As Israel nie inheems is nie, is niemand nie

Deur Ilse Strauss

’n Israeliese soldaat kyk toe hoe ’n helikopter opstyg tydens ’n militêre oefening in Bo-Galiléa naby die Libanon-grens op 7 Februarie 2024, te midde van voortdurende gevegte tussen Israel en Palestynse Hamas-militante in die Gazastrook. (Foto: Jalaa MAREY / AFP)

“Ek wil vir die mense van Israel om verskoning vra vir die verskriklike ding wat die Suid-Afrikaanse regering gedoen het. Ons is jammer.”

Regent Xami Thomas, leier van die Khoi-koninkryk van Suider-Afrika, het Donderdagaand dié boodskap aan ʼn volgepakte gehoor in die hartjie van Jerusalem oorgedra.

Die skare se toejuiging was oorverdowend. Hierdie was immers woorde van ondersteuning afkomstig van ʼn verteenwoordiger van die nasie wat Israel na die Internasionale Geregshof gesleep het op beskuldigings van volksmoord.

Thomas was egter nie klaar nie.

“Die regering verteenwoordig nie al die Khoi of al die mense van Suid-Afrika nie. Die bewerings is sonder enige substansie. Ons is diep ontsteld…”

Toe kom die klinker.

“Enigiemand wat sê dat Israel nie inheems is nie, weet nie waarvan hulle praat nie. As Israel nie inheems is nie, is daar geen inheemse nasie op aarde nie.”

As gevolg van die huidige verhouding tussen Suid-Afrika en Israel, het Thomas se boodskap aansienlike gewig gedra. Tog was sy stem van steun vir ʼn verandering een uit ʼn menigte.

Donderdagaand was die amptelike opening van die wêreld se eerste ambassade vir inheemse nasies, en afvaardigings van Kanada, Hawaii, Nieu-Seeland, Puerto Rico, Togo en natuurlik Suid-Afrika was in Jerusalem vir die inhuldiging. Verskeie ander het videoboodskappe gestuur.

Die Inheemse Ambassade in Jerusalem staan nie vir ʼn spesifieke staat of land nie. Dit verteenwoordig eerder die stemme van inheemse leiers en hul mense van regoor die wêreld en sal dien as ʼn sentrum van inligting en ʼn helpende hand in die Beloofde Land.

Maar moontlik nog belangriker, die ambassade – en diegene wat dit verteenwoordig – staan ​​as ʼn simboliese laer van ondersteuning. Dit bevestig dat alhoewel kritiek teen Israel vanuit vele oorde weerklink, hierdie inheemse leiers en hul mense die Joodse volk as een van hulle eien: ʼn inheemse nasie in hul inheemse land, die land van Israel.

Die gastelys vir die aand het ambassadeurs, verskeie stamhoofde, ʼn prinses en ʼn koning ingesluit. Een vir een het die inheemse leiers – almal toegewyde Christene wat Israel liefhet en ondersteun – agter die podium ingeskuif om boodskappe van hoop, liefde en aanmoediging aan die Joodse volk te bring.

Donderdagaand was die amptelike opening van Inheemse Ambassade, en afvaardigings van Kanada, Hawaii, Nieu-Seeland, Puerto Rico, Togo en Suid-Afrika was in Jerusalem vir die inhuldiging. (Foto: X/Indigenous Coalition For Israel)

Die verteenwoordigers van Hawaii het die inheemse leiers gevra om op te staan ​​en hul hande oor die gehoor van Israeli’s uit te steek, terwyl hulle die Aäroniese seën in Hawais sing. Die afvaardiging van Puerto Rico het hulself op tradisionele instrumente begelei terwyl hulle ook seëninge oor Israel gesing het. ʼn Verteenwoordiger van die koningin van Tonga het die loflied van Moses uit Deuteronomium 32:1-43 voorgelees. En Tomas het die gehoor bemoedig met die belofte dat die wat vir Israel is meer is as die wat teen haar staan ​​(2 Konings 6:16-17).

Voeg daarby die deurdringende roep van ʼn ramshoring wat kort-kort weerklink, die ritmiese maatslag van tromme en inheemse leiers, uitgedos in helder tradisionele drag, wat vrolik dans op gewilde Joodse melodieë, en jy kry wat die seremoniemeester die mees vreugdevolle inhuldiging ooit genoem het.

Dr. Sheree Trotter van die Inheemse Koalisie vir Israel het die idee vir die Inheemse Ambassade in Jerusalem voorgelê, en toe nou saam met die onderburgemeester van Jerusalem, Fleur Hassan-Nahoum, en die Friends of Zion-museum gewerk om dit ʼn werklikheid te maak.

Volgens Hassan-Nahou is dit gepas dat die wêreld se eerste inheemse ambassade in Jerusalem geleë is, die stad wat koloniale magte vir geslagte lank van haar oorspronklike inwoners probeer skei het.

“Een van die bekendste strategieë van die wat ons haat is om die Joodse volk van die land van Israel te probeer skei. Dit is hulle taktiek,” het sy gesê.

“Inheemse nasies verstaan egter die definisie van inheemsheid behels dat ʼn volk in ʼn spesifieke land gevorm word. Die Joodse volk het die Joodse volk in hierdie land geword. Dit is slegs deur ʼn wonderwerk dat ons buite die land oorleef het, en dit is slegs deur ʼn wonderwerk, deur volharding, deur baie harde werk en bloed, sweet en trane dat ons teruggekeer het. En nou is die strategie om ons te skei van die land waarin ons gevorm is.”

Sy’t afgesluit deur na Sagaria 8:22 te verwys: “Mag hierdie ambassade ʼn voorsmakie wees vir die dag wanneer alle stamme en nasies na Jerusalem sal kom.”

Die Inheemse Ambassade in Jerusalem – Israel se 100ste en die vyfde wat Jerusalem bo Tel Aviv as ligging kies – sal in die Friends of Zion-museum in die middestad van Jerusalem geleë wees. Dit spog met die steun van inheemse volke van die vier uithoeke van die wêreld, insluitend Amerikaans-Samoa, Australië, Kanada, Cook-eilande, Fidji, Hawaii, inheemse Amerikaanse stamhoofde, Nieu-Kaledonië, Papoea-Nieu-Guinee, Samoa, Singapoer, Salomonseilande, Suid-Afrika, Tahiti, Taiwan en Tonga.

  • Ilse woon saam met haar man, dogtertjie en drie worshonde in Jerusalem. Sy dien as ‘n vrywilliger by Bridges for Peace, ‘n Christenorganisasie wat verhoudinge bou tussen Christene en Jode.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacob ·

Dankie vir die artikel. Stem volmondig saam met Regent Xami Thomas: “Enigiemand wat sê dat Israel nie inheems is nie, weet nie waarvan hulle praat nie. As Israel nie inheems is nie, is daar geen inheemse nasie op aarde nie.”

annie ·

Mmmm… En Jerusalem is die kersie op die koek wat Hamas en Islam begeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.