Die ANC se groot grondleuen

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die media berig oor ʼn nasionale konferensie oor die Grondwet in Midrand wat op 24 Maart ten einde gekom het.

Uitsprake is onder andere deur dr. Mathole Motshekga, senior ANC-LP, gemaak dat die grootste bedreiging vir Suid-Afrika se demokrasie die regering se mislukking is om die grondkwessie op te los. Daar is verder gesê dat indien dit nie opgelos word nie, sal swart Suid-Afrikaanse burgers vir altyd in armoede vasgevang bly.

Dit is dalk tyd dat daar uitgestippel word wat word bedoel met “op te los”? Kan die ANC dalk uiteensit hoe lyk hul oplossing, veral gegewe voedselsekerheid? Hoe gaan die land lyk wanneer die ANC daarmee klaar is? Dit blyk hulle verstaan glad nie die feit dat landbou ʼn wetenskap is, waar ʼn boer se resultate van die produksieproses-uitkomste vir sukses al dan nie deurlopend getoets word deur die markkragte nie.

Dit laat ʼn mens verstom oor hoe die ANC en verskeie rewolusionêre organisasies voortstu met ʼn grondbelofte aan die massas en dink dat dit enigsins in belang van stabiliteit ʼn uitkoms van sukses kan gee. ʼn Paar aspekte moet in konteks gestel word.

Die feit is dat ons vandag verskeie volkere is wat in hierdie staatkundige model as gevolg van geskiedkundige omstandighede saamgevoeg is. Ons sit almal vasgevang onder ʼn regering met ʼn beleidsomgewing wat nog net afgebreek en geleenthede vir almal vernietig het. Werkloosheid en gepaardgaande armoede is die uitkoms vir die mense van Suid-Afrika.

Grondhonger vs rykdomhonger

Die sogenaamde grondhonger wat deurlopend voorgehou word as iets wat opgelos moet word alvorens swartmense rykdom sal kan hê, moet ook in perspektief gestel word.

Ongeveer 68% van Suid-Afrika se inwoners is vandag verstedelik. Hulle is afhanklik van suksesvolle produserende kommersiële boere wat voedsel volhoubaar aan die markte lewer om kos op hulle tafels te kan hê.

Ons bevolking is teen hierdie tyd sekerlik reeds stewig by die 60 miljoen verby.

Daar is ongeveer 37 000 kommersiële boere in ons land. Hulle is oor tyd deur die markkragte gesif as daardie mense wat in staat is om te boer – wat die nodige passie vir landbou openbaar, die verantwoordelikheid van wat dit verg om boer te wees aanvaar en die nodige kennis opgebou het (in baie gevalle oor geslagte heen) om al die veranderlikes van landbou te bestuur tot by winsgewendheid.

Die beginsel van die ekonomie van skaal is hier van toepassing en die praktyk het reeds seker gemaak (en doen dit steeds) om landbou-eenhede sodanig te evalueer, of daar hieraan voldoen word. Indien nie, is die noodwendige gevolg dat eenhede saamgevoeg word om sukses te kan verkry.

Die mistasting van die ANC se sogenaamde grondhonger wat kwansuis rykdom gaan skep lê juis hierin vasgevang. Indien die plase (en sommige van die kommersiële boere is reeds swart boere) alles oorgedra word aan “nuwe” swart boere is die grondhonger van ongeveer 37 000 mense “bevredig”. Al word die plase verdeel in kleiner eenhede sodat daar dan vir ongeveer 75 000 “grondhonger” persone grond gegee sal kan word, sal hierdie eenhede in elk geval nie meer ekonomies bedryf kan word nie as gevolg van die gebrek aan die ekonomie van skaal.

Dit is ʼn weglaatbare druppel in die emmer uit die meer as 60 miljoen mense. Die praktyk het tot nou toe gewys dat daar op die wyse hoe die ANC grond oorgedra het, meer as 90% van die oorgedraagde plase uit produksie gegaan het. Die enigste resultaat wat spoedig uit hierdie kortsigtige beleidsbenadering verkry sal kan word is ʼn gewaarborgde gebrek aan voedsel vir die verstedelikte inwoners van Suid-Afrika.

Ironies genoeg het restitusie-eisers geld in plaas van grond verkies. Duidelik is daar nie werklik ʼn grondhonger nie, maar eerder ʼn “rykdomhonger”. Die werklikheid is dat rykdom nie iets is wat bestaan nie, maar waarvoor gewerk word. Die vergoeding vir die gelewerde werk is die resultate van harde werk.

Grond bly politieke instrument

TLU SA is op rekord dat dit nie gaan oor watter ras of geslag ʼn boer kan of moet wees nie, maar of hulle suksesvol sal wees. Reeds in 2005 het TLU SA konstruktiewe voorstelle aan die ANC-regering gemaak wat uiteengesit het hoe enige nuwe toetreder ʼn billike kans op sukses kan hê om te boer.

Die enigste evalueringsmeganisme wat op die einde altyd die laaste woord sal hê – naamlik die markkragbeginsels – moet onbevange sy gang gaan. Hierdie evaluering sif natuurlik vinnig diegene wat die verantwoordelikheid van wat dit verg om boer te wees volledig aanvaar, teenoor diegene wat as kader reken grond is rykdom.

