Aristoteles, Machiavelli en Nietzsche in Frank Herbert se Dune

Frank Herbert se 1965-boek Dune (Foto: Wikipedia)

All governments suffer a recurring problem: Power attracts pathological personalities. It is not that power corrupts but that it is magnetic to the corruptible.” – Frank Herbert

Daar is ʼn toneel in Denis Villeneuve se 2021-fliek, Dune, waar die jong Paul Adreides vir die eerste keer sy voet op die planeet Arrakis sit. Daar is ʼn groep van die plaaslike bevolking – die Fremen – wat hom en sy familie inwag, meestal vroue.

Met die eerste oogopslag begin hulle die woorde Lisan al Gaib uitskree. In die wêreld van Frank Herbert (die outeur van die Dune-boekereeks) beteken dit “die stem van die buitewêreld”. Dit is ʼn verwysing na ʼn profesie onder die plaaslike bevolking dat ʼn messiaanse figuur van ʼn ander planeet eendag sal opdaag om hulle van onderdrukking te bevry.

Vir ons as Afrikaners herinner dit nogal aan die eerste woorde in NP van Wyk Louw se groot werk Raka: “Die vroue het hom die eerste gewaar…”

Raka vertel die verhaal van ʼn dorpie in Afrika wat deur Raka die ondier besoek word. Raka het ʼn bekoring vir die plaaslike gemeenskap en ʼn debat ontstaan tussen die inwoners van die dorpie oor of Raka ingelaat moet word of nie.

“Raka is vreedsaam” en “Raka is nie sleg”, sê hulle onder mekaar. Die verhaal eindig waar Raka inderdaad by die dorpie ingelaat word, net om ʼn spoor van verwoesting agter hom te laat. Hierdie “stem van die buitewêreld”, om by Herbert te leen, was toe nie so vreedsaam soos wat hulle verwag het nie.

NP-van-Wyk-Louw

NP van Wyk Louw (Foto: Af.wikipedia.org)

Herbert het nie doekies omgedraai oor wat hy met Dune probeer sê het nie. Die sentrale boodskap is dat mense nie sonder meer hulle hoop op charismatiese leiers moet vestig nie.

Hy het by geleentheid verduidelik dat hy John F Kennedy as ʼn groot bedreiging vir Amerika beskou het, juis omdat hy so charismaties was. Mense was bereid om Kennedy tot in die verderf te volg, bloot omdat hy ʼn assosieerbare, jong, dinamiese man was. Daarteenoor sê Herbert hy het veel meer van Richard Nixon gehou, want Nixon het deur sy eie voorbeeld vir mense gewys dat die owerhede tot bose dinge in staat is en dat ʼn mens nie te veel op die owerheid moet vertrou nie.

Juis daarom is die Dune-protagonis ʼn assosieerbare, dinamiese jong man. Dit is regtig moeilik om nie van Paul te hou as jy die boeke lees of die flieks kyk nie. ʼn Jong, onskuldige slagoffer van ʼn bose komplot tussen hul aartsvyande, die bose Harkonen-familie, en die keiser van die Galaktiese Ryk. Hy kom net-net met sy lewe daarvan af, maar in die proses verloor hy byna almal vir wie hy lief was.

Richard Nixon (R) wens John F. Kennedy (L) geluk met sy presidentsverkiesing terwyl vise-president Lyndon B. Johnson toekyk. (Foto: AFP)

In die bykans onleefbare omstandighede van Arrakis raak die jong Paul betrokke by die plaaslike bevolking, die Fremen, en ontdek hy sy unieke lotsbestemming, onvermydelik verbind aan die toekoms van Arrakis. Die Fremen word vinnig bekoor deur Paul se charismatiese persoonlikheid en hulle begin glo dat hy die “stem van die buitewêreld” is wat hulle van onderdrukking gaan bevry. Paul bied weerstand teen hierdie soort opheffing en waarsku deurlopend dat groot onderdrukking sal volg indien hy die mag kry wat hulle graag aan hom wil gee. Tog het hy ʼn diep begeerte om wraak te neem op sy vyande en slaag hy nie daarin om sy lotsbestemming te ontduik nie.

Deur buitengewone waagmoedigheid, politieke intrige, geestelike ontwaking, beloftes oor die skep van ʼn paradys en selfs verraad, word Paul ʼn messiaanse figuur en kry hy selfs ʼn nuwe naam: Muad’Dib. Wanneer Paul die leier word wat die Fremen van hom wil maak, kom hulle inderdaad in opstand teen die Galaktiese Ryk.

