Christendom kwyn weg in Midde-Ooste en Wes-Asië

(Foto: pixabay)

In die hernude stryd tussen Azerbeidjan en Armenië oor beheer van Nagorno-Karabach, is beelde verlede Donderdag die wêreld ingestuur van die tragiese bombardering van die Ghazanchetsots-katedraal in die stad, Shusha in dié betwiste gebied. Dit het herinner aan beelde uit Irak en Sirië die afgelope twee dekades met die enorme vernietiging van historiese Christenkerke.

Hoewel die Christelike geloof sy oorsprong in die Midde-Ooste het, is minder as 5% van die mense wat vandag in dié streek woon nog Christene. In 2010 het die Pew-navorsingsinstituut in die VSA bepaal dat slegs 4% van mense in die Midde-Ooste Christene is. Dit het sedertdien nog verder afgeneem.

Aan die begin van die twintigste eeu was sowat 20% van die mense in die Midde-Ooste nog Christene. Oor die afgelope paar eeue was daar gereeld groot aanslae op Christendom in die streek. Hoewel Christene in die Ottomaanse Ryk beskerm is, was daar in verskeie dele van dié ryk voortdurend pogings om Christene te oortuig of te verplig om die Moslemgeloof aan te hang.

Ten spyte hiervan het die Christenkerke in groot dele van die Midde-Ooste, Oos-Europa en Wes-Asië sterk bly staan en is pogings om Christene te dwing om hulle tot die Moslemgeloof te bekeer, vir eeue lank weerstaan.

Die eerste volksmoorde op Armeense en Assiriese Christene in die Midde-Ooste is reeds in 1870 deur die Ottomaanse Ryk uitgevoer. Die groot krisis het egter tydens die Eerste Wêreldoorlog ontstaan toe die hele wêreld op Europa gefokus was en Turkse Ottomane grootskaalse volksmoorde kon begin uitvoer.

Tussen 1915 en 1923 het die Ottomaanse Turke 1,5 miljoen Christen Armeniërs in een van die ergste volksmoorde van die twintigste eeu uitgewis. In dieselfde periode is tussen 150 000 en 300 000 Assiriese Christene deur Turke en Koerde in die suidooste van die hedendaagse Turkye en die noordweste van Iran uitgemoor. Die Armeniërs, Assiriërs en Maroniete is van die oudste Christengemeenskappe in die Midde-Ooste en Wes-Asië.

(Foto: Aaron Burden/Unsplash)

Tussen 1913 en 1922 het die Turkse Ottomane, in ’n gebied wat vandag die suidweste van Turkye uitmaak, tussen 450 000 en 750 000 Christen Grieke in nog ’n volksmoord doodgemaak. Daardeur is die meeste Griekse Christene in die Asiatiese kant van die Ottomaanse Ryk uitgemoor. Die paar duisend oorblywende Christene (teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog, wat ook die einde van die Ottomaanse Ryk beteken het) is onder dwang na Griekeland gedeporteer. Dit het meegebring dat die Christendom grootliks uitgewis is in ’n gebied met diep historiese Christenwortels en waar die apostels Paulus en Johannes diep spore getrap het. Die Islamisering van die ou Anatolië met die antieke Christenstede van Efese, Antiogië en Tarsus is daarmee voltooi.

Terwyl die aanslag op die Christengemeenskappe van die Midde-Ooste en Wes-Asië na die Eerste Wêreldoorlog afgeplat het en Christene – veral in lande soos Iran, Sirië, Irak, Libanon en selfs onder Ataturk in Turkye – beskerm is, het die situasie die afgelope twee dekades dramaties versleg.

Sedert die uitbreek van oorloë in Irak en Sirië, die Arabiese Lente en die opkoms van Islamitiese terreurgroepe soos Al-Kaïda en die Islamitiese Staat en die toenemende Islamisering van Turkye, is Christene in die Midde-Ooste weer van vooraf getref deur volksmoord, etniese suiwering, diskriminerende regeringsbeleid en uiteindelik massa-emigrasie na veral Westerse lande.

Die Amerikaanse regering het duidelik die stabiliteit wat diktators soos Saddam Hoessein en Basjir al-Assad vir die Christengemeenskappe in Sirië en Irak gebied het, onderskat. Die oorloë in hierdie lande het uiteindelik radikale Islamitiese terreurgroepe die vryheid gegee om met die uitwissing van hele Christengemeenskappe te begin. Binne ’n dekade is honderde duisende Christene in Sirië en Irak vermoor terwyl nog meer na ander lande gevlug het.

