Boere gaan arbeidsafhanklikheid voortaan beperk

De Doorns

De Doorns

“Die Marikana van landbou”, noem Cosatu dit. Minister Tina Joemat-Petersen beloof plaaswerkers onmiddelike verhogings, en dat haar departement alles sal doen om die werkers te ondersteun. Intussen is die Boland in chaos gedompel, met toerusting, wingerde en landerye wat brand, winkels wat geplunder word en polisiewaens wat omgegooi word.

Alles oor hoër lone, met die kreet dat plaaswerkers nie op R70 per dag kan lewe nie. R70 as minimum loon is bitter min, en elke boer sou graag meer wou betaal. Dit is die bedrag wat ‘n inklusiewe komitee van kundiges saam met die Departement van Arbeid na 12 maande se navorsing in konsultasie met alle belanghebbendes in Maart vanjaar vasgestel het. Al het hulle faktore soos impak op werkgeleenthede, bekostigbaarheid en volhoubaarheid in ag geneem, het dit toe tot duisende afleggings in arbeidsintensiewe bedrywe gelei.

Ad-hoc Mangaung-geïnspireerde besluite om teenstrydig tot daardie kundiges se aanbevelings landboulone aan te pas, sal noodwendig negatief op die produksiestruktuur en kosteprofiel van die sektor inwerk.

Boere is prysnemers, en is aan die markte uitgelewer vir die inkomste wat hulle uit produkte kry. Op ‘n Mooketsi-tamatieplaas met 2 000 werkers is daar teen vanjaar se gemiddeld van R17-50 per boksie eenvoudig nie genoeg wins om selfs R70/dag vir plukkers te betaal nie.

Plaaswerkers kry nie net die loon nie. Hulle eet van die plaas af, meeste woon verniet sonder krag- en waterrekeninge, ry op die plaas se koste, en kry meestal gratis gesondheidsorg. Dit is meer as wat baie werkende stedelinge kry!

Waar daar op enkele plase oortree word, en ‘n boer vir die sektor ‘n verleentheid veroorsaak, is daar in georganiseerde landbou min simpatie vir hom. Wetgewing reguleer lone en werksomstandighede, en daarby moet gehou word. ‘n Verskeidenheid steekproewe oor die land heen het uitgewys dat baie min gevestigde boere arbeidsreëls oortree, en dat die swaartepunt van uitbuiting, kinderarbeid en wanvergoeding in die opkomende sektor voorkom. Arbeidsinspekteurs kom nie daar nie.

Uitvoerplase soos die in die Hexvallei word jaarliks aan streng inspeksies onderwerp, om seker te maak dat net die beste internasionale standaarde geld, veral ook wat woon- en werkomstandighede van werkers betref.  Voor De Doorns het die departement nooit die integriteit van daardie inspeksies bevraagteken nie, en as hulle sou, kan dit ernstige gevolge vir die uitvoer van vrugte hê.

Vir landbou het die wêreld baie klein geword. Boere kompeteer daagliks teen die beste produsente op kieskeurige buitelandse markte, en net die mees kompeterende ondernemings oorleef. Dit is hoe Suid-Afrika sedert 2006 sy tee- en koffiebedrywe aan Malawi, Kenia, Uganda en Rwanda afgestaan het – ons kon nie met hulle laer arbeidsinsette kompeteer nie. Meer gewasse soos groente en uitvoervrugte, waar arbeid ‘n groot deel van die uitgawebegroting is, sal oor ons grense uitsluip.

Die internasionale speelveld is ook nie gelyk nie. Suid-Afrikaanse boere kom uit ‘n arm beleidsomgewing wat met onsekerheid oorlaai is, en kompeteer teen hoogs gesubsidieerde produkte terwyl die hekkies van tegniese- en plantgesondheidskodes vir ons hoër gestel is.

Met die “Marikana van landbou” kan ons sterkste kompetisie in Suid-Amerika en Australasië hul geluk nie glo nie!

