Boris Johnson in baie sterker posisie as wat meeste wil glo

Boris Johnson. Foto: AP Photo/Frank Augstein

Een groot breuk wat oor die afgelope paar jaar in die Westerse politiek ontstaan het, is die skeiding tussen politieke kommentators en hul interpretasie van politieke gebeure en hoe gewone burgers op dieselfde politieke gebeure reageer.

In die huidige onseker Britse politiek kan twee weke ʼn baie lang tyd wees en dit is opvallend hoe die kommentators en gewone burgers die afgelope twee weke se politieke gebeure totaal uiteenlopend vertolk het. Kommentators sal ons laat glo dat Boris Johnson se eerste twee weke in Downingstraat 10 ʼn klaaglike mislukking was en dat sy regering enige dag tot ʼn val kan kom, terwyl vyf peilings die afgelope twee weke presies die teenoorgestelde bewys.

Daar is baie negatiewe dinge wat oor Boris Johnson gesê kan word. Sy persoonlike lewe tel as ʼn groot negatiewe punt en sy rekord van omstrede uitsprake is alombekend. Johnson is egter ook ʼn baie ervare openbare figuur en ʼn uitstekende spreker met jare se ervaring in die joernalistiek en politiek en met goeie akademiese kwalifikasies en prestasies.

Een daarvan is natuurlik ʼn baie goeie biografie oor Winston Churchill wat in 2015 uit die pen van Johnson verskyn het. Twee weke gelede, in sy eerste toespraak as Britse premier, het Johnson ook sy groot held, Churchill, aangehaal. Johnson het in dié toespraak belowe dat Britse burgers se vertroue in die Britse demokrasie weer herstel sal word.

Churchill het verskeie uitsprake oor die demokrasie gemaak. Een van sy aanhalings wat vandag baie relevant is, is: “At the bottom of all the tributes paid to democracy is the little man, walking into the little booth, with a little pencil, making a little cross on a little bit of paper—no amount of rhetoric or voluminous discussion can possibly diminish the overwhelming importance of that point.”

Boris Johnson. Foto: Yui Mok/PA via AP

In daardie opsig het Johnson sy vinger op die pols. Hy besef baie goed dat ʼn meerderheid van kiesers in ʼn demokratiese referendum ten gunste van Brittanje se uittrede uit die Europese Unie gestem het. In ʼn gesonde demokrasie sal die wil van die kiesers uitgevoer word.

Johnson besef ook terdeë dat sy optrede uiteindelik by die stembus getoets gaan word. Dit kan wees in ʼn vervroegde verkiesing later vanjaar of eers op 5 Mei 2022 wanneer die volgende beplande algemene verkiesing veronderstel is om plaas te vind. Ook hier word Johnson se instink van die retoriek van politieke kommentators geskei. Die meeste kommentators sien ʼn verkiesing, nou of later, as die gebeurtenis wat Johnson se politieke loopbaan tot ʼn einde sal bring. Johnson self is egter veel meer in voeling met gewone kiesers en besef dat, indien hy sy kaarte reg speel, kiesers juis ʼn demokratiese mandaat aan hom sal wil gee.

Die Europese verkiesing op 23 Mei 2019 was ʼn enorme terugslag vir die Konserwatiewe Party en het die einde van Theresa May se politieke loopbaan beteken. Die Konserwatiewe Party het in dié verkiesing slegs 8,8% van die stemme gekry met vier ander partye wat beter presteer het. Vir die grootste deel van die eerste ses maande van 2019 was die Konserwatiewe Party in die derde, vierde of vyfde posisie in politieke peilings.

Toe Johnson dus twee weke gelede Brittanje se premier geword het, het hy die leier van ʼn uiters verdeelde en verswakte politieke party geword. Hy het egter ook die premier van ʼn land geword waar mense diep teleurgesteld in die politiek en die politieke leierskap was.

Wat het die afgelope twee weke gebeur? Johnson het onmiddellik, nadat hy besoek aan koningin Elizabeth gebring het, ʼn energieke toespraak voor Downingstraat 10 oor sy visie vir Brittanje gelewer. Die toespraak was nie vaag en wollerig nie, maar eerder op die man af en verstaanbaar. Anders as talle ander konserwatiewe politici in die wêreld tans het Johnson se toespraak egter nie gefokus op alles wat sleg en verkeerd is nie, maar het hy eerder probeer om die Britse volk te inspireer en het hy ʼn duidelike visie, wat goed onderlê is, maar wat ook kwantifiseerbaar is, oorgedra.

Boris Johnson. Foto: Dominic Lipinski/Pool Photo via AP, File

Johnson se intreetoespraak is opgevolg met ʼn uitstekende optrede in die Britse parlement waar hy behoorlik die vloer gevee het met die leier van die Arbeidersparty, Jeremy Corbyn. Daarna het Johnson verskeie gemeenskappe in Engeland, Wallis, Skotland en Noord-Ierland besoek. En ja, daar was betogers in Skotland, maar daardie betogers was ook daar toe May en David Cameron Skotland besoek het toe hulle die premiers was. Die vrees in Noord-Ierland vir ʼn harde grens met Ierland is ook nie iets nuuts nie – daardie vrees was sedert die Brexit-referendum nog altyd teenwoordig.

Ten minste vyf peilings wat oor die afgelope tien dae gehou is, toon duidelik dat Johnson se strategie tot dusver werk. In die nuutste Ipsos-peiling staan die Konserwatiewe Party se steun op 34%, die Arbeidersparty se steun op 24%, die Liberaal-Demokratiese Party op 20% en die Brexit-party s’n op 9%. Dit is ʼn skerp styging in steun vir die Tories en beteken dat indien Johnson ʼn vroeë verkiesing sou uitroep, sy party waarskynlik sal wen. So ʼn scenario was twee weke gelede nog ondenkbaar. In die jongste YouGov-peiling staan die Konserwatiewe Party op 32% en die Arbeidersparty op 22%. Ook die peilings van Opinium en Deltapoll plaas die Konserwatiewe Party in die eerste posisie.

Die Opinium-peiling het ook ingegaan op kiesers se standpunt oor Brexit. Daarvolgens wil 40% van die Britte hê dat Brittanje in die Europese Unie moet bly, terwyl 38% ʼn uittrede uit die EU met ʼn duidelike breuk wil sien en 14% ʼn uittrede wil sien waar Brittanje steeds sterk met die EU belyn word. Dit is duidelik dat Johnson se politieke aanvoeling oor Brexit reg is en dat ʼn meerderheid van die Britte steeds ten gunste van Brexit is. Dit behoort Johnson juis meer rede te gee om te glo dat, sou hy nie die samewerking van die Britse parlement in die Brexit-uittrede kry nie, hy wel in ʼn algemene verkiesing kan seëvier.

Oor die afgelope paar dae moes ons ook gereeld lees dat die Konserwatiewe Party verlede week ʼn bloedneus in die tussenverkiesing in Brecon en Radnorshire in Wallis gekry het. Ook hier moet deur die oppervlakkige politieke kommentaar gesien word. Vroeër vanjaar het kiesers in dié klein landelike kiesafdeling daarin geslaag om hul dienende parlementslid, Christopher Davies, te herroep nadat hy skuldig gepleit het op aanklagte van bedrog.

Boris Johnson, nuwe leier van die Britse Konserwatiewe Party, in Londen (23 Julie 2019) (Foto: AP Photo/Frank Augstein)

Davies het egter daarin geslaag om in verlede week se verkiesing weer die Konserwatiewe Party se kandidaat te wees en het vanuit die staanspoor geen kans gestaan om die verkiesing te wen nie. Een peiling het selfs getoon dat hy sou sukkel om 20% van die steun in die verkiesing te kry. Die Brecon en Radnorshire-kiesafdeling het tot in 2015 ʼn parlementslid van die Liberaal-Demokratiese Party gehad en word as ʼn kiesafdeling beskou wat maklik van politieke partye verwissel.

Die Konserwatiewe Party het in die Europese verkiesing in Mei slegs 7,9% van die stemme in die kiesafdeling gekry, met die Brexit-party wat gemaklik eerste gekom het en die Liberaal-Demokrate wat ook goed gevaar het. In aanloop tot verlede week se tussenverkiesing het twee van die sterkste partye aan die linkerkant van die politieke spektrum in Wallis, Plaid Cymru en die Groenparty, besluit om geen kandidaat in die verkiesing te stel nie ten einde die Liberaal-Demokrate se kandidaat ʼn beter kans op oorwinning te gee. Uiteindelik het die Liberaal-Demokrate se kandidaat met 43,5% van die stemme geseëvier, terwyl Davies van die Tories ʼn verrassende goeie 39% kon behaal. ʼn Mens kan nie anders nie as om hierdie verrassende goeie uitslag vir Davies aan Johnson se gewildheid toe te skryf. Hoewel die Tories ʼn broodnodige setel verloor het, was dit geen bloedbad nie en sou jy die Tories, die Brexit-party en die UK Independence Party (Ukip), ook ʼn regse party, se stemme bymekaar tel, dan het 50,3% van die kiesers in die kiesafdeling vir partye wat ten gunste van Brexit is, gestem.

Daar is nog meer rede om te glo dat Johnson binne sy eerste twee weke in Downingstraat 10, meer vermag het as wat die meeste politieke kommentators wil erken. Johnson is met tussen 10% en 20% meer gewild as Jeremy Corbyn van die Arbeidersparty in al die peilings.

Tog sien ons die een koerantopskrif en nuusberig ná die ander wat beskryf hoe rampspoedig Johnson se eerste week of twee was en hoe goed die kanse is dat hy binnekort uit sy posisie as premier geskop gaan word. Dit alles is ver van die waarheid verwyder.

Johnson verstaan basiese demokratiese beginsels en hy weet hoe die gewone man en vrou met die potlood in die stemhokkie dink en voel. Om sy politieke intuïsie te onderskat, is ʼn groot fout.

 

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Peet ·

Opskrif moet eintlk wees: ” Boris meer in beheer as wat HSM ons laat verstaan”

Andrew ·

Stem 100% saam! As ‘n SAner wat in die UK bly moet ek erken dit is soos ‘n vars bries wat ingewaai het. Eweskielik is daar nuwe energie om ons uit die EU te kry en hy is sigbaar besig om probleme aan te spreek en kommunikeer sy planne baie goed.

Ek sal VERSEKER my stem vir hom gee in die volgende verkiesing, maak nie saal wat die media in die UK, US of SA oor hom se nie.

Therese van Schalkwyk ·

Jaco Kleynhans kan altyd vertrou word vir ewewigtige kommentaar! Dankie.
Die negatiewe gevolge wat Brexit kwansuis vir Brittanje inhou, word tot amper histeriese hoogtes oordryf deur die media en ander ‘belanghebbendes’. Almal skarrel vir voorrade voor ‘n harde Brexit aanbreek, hoe lagwekkend. Dit is tog twéérigting-verkeer, of hoe?

Adam ·

Lekker om ‘n goed beredeneerde en akkurate assesering van die politieke situasie in Brittanje te kan lees. Welgedaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.