Christene en Werkersdag: Vyf belangrike aspekte  

Deur dr. Wikus Buys

(Foto: Pixabay)

Die Afrikaner-gelowige het eintlik nog nooit sterk oor Werkersdag gevoel nie. Die wortels van die dag lê immers by die kommuniste en sosialiste. Werkersdag is ingestel vir die werkersklas. Die kommuniste en sosialiste sê egter met hierdie dag iets meer oor die mens en sy werk as wat ons aanvanklik mag dink.

Hoe moet ’n Christen oor Werkersdag voel? Om die vraag te antwoord moet die Christen weet wat regte werk is. Die Christelike siening oor werk, spesifiek dan binne die Afrikaner-kultuur gesien vanuit die Wes-Europese protestantste tradisie, verskil hemelsbreed van kommuniste oor wat werk is.

’n Klasgeding versus roeping

Christene verdeel nie die mensdom in klasse op grond van werk nie. Die klassestryd tussen die werkersklas en die res is eie aan die sosialiste se indeling. Dit kom natuurlik van Marx af, wat meen dat die geskiedenis van die mensdom voltrek word in die geskiedenis van die werkersklas. Christene sien egter werk nie as ’n klasding nie. Vir Christene is werk ʼn roeping van God. Daarom onderskei ons ook fyn tussen roeping en beroep. Roeping is waar God jou oproep tot ’n bepaalde lewenstaak met die gawes en geloof wat Hy jou gee. Jou beroep moet die vaste plek en ruimte wees waar jy jou roeping mag en moet uitleef. Christene wat geroepe is, soek dan ook beroepe waar hulle hulle roeping kan ervaar en uitleef. Dit is nie altyd die posisie met die meeste geld en voordele nie.

Christene weet dat die sin van die lewe nie geleë is in die oorwinning van die “werkersklas” nie, maar die sin van jou werk lê in jou roepingsbeskouing. Paulus stel dit kortliks so: “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie…” (Kolossense 3:23).

Werk vat versus werk gee

Saam met die werkersklasindeling, kom gewoonlik ook die begrippe “werkgewer” en “werknemer” as twee karperde saam voor. Mense wat bloot vir ’n salaris werk, word gewoonlik werknemers genoem. Die mense wat hulle aanstel en betaal word dan werkgewers genoem. Christene weet egter dat hulle roeping van hulle werkgewer én werknemers maak. Die term is eintlik presies omgedraai soos wat dit gewoonlik gebruik word. Christene “gee hulle werk” as roeping vir iemand anders. Christene kan ook nie alles self doen nie, en “neem werk” van ander mense aan om hulle roeping te ondersteun. As jou roeping nie van jou beroep geskei is nie, is jy tegelyk werkgewer en werknemer.

Saamwerk versus teenwerk

As ʼn mens sou vra saam met wie werk jy, dan dink ʼn mens gewoonlik heel eerste aan die mense saam met jou by die werkplek, jou kollegas. Tog is hier ook vir Christene ’n dieper onderskeid. Die Bybel leer baie duidelik van die eerste bladsy af dat daar ’n onderskeid en samehang is tussen God se werk en die mens se werk. Gelowiges, as kinders van die Here, is bedoel om deur die Woord en Heilige Gees saam met God te werk. God se bedoeling met die skepping en met elke mens moet juis na vore kom deur die mens se werk: God se wil moet letterlik uitgewerk word. Deurdat die mens sy roeping nakom, ook in sy beroep, kom die wil van God se skeppingswerk na vore. Christene is dus medewerkers van God, hulle werk saam met God deur sy wil uit te voer. Christene is saamwerkers. Christene wat saam met God werk om sy wil uit te voer, werk ook saam met ander mense wat ook God se bedoeling wil uitvoer.

