Daar’s ʼn liggie aan die einde van die tonnel

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.

Sensasionele beriggewing oor die regerende party se rampspoedige ekonomiese beleid en rasse-insidente waar veral wit en swart persone betrokke is, asook kerke se kwynende lidmaatgetalle, skep by die meeste mense ʼn gevoel van terneergedruktheid.

Ek het egter drie situasies beleef wat op voorgenoemde betrekking het, wat my weer laat moed skep.

Eerstens, rakende ekonomiese beleid:

Die Kgalema Motlanthe-stigting het onlangs ʼn werksessie gereël wat op werkskepping gefokus het. Een van die sprekers wat die gesprek moes inlei, was Neil Coleman wat Cosatu se plan voorgehou het. Hul oplossing was eenvoudig: As ongelykheid uitgewis word, sal daar baie werk geskep word. Hoewel ek geworstel het om die logika van sy voorstel te verstaan, het van die sprekers ná hom op dieselfde onlogiese sosialistiese trant voortgebou.

Laaste aan die woord was Enoch Godongwana, hoof van die ANC se subkomitee oor ekonomiese transformasie. Ná ʼn lang, ongemaklike stilte begin Godongwana uiteindelik praat, en voer hy aan dat omrede hy die einde van sy politieke loopbaan nader, hy nou die vryheid het om te sê wat hy werklik glo en dat hy hom nie meer soos ʼn gedissiplineerde kader blindelings met die regerende party se denke hoef te belyn nie, of hom te posisioneer om tot die ANC se nasionale uitvoerende komitee verkies te word nie.

Hy gee toe ʼn een-sin-toespraak en al wat hy sê is: “Volhoubare werksgeleenthede kan slegs geskep word wanneer Suid-Afrika substantiewe ekonomiese groei beleef, want daar is geen werkbare alternatief nie.”

Die oudministers en geharde kommuniste, Ronny Kasrils en Jeremy Cronin wat ook deelnemers aan die werksessie was, was bitter verontwaardig deur Godongwana se inset en het hom hewig aangeval en berispe. Godongwana het deurgaans maar net herhaal dat dit die insig is wat hy gekry het ná vele mislukte pogings van ideologies gedrewe planne.

Godongwana het hierdie verblydende insig in ʼn geslote forum getoon en hy het ongelukkig nog nie in die openbaar soortgelyke uitsprake gemaak nie, maar die sogenaamde Tito-plan wat ook van die ANC se sosialisties deurspekte beleide van die verlede afwyk, is ʼn teken van ’n realiteitsbesef wat by die regerende party begin intree.

Tweedens, wat my rassebelewenis betref:

Die Co-Operative and Policy Alternative Center (Copac) het onlangs ʼn diverse groep van 40 Suid-Afrikaners genooi om aan ʼn gesprek oor “Rassisme ná apartheid” deel te neem. Die groep het hoofsaaklik uit liberale akademici, verteenwoordigers van nieregerings- en burgerregte organisasies, vakbonde en gemeenskapsaktiviste bestaan. Ons was slegs twee wit Afrikaanssprekendes in die groep. Ek het my gestaal vir ʼn aanval op veral wit Afrikaners, soos dit maar altyd die geval is tydens sulke gesprekke.

Die drie sprekers wat die gesprek ingelei het, was Vishwas Satgar (ʼn professor by Wits se departement vir internasionale betrekkinge), Sharon Ekambaram (aktivis vir immigrante- en vlugtelingregte) en Ayanda Kota (aktivis vir werkloses).

Die sprekers het klem geplaas op rassisme as die onderliggende oorsaak van toenemende geweld teen vroue en xenofobiese aanvalle. Daar is ook kommer uitgespreek oor Indiër- en bruin mense wat afgeskuif word op die transformasierangorde en dat daar ʼn Afrikanisering in swart bemagtiging begin plaasvind. Daar is ook geweldige sterk gevoelens uitgespreek oor die EFF se rassistiese agenda en die kommer dat hul aanhang groei. Daar is ook genoem hoe nie-Afrikane by vele geleenthede tydens die studente se #FeesMustFall-opstande by byeenkomste weggejaag is.

