Die blok om ons been

Dr. Danie Langner. Foto: Reint Dykema.

In 1960 het Die Voortrekkers die Uniefees met ’n fakkelloop gevier. Een van die spanningsvolle oomblikke tydens die fakkelloop was toe die Danskraalgelofte-kommando die Uniefeesfakkel vanaf Ladysmith na die grens van die Vrystaat via Van Reenenspas gedra het. ’n “Geweldige windstorm” op die Drakensberg het die offisiere soms laat “vrees dat die klein drawwertjies en penkoppe oor die afgronde gewaai sal word.” Dít was egter nie die organiseerders se nagmerrie nie. Die nagmerrie was dat die winde die fakkelvlam sou doodwaai.

Hoekom was die brandende fakkelvlam so belangrik? Die antwoord moet 22 jaar terug gesoek word in Die Voortrekkers se 1938-fakkelloop vanaf Kaapstad tot by die Voortrekkermonument. Tydens die wegspring het dr. AJ van der Merwe, leraar van die Groote Kerk, in Kaapstad gebid:

“Mag die brandende fakkel vir ons nie alleen die simbool van ’n grootste verlede wees nie, maar mag dit ook vir oud en jonk ’n aansporing wees tot ’n nuwe toewyding aan die ideale van die voorgeslagte.”

In Bloemfontein sê die bejaarde kerkvader dr. JD Kestell:

“Dit is onbeskryflik wat in ons hart lewe. Dit is wonderlik dat die fakkel brandende gehou is van Kaapstad tot hier. Ons moet sorg dat dit ook in die toekoms brandende gehou word.”

Met die 1938-fakkelloop, en elke fakkelloop daarna, was die fakkelvlam die simbool van die Afrikaner se kulturele strewe. Trots. Wilskrag. Selfstandigheid. ’n Roeping om ligdraers te wees.

Deur die gang van dekades, in verskillende kontekste, was daar maar altyd ’n moontlikheid dat die fakkelvlam van ons kultuur doodgewaai kon word. Wanneer die klein vlammetjie eers geblus is, is dit bykans onmoontlik om dit weer aan die brand te steek. Dit is nie te betwyfel dat daar vandag ook geweldige stormwinde is wat teen die klein fakkelvlam van ons kultuur waai nie. Dit is skaars nodig om te verwys na die eietydse politieke, maatskaplike, demografiese, morele, geestelike en ekonomiese stormwinde wat verwoed waai, of die windstorms wat telkens dreig om Afrikaans en Afrikanererfenis oor afgronde weg te waai. Die vraag is nie hoe keer ons die stormwinde wat teen die fakkelvlam waai nie – dit is bykans ’n onmoontlike taak – maar hoe hou ons die ideale wat die klein fakkelvlam verteenwoordig, brandend te midde van soveel stormwinde?

NP van Wyk Louw gee koers: “Die geskiedenis (daarmee bedoel hy ook ons kultuur en tradisie) is soos ’n blok om die been,” skryf NP van Wyk Louw in Liberale Nasionalisme. “Op ’n baie jong ouderdom kry ons die blok om die been en kom nooit heeltemal hiervan los nie.”

Hoe nou gemaak? Van Wyk Louw se raad is om nie die swaar en lastige blok op so wyse saam te sleep sodat dit teen elke spreekwoordelike klip en bos vashaak nie, maar om dit op tel, goed te bekyk en te sien waar dit in eie konteks geskaaf en geskuur kan word.

Van Wyk Louw se blok-om-die been-metafoor dui op twee risiko’s wat die fakkelvlam kan blus en ’n oplossing om die fakkelvlam helder te laat brand.

Verstikkende benoudheid

Die eerste risiko is kulturele verstarring. Reaksionêre tradisionaliste beskou die handel en wandel van die voorgeslagte as rigtinggewend vir elke toekomstree. Van Wyk Louw som dit treffend op:

“Die gebruike van die verlede vorm ’n kraal waaruit niemand mag toegelaat word om te loop nie.”

’n Onbuigsame moralisme, die lewenshouding waaruit alles volgens onwrikbare idees oor goed en kwaad beoordeel word, is vir die reaksionêre tradisionaliste die maklike antwoord op die vrae van ons tyd. Die uitdagings van die werklikheid en die eise wat dit aan kultuur stel, word dikwels onderspeel deur die verlede as ’n volks-romantiese ideaalbeeld op eietydse konteks te projekteer. Behoud van tradisie en die waarde van die verlede, word ongelukkig verwar met ’n verstikkende benoudheid en ’n strak rigiditeit. Dit lei tot kulturele verstarring. Of, om dit anders te stel: kultuur en tradisie word ’n swaar las. ’n Ongemaklike blok-om-die-been wat voortdurend op ’n onverkwiklike wyse teen alles en almal bly haak.

