die Infrastruktuur Norme en Standaarde afhanklik is van die samewerking van en met ander staatsdepartemente.

Die mislukking van die bereiking van skole-infrastruktuurteikens weens ʼn gebrek aan behoorlike oorsig, is al herhaaldelik deur die FFK uitgewys. In ʼn inligtingsessie van die FFK in Oktober 2017 aan die Portefeuljekomitee van Basiese Onderwys, het die FFK beklemtoon dat R3,86 miljard van die toelaag in die periode 2011 tot 2017 nie bestee is nie. Dié enorme bedrag verteenwoordig 30% van die totale toelaag – en soos die FFK uitgewys het, impliseer dit dat daar genoeg geld beskikbaar is om die historiese agterstand in skole-infrastruktuur aan te pak. Die FFK het op dié 2017-inligtingsessie ook pertinent uitgewys dat die onderwysdepartement se R263 miljoen in onreëlmatige uitgawes vir die 2016/17-periode in meeste gevalle aangegaan is deur ASIDI-implementeringsagente wat nie die korrekte verkrygingsprosesse gevolg het nie.

Die FFK het in die 2018-inligtingsessie sterk aanbevelings gemaak hoe die onderwysdepartement die leemte van oorsig en vermorsing van fondse kan bekamp. Die FFK het voorgestel dat die onderwysdepartement duidelike prestasie-evalueringsraamwerke moet opstel vir toelae wat objektief gemonitor kan word en wat spesifieke aanwysers bevat wat kwaliteit, koste en tydsfaktore in ag neem. Die FFK het ook (weer) voorgestel dat strenger boetes vir onderprestasie van implementeringsagente ingestel moet word.

Die aanbevelings deur die FFK is praktiese, doelgerigte voorstelle wat redelik eenvoudig behoort te wees om op te stel en te implementeer. In die toekoms is daar dalk die moontlikheid dat die OG in die posisie sal wees om hierdie verliese direk van ʼn verantwoordelike party te kan verhaal deur die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Openbare Oudit. Daar is egter reeds maniere om hierdie sistemiese foute te voorkom en aanspreeklikheid te verskerp, soos wat die praktiese voorstelle van die FFK bewys.

Die Suid-Afrikaanse publiek en die parlement kan nie net eenvoudig aanvaar dat daar nie genoeg hulpbronne is om alle openbare skole se infrastruktuur te verbeter en te beveilig nie – veral waar daar duidelik vermorsing van fondse is. Infrastruktuur en veilige skole is ’n integrale komponent van die grondwetlike reg tot basiese onderwys – en daarsonder sal die reg betekenisloos wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Haai nee? Hoe kan mense nou daarop aandring dat infrastruktuur uitgebrei en onderhou word met belasting-geld? Is julle simpel? Hierdie is AFRIKA…..eerste fondse wat inkom koop vir die Minister of Misister ‘n nuwe lang slap swart kar, dan ‘n miljard Rand paleis, dan baie wagte, juwele, oorsese reise, vakansies, uitstappies, familie-bederfies, en salaris verhogings……..en DAN…..as daar iets oorbly, word ‘n toilet gebou…of iets kleins net om te wys dat daar “beplanning” was…..Hoe’t my Pa altyd gesê? “Ontnugtering is die wreedste leermeester!!”

waarheid ·

Nog een van die regering se ‘suksesverhale’.
Julle kry 100% .

marco polo ·

Leer eers die ‘pupils’ dat saam met regte verantwoordelikhede kom. As jy ‘n skool wil he, moet jy daarna omsien en nie beskadig of afbrand, net omdat jy vir iemand kwaad is nie. Hoekom is die ou tradisionele blanke skole meestal in ‘n veel beter toestand as die van die “agtergeblewenes”? Omdat ouers soms hulle moue oprol en self inspring. Dis van wag vir die staat om alles te doen dat die land is waar hy is.

Willem ·

Daar is een gedeeltelike oplossing wat die druk op skole, onderwysers en leerders grootliks sal verlig. Google for Education is n kragtige hulpmiddel wat reeds die grootste ICT behoefte van enige skool sal bevredig. WiFi is egter te duur. Om dit op te los behoort n ‘zero-rated’ selfoon internet konnektiwiteit pakket te wees vir skole. Soos Free Facebook, Gumtree en ander. Dit sal
mobiele konnektiwiteit bekostigbaar maak. Owerhede en selfoon maatskappye is egter te kortsigtig en gulsig. Die toekoms is reeds hier. Ons owerhede weier net hardnekkig om dit eweredig te versprei. Die 10jr skole konnektiwiteit plan het pas verstryk, nutteloos. Oor nog 10jr kan die volgende politici weer sê dit was nie hulle skuld nie. Welkom in ons toekoms ! Afrika bo!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.