Dekolonisasie van kurrikulum aan universiteite: Waardelose of sinryke diskoers?

Studentebetogings (Oktober 2015) (Foto: verskeie bronne, sosiale media)

Studentebetogings (Oktober 2015) (Foto: verskeie bronne, sosiale media)

Deur prof. Theodor Neethling, hoof van die Departement Politieke Studie en Regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat

Die “dekolonisasie van die kurrikulum” op Suid-Afrikaanse universiteitskampusse is ʼn veelbesproke en omstrede tema. Dit het trouens in ʼn hewige diskoers op van ons kampusse ontaard, waar heelwat akademiese onsinnigheid en politieke retoriek opgedis word. Dié diskoers volg ná die #Rhodes Must Fall-beweging en die #Fees Must Fall-veldtog. Vir my bly die vraag: Wat moet dit in praktiese terme inhou nadat die debatte bedaar het?

Heelwat is kwytgeraak op akademiese forums oor dekolonisasie, maar amper niks van wat gesê en geskryf is, kon my oortuig daar is diepsinnige en praktiese waarde opgesluit in die diskoerse rondom dekolonisasie wat landwyd gevoer is nie. Daar was wel ʼn enkele positiewe noot, maar later meer hieroor.

Die kernvraag by Suid-Afrikaanse universiteite is: Wat is kennis, hoe word dit geskep en deur wie? Hieruit volg die kritiese vraag: Is ons kennis koloniaal van aard en behels dit ʼn miskenning van stemme en insigte uit die Afrikakonteks? Veral swart dosente en studente voel soms die kennisbasis berus te veel op kennisskepping by Westerse universiteite. Daarom meen hulle die kurrikulum moet “gedekoloniseer” word.

Ná ʼn voorlopige ontleding van al die debatte op ons kampusse landwyd, is my slotsom daar is uiteenlopende perspektiewe en strewes. Daar is onder meer uiters radikale politieke standpunte, soos dié van die gewese EFF-swaargewig, Andile Mngxitama, wat die verband tussen dekolonisasie enersyds en die afbrand van universiteite in Suid-Afrika as koloniale instelling andersyds uitgespel het.

Ander weer, waaronder akademici soos die Karibiese akademikus, prof. Nelson Maldonado-Torres, het tydens ʼn gaslesing by Unisa vroeër vanjaar, aan die hand gedoen die dekolonisasieproses van die kurrikulum moet summier deurgevoer word deur ʼn opskorting daarvan. As ek reg verstaan, beteken dit alles moet gestop en oorgedoen word. Die betrokke professor en ʼn paar Unisa-akademici het ook ʼn klompie bykomende insette gelewer, maar niks daarvan was myns insiens van enige praktiese waarde nie.

Een van talle Suid-Afrikaanse akademici wat van hom laat hoor het, is ene Harry Garuba, ʼn dosent in Afrikastudie aan die Universiteit van Kaapstad. Garuba het verduidelik die akademiese fokus in Kenia het beweeg na ʼn kurrikulum wat die fokus eerstens op Kenia, dan op Oos-Afrika en dan op Afrika plaas. Op ʼn ander punt het hy in praktiese terme probeer aanvoer mediese studente of studente van farmakologie moet ook kyk na “my ouma se medisinale kure”, omdat hy meen dit is net so effektief is as konvensionele medisyne. Die afleiding is dat dit vir Garbuba daaroor gaan dat inheemse kennis ook van waarde geag moet word en nie slegs die Westerse kennisbasis nie.

ʼn Punt wat Garuba egter ook maak, is een wat dikwels in gesprekke rondom dekolonisasie op ons kampusse geopper word. Hy reken Cecil John Rhodes se standbeeld is weliswaar fisies van die kampus van die Universiteit van Kaapstad verwyder, maar die Rhodes-paradigma is diep ingebed in ons denke op kampusse en speel op ʼn bepaalde wyse uit in die onderrig en navorsingspraktyke van akademici en dit waaraan studente in lesinglokale blootgestel word. Vir Garuba en voorstaanders van die dekolonisasieprojek, is dit die kern van die probleem wat uitgesny moet word.

Wat veral opval van die dekolonisasiediskoers, is dat dit hoofsaaklik deur akademici en studente in die breë sosiale wetenskappe gedryf word, waaronder sosioloë, filosowe, antropoloë, politieke wetenskaplikes en taalkundiges. Stemme uit die breë natuurwetenskappe is grootliks afwesig. Die vraag is dan ook of dissiplines soos fisika, chemie, mmikrobiologie en ander akademiese dissiplines hoegenaamd hierdeur geraak of verander kan word, met ander woorde, gedekoloniseer kan word.

