Die Belhar-debat: God is dieselfde God vir ryk én arm, verontregtes én bevoorregtes

ng-kerk-franschhoekHierdie artikel deur ds. PJ Kriel is deel van Maroela Media se reeks uiteenlopende artikels oor die Belhar-debat. Volg gerus die Belhar-debat op Maroela Media se debatsplatform, Die Groot Debat. -Red

Die besluite wat die Algemene Sinode in 2011 geneem het, het ’n proses in werking gestel waarvan die doelwit is dat die belydenis van Belhar ’n nuwe belydenisskrif van ’n nuwe voorsiene spirituele gemeenskap sal wees. Dit word voorsien dat hierdie nuwe spirituele gemeenskap gekonstitueer sal word, as en wanneer die NG Kerk, as kerk wat net volgens die drie ekumeniese belydenisse en die Drie Formuliere van Eenheid gekonstitueer was, ontbind het.

Die Algemene Sinode van 2011 verwys reeds na die Belharbelydenis as ’n belydenis “ooreenkomstig die Woord van God”. Dit beteken dat alles in die Belharbelydenis volgens die Woord van God waar is. Dit plaas my as NG predikant, wat gelegitimeer en georden is volgens die drie ekumeniese belydenisse en die Drie Formuliere van Eenheid, in die posisie dat ek nie ’n predikant vir so ’n nuwe spirituele gemeenskap, of vir die NG Kerk sal kan wees nie.

Dit is so omdat dit eerstens voorsien word dat daar na hierdie vereniging in ’n nuwe spirituele gemeenskap nie meer ’n NG Kerk in naam of konstitusie sal oor wees nie. Die NG Kerk sal vervang wees deur ’n nuwe spirituele gemeenskap met ’n nuwe naam en ’n nuwe konstitusie.

Tweedens sal ek waarskynlik die geleentheid gebied word om ’n predikant in hierdie nuwe spirituele gemeenskap te wees, met dien verstande dat ek die nuwe belydenisse van die nuwe spirituele gemeenskap sal moet onderskryf of stilswyend sal moet aanvaar dat ander dit as “ooreenkomstig die Woord van God” onderskryf.

Met hierdie verpligte stilswye sal die verbintenis aan die Woord van God dan in hierdie spirituele gemeenskap opsioneel wees. Hierteenoor is dit binne die Gereformeerde Kerkreg onmoontlik dat ’n Christelike kerk volgens ’n geloofsbelydenis gekonstitueer is, wat volgens die kerk in elke deel in ooreenstemming met die Woord van God die waarheid is, maar dat verbintenis aan hierdie belydenis opsioneel is. So ’n tipe spirituele gemeenskap kan nie die kerk van die Here wees nie. Ek sal nie hierdie opsionele verbintenis aan God se Woord of hierdie opgelegde stilswye aanvaar nie.

As predikant het ek net toegang tot die kerkraad van Levubu, die ring van Louis Trichardt en die Noordelike Sinode. Die kerkraad van Levubu en die ring van Louis Trichardt het hulle van die Belharbelydenis gedistansieer en besluit om nie as NG Kerk te ontbind nie. Die Noordelike sinode het die standpunt van die ring van Louis Trichardt, naamlik, “die verwerping van die ontbinding van die NG kerk vir die stigting van ’n nuwe kerk waarin die NG kerk moet opgaan ter wille van kerkeenheid”, reeds in 2005 ontvang en aan die Algemene Sinode deurgegee. Daar was nog geen reaksie tot en met 2012 nie. Die Noordelike Sinode het ook tot op hede toe nie ’n geleentheid geskep waar die inhoud van die Belharbelydenis óf deur predikante saam bespreek óf deur die sinode teologies saam oor besin is nie.

Terselfdertyd word ek as predikant net voor die feit gestel dat die Algemene Sinode reeds die inhoud van die Belharbelydenis aanvaar het as synde ooreenkomstig die Woord van God. Ek het geen toegang as predikant tot hierdie vergadering om self insette te maak nie. Terselfdertyd word hierdie nuwe spirituele gemeenskap, wat die NG Kerk moet vervang, reeds deur NG Kerk se verteenwoordigers in die openbare media bemark en verdedig. Predikante en lidmate wat nie met hierdie belydenis sou saamstem nie, word reeds van rassisme verdink en geredelik so gesien en so voorgestel in die gemeenskap.

