As ‘njet’ eintlik ‘da’ beteken

donald-trump-001-deur-gage-skidmore-flickr

President Donald Trump. Foto: Gage Skidmore/Flickr.com.

Een van die gevolge van pres. Donald Trump se oorlog teen sekere media is dat die nie-goedgesinde media hom en sy medewerkers nou met ’n valkoog dophou. Op die internet kan ’n mens behoorlik kies en keur welke publikasie se dagboek oor kontak tussen Trump se medewerkers en senior Russiese amptenare ’n mens wil gebruik.

En terwyl van hierdie kontakte heel in die haak blyk te wees, soos om ’n vergadering tussen Trump en pres. Wladimir Poetin solank te begin skeduleer, werp die Trump-administrasie se aanvanklike ontkennings oor dié kontakte ’n negatiewe beeld oor die hele affêre. Die aanvanklike “njet” oor kontak moes dikwels na die nodige bewyse getoon is, teensinnig na “da” verander word. In een geval het al 17 Amerikaanse intelligensiedienste saam bevestig dat so ’n kontak wel plaasgevind het.

Die vyandiggesinde media hoef hulle nie lank te verknies het oor wat om te maak met Trump se meesterlike toespraak voor die Amerikaanse kongres nie. Die Trump-Russiese verbintenisse het gesorg dat daar ’n ander stukkie vleis rondhang om die tande in te slaan.

Trump self het by geleentheid Poetin se stert geprys. In die VSA werk dit egter nie so goed nie, want peilings toon dat meer Amerikaners Rusland as die groot gevaar beskou, eerder as China.

Intussen het dit nou die koppe van Trump-vertrouelinge laat rol. Die eerste groot kanon wat ingeplof het, was lt.genl. Mike Flynn, Trump se veiligheidsraadgewer.

Nou lyk dit ook of die pas aangewese prokureur-generaal, Jeff Sessions, in die slag kan bly. Hy het onder meer kluitjies gebak in sy ondervraging in die kongres oor kontak met die Russe. Sessions het hom ook pas verskoon van enige ondersoek wat ingestel kan word na beweerde Russiese inmenging in die Amerikaanse verkiesingsveldtog.

Oor hierdie inmenging het Trump self ook bontgepraat, deur aanvanklik te midde van oorweldigende bewyse te ontken daar was so iets, en dit later tog toegegee het, maar volgehou het dit het nie die uitslag van die verkiesing bepaal nie.

Die aandrang op ’n onafhanklike ondersoek na die beweerde Russiese bande met die Trump-administrasie word nou nie net deur Demokratiese kongreslede gesteun nie, maar ook sommige Republikeine. So ’n ondersoek kan die Withuis maande lank lamlê.

Aanvanklike aanduidings en uitsprake van Trump oor nouer samewerking met Poetin en Rusland het gou onder druk gekom. Die VSA verwag steeds van Rusland om by die Minsk-ooreenkoms oor die Oekraïne te hou, en Trump verwag van Rusland om hom aan die Krim te onttrek.

Rusland het gereageer deur op die oog af die Koue Oorlog weer voluit te hervat. Russiese TV-stasies het opdrag gekry om minder dikwels na Trump te verwys en spaarsamig om te gaan met lof vir Trump. Verskeie militêre stappe is hervat.

Volgens Rasmussen se jongste peiling is 52% van die kiesers tevrede met Trump se vertoning. Diegene wat bitter ontevrede met hom is, is egter effens meer as die wat baie tevrede met hom is.

Dit gaan klaarblyklik nie ’n vervelige presidentskap wees nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
DewaldS

Ek ken al die reuk en klank van mense wat begin vreesagtig raak. Al hierdie molshope waarvan berge gemaak moet word – kyk, daar is net een logiese verklaring – daar is ander dinge wat weggesteek moet word. Julle media-mense kan maar probeer net wat julle wil – dit gaan nie werk nie. Die wêreld het verander en solank inligting beskikbaar is sal die waarheid altyd langer bene as halwe waarhede en onwaarhede hê.

JC

Sessions het niks verkeerd gedoen nie en gaan nie in die slag bly nie. Hy het absoluut nie meineed gepleeg nie, maar hoe meer dit verduidelik word, hoe meer vasberade raak die demokrate en media om hom swart te smeer. Miskien moet die skrywer hiervan na meer onpartydige nuusagentskappe soek en nie op CNN, ABC, NBC en kie nie, wie se gelofwaardigheid by die deur uit is. In elk geval is daar al hoeveel keer benadruk dat niks buite die ordinere of iets verdags tussen President Trump en die “spook” Russe gebeur het nie. Wat nou egter uitkom is dat… Lees meer »

Wern

Hoe gaan die ou gesegde nouweer, as jy iemand wil slaan sal daar altyd n besem of stok gekry kan word, so iets.

Pietman

Waaroor die bohaai? Nou wat as Rusland Trump ondersteun het? Saudi Arabië ( wat ‘n vrot vroue en menseregte geskiedenis het ) het openlik Hillary ondersteun met $20 Mijoen . Skryf bietjie meer oor Obama wat Trump afgeluister het tydens sy veldtog.

Herman Toerien

My nuuskommentare vir Pretoria FM is vir Maandagoggende bedoel. Ek moet dit dus voor Vrydagmiddae om 12:00 indien vir opnames ens. Weens die lang tydsverlop probeer ek dit so tydloos as moontlik skryf, wat dan ook die onderwerpe waaroor geskryf kan word beperk. Die tydloosheid het dan weer die voordeel dat Pretoria FM dit later die week, bv die Vrydag eers, uitsaai, en dit dan eers die Vrydagmiddeeg hier gesplaas sal word. Soms gebeur die onvoorsiene egter dat iets nuuswaardigs gebeur, of nuus wat “weggsteek” was uitlek, en ‘n ander perspektief op die stuk gee. Dit is dan verstaanbaar dat… Lees meer »