Burgers óók met SAUK-mislukkings belas

Deur Zel-Marí Gelderblom

SAUK-toetsbeeld (Argieffoto)

’n Voorstel vir ’n openbare-uitsaaierdiensheffing is dalk een van die dae Suid-Afrikaners se voorland. Om te begryp waarom jy moontlik binnekort ’n vasgestelde heffing vir jou TV-lisensie aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal moet betaal, moet ons eers na 2014 teruggaan.

Nadat die omstrede Hlaudi Motsoeneng in 2014 permanent as bedryfshoof by die SAUK aangestel is, het die openbare uitsaaier merkbaar agteruitgegaan. ’n Vaardigheidsoudit in 2014 het aangedui dat 60% van die SAUK se senior bestuurders nie aan die minimum vereistes vir strategiese denke op bestuursvlak voldoen het nie, terwyl 56% nie genoegsame bevoegdheid in probleemoplossing getoon het nie.

Hierdie en ander faktore het bygedra tot die SAUK se huidige benarde finansiële posisie, wat tot die oorweging van ’n vasgestelde heffing gelei het. Motsoeneng se besluite is as “irrasioneel” en “drakonies” bestempel en het idees ingesluit van 80% “goeie nuus” wat uitgesaai moet word tot koerantopskrifte wat nie meer op radio gelees of op TV gewys mag word nie. Daar was ook ’n groot beperking van mediavryheid, wat tot die skorsing van drie senior joernaliste gelei het.

In 2017 het die SAUK Motsoeneng afgedank nadat ’n interne dissiplinêre verhoor hom skuldig bevind het aan gedrag wat die uitsaaier in oneer gebring en onherstelbare skade berokken het. Die agteruitgang van die SAUK kan dus aan ernstige probleme met bedryfsdoeltreffendheid en bestuursmislukkings toegeskryf word.

Dié uitdagings het vrae laat ontstaan oor die regering se beheer oor die SAUK, veral omdat dit openbare geld op ’n onvolhoubare wyse aanwend. As gevolg hiervan het verskeie instansies ’n beroep op die regering gedoen om die SAUK te privatiseer, veral toe dit in 2017 aan die lig kom dat die uitsaaier in ’n ernstige finansiële krisis verkeer en nie in staat is om sy werknemers te betaal nie.

In 2018 het daar ontevredenheid ontstaan toe die SAUK-raad geweier het om die openbare uitsaaier in vrywillige sakeredding te plaas. Die SAUK het oor jare heen verskeie planne oorweeg om meer geld te in om finansieel te oorleef, maar tevergeefs.

Een voorbeeld hiervan is toe die SAUK aan die parlement en portefeuljekomitee vir kommunikasie voorgestel het dat aanbieders van betaalde TV-dienste soos DStv en Netflix lisensiegeld namens die openbare uitsaaier van hul kykers moet verhaal. ’n Ander voorbeeld is ’n e-pos wat die SAUK aan TV-lisensiehouers gestuur het waarin vermeld is dat eienaars van TV-monitors ook lisensiegeld moet betaal, selfs al kan dié monitors slegs ’n uitsaaisein ontvang wanneer dit aan TV-ontvangstoerusting soos digitale bokse, dekodeerders, DVD-spelers of selfs rekenaars gekoppel word.

Daar is ook in 2021 berig dat dit maklik is om geld na te spoor wat die SAUK gemors het, en dat dit duidelik is dat die SAUK sy eie oplossings belemmer. ’n Voorbeeld hiervan is dat die SAUK byna R1,2 miljoen aan 100 koeëlvaste baadjies vir sy joernaliste bestee het. Hoewel hierdie transaksie deur die IVP-LP Liezl van der Merwe bevraagteken is, het Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, die transaksie verdedig. Dan praat ons nie eens van Motsoeneng wat die SAUK se argief vir ’n R30 miljoen-bonusbedrag aan MultiChoice verkoop het nie. Dié transaksie het daartoe gelei dat MultiChoice ’n bedrag van R553 miljoen oor vyf jaar aan die uitsaaier moes betaal vir die skepping van twee nuwe kanale op DStv.

Daar is ook genoem dat Ndabeni-Abrahams onthul het dat die SAUK R58,4 miljoen tussen April en Oktober 2020 aan onafhanklike kontrakteurs bestee het. Die SAUK het in daardie stadium skuld van R57, 1 miljoen aan onbetaalde TV-lisensies en advertensiefooie deur staatsdepartemente, munisipaliteite en staatsbeheerde entiteite gehad. Daarnaas het die SAUK se regsrekening in November 2020 meer as R65 miljoen beloop.