Dit plaas my as predikant in die posisie dat indien ek sou swyg, dit kerkregtelik en gemeenregtelik sou impliseer dat ek deel van hierdie proses is om die Belharbelydenis te aanvaar. Daarom neem ek die vrymoedigheid om my geloof in Christus en waarom my geloof in Christus my nie toelaat om die Belharbelydenis te aanvaar nie, openlik te stel en om dit eerstens binne kerklike vergaderings van die kerkraad van Levubu tot en met die Noordelike Sinode en tweedens ook in die openbare gemeenskap te doen.

1. Die begrip “armes” in die Woord van God is allereers ’n verbondsbegrip. Dit beskryf die posisie van die verbondskinders voor God in hul onvermoë om regverdig vir God en hul naaste te wees deur hul onderhouding van die geregtigheid van God se wet. Hulle kan nooit self regverdig wees nie. Nog minder kan hulle self verteenwoordigers van geregtigheid wees. Dit beskryf ook die verbondskinders se status en posisie teenoor die mag van goddeloses en ongelowiges in hierdie wêreld wat hul eiegeregtigheid uitleef asof dit God se geregtigheid of goddelike geregtigheid is.

2. Die beskrywing van God in die Belharbelydenis as: “dat Hy in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is, en dat Hy die kerk roep om Hom hierin te volg”, is nie ’n belydenis van wie God in sy verbondstrou aan sy kerk is nie. Dit is bloot ’n verklaring oor wie God vir al hierdie sosiale klasse en groeperinge van mense in die wêreld sou wees; dit is, vir álle armes, álle noodlydendes en álle verontregtes in die wêreld.

3. Daarom is “armes”, “noodlydendes” en “verontregtes” in die Belharbelydenis nie ’n aanduiding van die verbondsgemeenskap nie, maar van die wêreldgemeenskap in armoede, nood en verontregting.

4. Die besondere wyse waarop God God is, is deur sy verbond met sy kerk. God is nie vir enige sosiale klas teenoor ’n ander klas in die wêreld op ’n besondere wyse God nie.

5. In hierdie verbond is God nie vir armes en verontregtes meer besonders God as vir rykes en bevoorregtes nie. In hierdie verbond ontvang armes en rykes presies dieselfde goedheid, genade, liefde en barmhartigheid van God op presies dieselfde wyse: net deur Christus en net deur geloof in Christus.

6. In God se voorsienigheid vir sy kerk is God ook nie meer besonders God vir gelowige armes en verontregtes as vir gelowige rykes en bevoorregtes nie. In sy voorsienigheid laat God die armoede en verontregting van sy kinders ten goede wees. Hy neem nie noodwendig die armoede, nood en onreg weg nie. Sy kinders ontvang rykdom en voorregte as gawes soos God dit wil en beskik. Arm en verontregte kinders van God, en ryk en bevoorregte kinders van God deel almal in dieselfde voorsienige sorg van God.

7. Buite God se genadeverbond is God ook nie vir armes en veronregtes in die wêreld op ’n meer besondere wyse God as vir rykes en bevoorregtes in die wêreld nie. Buite God se genadeverbond laat God armoede én rykdom, onreg én reg, nood én vreugde, goddeloses en afgodsdienaars tot oordeel wees. Goddelose en ongelowige rykes en bevoorregtes is nie meer of minder aan die oordeel van God onderworpe omdat hulle ryk en bevoorreg is nie, en armes en verontregtes is ook nie meer of minder onder God se oordeel omdat hulle arm en verontreg is nie. Buite God se genadeverbond is ryk én arm, verontregtes én bevoorregtes, noodlydendes én hulle wat in oorvloed leef, op dieselfde wyse onder die oordeel van God.

8. Nog minder is God buite sy verbond besonders God vir goddelose en ongelowige armes en verontregtes op so ’n wyse dat Hy hul reg op ’n besondere wyse herstel om ryk en bevoorreg te word nie. God kry hulle nie meer jammer as vir ryk goddeloses nie.