Een natuurwetenskaplike wat wel van hom laat hoor, is Brian Kamanzi, ʼn elektriese ingenieur en skrywer aan die Universiteit van Kaapstad. Hy lewer in ʼn artikel ʼn relaas oor wat dekolonisasie behoort te behels. Baie daarvan stem breedweg ooreen met wat deur sommiges in die sosiale wetenskappe aangevoer word. Wanneer hy wel by elektriese ingenieurswese uitkom, maak hy wesenlik die punt dat die sogenaamde harde wetenskappe (natuurwetenskappe) omsien na die tegnologiese behoeftes van die “moderne” mens.

Uiteindelik lewer sy betoog min op in terme van wat sogenaamd gedekoloniseer kan word rondom die argument dat daar meer kritiese denke onder ingenieurs moet wees. Laasgenoemde behels volgens hom meer kritiese vrae aangaande sake soos die uitbuitende aard van die ekonomie, geslag- en rassediskriminasie in die ekonomiese sektor, asook die behoeftes van die staat en hoe dit met die sosiaal-ekonomiese rol van die ingenieur verband hou. Vir my lyk dit egter na niks meer nie as ʼn betreklik oppervlakkige toevoeging van perspektiewe vanuit die sosiale wetenskappe tot die ingenieurswese.

Tussen al die aandrang op dekolonisasie – wat wissel van radikale en grootliks oppervlakkige politieke retoriek, tot die strewe na ʼn afgeskaalde Westerse kennisbasis – is daar wel ʼn stukkie leeswerk wat ek persoonlik betekenisvol gevind het. Die outeur is prof. Achille Mbembe, ʼn gerekende politieke wetenskaplike en filosoof van Kameroen, wat tans verbonde is aan die Universiteit van die Witwatersrand. Die titel van sy artikel is Decolonizing Knowledge and the Question of the Archive. Volgens hom moet Suid-Afrikaanse universiteite nie langer poog om skaalmodelle van Oxford of Cambridge te wees nie. Ons universiteite kan ook nie hul kennisbasis uitsluitlik of selfs grootliks op Westerse kennis bou nie.

Die kennisbasis strek immers breër as Westerse insigte en bydraes – ʼn punt wat sekerlik veral in die breë sosiale wetenskappe geldig is. Dink maar aan die wonderlike insigte van die beroemde Afrika-filosoof, prof. Ali Mazrui. Mbembe waarsku terselfdertyd ernstig dat dekolonisasie nie mag omskakel na die Afrikanisering van universiteite nie. Hy meen dekolonisasie impliseer nie Afrikanisering nie. Trouens, hy bou sy argument verbasend genoeg op Frantz Fanon (die hoogs-invloedryke anti-koloniale denker) se kritiek en weersin teen Afrikanisering. Hy voer aan Fanon ondersteun nie Afrikanisering nie omdat dit bykans altyd gepaard gegaan het met pogings om vreemdelinge (“foreigners”) uit te dryf.

Slegte nuus vir diegene wat die Afrikanisering van Suid-Afrikaanse kampusse bepleit, is Mbembe se oortuigende betoog dat universiteite in ʼn moderne konteks van globalisering funksioneer en oorleef. Dit kom basies neer op die standpunt dat kennis van ʼn globale aard is en nie parogiaal mag en kan wees nie. Ofskoon Mbembe dit betreur, wys hy daarop universiteite wat agterbly in die globale konteks word “boskolleges” waar semi-gekwalifiseerde studente met groot skuld afstudeer en uiteindelik die kans staan om werkloos te wees en weggestoot te word van die sosiale en ekonomiese voordele in hul samelewings. Hierteenoor staan “wêreldklas-universiteite” en die wenners in hul geledere. Hiervan kan die voorstaanders van Afrikanisering en ʼn ‘gedekoloniseerde kennisbasis’ gerus kennis neem.

Myns insiens is daar veel te leer uit Mbembe se betoë, wat terloops baie verder strek as die enkele punte hierbo. Laastens moet ek wys op Mbembe se perspektief dat talle universiteite in die opkomende lande in die Ooste sterk aansluiting vind by die konsep van “wêreldklas universiteite”. Trouens, hulle doen hulle voor as “sleutelpunte vir nuwe golwe van geglobaliseerde opvoeding”. Daarom bevind duisende Chinese studente hulle in die VSA met sy sterk Westerse kennisbasis. Met ander woorde, die talle top Oosterse universiteite besef die Westerse kennisbasis kan gewoon nie geïgnoreer word nie.