So ontketen hy ʼn godsdienstige oorlog wat die toekoms van die planeet en die sonnestelsel ingrypend verander. Sy besluite het geweldige – en gewelddadige – gevolge. Die bloedvergieting waarteen Paul self gewaarsku het, vind inderdaad plaas, met hom aan die stuur van sake. Die mensgemaakte messias se lotsbestemming was toe nie bevryding nie, maar onderdrukking.

Vertolking

Daar word soms gesê dat Dune ʼn libertariese onderbou het omdat dit ʼn waarskuwing is oor die soort dinge wat gebeur wanneer individuele vryheid onderdruk word. Dit is ʼn baie oppervlakkige vertolking van die verhaal. Dune het diep ondertone van gemeenskapsdinamika en kulturele bewussyn, wat Aristoteles beskryf het as die beweging van potensialiteit na aktualiteit, wat Nicollò Machiavelli beskryf het as die stryd teen Fortuna en wat Friedrich Nietzsche beskryf het as die bevryding van die Übermensch.

Griekse filosoof Aristoteles saam met sy familie. (Foto: Isadora/Leemage)

Dune en Aristoteles

Een van die belangrikste boublokke van Aristoteles (en dus die konserwatiewe/ Westerse) verwysingsraamwerk is die beweging van potensialiteit na aktualiteit. Alle dinge is in beweging, sê Aristoteles, of dit nou ʼn mens, ʼn voorwerp, of ʼn volk is. Daarmee bedoel hy dat alle dinge in ʼn vorm van potensialiteit is, op pad om in aktualiteit vervul te word. ʼn Boom beskik byvoorbeeld oor die potensiaal om ʼn stuk hout te word, hout om ʼn meubelstuk soos ʼn stoel te word, ʼn stoel om rus te gee, of selfs om ʼn vuur te word, ʼn vuur om hitte te gee of kos gaar te maak ensovoorts.

Hierdie tema is sentraal in Dune. Die ruwe, dodelike woestynplaneet, Arrakis, is ʼn metafoor vir potensialiteit. Daarteenoor is die jong Paul se tuisplaneet, Caladan, ʼn metafoor vir aktualiteit. Dit reën baie op Caladan. Daar is woude en oseane en soveel water dat ʼn mens selfs daarin kan duik, verduidelik hy aan die Fremen. Daarom beloof Paul om Arrakis in ʼn paradys te omskep deur water terug te bring en bome te plant.

Portret van Niccolo Machiavelli (1469-1527), staatsman en diplomaat (Foto: Austrian Archives (AA) / IMAGNO / APA-PictureDesk via AFP)

Die beweging van potensialiteit na aktualiteit geld ook vir die Fremen as ʼn volk en vir Paul as individu wat hulle potensiaal ontsluit. Hierdie ontsluiting van potensiaal is egter nie iets wat gebeur wanneer die individu van sy gemeenskap bevry word nie, maar die teenoorgestelde, naamlik wanneer die individu in die konteks van sy gemeenskap tot vervulling kom.

Dit beklemtoon deurlopend dat alle dinge inmekaar geweef is en dat die mens juis nie tot vervulling kan kom as hy nie met gemeenskapsidentiteit beklee is nie. Trouens, op Arrakis het die jong Paul absolute individuele vryheid, maar dit help hom niks omdat hy nie kan oorleef as hy nie deel van ʼn gemeenskap is nie. Om deel van ʼn gemeenskap te wees behels in die eerste plek dat hy sy waardigheid moet bewys. Dit is nie die liberale waardigheid waarvan ons vandag so baie hoor nie – met ander woorde die idee dat sy reg op menswaardigheid nie geskend mag word nie.

Dit is Aristoteliaanse waardigheid – met ander woorde die idee dat hy sy “waardigheid” om deel van die gemeenskap te wees, bewys. Dit is ʼn waardigheid wat opgesluit lê in toewyding, opoffering, respek vir tradisie en die nakoming van verantwoordelikhede. As Paul nie hierdie dinge nakom nie, sal hy nooit tot vervulling kom nie.

Machiavelli en Dune

ʼn Mens benodig nie baie verbeelding om in te sien dat George RR Martin se boekereeks, Game of Thrones, sterk deur Dune beïnvloed is nie. Die tema van verskillende “huise” wat met mekaar meeding om mag, terwyl die keiser (of koning) vanuit ʼn sterk sentrale magsposisie die sweep klap, figureer sterk in albei verhale.