Ná ongeveer 60 minute van gesprekvoering wou Mazibuko Jara (ʼn aktivis uit die Marxistiese tradisie en voorsitter van Oxfam Suid-Afrika) weet waarom daar dan nie oor wit rassisme gepraat word nie. ʼn Baie kort debat het toe gevolg waartydens die swart deelnemers vinnig ooreengekom het dat die probleem van wit rassisme beperk is tot sogenaamde “wit ekstremiste” wat ʼn klein minderheid uitmaak.

Die slotsom van die gesprek was dat die meeste Suid-Afrikaanse burgers aan ʼn vorm van rassevooroordeel skuldig is, en sommige het gevoel dat dit normaal is, maar almal was dit eens dat rassiste in elke bevolkingsgroep van die samelewing aanwesig is. Hierdie gesprek tussen gewone Suid-Afrikaners was net so nugter en anders as waaraan ons deur die media gewoond geraak het, waar wit mense in hoofsaak as die primêre rassiste uitgemaak word en rasverwante insidente totaal uit verband geruk of verpolitiseer word.

My derde belewenis het betrekking op die beweerde uitdagings vir die Christelike geloofsgemeenskap:

Daar word gereeld berig hoe belydende lidmate in elkeen van die drie susterkerke afneem. Dit wek kommer, maar my mening is ook dat ons nie die Christelike oplewing buite die susterkerke moet miskyk nie. Ek wil egter net op een verwikkeling fokus wat tans by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) aan die gebeur is.

Wits word geassosieer met ultralinkse denkers en ʼn universiteit wat kommuniste in die apartheidsjare gehuisves het, en dat die instelling nie maklik as “Wits vir CHO” bekend sal staan nie – alla die eertydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys of “PU vir CHO”.

Daar is egter iets positiefs aan die gebeur. Ek het onlangs ʼn openbare lesing wat betrekking gehad het op “Ideologie en demokrasie” by die universiteit gaan bywoon.

Buite konteks van die tema het een van die gerespekteerde Wits-professors haar kommer uitgespreek oor die toename in konserwatiewe idees by die universiteit. Die kruks van haar kommer was die radikale verandering in die aard van studenteorganisasies wat ontstaan het. Die verduideliking was dat daar nog altyd ongeveer 70 geregistreerde studenteorganisasies by Wits was. Voor 1994 het die meerderheid van studenteorganisasies ʼn politieke onderbou gehad. Ná 1994 het dit verander na organisasies wat oorwegend etniese of kulturele kenmerke gehad het.

Wits beleef egter nou ʼn krisis (die professor se siening) deurdat daar in die afgelope twee jaar 65 Christelike studenteorganisasies op kampus geregistreer is en alle ander studenteorganisasies basies verdwyn het. Dit is beskryf as ʼn “golf van konserwatisme wat oor die kampus spoel”.

Hierdie verskynsel by Wits het ek in die praktyk ervaar tydens ’n lesing van Kohei Saito, ’n professor in politieke ekonomie van die Osaka Stadsuniversiteit in Japan. Saito is baie gewild weens sy uitsonderlike intellek, deurlopende kwinkslae en taalvaardighede en die lesinglokaal was propvol. Die lesing het betrekking gehad op ekososialisme en klimaatgeregtigheid. Daar is toe gepoog om tydens die debat vele oplossings vir aardverwarming te vind om so die mense en die aarde te red.

Daar was heelwat slim mense in die vertrek, maar ongelukkig het die meeste voorstelle ʼn sterk ideologiese onderbou gehad – soos dat die aarde net gered kan word as kapitalisme vernietig word. Die volgende oomblik spring ʼn baie gefrustreerde student op en voer aan dat almal verkeerd is en dat daar net een oplossing is, en hy verklaar “dat ons op ons knieë moet gaan en ons moet onderwerp aan die Skepper van die aarde”.

