Die ANC kan nie die werklikheid in 2016 sensor

Argieffoto

Argieffoto

Ek gaan doodeerlik wees as ek sê ek “verbruik” al ’n geruime tyd letterlik geen inhoud wat uit die SAUK voortspruit nie. Ek kyk nie eens 7de Laan nie.

Soos Cobus Bester ook al ná sy uittrede opgemerk het, is die SAUK ’n totale gemors en dis asof die bestuur van die uitsaaier, wat net met regeringsreddingsboeie aan die gang gehou word, verder oor die afgrond stuur. Myns insiens is dit net ’n spreekbuis vir die ANC – boonop ’n onbevoegde en swak bestuurde een – en ek stel nie belang om ’n gesaniteerde, verpolitiseerde, onvolledige en boonop totaal werklikheidsvreemde weergawe van die nuus te kry nie.

Die jongste skuif om nie meer gewelddadige betogings uit te saai nie, verbaas my dus nie en is net nog ’n stap om van die SAUK ’n staatsuitsaaier eerder as openbare uitsaaier te maak. Die ANC as poppemeester van die SAUK wil per slot van sake nie aan die EFF en dergelike groepe as aanhitsers van geweld enige lugtyd gee nie en daarmee saam nog geweldpleging en negatiewe menings jeens die regering aanmoedig nie. Terselfdertyd onderdruk dit ook die beeldsending van legitieme griewe en nuusgebeure wat voortspruit uit swak regering en dit ondermyn weer die SAUK se nominale waghondrol.

Sensorskap in 1986

Sensorskap se definisie behels in ’n breë sowel as eng sin die onderdrukking van vryheid van uitdrukking. Dit behels bepaald die regering, maar ook enige buiterolspeler, se inmenging om nuus te onderdruk.

Nuus was egter nog nooit totaal objektief nie en daar is in alle media ’n mate van subjektiwiteit te bespeur. As dit nie totale weglating is nie, dan kan dit wees in hoe ’n storie aangebied word met groter klem op sekere aspekte terwyl ander weer onderspeel word. Nismarkte, naamlik die teikenverbruikers wat vir inhoud betaal en dit inneem, speel ook ’n groot rol in die kies en aanbieding van inhoud. Hier is te min ruimte om breedvoerig oor selfsensorskap en nismarkte te skryf, maar die prentjie is hopelik duidelik.

Vir ’n groot nuusinstelling soos die SAUK, wat boonop in die openbare belang moet optree, om egter botweg te weier om alle gewelddadige betogings, hoe nuuswaardig ook al, uit te saai is ’n growwe verontagsaming van sy mandaat en deursigtigheid in die algemeen.

Dit is hoegenaamd nie nuut vir die SAUK om as mondstuk en politieke middel ingespan te word nie. Die Apartheidsregering het verskeie maatreëls, kommissies en wetgewing ingestel en gebruik om die vloei van inligting na die publiek asook die buiteland te beperk. Dit het veral gegeld in die tyd tussen 1985 en 1990, toe ’n noodtoestand van krag was. Indertyd is joernaliste geïntimideer, gedreig en fisiek verhoed om inligting te versamel en versprei. TV se koms is lank deur die Nasionale Party teengestaan en uitgestel uit vrees dat dit hul mag sou ondermyn en Piet Meyer het dikwels dieselfde retoriek, beleide en maatreëls as Hlaudi Motsoeneng gebruik.

Ewenwel, terwyl die ANC dus deur geweld en sy “People’s War” in die jare tagtig sy posisie voor die einde van apartheid wou versterk, politieke opponente wou uitroei en dit op die koop toe so wyd moontlik wou laat propageer, het die regering en die SAUK hul bes gedoen om dit nie te laat gebeur nie.

In 1986 het dit dalk nog gewerk, hoewel nie heeltemal nie, want daar bestaan baie beeldmateriaal van die destydse geweld. In 2016 is dit ’n heel ander storie.