Daar word dikwels gesê dat sowel Game of Thrones as Dune sterk deur die filosofie van die Renaissance-denker, Niccolò Machiavelli, geïnspireer is. Machiavelli is bekend vir sy werke oor magspolitiek. Hy het gesê dat ʼn leier tegelyk so sterk soos ʼn leeu en so slinks soos ʼn jakkals moet wees. Dit is omdat die spreekwoordelike leeu se probleem is dat hy nie slim genoeg is om die strikke en lokvalle raak te sien nie, terwyl die jakkals nie sterk genoeg is om die wolwe met brute krag af te weer nie.

George RR Martin. (Foto: Chris Pizzello, AP)

Machiavelli het ook gesê dat dit goed is dat ʼn leier geliefd en gevrees word, maar indien ʼn leier tussen hierdie twee hoedanighede moet kies, dit veel beter is om gevrees eerder as geliefd te wees. Die Game of Thrones-raakpunte is ooglopend.

Daar is egter ʼn belangrike rede waarom Dune – anders as Game of Thrones – teen die sentrale argument van Machiavelli se filosofie oor mag indruis. Dit gaan oor die tema van Fortuna, waarskynlik die mees sentrale tema in sowel Machiavelli as Herbert se werke. Fortuna verwys na die idee van geluk, toeval, of die lot. Klassieke en Middeleeuse filosofie verwys deurlopend na Fortuna as ʼn krag wat buite die mens se beheer is en wat menslike aangeleenthede beïnvloed en rig.

Vanuit ʼn Christelike perspektief kan ons Fortuna eenvoudig as God se raadsplan beskryf. Ons verwys ook hierna wanneer ons woorde soos “roeping” en “bestemming” gebruik om ons handeling hier op aarde te beskryf. Dit is ʼn erkenning dat ons slegs ten dele in beheer van ons eie lewe is – dat ons beweging van potensialiteit na aktualiteit nie net aan ons eie handeling uitgelewer is nie. Machiavelli het ʼn ernstige probleem hiermee gehad.

In een van sy mees omstrede uitsprake beskryf hy Fortuna as ʼn voorskriftelike vrou: Sy probeer om beheer oor jou lewe te neem, maar wanneer sy dit doen, is dit soms nodig om haar vas te druk en ʼn skop of ʼn klap te gee om te wys dat jy in beheer is. Hierdie invalshoek het die basis vir sy argument vir magspolitiek gelê. Vir die Game of Thrones-kyker sal dit bekend klink.

Die tweede Dune-fliek se bekendstellingsplakkaat.

Dune se invalshoek is presies die teenoorgestelde. Een van die hooftemas van die tweede Dune-fliek is die voortdurende drome wat Paul kry waarin hy sien wat moontlik in die toekoms kan gebeur. Hy besef dat hy oor die potensiaal beskik om homself in ʼn messiaanse figuur te omskep en om die ganse planeet agter hom te verenig. Hy voorsien ook dat dit tot grootskaalse bloedvergieting en onderdrukking sal lei as hy dit doen.

Daarom besluit Paul om sy rug op Fortuna te draai en nie te doen wat duidelik vir hom bestem is nie. Maar, hoe meer Paul teen Fortuna “skop en klap”, hoe meer bevind hy hom op ʼn glybaan na dít wat hy probeer verhoed – sy bestemming.

Dune en Nietzsche

Nietzsche se groot werk, Thus Spoke Zarathustra, vertel die verhaal van die profeet Zarathustra, wat ná tien jaar van alleenheid terugkeer na die beskawing om sy verligte leringe met ander te deel. Met uitsprake soos “God is dood!” vertel Zarathustra vir die mense van sy teorie van die heldhaftige “Übermensch” – ʼn bevryde, superindividu wat sy volle potensiaal ontsluit.

In Nietzsche se filosofie verteenwoordig die Übermensch die hoogste stadium van menslike ontwikkeling. Hierdie Übermensch vind betekenis in sy eie individualisme, eerder as in eksterne bronne soos God, tradisie of gemeenskap. Wanneer die individu dus die kettings van sy gemeenskap verwerp, word hy bevry en verhef… of ten minste, dit is hoe dit aangevoer word. En wanneer ons daarin slaag om ʼn Übermensch te word, kan ons werklik ervaar wat dit beteken om vry te wees.