Die Japannese professor se onmiddellike antwoord was ook Bybel-gefundeerd en hy het aangevoer dat hy gedeeltelik met die student saamstem, maar geargumenteer “dat die Skrif dit duidelik maak dat ons nie net moet bid nie, maar ook iets moet doen”.

Daarna het die lesing in ʼn geestelike debat ontaard, maar diegene wat Godsdiens aangeval het, het so belaglik en ongeloofwaardig oorgekom dat ons as Christene nie eers teenargumente hoef te gevoer het nie.

Die ligpunt hier is dat omrede ʼn universiteit altyd geag word as ʼn instelling wat leiers vir die toekoms kweek, daar hopelik uit hierdie geslag Christen-studente leiers kan voortspruit wat eendag in magtige besluitnemingsposisies sal wees en Christelike waardes sal uitleef.

Om mee af te sluit, die spreekwoord lui: “Een swaeltjie maak nie ʼn somer nie.” So beteken hierdie drie gevallestudies ook nie dat daar binnekort net markgerigte ekonomiese beleid gevolg gaan word, of dat rassekwessies meer gebalanseerd hanteer gaan word, of dat kerke weer gaan vol word nie. Maar dit het my geleer dat daar wel iets aan die gebeur is wat my ʼn sprankie hoop gee en ek sien ʼn liggie aan die einde van die tonnel.

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jimmy ·

Nee wat, daai liggie is net die verbeelding. SA boer vinnig agteruit en daar is nie meer hoop nie. Ons is op pad na volslae mislukte sosialistiese republiek en nasionale bankrotskap.

AB ·

Elke tonnel het ‘n lig aan die einde. Party tonnels is egter oneindig lank!

Piet left the Building ·

Die optimisme van Afrikaners is verstommend, maar naïef.

Devil ·

“Then it comes to be that the soothing light at the end of your tunnel
Is just a freight train coming your way ” Metallica – No Leaf Clover

Leon ·

Dit is pragtig en ek was bly dat ek jou skrywe gelees het. As Christen moet ek glo dat God iets goed vir my beplan. Al dink die hele wêreld ek is naief en die lig voor is ‘n trein, vind ek vreugde daarin om op God te vertrou. Dit maak my hart lig, maak dat ek ook die mooi raaksien. Dat ek Hoop het en kan vertrou op God.

Expat ·

Daai liggie is Perth se vuurtoring wat so in die verte wink!

Feite ·

Daar le groot ellende voor indien jy toelaat dat die lig aan die einde van die tonnel jou so verblind, dat jy nie kan sien wat aankom nie. Ek myself ervaar ook elke dag positiewe en negatiewe gebeure tussen gewone mense en politici. Die probleem is dat die gevolge van negatiewe gebeure wat deur politici se verknogtheid aan hulle ideologiee vir gewone mense veroorsaak word, nie brieke het nie en die positiewe gebeure totaal en al oorskadu. Die bron van kommer is dat politici nie van hulle ideologiese denke afwyk nie, behalwe om gewone mense te mislei en te paai. Die ANC het met staatskaping die klimaat geskep vir die huidige ANC regering om verandering te implementeer soos om grond sonder vergoeding te onteien, die NGV te nasionaliseer en om privaat en pensioen fondse te kaap. Die verandering wat geimplementeer gaan word skep weer die klimaat vir verdere verandering en so gaan dit aangaan totdat die revolusie gaan plaasvind, eers nadat n kapitalistiese sosialistiese welsynsstaat tot stand gebring is. Alle westerse lewensvatbare ekonomiese planne word ontvang en gebere totdat dit uitgehaal en afgestof sal word om die ekonomie te herstel deur die ANC vir die ANC. Die lig wat Gideon aan die einde van die tonnel sien is niks anders nie, as die ANC se gewetenlose soustrein, pasop daai trein het nie brieke nie!