9. God in sy regering oor die wêreld is nie net besonders God waar Hy mense met welvaart en welsyn seën nie. God in sy regering in die wêreld, oor die wêreld, is ook besonders God waar Hy in sy toorn oor hul sonde, stede, volke, nasies en gemeenskappe verarm, oorgee aan die nood van vernietiging en die lyding van verwoesting; mense in sy grimmigheid oor hul magsug deur oorloë en geweld wees en kinderloos laat wees; mense weens hul gierigheid en luiheid in sy woede verarm deur ekonomiese ineenstortings en werkloosheid; mense in sy onbarmhartigheid aan die onreg van magtiges oorgee, omdat hulle dit van geen belang geag het om Hom as God te eer nie.

10. God is besonders in sy onvergelykbare andersheid as God. Die wyse waarop God in die Belharbelydenis besonders gemaak word, deurdat Hy vir een sosiale groep of gemeenskap teenoor ’n ander sosiale groep in besonder God sou wees, is nie besonders nie. Dit is hoe mense in hul goddeloosheid en ongeloof God met hul eie belange en godsbeelde identifiseer.

11. Hierdie identifikasie met God volgens menslike klasse, groepe en ordes is nie geloof in die God wat Homself in die Bybel openbaar nie. Identifikasie met God is die kern van alle afgodsdiens, ook van die moderne Christelikheid. In hierdie identifikasie met God, word God soos Hy Homself in die Skrif as onvergelykbaar anders as mense en hul godsbeelde openbaar, tot net nog ’n menslike afgod gemaak.

12.Die wyse waarop kerkeenheid in die Belharbelydenis verbind word aan die belydenis van God as die God wat in besonder en op ’n besondere wyse die God van armes, verontregtes en noodlydendes sou wees teenoor welvarende, vrye en bevoorregte mense vir wie God nie besonders God op ’n besondere wyse is nie, neem die onderskeid tussen die kerk van die Here as verbondsgemeenskap en die wêreldgemeenskap in sy goddeloosheid en ongeloof weg.

13. Hierdie gelykstelling is vir die Belharbelydenis nodig, want dit roep die kerk in sy geloof en diens aan God op tot ’n klasse- en regstryd tussen armes, noodlydendes en verontregtes in hierdie wêreld teen welvarende, vrye en bevoorregte mense in die naam van God. Hierdie klassestryd word as God se saak voorgehou waarin die kerk God moet navolg.

14. Dit is hierdie gelykstelling tussen God se verbondsgemeenskap en armes in die gemeenskap, as gewoon sosiale groepering, saam met die identifikasie dat God in besonder die belange van hierdie gemeenskap sou dien, wat die Belharbelydenis van die begin af deel van die rewolusionêre gees en stryd teen die vorige politieke bedeling gemaak het. Dit is nou weer in hierdie rewolusionêre gees teenoor die nuwe regering wat die Belharbelydenis aan verarmende, verontregte en noodlydende Afrikaanses voorgehou word as juis die tipe belydenis waarin hulle spiritueel moet verenig. Dit is in hierdie gees dat kerklike amptenare en verklarings nou al in die NG Kerk neerhalend na die regering ná 1994 verwys as “Die Regime”.

15. Ek glo in Jesus Christus as Here en deur Christus as Here weet ek dat identifikasie met God afgodsdiens en goddeloosheid is. Om een magsbedeling, waarin God met die Afrikanervolk en hierdie volk se saak gelykgestel is en wat voorgehou is as die wyse waarop God besonders God is, te verruil vir ’n nuwe magsbedeling, waarin God nou weer in besonder God is vir ’n spesifieke sosiale klas of gemeenskap, is geen bekering soos wat mense dit graag deur die Belharbelydenis wil voorhou nie. Dit is dieselfde goddeloosheid en afgodsdiens wat net in en deur ’n nuwe magsgroepering voorgehou word.

16. Ek glo in God omdat Hy God is en God is soos Hy Hom in sy Woord openbaar. Hierdie openbaring bely ek saam met die Gereformeerde Kerke in die drie ekumeniese geloofsbelydenisse en die Drie Formuliere van Eenheid. In hierdie belydenisse word die besondersheid waarop God vir sy kerk God is, bely.

17. Ek sal nooit God kan bely as God wat vir spesifieke sosiale klasse, ordes en groeperinge in die burgerlike gemeenskap op ’n meer besondere wyse God is as vir ander groeperinge in die burgerlike gemeenskap nie. Dit is Skriftuurlik onwaar. Daar is nie só ’n God nie.