Wat Suid-Afrikaanse universiteite betref, meen Mbembe hulle moet wel hul plek op die vasteland van Afrika begryp en omarm, maar hulle moet beslis veel wyer as die kontinent kyk en selfs nie Suid-Afrikaans-gesentreerd oor opvoeding en vaardighede dink nie. Uiteindelik is my slotsom Achille Mbembe – te midde van al die retoriek en onsinnigheid wat in die afgelope tyd oor dekolonisasie kwytgeraak is – bring insigte na vore waarmee ek my kan vereenselwig. Meer nog: Dit help ook om perspektief te bring te midde van die kritiese vrae wat op ons kampusse geopper word rondom kurrikulumsake en wat Suid-Afrikaanse universiteite hul studente moet bied sover dit toekomstige onderrig en leer betref.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Rupert Ashford ·

So uit hierdie skrywe lei ek af dit is die sg “liberal arts” studente en dosente wat hierdie storie dryf. Dit se dan vir mens alles en eindig eintlik maar enige debat net daar.

Piet ·

In kort wat kan nou eintlik ge-dekoloniseer word? Al die nuttelose rigtings. Filsofie, Politieke wetenskap. Ek dink geskiedenis is so breed, mens kan mos maar self besluit watter geskiedenis jy oor wil leer. Ware wetenskappe soos wiskunde, rekeningkunde, chemie ens kan nie verander word nie. Hulle kan maar ‘n toordokterskool oprig vir die wat belangstel. Ha ha.

JC ·

Interessante artikel met besondere insigte. Ons universiteite funksioneer binne ‘n ge-globaliseerde wereld. Weens die feit dat ons almal Afrikane is, is dit vanselfsprekend dat ons universiteite Afrikawaardes sal koester en daardeur beinvloed sal word en meer “African” sal wees as Oxford. (wel op subtiele wyse) By Tuks loop regsstudente byvoorbeeld ‘n “gewoontereg/gebruiklike reg” module, welke kennismaking en kennis van swart gewoontereg en die beginsels daarvan versprei en toets. Dus, Suid-Afrikaanse universiteite, net soos ander universiteite, gaan natuurlikerwys sekere elemente van Afrika dra (ook goed so!) MAAR in hul strewe na wereldklas status moet hul almal NOODWENDIGERWYS as GEGLOBALISEERDE instellings funksioneer. Indien daar nooit aanwesig was begrippe/waardes (westers van aard) nie, en die nuwe begrippe/waardes geinternaliseer word en begrip aan gegee word – gaan die nuwe begrippe/onderwerpe noodwendigerwys ‘n Westerse kleed dra, vanwee die oorsprong daarvan. Is dit dan “beter” om klaar te kom sonder die “westerse waardes”/ dit skielik sonder goeie rede te verwerp nadat dit reeds uiting aan gegee is/aanvaar is en deelgemaak is van jou kultuur/ taal. (met ander woorde ook nou Afrika waardes is) Kom verwerping dan nie op paradoksale wyse neer op miskenning van jou eie kultuur nie en/of selftwyfel/”self loathing”/die koester en/of terugkeer na iets wat oenskynlik beter was maar wat nooit bestaan het nie? Alles is op die westerse model geskoei. Mis ek dalk iets?

Ek sal dit waardeer indien Professor/Moprofesa (suid-sotho) kommentaar kan lewer op my insette. Dankie.

Francois ·

As jy ‘n hond wil slaan, sal jy ‘n stok daarvoor kry. ‘Dekolonialisering’ is maar net die stok waarmee sogenaamde ‘studente’ – wat in die eerste plek nie op universiteit behoort te wees nie omdat hulle nie akademies daarvoor opgewasse is nie – hul frustrasies met hul akademiese onbevoegdheid uitwoed.

Hannetjie Van Aswegen ·

Is dit moontlik dat jule dit na my e-pos adres kan e-mail.
Ek wil dit graag geprint het maar kry dit nie reg nie – julle gee nie so ‘n opsie – ons kry wel so ‘n opsie van die ander koerante.

Groete

Landi Malan ·

Dagsê Hannetjie,

Dankie vir jou navraag. Maak gerus óf ʼn skermskoot óf klik regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan klik “print”. As jy nie ʼn drukker het nie, kan jy die dokument dalk in ʼn .pdf-formaat (elektronies) druk – dan kan jy makliker daarmee werk.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Koos Karoo ·

Hoe op dees aarde “dekoloniseer” jy wiskunde, fisika, biologie, geologie, en studierigtings soos ingenieurswese, geneeskunde en landbouwetenskappe? Die wetenskappe berus op bewysbare feite, nie interpretasies nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.