Daar is onlangs berig dat die kabinet ’n reeks nuwe wetsontwerpe goedgekeur het wat by die parlement ingedien moet word, insluitend die Wetsontwerp op die SAUK van 2023, wat daarop gemik is om die SAUK se finansieringsmodel te verbeter.

Dit beteken dat ’n wetsontwerp aanvaar en die huidige uitsaaiwet herroep sal word. Hierdie wetsontwerp moet die doeltreffendheid van die openbare uitsaaier se bedrywighede verhoog en die SAUK se finansieringsmodel en TV-lisensiestelsel vervang. Hoewel besonderhede van die wetsontwerp en die gevolglike veranderinge nog nie bekend is nie, bestaan die moontlikheid vir ’n nuwe huishoudelike heffing wat direk deur SAID ingevorder sal word.

Dit is egter ’n ope vraag of dit regverdig is dat belastingbetalers die SAUK se finansiële probleme moet dra. Kan daar werklik van vuisvoos belastingbetalers verwag word om die ondoeltreffende SAUK verder te finansier? Moet belastingbetalers regtig bykomende belastings soortgelyk aan die heffings op brandstof betaal? Die kommer bestaan of hierdie geld regtig op ’n doeltreffende wyse bestuur gaan word, en of dit inderdaad vir die regte doel aangewend sal word. Dít op die vooraand van die inwerkingstelling van nasionale gesondheidsversekering wat belastingbetalers verder onder druk gaan plaas.

Daar behoort ernstige oorweging gegee te word aan die privatisering van die SAUK, sodat mense bereid sal wees om te betaal vir ’n diens wat hulle waardevol ag. Dit kan ’n alternatiewe benadering wees om die finansiële druk op die staatsinstansie te verlig.

  • Zel-Marí Gelderblom is koördineerder vir inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum se veldtogteafdeling. Sy het ’n meestersgraad (cum laude) in genderpolitiek aan die Nelson Mandela Universiteit behaal.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Christo ·

Ek weier om enige iets vir die SAUK te gee. Ek gebruik nie hulle seine nie, ek kyk nie hulle kanale nie en ek sal nie vir hulle geld gee nie. My tv word nie gebruik om na hulle gemors te kyk nie

Ronel ·

Ek stem 200% met jou saam – ek kyk al vir 8 jaar nie meer televisie nie. Het nie eers ‘n begeerte om na die SAUK se gemors te kyk nie. Daar was soveel teenkanting daardie tyd teen die aanstelling van mnr Motsoeneng en steeds het hulle gegaan en hom aangestel en nou verwag hulle ons moet vir die gelag betaal!!

Richard ·

Ek hoor jou, maar jou gedwonge betaling gaan in die vorm van belasting wees, Daar is geen uitkomkans as hulle dit instel nie.

Johan ·

Ek kyk niks van “SABC” nie. luister RSG, maar radio lisensie nie meer nodig!

Jack ·

So moet alle belasting betalers nou betaal al het hulle glad nie eers ‘n TV nie ? Jammer julle moet waar weer dink oor waar die SABC geld vandaan gaan kry.Begin meskien by die vorige direkteure wat miljoene gekry het vir niks doen.

annie ·

Die mees vervelige spul met hofsake wat tot die einde der dae aan koek. Om weer tydens die tv-ounuus opgedis te word.

KAIROS ·

ag man, sit n dekoder op soos al die ander uitsaai mense. Niemand wil die goeters kyk wat die SAUK uitsaai nie. Dit is meer advertensies as iets anders.

Anel ·

So, ek wat nie televisie het nie gaan nou, omdat ek belasting betaal, meer moet betaal sodat ‘n ander een wat wel ‘n tv het dit verniet kan kyk. Ek gaan basies moet betaal vir iemand, wat dit nie verdien nie, se vermaak!!! Jammer, dis my geld. Betaal vir jou eie vermaak. Die is veronderstel om ‘n demokratiese bedelingbte wees, maar met al die wette wat hulle wil inbring, is ons badies ‘n komunistiese staat, klaar!!!! Gaan kry die geld tetug by die 94% onbevoegdes wat aangestel is.!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.