18. Ek sal dit nie doen nie. Al besluit die Algemene Sinode van die NG Kerk dat dit volgens húlle nou so is dat God meer besonders God is vir spesifieke burgerlike gemeenskappe as vir ander; ook nie al besluit ander kerke en kerkvergaderinge buite Suid-Afrika só nie. Die kerklike politiek van nog méér en nog groter vergaderings sal my nie oortuig om só in God te glo nie.

19. Nog minder sal ek daarom God só bely net omdat ander God só sien, omdat dit vir hulle besonders was om met God op hierdie wyse te identifiseer of omdat hierdie identiteit met God in hierdie godservaring vir hulle kosbaar is. Ek glo nie in en bely nie my geloof in God om mense se godservarings te akkommodeer nie. Hierdie akkommodasie van godservarings is nie die Skriftuurlike gronde vir kerkeenheid nie. Skriftuurlike kerkeenheid is eenheid in die geloof in openbaring van God in die Skrif. Ek sal nooit met mense een kan wees in die geloof dat God meer besonders God vir een gemeenskapsgroepering as vir ’n ander is nie.

20. Nog minder sal ek hierdie tipe identifikasie met God aanvaar as Skriftuurlik om my nierassigheid te probeer bewys. Ek onderskei my nie as gelowige teenoor ander rasse, volke, kulture, sosiale klasse of groeperinge in en deur my geloof nie. Deur my geloof in Christus onderskei ek my slegs teenoor goddeloses en ongelowiges se identifikasie met God en hul godsbeelde deur hul identifikasie met God.

21. Nog minder sal ek hierdie identifikasie met God aanvaar as Skriftuurlik, net omdat yweraars voorhou dat die armes meer toeganklik vir hul spiritualiteit en sosiale opheffingswerk sou wees indien die kerk God as ’n besondere God vir armes sou voorhou. Uitreikaksies na arm, verontregte en noodlydende gemeenskappe, wat God voorhou as ’n God wat Hom in besonder oor hierdie sosiale groeperinge ontferm teenoor ander sosiale groeperinge, is nie besig met die sending van die kerk van die Here nie. Hulle is net besig om hulself met hierdie sosiale groeperinge te identifiseer ter wille van hul eie spirituele mag en belange.

22. Nog minder sal ek hierdie identifikasie met God as Skriftuurlik aanvaar omdat ek my werk as predikant in die nuwe spirituele gemeenskap wil behou. Ek wil my geloof in God behou dat God besonders God vir sy kerk is. Ek wil nie in hierdie tipe god glo waardeur mense, wat hulle as geestelike leiers voorhou, elke nuwe magsbedeling vergeestelik of vergoddelik en elke vorige magsbedeling vervloek of verguis nie.

23. Sou ek dan deur kerklike vergaderings gedwing gaan word om die Belharbelydenis as Skriftuurlik waar en reg te moet aanvaar, en só gedwing sou word om te moet glo dat God vir sekere gemeenskappe en klasse in gemeenskappe meer besonders God is, dan kies ek vir my geloof in Jesus Christus, nie vir my werk, my salaris, my pensioen en mediese fonds as predikant nie.

24. Vir hierdie ongeloof in God waar God meer God vir sekeres teenoor anderes in die burgerlike gemeenskap sou wees, sal ek nooit ’n prediker of net ’n stilswyende metgesel ter wille van my eie welvaart of welsyn word nie.

25. Ek sal bly glo dat ek met alle ander gelowiges uit ander tale, kulture, gemeenskappe in die belydenis van die Drie Ekumeniese belydenisse en die Drie Formuliere van Eenheid, een kerk is, en dat ons as een kerk ook in vergaderings, eredienste en alle kerklike werksaamhede hierdie eenheid moet uitleef.

26. Identifikasie met God, deur Hom as besonders voor te hou soos Hy in die Belharbelydenis voorgehou word, verskeur geloof in Christus. Al is mense dan een spirituele gemeenskap, een organisasie, met een sosiale naam, al kom hulle almal in een taal, in een erediens of een spirituele vergadering byeen, en al is hulle een spirituele gemeenskap vir een nuwe nasie, is hulle nie meer die kerk van die Here Jesus Christus nie.