Dit staan in groot kontras met die mense wat die Bybel noem “die werkers van ongeregtigheid.  Mense wat verkeerd doen en onreg pleeg in en deur hulle werkomgewing werk ook saam, maar hulle samewerking is ’n teenkanting teen God. Hulle werk saam teen God. Die tweede Psalm vertel van hierdie samespanning van die onregverdige mense teen God en sy bedoeling. Christene wat weet dat hulle saam met God en mekaar moet werk teen onreg moet ook hulle self so organiseer dat hulle saam teen die kwaad kan optree. Daarom is stakings nie per definisie reg of verkeerd nie, maar hang dit af of dit ’n samewerking vir of teen die kwaad is. Regverdige mense, dit beteken mense wie se saak met God reg is deur Jesus Christus, word deur die Heilige Gees gedring om nie deel te hê of saam te werk met onreg nie. Christen-werkers mag nooit onreg verdra of goedpraat nie, trouens hulle is verplig om saam te staan en saam met God se bedoeling alle kwaad uit die skepping weg te werk.

Rus versus onrus

Christene weet dat werk en rus aan mekaar gebind is. Die Bybel leer dat God uiteindelik in sy werke rus. God geniet wat Hy geskep en gered het met ’n ewige rusdag, die ware Werkersdag. Christene weet ook dat ná die sondeval daar ’n vloek op die aarde is en dat ’n mens se werk jou verskriklik uitput. In Christus word Christene verlos van die vloek op hulle werk. Hulle werk word dan die manier hoe hulle vir die Here dankie sê juis omdat Hy hulle gered het. Christene leef nie net vir die naweek en vakansiedae nie, omdat Christene weet dat rus juis deur werk na vore kom en nie los van werk gesien moet word nie. ʼn Mens moet dus rus. Christene moet nie aan werk verslaaf wees nie. God gee die bevel om die rusdag te onderhou, juis sodat Christene kan weet dat God vir hulle sorg al werk hulle een dag van die week nie. ʼn Mens kan eers begin rus as jy weet dat jy eet om te werk, en nié dat jy werk om te kan eet nie. Rus en werk kan slegs in goeie ritme kom as ʼn mens glo dat Christus die vloek van jou werk afgehaal het. Dan kan jy vertrou dat God vir jou sal sorg, al werk jy een dag van die week nie. Om reg te kan werk, moet jy reg kan rus.

Gildes versus selfsug

Laastens ’n minder bekende aspek van Christelike werksetiek in Suid Afrika is die belang van werksgildes. Gildes is waar mense wat dieselfde roeping het in ’n bepaalde vakrigting mekaar help juis om hulle roeping saam gehoorsaam en sinvol te beoefen. Gildes werk selfsug teen in die werkplek. Gildes het ’n binding en belofte wat ander beroepsverenigings nie het. Christelike gildes is deur ’n band aan mekaar gebind wat God self daargestel het. Hierdie band kan met ’n tou vergelyk word wat deur baie drade gevorm word. Hierdie band sluit in God as Skepper se band met sy skepping.

Christelike gildes weet dat ʼn mens altyd in die skepping van God werk. ’n Maatskappy – selfs ’n wêreldwye maatskappy se interne reëls is altyd ondergeskik aan God se skeppingsband. God bind Homself aan mense deur sy Woord en Gees met beloftes. Vir Christelike gildes is beloftes van God baie belangrik, want dit sluit die toekoms oop. ʼn Mens kan op God se beloftes bou al weet jy self nie presies hoe die toekoms gaan lyk nie. Dinge gaan uitwerk omdat God so belowe. God se beloftes gee hoop. Christelike gildes wil dus ook toesien dat die roeping van God ook vir die nageslag bestaan, daarom belê Christelike gildes in die toekoms deur opleiding en onderwys te ondersteun. God belowe, daarom is daar ’n toekoms, daarom moet die volgende geslag reg opgelei word om hulle roeping te vervul.

1 Mei is dalk vir ons net nog ’n braaidag, maar vir Christene herinner dit ons aan die groot skat wat ons toevertrou is. Ons is samewerkers met God. Ons kan in Christus deur sy Gees saam met God werk. Kom laat ons die werk klaar maak wat God in ons begin het. Laat ons die kommunisme en sosialisme weg werk.

  • Dr. Wikus Buys is die uitvoerende direkteur van Begrond, wat ten doel het om Christelike uitgangspunte in of vir die Afrikaanse gemeenskap te bevorder deur Bybels-begronde nadenke oor aktuele sake, veral in onderwys en opleiding.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.