In 2016

Die koms en toenemende gebruik van sosiale media asook selfone en ander tegnologiese kommunikasiemiddele het dit feitlik onmoontlik gemaak om nuus weg te steek. Die meeste van hierdie dinge het skaars in 1986 – toe die noodtoestand waarskynlik op sy ergste was – bestaan. Nuusskepping was die alleenlike domein van ’n paar joernaliste en mense wat die nuus eerstehands aan verslaggewers kon oordra.

Vandag het ’n inskrywing of foto op Facebook of Twitter, of ’n reeks WhatsApp- of SMS-boodskappe, dieselfde (of dalk beter) propagandawaarde as ’n nuusberig in die hoofstroommedia. Die fisieke aspek van nuus skep is totaal deur die digitale era omwentel. Nuus kan kwalik vandag onderdruk word.

Tweedens, Suid-Afrika is vandag ’n baie oper samelewing as in 1986. Weg is al die wetlike inperking van, en struikelblokke vir die vryheid van beweging vir, die nuusmedia en  verslaggewers. Die SAUK se besluit om nie nuuswaardige gebeure – hoe banaal en selfs afstootlik dit soms is –  te dek nie, is juis ’n aansporing en hupstoot vir die res van die media omdat dit nog ’n mededinger uit die prentjie haal. Tensy die ANC die weg van die Nasionale Party inslaan en drakoniese wetgewing instel om alle mediadekking te begin sensor, gaan nuuswaardige gebeure onverbiddelik op die hoofstroommedia se lappe beland.

Derdens, en hierdie aspek sal nooit verander nie, is dat mense – en dus kiesers – uit hul eie werklikhede leef en op hul omstandighede reageer. Hoewel baie ten goede sedert 1994 verander het, is daar vele enorme probleme en baie van dit is deur die ANC self geskep. Raadslede en wykslede wat nie op vreedsame versoeke om basiese dienste reageer nie en totaal afwesig is, skole wat al meer disfunksioneel raak, endemiese korrupsie deur amptenare ten koste van die gemeenskappe wat hulle moet dien, grootskaalse werkloosheid, die uitwerking van ekonomiese wanbestuur, misdaad en algehele verval in die land is iets wat die meeste mense eerstehands kan aanskou. Eweneens kan hulle ook daarop reageer en die gevolglike betogings en geweld aanskou en selfs daaraan deelneem. Nes die NP en toentertydse SAUK nie kon keer nie dat Afrikaners se realiteit van stygende lewenstandaarde en Christelike middelklas-gewetes hulle teen apartheid laat draai het, kan die ANC en huidige SAUK ook nie verhoed dat die hedendaagse probleme raakgesien word nie.

Hulle kan mooi woorde soos “nasiebou” en “versoening” gebruik ten aansien van die SAUK – en eintlik die media in die algemeen – se rol in die samelewing, maar dit gaan nie die ongemaklike werklikhede in hedendaagse Suid-Afrika kan wegsteek nie. Geweld en vandalisme is afkeurenswaardig en word soms opportunisties uitgebuit, maar dit is ’n voldonge feit dat dit gebeur en dat dit nuuswaardig en van openbare belang is. Die huidige stakings in Frankryk gaan ook met geweld en vandalisme gepaard en dit word oral in die internasionale en Franse media berig. Die ANC en SAUK vind nou uit dat demokrasie onvermydelik met hoë eise en ongemaklike werklikhede gepaardgaan. Werklikhede wat hulle lank terug met hul eie geweld help skep het.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

alida ·

Mooi artikel Dr Brink. Hulle verstaan NIKS ons mors ons asems om te probeer verduidelik. Dit is eintlik tragies om als te aanskou.

Theuns ·

Dankie Dr Brink. Bespeur ek nie alreeds ‘n mate van politieke korrektheid by van die ander media wat nie bande het met die SAUK nie? En dit bring my by “Max on Media” en Waarseers. Hou maar die onderhoud woordvoerders dop! Hulle le die antwoorde op hulle vrae in die mond van die mense met wie hulle onderhoude voer! Soos bv. Sal jy se dit is Apartheid se skuld? Dan se die ou ja! Kyk maar na Max dan sal julle sien wat ek bedoel.