Positief ·

Gideon, baie dankie. Dit is altyd goed om die positiewe artikels te lees. Wees egter gewaarsku dat jy nie veel positiewe kommentaar hier sal kry nie.

Ons land het baie probleme, maar ek sê weer, ons het soveel meer mooi as lelik in hierdie land. Mense se opinies sal verskil en die meer positiewe mense lewer dikwels nie kommentaar nie aangesien hul besig is om hul tyd te gebruik deur ‘n positiewe bydrae te erens lewer.

Ek bly baie lekker hier, nie in Perth nie. Ek voel veilig, geniet my werk en die verskillende kulture in ons land. Elke ou se omstandighede verskil, maar ek is te gelukkig net hier. Ek sien elke aand ou tannies alleen met hul hondjies stap, my kinders speel heeldag buite en ry fiets in die strate. Ek sluit wel my huis goed in die aande, maar misdaad het my nog nooit in 40 jaar getref nie en ek verruil nie my groot huis met swembad en huishulp en tuinman vir ‘n klein “veilige” huisie in Perth nie.

Ek wens ek kan die negatiewes uit hul omgewings haal en wys dat daar nog vrek lekker plekke in SA is om te bly!

Stephan de S ·

As ek die kommentare lees,besef ek hoe verwond en skepties en sinies Afrikaners is. Ek glo tog dat daar n draaipunt sal kom en dat ons/my mense weer hoop , geloof en rigting sal kry. Van harte weet ek dit!

Cila ·

Baie dankie vir die positiewe nuus! Ons aanbid ‘n lewende God en uit genade hoor wanneer Sy kinders na Hom roep! Seën vir jou in jou loopbaan

Leon ·

Die spreker wat opgestaan het en gesê het ons moet op ons knieë gaan was reg. Die verskil is, daar moet baie meer op hulle knieë gaan. Te veel ry op Sondae (en Saterdae vir die wat die Sewende dag vier). Hulle will nie by God meer betrokke raak nie en wil op hulle eie staatmaak. Sport en die damme en piknieks en die braaivleisvure is baaaie lekerder as on in God se huis te wees. Daar is ‘n laaang pad voor vir ons.

Karlahari ·

By the light at the end of the tunnel you can read the writing on the wall…..

Feite ·

Wanneer meeste van ons net onsself in ag neem, dan oorskadu die positiewe by verre die negatiewe, maar wanneer ons diegene in ag neem wie onder misdaad deurgeloop het, wie werkloos is, vir diegene vir wie daar wit kruise geplant word. diegene wie onteien gaan word van hulle grond sonder vergoeding, dan gee ek vir elkeen van julle n brief in breil dat die negatiewe by verre die positiewe oorskadu. Om in die tyd wat ons leef, nie die wat minderbevoorreg is se omstandighede ook in ag te neem nie en namens hulle wie nie meer n stem het nie en om ook nie die ware toedrag van sake in SA aan te roer nie, beteken dat ons net bereid is om net ons eie bevoorregte omstandighede in ag te neem. Daar is seer sekerlik niks daarmee fout om ons eie omstandighede met positiewiteit te vul en heel vermakerig dit aan die groot klok te hang nie, maar dit beteken dan maar net dat die minder bevoorregtes aan hulle eie genade oorgelaat word en dit is iets waarmee meeste van ons bevoorregtes dan nou maar nie n saak het nie. Dit lyk vir my dat dit dan maar steeds elkeen vir homself en sy sakeryk en veiligheid is en dat ons in hierdie leeftyd nie een Afrikaner vir alle Afrikaners en alle Afrikaners vir een Afrikaner punt gaan bereik nie. Ons is nog heeltemal te geseend en bevoorreg en moet ophou kla namens die minderbevoorregtes. “Then so be it”!

Alexz ·

Soos die ingelsman sê:

TALK IS CHEAP, BUT MONEY BUYS THE WHISKEY.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.