Die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche. (Foto: DPA/ dpa Picture-Alliance via AFP)

In Dune verteenwoordig Paul ʼn soort Übermensch. Omstandighede dwing hom om sy tradisie en identiteit as ʼn Atreides agter te laat en ʼn nuwe identiteit aan te neem. Deur vernuftige optrede ontsluit hy sy volle potensiaal en word hy die soort bomenslike figuur wat Nietzsche in gedagte het. Maar hierdie Übermensch wyk in twee belangrike opsigte af van dié van Nietzsche. Paul bereik hierdie status allermins deur die individualistiese bevryding waarop Nietzsche aandring.

Hy doen dit in die eerste plek deur sy potensiaal in die konteks van die gemeenskap te vervul. ʼn Mens sou selfs kon sê dat Paul, eerder as om die kettings van die gemeenskap af te werp, ʼn aantal kettings vir homself opgeneem het. Sy potensiaal word deur opoffering en toewyding teenoor die Fremen-gemeenskap bereik, nie die afskud van verantwoordelikhede nie.

Tweedens bring Paul se Übermensch-status nie die soort verligting-vryheid wat Nietzsche in die vooruitsig stel nie. In plaas daarvan word Paul verstrengel in ʼn web van politieke faksies en magspolitiek wat die res van sy lewe oorheers. Sy bomenslike status bring ook nie bevryding vir die mense nie, maar bloedvergieting. Die parallel met Raka is veral hier sterk: die aanloklike, bomenslike buitefiguur was toe nie die bevryder wat voorspel is nie, maar die brenger van dood en verwoesting.

Samevatting

Daar is veel meer wat oor die fiktiewe wêreld van Dune gesê kan word. Wat ek hier wil uitwys, is dat ons belangrike lesse oor die regte lewe kan leer wanneer ons oor die Dune-verhaal nadink. Dit sluit in dat daar baie dinge is waaroor ons inderdaad beheer het – meer as wat ons dikwels besef, maar ook dat daar eenvoudig sekere dinge is wat buite ons beheer is. Dit maak nie saak hoe hard ons hierdie “voorskriftelike vrou” skop en slaan nie, daar is sekere dinge wat bestem is om te gebeur, of ons nou daarvan hou of nie.

Dr. Ernst Roets (Foto: Reint Dykema)

Dit sluit ook in dat ons almal oor die potensiaal beskik om iets te word wat ons nie is nie, maar dat ons nie hierdie potensiaal kan ontsluit as ons dit nie in die konteks van ons gemeenskappe doen nie. Om dit te doen moet ons ons waardigheid bewys. Dit is waardigheid in die klassieke Westerse sin van die woord – nie die moderne idee van waardigheid wat gemeet word aan die mate waarin mense jou laat goed voel oor jouself nie, maar die konserwatiewe idee van waardigheid wat gemeet word aan die mate waartoe jy jou verantwoordelikhede teenoor jou gemeenskap nakom.

Dit sluit ook in dat ons inderdaad, soos Herbert so gereeld uitgewys het, altyd moet waak teen die vergoddeliking van die mens, of die idee dat ʼn mens een of ander Übermensch kan word. Mense is tot wonderlike dinge in staat. Mense is egter ook gebroke, feilbare, sondige wesens, goed toegerus om bose dinge aan te vang. Hierdie soort boosheid word veral ontsluit wanneer mense begin glo dat hulle bomenslike bevryders is en met mag toegerus word om hulle planne uit te voer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sokrates ·

Wat n plesier om elke dag sulke pitkos artikels te mag lees. Baie dankie, Maroela Media. Dit is artikels gebaseer op diepte van denke, idees, akademiese begronding en oop gespreksvoering. Dit dryf nie n klein eensydige narratief nie, maar ondersoek moontlikhede…. Dis nou se dae veel meer opwindend as n hele klompie ander dagblaaie se voorspelbare artikels……

Marthinus W ·

“…die vergoddeliking van die mens”. Dis waarom ek hewig teen die huidige Amerikaanse regeringsmodel is. Hulle loop en spog dat hulle die “indispensible nation” is, “American exceptionalism”, et al. En dis waarom hulle soveel dood en verwoesting saai oor die aardbol. Om n ou skrywer te parafraseer: hulle skep n woestyn en noem dit vrede.

As jy Richard Nixon se 1099-bladsy outobiografie lees, en dit vergelyk met huidige regeringshoofde, begin hy al hoe meer uitstaan as n uitsonderlike politikus [Watergate was n onnodigheid].

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.