Die ANC het eerder die ideologiese pad gekies met die mislukkingsyfer duidelik daar vir almal om te sien. Vandag is dit steeds so dat grond deur die ANC gesien word as ʼn politieke instrument. Die ANC saal ʼn belofteperd op wat gewis vorentoe vir hulle bitter hard gaan afgooi, maar daarmee saam ook vir elke ander inwoner van die land. Die ANC het nie die vermoë om ʼn land sonder kos te stabiliseer nie, veral indien die tempo van verlies aan belastingbetalers sal voortduur soos tans ervaar word. Sosiale toelae se bron gaan opdroog en die anargie wat dan ontstaan sal onbestuurbaar wees.

Dit is ʼn uiters gevaarlike spel om grondbeloftes aan die massas voor te hou as rykdom. Dit is doodgewoon net nie waar nie. Rykdom word geskep deur ʼn entrepreneur wat die risiko neem om besigheid te doen waar die ander produksiefaktore, naamlik grondstowwe (die plaas in geval van boerdery), kapitaal en arbeid gesamentlik bestuur word tot by winsgewendheid. Indien daar nie wins gegenereer word nie, stuur dit af op bankrotskap en gewis nie rykdom nie.

Die oneerlikheid van die ANC teenoor hul eie mense oor grond kan eerstens, hoogstens ʼn klein deeltjie van die mense tevrede stel en dan heel waarskynlik sonder kos in die rakke. Dit is ʼn ietwat ernstige kortsigtige benadering en dit net om met sodanige beloftes die politieke steun te probeer behou of terug te wen. Suid-Afrika het voedselsekerheid nodig as waarskynlik die grootste stabiliseerder in ons land. Daarom is dit uiters onverantwoordelik om nie toe te laat dat die enigste meganisme wat kan verseker dat ons beskikbare landbougrond optimaal benut word, deur boere van enige ras, onbevange sy werk kan doen nie.

Ideologiese blindheid troef ekonomiese noodsaak

Die breë beleidsrigting en strewe na sosialisme en kommunisme – wat wêreldwyd nog niks anders as baie hartseer en armoede veroorsaak het nie – wat slaafs nagevolg word deur die ANC, het sedert hulle ʼn funksionerende land ontvang het, veroorsaak dat stelsels in duie gestort het. Geen beleggingsvertroue word geskep nie en dis een van die vereistes om ekonomiese groei te bewerkstellig. Vertroue is die basis waarop enige entrepreneur sal beplan om ʼn keuse te maak om ekonomies aktief te raak in ʼn land.

Die beheptheid met ʼn emosioneelgerigte beskouing dat onteiening sonder vergoeding enigsins in die ekonomiese omgewing sin maak, sal enige logiesdenkende mens laat besef dat die rooi ligte vir beleggersvertroue helder brand. Die markte het reeds slegs by die aanhoor daarvan begin reageer. Sedert die begin van die jaar tot en met begin-Maart 2023 het R100 miljard van buitelandse valuta die land reeds verlaat.

Die feit is dat die sosio-maatskaplike probleme onder die ANC se beleid jaarliks versleg. Werkloosheid en misdaad is buite beheer en hul kortsigtige oplossing om net meer sosiale toelae te wil uitdeel se versadigingspunt is binnekort hier.

Hoe lank reken die ANC nog dat hulle mense kan voed met ʼn ideologie wat verpak is in beloftes, maar geen sukses oplewer nie? Dit is danksy die privaat sektor dat daar nog enigsins ʼn mate van stabiliteit in die land is.

Dit is verstommend hoe ekonomiese groei aangekondig word, asof dit so eenvoudig is, maar dan word al die verkeerde dinge gedoen wat die markte negatief evalueer.

Dalk het dit tyd geword dat geen persoon wat verkies word om in die parlement die land se wette te gaan maak verkiesbaar mag wees indien hulle nie Ekonomie 101 agter hulle naam het nie. Dalk, net dalk, kan daar dan konteks kom oor hoe ekonomiese groei verkry word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Renier ·

Goed geskryf Bennie,maar die kaders sal dit nooit verstaan nie.

Elmarie ·

Hul WIL nie verstaan nie. Hulle soek net votas om te, stem in vlg verkiesing. Alles “window dressing” want hulle wil hê votas moet vir hulle stem

Marthie ·

Daai som van soveel grond verdeel tussen 60 miljoen mense is so eenvoudig, dit gaan mens se verstand te bowe dat enigiemand hierdie populistiese uitsprake kan glo. Soos tereg gestel, daar is niks gevaarliker as honger mense nie. SA se mense ken dit nie, hulle is gewoond aan vol winkel rakke met kompeterende kospryse, alles te danke aan die boer. Vat daai weg, en jy het anargie.

Koos 100 ·

Rykdom word aan beeste en kinders gemeet, nie wat in jou bankrekening aangaan nie. As jou beeste dan jou rykdom is, dan sal jy hulle mos nie verkoop nie? Ek dink hier lê een van die probleme.

Dan die ander kwessie, as jy ‘n leuen genoeg herhaal dan kan dit as die waarheid verkoop word.

annie ·

Ongelukkig sal geen verduideliking hoe wetenskaplik ookal uiteengesit gierigheid wat ingebed is as ‘n ‘reg’ uitwis word nie. As SA opgebrok word en die plan sal nie werk nie, sal ‘ander’ steeds die skuld kry. Naaste-op-naaste-moorde sal hoogty vier: Jy het meer/beter as ek. Mensvreters sal weer gedy wanneer kos opraak. ‘n Jaloerse begeerte word deur die ANC aangewakker, maar die nagevolge ontken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.