Cosatu is aan’t verdwyn – en dit moet nie gekeer word nie

Van links is Bheki Ntshalintshali (sekretaris-generaal van Cosatu), Sdumo Dlamini (uitgaande Cosatu-president) en Zingiswa Losi (nuutverkose president van Cosatu). Foto: ANA

Cosatu sit toe met eier op hul gesigte toe hulle onlangs die Bokspan voor die stryd teen die All Blacks as “te wit” beskryf het en die einste “te wit” rugbyspan toe net daarna die All Blacks klop. Hulle het ook nie heeltemal die gewenste reaksie op die sosiale media gekry en ’n wig tussen wit mense en ’n generiese swart groep ingedryf nie. Baie swart mense het gesê hulle steun die Bokke – ongeag hul kleur. Gun my net so bietjie Schadenfreude. (leedvermaak).

Die vraag is om te verstaan hoekom presies die grootste vakverbond in die land hom met sulke beuselagtighede en rasse-opsweping (om hul eie rassisme te vermom) besig hou.

Onlangs het die einste Cosatu te velde getrek teen die EFF toe dié vir Cosatu gekritiseer het omdat hulle ’n wit afgevaardigde, Matthew Parks, parlement toe gestuur het om hul voorlegging oor onteiening sonder vergoeding te doen. “Moral cretins and political idiots – Cosatu. het die opskrif op TimesLive gelui. Cosatu het die EFF se gedrag ook “infantiel” genoem. Om als te kroon, het hulle die VF+ en ACDP uitgesonder as die partye wat die “beginsels van die nierassige parlement” moes verdedig – terwyl hulle die ANC geroskam het omdat hulle stilgebly het.

“We believe that all workers‚ regardless of race‚ should organise and unite and we are proud of the immense contribution that many white‚ coloured and Indian compatriots have made in not only fighting apartheid but in building this country,” het hul verklaring hieroor gelui.

Hierdie gesigspunte is feitelik en moreel korrek en iets waarmee verreweg die meeste mense in hierdie land saamstem.

Dit skreeu dan ten hemele hoekom hulle ten gunste van ras gebaseerde koppetellery in rugby is. Die eenvoudige antwoord is dat hulle onder druk verkeer en ’n snelkrimpende rolspeler in die arbeidsmark en politieke landskap is. Selfs sonder die lagwekkende randfiguur Tony Ehrenreich in hul midde, val hulle dan terug na hul verstekposisie om weer die struggle voort te sit en wit prestasies aan te val. Ongelukkig werk dit heel goed, ofskoon nie altyd nie – soos gesien met die uitlatings oor die “te wit” Bokspan.

Die hoop hiermee is dat swart (as synde almal wat nie wit is nie) werkers hulle as ’n Messiaanse mag en verdediger van swart belange sal sien en dan lede sal bly of word. Maar helaas het die hoop beskaam. Luidens sy jongste finansiële verslag vir 2017 het die vakverbond in 2015 steeds 1,9 miljoen lede gehad. Dit het daarna blykbaar tot by 1,7 miljoen lede in 2017 afgeneem. Dit het uiteraard ’n uitwerking op hul ledegelde, wat ook maar ongereeld deur hul lede betaal word.

Ek het egter my bedenkinge oor hierdie syfers – en so ook ander ontleders – al is dit moeilik om vas te stel presies hoeveel lede Cosatu werklik het. Theto Mahlakoana, arbeidskrywer vir BusinessLIVE, glo hulle beskik nou oor slegs 1,6 miljoen lede. Sy berekeninge wys dat hulle in 1991 sowat 1,2 miljoen lede gehad het, waarna dit tot 2,2 miljoen in 2012 gestyg het en daarna tot by die huidige vlakke gedaal het. Ek glo 1,6 miljoen is steeds te veel omrede die finansiële krisis – sowat 1 miljoen mense het hul werk in 2009 alleenlik verloor – amok gemaak het in die arbeidsektor. Meeste van hierdie mense was waarskynlik blouboordjiemense – heel moontlik Cosatu-lede – wat buitendien deur die veranderende vereistes van die arbeidsmark uitgesif is.

Daar moet ook in gedagte gehou word dat daar ander roeringe in die arbeidsektor oor die afgelope paar jaar was. Numsa, die grootste vakbond in die land met meer as 300 000 lede, is in 2014 uit Cosatu geskors oor wrywing tussen Numsa en die pro-Zuma magte in die ANC en Cosatu. Die South African Federation of Trade Unions (Saftu), wat by Numsa geaffilieer is, het ook onder die voormalige Cosatu-sekretaris-generaal Zwelinzima Vavi se leierskap as mededinger vir Cosatu ontstaan en het vandag sowat 700 000 lede.

Cosatu se eie optrede dra ook tot hierdie toedrag van sake by. Op Politicsweb het John Kane-Berman, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), onlangs geskryf dat Cosatu se beplande landwye protesaksie oor werkverliese vergelyk kan word met die Mafia wat teen georganiseerde misdaad betoog. Volgens hom oorheers Cosatu nie meer die arbeidstoneel nie, maar hul gedragspatroon (soos antagonistiese, verwoestende en onbeskermde stakings) het daartoe bygedra dat werkgewers in die private sektor hulself van ongeskoolde arbeid speen. Cosatu het byvoorbeeld die grootste eise ten opsigte van ’n nasionale minimumloon gestel. Dit bevoordeel natuurlik oorblywende werkers, maar benadeel afgedankte werkers en die werkloses. Hul nywerheidsoptrede lei tot chaos by hospitale terwyl Cosatu self kla oor swak dienslewering, aldus Kane-Berman. Dis ongelukkig als waar.

Hul verhouding met die drieledige alliansie, maar veral met die ANC, is ook hoogs problematies. Indien Mahlakoana se syfers reg is, het Cosatu se lot ten nouste saamgehang met die ANC en ook die Suid-Afrikaanse ekonomie s’n. Dit wil blyk asof Cosatu goed gedoen het toe die ekonomie sterk onder oudpres. Thabo Mbeki se leierskap gegroei het. Cosatu het egter nie van die manier gehou hoe hierdie groei teweeg gebring is nie en het gehelp om van Mbeki ontslae te raak en Jacob Zuma se erbarmlike era in te lui. Die Suid-Afrikaanse ekonomie het sedert 2012 (Zuma se tweede termyn as ANC-president) in die noutes beland en so ook Cosatu se lidmaatskap. Hulle het byvoorbeeld verlede jaar ’n eenmalige optog teen korrupsie gehou om mag te vertoon en hulself by implikasie van Zuma en staatskaping te distansieer, maar dit het juis hul gekrimpte mag blootgelê. Nou steun hulle die oudvakbondman, Cyril Ramaphosa, as president en daarmee tesame ANC-beleide wat juis werkers se belange ondergrawe.

Tesame met die rol wat outomatisering, kennis en tegnologie in vandag se wêreld van werk speel, raak Cosatu en sy samestellende vakbonde ’n anachronisme wat moeilik hul eie agteruitgang gestop gaan kry.

En ek dink nie dit moet stopgesit word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hans ·

Of die jagter nou ‘n Zebra op sy swart streep of wit streep skiet – die gevolge dieselfde.

Zirk ·

‘n Komende begrafnis waartydens niemand gaan treur nie en rykhalsend na uitsien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.