27. In hierdie nuwe, een spirituele gemeenskap is God net weer die voorkeurgod van ’n nuwe belangegroep. Ons het tog as NG Kerk hierdie tipe magsgreep op die kerk afgeskud toe ons met “Kerk en Samelewing” die identiteit tussen kerk en volksgroep of nasie, en daarmee enige sosiale of burgerlike groep, verwerp het. Kerk en samelewing kan nooit identies wees nie. Hierdie tipe afgodsdiens, wat God se Naam, Persoon, Wil en Krag opeis asof dit sy eie is, en só God self verdeel in ’n diversiteit van innerlike teenstrydige spiritualiteite en godsbeelde, waar God nog net as God een kan wees deurdat hulle wat Hom sou verteenwoordig, een in mag, struktuur, organisasie of naam is, het ons tog reeds verwerp.

28. Die Belharbelydenis is slegs een vorm van die verskuiwing van geloof in Christus na identifikasie met God. In die verskeuring van die eenheid van die kerk in sy geloof in hierdie verskuiwing van identifikasie van een geloof tot identifikasie met God na verbeelding, wil en smaak, kan eenheid nog net voorgehou word as die eenheid van die diversiteit van teenstrydige spiritualiteite in één mag, één struktuur, één organisasie of één naam. Ek sal myself nooit deel van hierdie leuen maak nie.

29. Nog minder sal ek myself deel van die leuen maak asof hierdie eenheid van diverse spiritualiteite ’n demonstrasie sou wees van die wyse waarop God een is. Dit is ’n geestelike leuen. Hierdie sigbare openbare vertoon van hierdie tipe god se eenheid gaan bloot net oor die versugting om groter spirituele mag te kon kry om die wêreld aan hierdie geestelike mag te kan onderwerp. Hierdie eenheid in spirituele mag is nie die eenheid in die geloof waarin die kerk na die wêreld gestuur word nie. Wie met God wil identifiseer in die naam van Christus, verskeur die kerk in die eenheid van sy geloof in Christus.

30.Vir hierdie voorkeurgod met wie spesifieke burgerlike groepe mense nou weer in en deur Christus wil identifiseer asof Hy besonders húl god is, sal ek nie ’n predikant kan of wil wees nie.

31.Ek sal ook nie teenoor hierdie valse godsbeeld stilbly nie. Ek sal teenoor hierdie godsdienstige leuen openlik die waarheid van die Skrif preek: die wyse waarop God besonders God in sy genade en voorsienige sorg is, is vir sy verbondsvolk, sy kerk. Hier is God op dieselfde wyse God vir elke gelowige, sonder enige sosiale, klasse- of groepsonderskeid. Vir ongelowiges buite sy verbondsgenade is God besonders God in en deur sy oordeel oor ryk én arm, verontregtes én bevoorregtes, noodlydendes én hulle wat geen nood ervaar nie.

Belhar_VoorbladBestel nou jou kopie van Belhar geweeg

In Kraal Uitgewers se boek Belhar geweeg ondersoek 18 skrywers en bekendes die waardigheid van Belhar as belydenisskrif. Belhar geweeg skets nie net die agtergrond waarteen Belhar saamgestel is nie, maar vra ook brandende vrae oor die moontlike invloed van die aanvaarding van Belhar. Die boek bestaan uit ses hoofstukke met artikels wat fokus op onder meer die ontstaan van die Belydenis van Belhar en die agtergrond waarteen dit saamgestel is, die kerkordelike pad wat gestap is en die reaksie van ander kerke en jonger kerkleiers in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Belhar geweeg sluit ook die volledige teks van Belhar in sowel as die begeleidende brief wat daarmee saamgelees moet word.

Skrywers sluit in prominente kerklui soos die voormalige moderator van die NG kerk, prof. Piet Strauss, en bekendes soos die voormalige polisiehoof, genl. Johan van der Merwe.

Belhar geweeg is beskikbaar by Kraal Uitgewers. Maroela Media-lesers kan die boek nou bestel teen die spesiale afslagprys van R70 (R20 posgeld en verpakking uitgesluit). Besoek www.kraaluitgewers.co.za om dit te bestel.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Petrus Kriel

Petrus Kriel is dominee van die NG Kerk Levubu.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Carel Boshoff van Orania ·

Petrus
Weldeurdag! Sterkte, vriend.
Carel

Carel Boshoff van Orania ·

Petrus
Weldeurdag! Sterkte, vriend.
Carel

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.