Marius Nortje ·

Ek weier om enigiets te lees wat Max skryf. Vir my bestaan hy nie. Hy kan maar wegraak oppad werk toe. Dit sal my nie eers pla nie!

Theuns ·

Nou moet die uwe himself korrigeer. Dis nou ek. Dit is Maggs on Media! Sorry man!

Christie Joubert ·

Wat my die meeste fassineer van die hele debakel, is dat die anc juis tydens hul sogenaamde struggle baklei het oor sensorskap, want die wêreld moes sien hoe swaar hulle kry. En nou pas hulle presies dit toe waarteen hulle so lank baklei het. wat het geword van Vryheid van spraak in die grondwet??

Dirk Breytenbach ·

EN DIE anc HET BAKLEI … teen
1. Rasse diskriminasie
2. Polisie wreedheid
3. Swak skole
4. Sensuur
5. Swak dienslewering bv elektrisiteit in Soweto
6. Werkreservering
7. Verwerping van westerse kultuur
8. Verdraaiing van die geskiedenis
9. “Steel” van grond
10. Taal diskriminasie (Afrikaans in skole)
11. Korrupsie en bevoordeling

NOU HET ONS…
1. Rasse diskriminasie BBBEE en EE
2. Polisie wreedheid (Andries Tatane, Marikana
3. Nog swakker skole en universiteite onder beleg
4. Sensuur bv. SAUK
5. Swak dienslewering EN voortgesette plundering
6. Werk reservering bv. sosiale ingenieurswese agv demografiese verteenwoordiging
7. Ondeurdagte en emosionele aandrang op Afrikanisering
8. Verwydering van geskiedenis
9. Besetting van grond
10. Taal diskriminasie (miskenning van minderhede se regte op taal)
11. Korrupsie en bevoordeling asook plundering van die staatsbates

Wat nou???

Arak ·

Goeie artikel, dankie.

Nog ‘n ding wat die media graag doen is om subtitels aan mense te koppel sodat hulle die persoon se opinie “waarde” kan gee of kan “afbreek”. Bv. die media sal graag na Shabir Shaik verwys as: “Die veroordeelde bedrieër Shabir Shaik”, maar in dieselfde asem sal hulle na Allan Boesak verwys as: “Die hoog leeraar, Allan Boesak”.

Verdere subtitels wat graag gebruik word is woorde soos “Die verregse”, “rassis” of “meningsvormer”.

Met die subtitel “meningsvormer” het ek ‘n besonderse probleem, want per implikasie is ons, liewe mede leser, so onnosel, dit is ‘n wonderwerk dat ons kneukels nie op die grond sleep as ons rondloop nie en het ons die spesiale super wese nodig, die “Mengingsvormer”, om vir ons ‘n mening te vorm.

Mag die woorde afrikaanses en meningsvormer ‘n vroegtydig dood sterf… en dit is my mening.

Johan 2 ·

Dankie. Noem dit eerder “debat” of so iets, “meningsvorming” maak nie sin nie. Dit klink soos “breinspoeling”… net my opinie.

Rupert Ashford ·

Johan 2: Die hele media speel deesdae ‘n breinspoelingspeletjie. Dit maak dit nogal moeilik om mens se eie opinie oor dinge te kan vorm maar bewustheid is al ‘n goeie begin. Dan is mens ten minste nie meer ‘n “sheeple” nie.

John ·

Eugene, gun tog die regering ook ‘n tv-stasie op by te ontspan. Geen slegte nuus, is? Se vir juffrou. Goeie nuus, jufffroouuu,….

Noeline du Toir ·

Die skrif is aan die muur! Ons werklike kinders van die Here moet ernstig saamstaan in gebed! Slegs die Here kan in hierdie chaos n uitkoms gee!!

Cobus ·

Noeline ek wil jou graag ondersteun. Dit is Christendom wat die angel van die verwêreldlikking is. Op alle gebiede reg oor die wêreld word Jesus aangeval en uitgetart. Gelukkig die wiel draai al is dit stadig. Daar is ‘n enorme aanslag op dit wat eens op ‘n tyd reg was

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.