As mens alles verloor

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Party dae het mens nie woorde nie.

Dis die dae wat die goed wat om jou gebeur, soos klippe in jou bors gepak word. Tot dit so swaar is dat dit voel of jy nie kan regop kom nie.

Dis die dae wat jou vingers lank stil lê op jou rekenaar se sleutelbord. Wanneer selfs jy, wat geseën is met die vermoë om goed in woorde te kan sê, regtig nie die woorde agtermekaar gesit kry nie.

Vroeër hierdie week bel een van my Maroela-kollegas vroegoggend – dis nog donker buite. Ek kan eers nie hoor wat sy sê nie; haar woorde maak nie sin nie. Dan verstaan ek: Hulle huis het afgebrand in die nag.

Later stuur sy  foto’s. Daar is regtig niks oor nie.

Ek dink hoe ek soms ligtelik in ’n geselskap opmerkings maak oor wat ek sal red as my huis afbrand: My man, kinders en honde, natuurlik. En dan sal ek my klavier – ‘n erfstuk – voor my uitstoot. En ek sal my foto-albums (wat ek getrou elke jaar byhou) onder my arms vasknyp en op my kop balanseer.

Toe sy my donker-oggend bel, was sy nog nie seker of haar man en haar honde veilig is nie. Later het sy laat weet: haar klavier is daarmee heen. En haar viool. En hulle foto’s. En nog ’n klomp ander goed wat geen versekeringspremie kan dek nie.

Net twee weke of wat gelede bel ’n ander kollega my op ’n Sondagoggend: Haar skootrekenaar is uit haar motor se kattebak gesteel. Twee dae later, nog ’n kollega: Daar was ’n inbraak by sy huis; hulle televisie en sy skootrekenaar is gesteel.

Verlede week – ’n ander kollega met ‘n potblou oog en skewe kakebeen by die werk ná ’n padwoedevoorval.

Netnou vertel ’n ander spanlid, bewerig: Sy het nou net met haar man gepraat. Hy is pas beroof. Nie seergekry nie, dankietog.

’n Ander kollega is pas terug van ’n tydjie verlof. Sy ma is oorlede. Heeltemal onverwags, en kort nadat sy pa ’n paar maande gelede oorlede is. Hy en sy broer en susters het die huis gaan uitsorteer. Goedjies uitgedeel, besluit wie hou wat, boeke gaan aflaai, klere weggegee, skoongemaak. Dit tref hom later: Hy het nie meer ’n pa wat hy kan bel om raad te vra nie. Of ’n ma wat vir hom bid nie.

Gistermiddag wag my seuntjie vir my in die oprit toe ek by die huis kom. Staan met sy lyfie styf teen myne toe ek uitklim. Hy het nie die krieketspan gemaak nie. Druk sy gesiggie in my trui in.

Woensdagaand woon ek Aardklop se 2018-programbekendstelling in Johannesburg by. Ons kuier lekker. Ek staan met Jannie du Toit en gesels; ons praat oor ons ouer, ervare Afrikaanse kunstenaars wat nie genoegsame publisiteit in die media kry nie, ten spyte van die ongelooflike werk wat hulle doen. “Jy sal iets moet doen om die media se aandag te trek – sing Die Stem of iets,” spot ek. Nee wat, sê hy; dis nie sy tipe ding nie. Hy groet, stap uit na sy motor.

Minute later is daar ’n oproerigheid in die straat. Die deure word gesluit; ons kyk deur die glasdeure buitentoe hoe polisiemotors se ligte in die straat flits. Iemand help vir Jannie na binne. Sy denim is nat van die bloed. Iemand het hom met ’n mes bygekom, hier buite. Net sy selfoon is gesteel, dankietog. En omstanders het die aanvaller vasgetrek en aangehou tot die polisie gekom het.

Vanoggend, my huishulp; stil in die kombuis. Ek maak vir haar koffie om haar hande warm te kry. Sy kyk weg toe ek vra wat fout is. Later vertel sy: Haar sussie se dubbele mastektomie gister, nadat sy met borskanker gediagnoseer is, het toe goed afgeloop. Sy moet chemo kry, een keer ’n maand. Maar ai. Sy is ’n vrou.

Ons moet moed hou. Ons – Maroela – wil hoop skep; deur hoe ons stories aanpak, hoe ons berig oor die realiteite in ons land, hoe ons eties met inligting en met mense omgaan. Ek kan nie negatief wees nie. Veral nie in ’n redakteursbrief nie.

Maar met hierdie groot knop wat nou in my keel sit, wil ek vandag sê: Ons verstaan. Hierdie is nie net ons realiteit nie. Dis joune, elke dag. Soms is ek die slagoffer van ons land en sy probleme; soms is dit maar net eenvoudig die lewe wat met my gebeur. En soms is jy die slagoffer, of die een wat getref word deur die lewe. As ons mooi goed skryf hier op Maroela, positief bly, die ligstraaltjie in ’n hartseer storie soek, seker maak ons dek elke kant, dagstukkies publiseer, moed inpraat, ons seëninge tel, beteken dit nie dat ons nie verstaan nie.

As jou bors vol klippe is, kom vertel ons, en dan huil ons saam tot dit ligter word. En dan staan ons op en ons probeer weer, al is dit eers môre.

Hierdie goed gebeur met ons ook.

Groetnis

Susan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Estelle

Dankie, Susan.

Marelue

Soos ek nou hier skryf is my data amper klaar. Dit was nog my een vasklou hoop dat ek darem mense kon bereik. Ons het ook alles verloor man sy werk huis meubles niks kos nie en toe tref die ongeluk ons nog meer . Man raak siek maande van angs en wag vir hospitaal afsparke hoor ons hy het chronhs. Met chemo pille en siek wees kry ons geen werk geen inkomste nie. Ek klou vas aan my Vader soos n drenkeling. Mag die Vader ons almal help uit die ellende want ek het nie meer krag nie.

*dri**n

Ek was 3 weke by n nuwe werkgewer gewees en het gister n dissiplinêre verhoor gehad. Dis moeilik om met n besigheidseienaar saam te werk as jy nie weet in watter bui sy by die werk gaan opdaag nie. Mens weet wanneer jy by n plek gaan inpas of nie, en of jy daar wil werk of nie. Ek het skuldig gepleit op die aanklagtes en ons paaie het geskei. Ek is 54 en manlik, en die ekonomie is stram. Maar soos Susan se, ons staan op en probeer weer, al is dit eers more.

Sannie

Dankie, Susan, dat julle weet en verstaan!..My lewe loop ook afdraande en ek kan niks daaromtrent doen nie!.. Kyk net op, dis al..

Em

Dankie Susan. Ek werk al 5 jaar saam met iemand wat in een dag al vier seisoene is. Dit is moeilik. Sy kraak my gereeld af. Ek dink dit is deur ek een van die ouer garde is en ons was mos verantwoordelik vir alles wat verkeerd loop in hierdie land. Maar, ek moet elke dag opstaan, gereed maak en werk toe te kom want ons het my salaris nodig. Dit is net die wete dat God al hierdie dinge sien en my die krag gee om vorentoe te kyk elke oggend en se Dankie Vader, ek het n inkomste,… Lees meer »