Berlyn en die Gründerzeit

Berlyn. Foto: Pixabay

In die 20ste eeu is Berlyn veral gevorm deur die Nazi-diktatorskap en die Tweede Wêreldoorlog met sy vernietiging, en die Koue Oorlog met die fisieke verdeling van die stad deur middel van die muur. Al twee eras word as besonder negatief onthou en het vernietiging, hartseer en vernedering beteken. Die era wat egter Berlyn gebou het en van die Pruisiese hoofdorp ’n stad van wêreldgehalte gemaak het, was die 19de eeu se Gründerzeit.

Gründerzeit beteken die tydperk van die stigters. Die stigters waarna hier verwys word, is die stigters van maatskappye en die Gründerzeit was vir Pruise en Duitsland dít wat in die 18de eeu die Industriële Revolusie vir Brittanje was. In die geval van Duitsland, oftewel Pruise, het dit sowat honderd jaar later begin en van omtrent die 1830’s tot die 1870’s geduur. Dit was die tyd van uitvindings en die grondlegging van die bekende Duitse maatskappye Borsig, Mannesmann, Krupp, Thyssen, Siemens, AEG, BASF, Daimler-Benz, Deutsche Bank, Karstadt, om maar enkeles te noem.

Die sentrums van die Gründerzeit was die steenkoolgebiede Ruhr, Saar (in die Weste) en Oberschlesien (in die Ooste), asook Berlyn as hoofstad van Pruise. Alhoewel Berlyn en omgewing oor geen grondstowwe beskik nie en die steenkool en staal elders gemyn en vervaardig is, was hier belangrike kundigheid saamgetrek en het hier betekenisvolle meganiese en elektriese vervaardigingsbedrywe ontstaan. Daar was aanvanklik min nuwe uitvindings, maar die Duitsers het gepoog om veral Britse patente te steel en daarop te verbeter en goedkoper te produseer, nogal vergelykbaar met die hedendaagse China se ekonomiese strategie.

Om as maatskappystigter suksesvol te wees, was ’n hele paar vereistes nodig: tegniese vernuf en toewyding, deursettingsvermoë, eie kapitaal of ten minste toegang tot kapitaal deur ryk familie (dit was voor die bestaan van banke soos ons dit ken), bestuursvernuf en finansiële kundigheid. Party het dit alles gehad en fabelagtig ryk geword, maar baie meer het bankrot gegaan en moes hul hard verworde kundigheid en patente verkoop aan iemand anders wat dit winsgewend aangewend het.

Dit was ook ’n era van geweldige verandering. Die begeestering, selfs beheptheid met tegniek en meganika was vergelykbaar met vandag se begeestering met rekenaartegnologie en die internet. In net enkele dekades het Pruise, soos reeds voorheen Brittanje, van ’n baie konserwatiewe en hiërargiese landelike en landbougerigte samelewing verander in een van groot mobiliteit, vinnige modernisering, ontwrigting en konflik. Die ou adelsgeslagte se mag is geleidelik uitgedaag deur die opkomende stand van die “geldadel”, wat gepoog het om die adellikes se leefwyse na te boots. Die opgang en fabelagtige rykdom van die nyweraars het natuurlik uitbuiting van die werkers beteken en ook die opgang van vakbonde en die arbeiderspartye hang saam met die Gründerzeit. Dit was ’n tyd van onluste, storm en drang, al kyk ’n mens vandag met nostalgie terug na die 19de eeu as die goeie oue tyd.

Vir Berlyn en ander stede het die nywerheidsontploffing geweldige uitbreiding beteken. Aan die begin van die Gründerzeit, in 1831, het Berlyn sowat 250 000 inwoners gehad; aan die einde, in 1877, was dit reeds 1 miljoen. Sowel nuwe arbeidersbuurte vol woonstelblokke soos Moabit en Wedding, asook voorstede met spoggerige villas soos Lichterfelde en Grunewald is ontwikkel. Lichterfelde was een van die eerste luukse woonbuurte net buite die stad en is in die 1860’s ontwikkel. Grunewald, vandag nog een van die mees gesogte dele van Berlyn, het in die laat 19de eeu ontstaan, toe die stigters reeds ryk was en wou aftree. Ook hier was Brittanje en die leefstyl van sy rykes die voorbeeld, soos wat vandag alles uit die VSA in ander lande nagemaak word. Die villas uit die Gründerzeit laat nog steeds ’n mens se mond oophang. Behalwe vir privaat huise is in dié tyd ook vele openbare geboue opgerig, kuns en kultuur bevorder en die infrastruktuur ontwikkel.

In 1871, toe Pruise Frankryk beslissend verslaan het en die Duitse Ryk dan en daar gestig is, het die reparasies wat betaal is tot ’n verdere ekonomiese oplewing van veral Berlyn aanleiding gegee. Soos dit onvermydelik is in die kapitalisme, het daar op die oorverhitte ekonomie – wat later meer op spekulasie as op substansie gebou was – ’n skielike insinking gevolg, die sogenaamde Gründerkrach (Stigtersineenstorting) in 1872. Oornag het die aandelemarkte drasties geval. Toe reeds was ekonomie globaal van aard en het die inploffing van die aandelemark in een land soos ’n virus na ander lande versprei. Dit word ook as die einde van die eintlike Gründerzeit gesien. Daarna is nie meer veel nuwe maatskappye gestig nie, maar dié wat die inploffing oorleef het, het gekonsolideer en die mark onder hulle opgedeel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack ·

Ons in Suid-Afrika, wat so teen ons sin, by die hare ingesleep is in die anglo-amerikaanse denkwereld, besef nie altyd dat daar net so groot kulture, ekonomieë en werelde anderkant die engelse taalmuur bestaan nie. Ons wat van europese afkoms is, , het werklik voorgeslagte om op trots te wees. Daardie klein landjie Nederland, was in die 17de eeu die voorste handelsland ter wereld en die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie die rykste maatskappy wat tot op daardie tyd bestaan het. Nie alle wetenskaplikes en uitvinders was engelsprekendes nie, alhoewel die engelstalige wereld so voorgee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.