Hoe nuwe toetreders tot landbou, en veral die begunstigdes van grondhervorming, teen die agtergrond van dramatiese stygings in geadministreerde pryse soos water, diesel en elektrisiteit, met nog ‘n buitensporige loonverhoging winsgewend moet kan boer, is n raaisel. Selfs ook die swart boere in Agri-SA waarsku dat toegewings in die looneise tydens volgende jaar se oestyd met twee maal meer stukrag weer op die tafel gaan land.

Anders as ‘n myn, kan ‘n plaas nie tydelik produksie staak totdat die loondispuut uitgestryk is nie. Die seisoengebondenheid op plase laat landbou uiters kwesbaar vir arbeidsaksies.

Maar dit gaan oor veel meer as die lone van plaaswerkers. Die gewelddadige stakings het nie toevallig in die Wes-Kaap uitgebreek nie. Dit kan mens aflei uit die kru, kwetsende taal wat kabinetslede en Cosatu-leiers die week teenoor werkgewers uitgejil het. Dit is duidelik uit die politieke jargon waarmee hul toesprake voor brandstigtende, klipgooiende stakers deurspek was. Die regering is arm aan die soort beginselgedrewe leierskap wat hulle tot verantwoording kan roep, en vir skade aanspreeklik hou. Hulle sal hul eerder beywer dat saboteurs en brandstigters weer oorgesien moet word.

Dit spreek veral ook uit die feit dat plaaslike gemeenskappe soveel van die opruiende massas nie kon erken nie, omdat hulle van elders met busse aangery is.

Dit gaan oor politieke beheer oor die Wes-Kaap, en oor ‘n ANC/Cosatu-handvatsel op landbou. Dis ‘n magsdronk poging om ‘n politieke vastrapplek te kry, ongeag die koste aan voedselsekerheid, werkskepping of ekonomiese groei.

In die “Marikana van landbou” is dit nie brandarm plaaswerkers wat teen skatryk boere swaarde trek nie. As dit was, sou die gewelddadige intimidasie van permanente werkers, en  die invoer van busvragte vol  vreemde molesmakers nie nodig gewees het nie. Dit gaan oor rou politieke belange, waar beskaafde werkgewers en werknemers wat hard werk om infrastruktuur te skep en hul brood te verdien, gekonfronteer word deur die meesters van chaos en verwoesting.

Hier staan ekonomiese realiteite onversoenbaar teenoor politieke verwagtinge, en dit is juis die belange van plaaswerkers wat tussenin vermorsel word.

Die ANC-Cosatu span wat die onrus in die Boland aanstook, is soos die drywer en navigator van ‘n groot interlink-trok wat op ‘n smal plaaspad afgedraai het, sonder om te weet waarheen dit lei. In stilligheid is hulle self skepties of daar ‘n omdraaiplek is.

Wat nie weg geredeneer kan word nie, is dat die arbeidonrus in die Boland ‘n permanente letsel op landbou sal laat. Hoe op aarde gaan boere se aptyt vir werkskepping vorentoe gestimuleer word? Die Nasionale Beplanningskommissie se droom om in landbou ‘n miljoen wekgeleenthede te skep, is ekonomies haalbaar, trouens, as daar een sektor is wat dit oor die kort termyn sou kon doen, dan is dit landbou. En dit kan geskep word waar dit die nodigste is: in die platteland. Maar De Doorns sein een allesoorheersende boodskap aan boere uit; dat die tyd gekom het om arbeidsafhanklikheid so ver as moontlik te beperk.

Daar sal waarskynlik nooit weer soveel mense op plase in diens wees soos nou nie.

Landbou se aangesig is in De Doorns vir altyd verander. Boere moet aanvaar dat hierdie ‘n strukturele verandering in landbou beteken.

‘n Boer maak altyd ‘n plan…

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Theo de Jager

Meer oor die skrywer: Theo de Jager

Theo de Jager is Adjunkpresident van Agri-SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae