Bou bereik meer as boikot

miway-logoDie geweldige openbare reaksie op die MiWay-baas se neerhalende belediging, het gewys dat Afrikaners nie meer bereid is om straffeloos sleggesê te word nie. ’n Ongeëwenaarde 10 000 Maroela-lesers het byvoorbeeld dr. Dirk Hermann se skrywe aan Rene Otto op Facebook gedeel. Dit beteken dat dit ’n paar honderd duisend mense bereik het.

Hoewel Otto as persoon, en MiWay en Santam se direksies verskoning aangeteken het, bly mense kwaad. Die rede is veelkantig. Otto se beledigings is net die nuutste voorbeeld van openlike minagting waarmee Afrikaners soms behandel word wat histories aan Afrikaanse sakeryke gebou het. Maar die ander eertydse Afrikaner-sakeryke maak hulle met min uitsonderings aan dieselfde minagting skuldig. Die verskil is dat hulle dit net slimmer en sagter doen. In plaas van openlike minagting, toon hulle ’n soort stilswyende veragting deurdat hulle meestal hul rug op Afrikaners en Afrikaans gedraai het.

René Otto, MiWay se uitvoerende hoof (Foto: MiWay)

Radikale transformasie

Hul saketale is nou Engels, Afrikaners word aan streng rassevereistes met aanstellings onderwerp, hulle ploeg niks meer terug in Afrikaans of die Afrikaanse gemeenskap nie. Hul Afrikaanse aandeelhouers se bates word verwater met BEE vereistes, en hulle dryf die ANC se politieke agenda van radikale transformasie met mag en mening. Maar dis veral betekenisvol dat al die ou bekende Afrikaanse sakeryke hul bestaansgeskiedenis nie net vergeet het nie, maar ontken. Dit kan gesien word in die afgelope tyd se eeufeesherdenkings van talle van hierdie reuse, waar die dapper verhale van hul ontstaan nêrens gesien kon word nie. Dit lyk byna of hulle as’t ware sonder moeite uit die lug geval het!

Suksesverhaal

Die werklikheid is natuurlik heeltemal iets anders. Afrikaners het ná die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog se verskroeide aarde, ’n hele ekonomiese, kulturele, politieke, maatskaplike en opvoedkundige infrastruktuur opgebou wat terselfdertyd die land ontwikkel het. Die opbou van hierdie instellings in die vyandige klimaat ná die oorlog was feitlik sonder uitsondering hartverskeurend moeilik, en kon net teen die prys van groot opofferings deur die pionierstigters geskied.

Die temalied van hierdie reuse se geboortes is ten beste saamgevat in die universiteitslied van die ou Puk: “Gebore uit die nag van smaad, sien ons jou staan as Wonderdaad”

Die kulturele energie waarmee hierdie opbouprojek op soveel terreine aangepak is, verstom vandag nog. Die geheim van hierdie suksesresep was kort en kragtig: om ’n verarmde en verslane volk op te hef en te bemagtig. In hul eie taal, met hul eie geld en deur hul eie ondernemingsgees aan hul eie skoenrieme op te tel. Dit bly die grootste suksesverhaal wat Afrika nog gesien het, en die foute wat in die proses gemaak is, neem nie hierdie prestasie weg nie. Ons voorouers was weliswaar nie supermense nie, maar gewone mense wat in ongewone omstandighede buitengewone prestasies behaal het. Terugskouend wás hulle wonderwerkers, omdat hulle met visie en geloof wonderwerke gebou het.

Opbou in plaas van oorvat

Die grootse kenmerk van hierdie opbouprojek is dat die Engelse se ekonomiese en kulture infrastruktuur nie oorgevat, weggevat of afgevat is nie. Afrikaners het hul eie instellings opgebou. So is Wits nie oorgevat nie, maar RAU is opgebou. Old Mutual is nie oorgevat nie, maar Sanlam is opgebou. Standard Bank is nie – in vandag se idioom – getransformeer nie, maar Volkskas is opgebou. Die Engelse media is nie afgevat nie, maar Naspers en Perskor is opgebou. Daar is nog talle ander voorbeelde.

Dit beteken dat die klem nie op herverdeling was nie, maar op groei, skepping en waardetoevoeging. Die koek is op hierdie manier vergroot en vermenigvuldig, en nie net herverdeel nie.

Die projek om Afrikaners vanaf ’n verarmde en verowerde volk op te hef, is in ’n rekordtyd van enkele dekades bereik. Ja, die opbouers het geslaag, maar ten koste van die voertuie waarmee dit gedoen is. Hulle almal is feitlik sonder uitsondering “getransformeer”. So moes Afrikaners die nuwe eeu as ongewilde en geteikende minderheid binnegaan, sonder die ekonomiese, kulturele, maatskaplike en opvoedkundige infrastruktuur wat so noodsaaklik vir ’n minderheid se oorlewing is.

Die skielike magsverskuiwing het Afrikaners na 1994 nie net sonder ’n staat gelaat nie, maar sonder die netwerk van instellings waardeur ons geleef het. Natuurlik is daar nog baie welaf Afrikaners en baie mense met wie dit goed gaan, maar hulle is voorspoedig as enkelinge, en nie as gemeenskap nie. Sonder sterk instellings is ’n gemeenskap magteloos teen ’n meerderheidsregering wat al meer ontaard in meerderheidsoorheersing.

Bou of boikot

Afrikaners is kwaad, want hulle kry die skuld vir alles wat verkeerd geloop het, sonder enige erkenning vir dit wat reg gegaan het. Omdat hulle nie meer politieke mag het nie, gebruik hulle nou hul ekonomiese mag om hul stem te laat hoor as hul belange benadeel word. Dit is die betekenis van die MiWay-boikot en die boikotaksies voor dit.