Foto ter illustrasie. (Foto:
Guilherme Romano/Unsplash.)

Daar heers vandag groot onsekerheid oor hoeveel Christene in die Midde-Ooste oor is. Daar word beraam dat tussen 12 en 20 miljoen Christene nog in dié streek woon. Hiervan woon omtrent tien miljoen in Egipte waar die Koptiese Ortodokse Kerk ’n groot rol speel. Ciprus is die enigste land in die Midde-Ooste met ’n meerderheid Christenbevolking. Sowat 40% van Libanon se bevolking is Christene. Hoewel Christene in Egipte en Libanon al deur terreur geraak is, geniet hulle meestal deeglike erkenning en beskerming. In Sirië het die Christenbevolking sedert die uitbreek van die Burgeroorlog in 2011 van twee miljoen tot sowat 850 000 gedaal. Waar Christene tien jaar gelede nog talle belangrike kabinets- en ander posisies in Sirië beklee het, word die Christengemeenskap nou deur uitwissing in die gesig gestaar en word hul veiligheid daagliks deur Soenniete-terreurgroepe, wat in baie gevalle deur Turkye ondersteun word, bedreig.

Daar was die afgelope jare ook ’n skerp afname in die Christenbevolking van Irak met die bevolking wat in 2003 nog 1,5 miljoen was en vandag tot minder as 500 000 gedaal het. Die Christendom in Irak is 2 000 jaar oud en Christene het in Irak gewoon lank voordat Islam die gebied bereik het.

Tydens die regering van die diktator, Saddam Hoessein, het Christene beskerming geniet. Talle Christene het in Hoessein se regering gedien en die land se Christengemeenskap het ekonomies floreer en die meeste dokters, prokureurs, sakemanne en ingenieurs in Irak was Christene.

Hoessein was self ’n Soenniete Moslem (wat in Irak in die minderheid is) en daar het ’n soort sosiale kontrak tussen die minderhede van Irak bestaan. Ná die verwydering van Hoessein kon die aanslag op die Christengemeenskappe van Irak begin. Die Islamitiese Staat en die Koerde in die noordooste van Irak het ’n uitwissingsveldtog teen Christene gelei wat ’n paar jaar gelede deur die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, as ’n volksmoord beskryf is.

Irak se nuwe eerste minister, Mustafa Al-Kadhimi, het onlangs met ’n besoek aan ’n Katolieke kerk in Bagdad ’n beroep op Irakese Christene wat die land verlaat het, gedoen om na Irak terug te keer. Baie van hierdie Christene, is hoogs opgeleide mense wat tans as dokters, ingenieurs en sakelui in die VSA, Europa, Libanon en sommige Golflande werk. Terwyl die veiligheidsituasie in Irak nog baie onseker is, is daar egter min rede om te glo dat Christene in groot getalle na Irak gaan terugkeer.

(Argieffoto: pixabay)

Die tragedie van wat in Sirië en Irak gebeur het, is dat die aanslag op Christene juis moontlik gemaak is deur Westerse intervensie. Sou Rusland nie in 2015 in Sirië ingegryp het nie sou die Christengemeenskap daar vandag waarskynlik heeltemal uitgewis gewees het. Geen Westerse land het egter ’n poging aangewend om die Christene van Sirië of Irak by te staan nie.

In baie gevalle is die wapentuig en ammunisie wat teen Christene gebruik is, uit Amerika afkomstig omdat die VSA verskeie groepe in Sirië en Irak van wapens voorsien het. Hierdie wapens het dan gemaklik in die hande van die Islamitiese Staat en groepe wat aan Al-Kaïda geaffilieer is, beland.

Terwyl die VSA die Koerde as ’n bondgenoot beskou het en steeds doen, het die Koerde meegehelp aan die moorde op Christene. Turkye, steeds ’n bondgenoot van die VSA en Europa, het toegelaat dat die Islamitiese Staat opleidingskampe op Turkse grondgebied bedryf. Duisende radikale Moslems van oor die wêreld heen het via Turkye na Sirië en Irak gereis om by die Islamitiese Staat aan te sluit. Tog het Westerse lande tot vandag toe nie teen Turkye opgetree nie.

In Iran word Christenminderhede, in besonder die Armeniërs en Assiriërs, deur die grondwet beskerm en is daar 600 wettige Christenkerke, en iets tussen 500 000 en 1 000 000 Christene. Die Grondwet van Iran bepaal dat twee parlementsetels vir die Armeense minderheid en een vir die Assiriese minderheid, gereserveer word.

