CDU in Duitsland kies nuwe partyleier

Angela Merkel. (Foto: Francois Lenoir, Pool Photo via AP)

Angela Merkel was van 2000 tot 2018 aan die stuur van die Christen-Demokratiese Unie (CDU) en is deur Annegret Kramp-Karrenbauer opgevolg.

Kramp-Karrenbauer kon nooit die verbeelding aangryp nie en was te veel in Merkel se skaduwee en het ná ’n reeks swak verkiesingsvertonings van haar party, het sy reeds in Februarie verlede jaar haar bedanking aangekondig.

Weens die koronapandemie is die partyvergadering egter verskeie kere uitgestel en het dit nou virtueel plaasgevind. Daar was drie kandidate vir die partyleierskap. Behalwe dat almal mans is, is almal ook Katolieke en kom almal uit die mees bevolkte deelstaat, Nordrhein-Westfalen. Hier eindig egter die parallelle. Een is die kandidaat van die gevestigde orde, een die kandidaat van die grondvlak en een die buiteperd.

Armin Laschet regs) saam met Annegret Kramp-Karrenbauer (links) en Angela Merkel. Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Armin Laschet is die kandidaat van die gevestigde orde, die leiergroep binne die party. Hy is ook die enigste een met uitvoerende gesag en ook leier van die CDU in Nordrhein-Westfalen en boonop ’n Merkel-vertroueling. Binne die CDU behoort hy eerder tot die linkervleuel wat ook glo aan die sterk staat. As persoon is hy joviaal en emosioneel, soms opvlieënd. Sy sterk punt is sy netwerk binne die party, sy vermoë om uiteenlopende groepe en belange bymekaar te bring en sy regeringservaring. Hy staan veral vir ’n voortsetting van die linkse koers van Merkel.

Friedrich Merz. Foto: (Michael Kappeler/dpa via AP)

Friedrich Merz is die kandidaat van die grondvlak. Hy het laas in 2004 ’n posisie binne die CDU beklee as hoofsweep en is deur Merkel na die politieke woestyn verban. Hy het sy tyd gebruik om opgang in die sakewêreld te maak en het posisies binne ekonomiese voorveldorganisasies, soos die CDU-Wirtschaftsrat, en ’n direkteurspos van ’n groot internasionale beleggingsmaatskappy beklee. Merz is die mees konserwatiewe kandidaat van die drie en sy karakter is nugter, stoïes, gedistansieer en met ’n aura van kundigheid en dissipline. Hy het reeds in 2018 as kandidaat vir die leierskap gestaan en was die voorloper in die peilings, maar het net-net teen die keuse van Merkel, Kramp-Karrenbauer, verloor. Sy sterkpunt is dat hy nie betrokke was by die politieke woelinge die afgelope jare nie, genoeg afstand van Merkel het sonder om dislojaal te wees, en om die gewone partylede te begeester. Hy het ook goeie bande met die sakewêreld, maar hy kort die direkte draad na die gesagsdraers binne die party en is ook nie juis ’n spanspeler nie.

Norbert Röttgen. Foto: (Michael Kappeler/dpa via AP)

Norbert Röttgen was die buiteperd. Toe hy sy kandidaatskap as eerste een amptelik bekend gemaak het, het min hom ernstig opgevat. Hy was eens op ’n tyd minister van omgewingsake, maar het swak gevaar as kandidaat vir die premierskap in Nordrhein-Westfalen en het by Merkel in onguns verval en is uit sy ministersamp ontslaan. Hy was vir lank onder die radar en het dan gelydelik as deskundige vir buitelandse sake binne die CDU weer opgang gemaak, sonder om een van die topleiers te wees. Hy het egter in die laaste tyd al hoe meer ondersteuning gewen. Hy behoort ook tot die linkervleuel in die CDU en maak geen geheim van sy simpatie met die Groenparty nie, maar staan meer onafhanklik teenoor Merkel as Laschet.

Terwyl Merz die CDU na sy wortels wou terugvoer en Laschet wou voortgaan met Merkel se koers, is Röttgen selfs vir nog ’n verdere swaai weg van die party se tradisionele standpunte in die rigting van ’n “moderne party” met die geykte gonswoorde “meer jeug, meer vroue, meer digitalisering, meer diversiteit”. Hy het ’n rustige, teruggetrokke geaardheid met ’n tikkie selfgesentreerdheid, en kom ietwat as ’n bleeksiel oor.

Die CDU se sekretaris-generaal, Paul Ziemiak by die aanlynvergadering. (Foto: Odd Andersen/AFP)

Nadat Merz die gunsteling was volgens die meningspeilings, is daar enkele dae voor die verkiesing ’n veldtog van stapel gestuur waar een ná die ander van die gesagdraers, asook ondergroepe binne die CDU, hul voorkeur vir Laschet uitgespreek het weens sy ervaring en omdat hy gematigd is en nie die boot te veel sal skud nie. In die media is Merz as hartelose lobbyist (verteenwoordiger van spesiale belangegroepe) uitgebeeld. Dit, ten spyte daarvan dat Merz by elke geleentheid sy bereidwilligheid om met die Groenparty in koalisie te gaan en sy afkeur teenoor die regse Alternative für Deutschland (AfD) beklemtoon het.

Op Saterdag 16 Januarie het 1 001 afgevaardigdes van die CDU-takstrukture in ʼn virtuele partyvergadering bymekaargekom om tussen die drie kandidate te kies. Dit was weer soos in 2018: Op die doellyn het heelwat van die rebelle onder die afgevaardigdes geskrik vir hul eie dapperheid en liewers die “veilige keuse” vir die gevestigde orde-kandidaat uitgeoefen. In die eerste ronde het Merz ’n kortkop voorgeloop met 385 stemme teenoor 380 vir Laschet en 224 vir Röttgen. Laasgenoemde het uitgeval. In die uitklopronde het Laschet 521 stemme gekry en Merz 466, met vier afgevaardigdes wat nie gestem het nie.

Foto: Pixabay

Die twee verloorders het natuurlik, soos gebruiklik, die wenner gelukgewens en hul steun aan hom toegesê. Net soos met die 2018-leiersverkiesing is daar egter geen plan hoe om Merz, wat immers groot steun onder die gewone lede geniet en goeie kontakte en ervaring in die sakewêreld het, in die partyleierskap te integreer nie. Hy het geen belangstelling getoon om tot die uitvoerende raad van die party verkies te word nie, maar aangedui dat hy graag minister van ekonomiese sake wil word. Kanselier Merkel het egter reeds laat weet dat sy geen herskommeling van die kabinet beplan nie en aan die uiters lojale (en onbevoegde) Peter Altmaier as minister van ekonomiese sake sal vashou.

Ná sy tweede mislukking kan Merz besluit om nou handdoek in te gooi en hom weer terug op die terrein van sakebelange te begewe. Of hy kan deel word van ’n groeiende konserwatiewe, nie-partygebonde opposisie, wat nie meer tuis voel in die CDU nie, maar vir wie die AfD te regs en te ongesofistikeerd is. Die gaping regs van die middel het deur die keuse van Laschet net nog groter geword en hierdie jaar staan ’n reeks verkiesings aan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.