Afrikaners wil nie voorkeur hê nie, net erkenning en respek. Ons wil nie sake doen met besighede wat van ons geld hou, maar óns verag nie. Die vraag bly egter of boikotte ’n blywende oplossing is vir Afrikaners as gemeenskap se weerloosheid sonder sterk beskermende instellings. Is dit nie tyd dat ons hierdie boikotte en regmatige wrewel omsit in positiewe opbouende energie wat weer volhoubare instellings kan skep nie?

Ons voorouers se sukses het nie gespruit uit boikotte teen die Engelse wat hulle in konsentrasiekampe gestop het nie, maar in die opbou van ’n netwerk van selfhelpinstellings op elke denkbare terrein.

flip-buys-voorsitter-van-solidariteit-beweging-2018-08

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Praktiese planne

Dit is so dat baie van wat opgebou is, tans vernietig, vervalle of oorgevat is. Maar niks keer ons om weer die infrastruktuur op te bou wat vir die uitdagings van ons tyd nodig is nie. Elke geslag is immers verantwoordelik vir sy eie tyd. Natuurlik het die tye verander en kan ou suksesresepte nie klakkeloos herhaal word nie. Maar ons kan mos steeds vindingryk en oorspronklik dink! Die beste bewys hiervan is die 450 000 mense wat reeds as lede van ons beweging help opbou aan ’n toekoms vir die nuwe geslag.

Opbou bereik tog meer as boikotte. Kom ons kyk na ’n paar “bou”-voorbeelde:

  • Mense boikot nou MiWay, maar kom ons bou Virseker uit en verseker so Afrikaans se toekoms. Die Virseker-trust ploeg ’n betekenisvolle deel van hul winste in Afrikaanse onderwys en -opleidingsprojekte soos Akademia, die Helpende Hand se studiefondse en Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS). As ons hiermee kan slaag, kan dit die begin van ’n nuwe finansiële dienstegroep wees wat in die langer termyn selfs Afrikaanse bankdienste kan aanbied; Klik hier vir ’n gratis kwotasie sonder verpligting.
  • Baie mense boikot Naspers, maar help nie om Maroela uit te bou deur die geld wat hulle vir koerante betaal het nie. Klik hier vir maklike inligting hoe om te werk te gaan.
  • Baie mense word kwaad vir die SABC. Help eerder bou aan die projek om Pretoria FM landwyd uit te bou as onafhanklike stasie wat nie onder die regering val nie. Jy wil tog nie vir ewig na Jy-weet-wie se galbraak luister nie. Klik hier vir meer inligting.
  • Die getransformeerde universiteite se oudstudente het bydraes aan hul almal maters gestop. Help bou nou daarmee aan die Solidariteit-boufonds wat Akademia uitbou. Klik hier vir meer inligting.
  • Hierdie is maar net ’n paar voorbeelde van opbouprojekte. Ons werk aan opwindende nuwe projekte waar mense ’n markverwante opbrengs én ’n kulturele dividend op hul beleggings kan kry. As jy wil hê dat ons jou op hoogte moet hou, klik gerus hier.

Kortliks, daar is genoeg rede om kwaad te wees vir baie dinge wat in ons land gebeur, maar juis daarom is daar nóg meer redes om aan volhoubare oplossings te bou. Ons kinders verdien mos ook ’n toekoms.

Dis immers jou demokratiese reg dat jou geld Afrikaans praat, maar ons almal se kulturele plig om ons geld vir Afrikaans te laat werk ook.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

34 Kommentare

jongste oudste gewildste
White Rhino

Ons het nie mense soos Otto nodig nie – ons kan besigheid doen met mense wat ons respekteer.

Celtis Africana

Mensig!
Dit is uitstekend geskryf!
Ek sal my linkernier gee om as skoonmaker by Solidariteit te kan werk vir kos, n slaapplek, gehoorstelbatterye en n paar grepe data per maand!
Dit is diè klas leierskap wat volgelinge aanspoor om die ondenkbare te vermag!
” Never was so much owed by so many to so few.”
Winston Churchill, 20 Augustus 1940. Verwysend na die RAF se se heldhaftige vlieëniers.

Johan Smith

Is baie ironies hoe baie Afrikaners wat suksesvol is en ewe skielik vergeet waar hulle vandaan kom en sulke uitbarstings het oor hulle mede Afrikaners. Ons as Afrikaners hoef geen skaamte en altyd kop onderstebo rond te loop en jammer te wees en omverskoning te vra nie. Begin opstaan en kom ons maak ons rug styf. Begin organisasies wat Pro Afrikaner is en ons ondersteun hulle. Vergeet Miway en boiket hulle – ondersteun Virseker wat hulle geld terug bele in sy Afrikaner wortels. Kom ons wys die firmas wat hulle monde vol het oor Afrikaners presies waar ons sterkte le,… Lees meer »

MEL

Hoor hoor! DIS mos hoe mens logies redeneer en vooruit streef.

Ekt net ‘n uur terug gesit en dink aan ons land en half moedeloos gevoel oor alles wat gebeur. Die artikel het my weer moed gegee. Jy is reg!!

Rasper

Ek stem 100% saam dat ons moet bou aan Pretoria FM, Akademie en ander organisasies. Die probleem is, en sal altyd bly. Ons het nou gesien wat gebeur as daar aan ‘n Santam gebou word, met bloedgeld, net sodat dit later getransformeer word. Daar word gevra hoekom Afrikaners so sukkel om geld te gee. Die antwoord is eenvoudig. Hoeveel keer moet ons, ons koppe stamp? Vir wie stuur ons geld sodat selfbeskikking ‘n realiteit word? Vir Orania? Of is daar ‘n ander plan?