Iran het ’n groot Christenbevolking gehad nog voordat die Arabiere Islam na ou Persië, vandag Iran, gebring het. Hoewel dit in Iran onwettig is om van Islam tot die Christendom te bekeer, word etniese Armeense en Assiriese Christene beskerm en is dit heeltemal veilig vir hulle om hul geloof te beoefen. Die Christenbevolking in Iran groei reeds die afgelope twintig jaar. Die enigste ander lande in die Midde-Ooste waar die Christenbevolking toeneem, is in enkele Golflande, soos die Verenigde Arabiese Emirate en Bahrein waar Westerse en Asiatiese ekonomiese emigrante dikwels Christene is.

bybel_stilte_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Behalwe vir volksmoorde en enorme lewensverlies in oorloë, is die hoofrede vir die skerp afname in die Christenbevolking van die Midde-Ooste, emigrasie na veral Westerse lande. Oor die afgelope 100 jaar was die grootste daling in Christenbevolkings in die Midde-Ooste in Egipte, Irak, Israel, Iran, Jordanië, Libanon, Palestynse gebiede, Sirië en Turkye. ’n Groot deel van hierdie dalings is deur emigrasie gedryf omdat Christene se lewensomstandighede weens oorlog, onderdrukking en selfs uitwissingsveldtogte haglik gemaak is.

Die Midde-Oosterse Christen-diaspora bestaan uit miljoene mense en hul nageslagte wat die afgelope 100 jaar in lande soos die VSA, Rusland, Australië, Kanada, Europese lande en enkele van die Golflande en Libanon hervestig het. Die grootste en bes georganiseerde groep is die Armeense diaspora. Terwyl daar vandag minder as drie miljoen Armene in Armenië oor is, woon daar 1,2 miljoen Armene in Rusland, 500 000 in die VSA en nog honderde duisende in lande soos Frankryk, Australië, Nederland, die Oekraïne en Kanada.

Terwyl die bevolking van Armenië steeds jaarliks krimp, krimp die bevolking van naburige Georgië, ook ’n Christenland op die grens tussen Europa en Wes-Asië jaarliks. Met tyd sal hierdie emigrasie en kleiner wordende bevolkings tot die verdere afname van die Christendom in Wes-Asië aanleiding gee.

Sedert 1970 was daar wel ’n toename in Christene in Bahrein, Koeweit, Oman, Katar, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate. Dit is weens ekonomiese immigrasie uit Westerse lande, maar veral ook uit Suid-Korea en die Filippyne. Die afgelope twee dekades styg die Christenbevolking van Iran ook weer. Hierdie stygings is egter nie genoeg om die voortdurende daling van die Christenbevolking in dié streek teen te werk nie.

Die huidige stryd tussen Armenië en Azerbaidjan, en die radikalisering van openbare mening in Turkye en Azerbaidjan teen Armeense Christene is ’n ernstige bron van kommer. Westerse lande, onder meer die VSA en Europa, het die afgelope twintig jaar weinig gedoen om die uitwissing van Christengemeenskappe in die Midde-Ooste teen te staan. In Irak en Sirië het die VSA en Navo toegekyk hoe Christene vermoor en verdryf word. Indien die Christendom in sy geestelike vaderland, dit wil sê die Midde-Ooste, wil oorleef, sal Westerse lande meer moet doen om die voortdurende aanslae op Christengemeenskappe teen te werk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marthinus W ·

Amerika, die Weste, veral Wes-Europa, met Navo, is die grootste bedreiging vir Christene, heelwaarskynlik omdat hulle meer liberaal as die ateiste wil wees. Selfs in Amerika is Christene onder druk. Jy is reg om te noem dat Rusland baie doen om Christene te beskerm. Ongelukkig is die hoofstroommedia in besit van nie-Christene (ek mag nie hulle naam noem nie, want dan is dit anti-semitisme), wat nie veel omgee vir ons nie.

Vrijburger ·

Skrikwekkend. Ook skrikwekkend dat so min hiervan bekend is.

annie ·

Ateìsme en afgodery is aan die toeneem onder Westerlinge en Moslem-getalle groei. Christenkerke word met groot liefde geskenk aan Islamiete uit die Midde-Ooste en welsynswerk neem die plek in van sendingwerk en die verkondiging van die Woord. In SA is daar talle Christengemeentes wat die taak as maatskaplike werker en koskombuiskok as toegangskaartjies tot die hemel ag. Die NWO lief diesulkes en so bou Mammon weer sy Toring van Babel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.