Onversetlike rigiditeit en onbuigsame standpunte beskerm nie die kultuurvlam of dra kultuur eietyds vorentoe nie. Om die waarheid te sê, dit vererger die risiko’s wat Afrikanerkultuur in die gesig staar, juis omdat dit die volgende geslag – wat die fakkelvlam vorentoe moet dra – van Afrikanerkultuur vervreem. Jongmense sien vinnig deur die kwalik bedekte hoogmoed, inkonsekwentheid en skynheiligheid wat in onbuigsame moralisme opgesluit lê. Nog erger, ’n onversetlike moralisme en kulturele verstarring lei maklik tot kulturele isolasie en irrelevansie. Nie net van die kultuurleier nie, maar ook die kulturele belang wat hy verteenwoordig.

Johan van der Walt, voormalige hoofleier van Die Voortrekkers, Gereformeerde predikant, maar veral ’n visioenêre en oopkop kultuurleier waarsku in die negentigerjare:

“Dit is ons plig om met voorposdenke voor te bly. Voorposdenke is ’n gesindheid van ontdek, innoverend wees om te verander ter wille van verbetering. Jou beginsels is vir jou ankers en nie hekke nie. Vertrekpunte wat die eindpunt behaal omdat dit soos ’n goeie kompaslesing jou op die regte koers plaas. Hierdie soort denke bring altyd weerstand. Mense wil graag by die bekende bly. Grondslag, wese en doelstellings is hul verskoning om te stagneer. As jeugorganisasie is Die Voortrekkers verkennend en ontdekkend van aard. Voorposdenkers skud deur die geskiedenis die geslagte met hul nuwe denke omdat hulle met die vaste vertrekpunte van beginsels, nie bang was om te waag en verby die dimensies van vrees en vooroordele te beweeg nie. Mense wat nie bereid is om vorentoe te dink nie, verplaas die probleem na die volgende geslag.”

Die ironie is dat dit uiteindelik nie die stormwinde is wat die fakkelvlam doodwaai nie. In die verbete pogings om te bewaar en te behou, word die fakkelvlam, lank voor stormwinde dit kan doodwaai, deur die reaksionêre tradisionaliste versmoor.

Kulturele ontkenning

Die tweede risiko is diegene wat óf heeltemal in kulturele ontkenning leef óf hulle totaal van die blok-om-die-been wil distansieer. In reaksie teen die onversetlike moralisme van die reaksionêre tradisionaliste, kom die anti-tradisionaliste in opstand teen enige vorm van kultuur, tradisie en geskiedenis. Hulle verseg om die fakkelvlam selfs een tree te dra. In hul strewe na ongebondenheid, meen die anti-tradisionaliste die verlede is boos. Die blok-om-die-been is iets waarvan hulle ten alle koste bevry moet word.

Dit is die groter risiko van ons eie dag. Waar die reaksionêre tradisionaliste se benadering deesdae meer subtiel en genuanseerd in hul benadering is, is die polities korrekte koor van anti-tradisionaliste luidkeels in hul weersin teen Afrikanerkultuur en -tradisie. Die anti-tradisionaliste is siende blind vir die negatiewe gevolge van ’n totalitêre inklusiwiteit wat die waarde van enige diversiteit en die krag van ’n gemeenskap by voorbaat misken. Mens staan dikwels verstom oor hul onvermoë om in Kruger se woorde selfs net die goeie uit die verlede raak te sien, wat nog te sê om daaruit te haal en voort te bou vir die toekoms.

Rigiede individualisme, tesame met die verlies van kulturele kapitaal en die ryk bronne van tradisie, laat anti-tradisionaliste ankerloos, koersloos en windverwaaid deur die gang van tye dwaal.

“Hoe sal hy weet wat en wie werklik groot is?”, vra van Wyk Louw. Die anti-tradisionalis het geen voorbeelde van die verlede waaraan hy werklike grootheid kan meet nie. “Boksers, filmsterre, rampokkers – almal oor wie die hele wêreld praat (die hele wêreldjie wat hy ken) lyk vir hom groot.”

Dalk is dit ’n bedekte seën dat die fakkelvlam nie in hul hande is nie, want voordat die anti-tradisionaliste dit agterkom, het hulle al lankal oor die donker afgronde van niksheid gewaai.

Vanuit ’n tradisie na die toekoms

Tog is daar diegene wat die fakkelvlam veilig oor die bergpas, verby die afgronde dra. Hulle verteenwoordig die oplossing en die toekoms. Hulle kies vir die derde weg anderkant verstarring en ontkenning. ’n Weg wat, in die woorde van Van Wyk Louw, erkenning gee dat beide die hede en die verlede “regte” en “wysheid” het. Dit is hulle wat nie in die verlede vasval of die waarde daarvan ontken nie, maar “vanuit ’n tradisie” na die toekoms leef. Vir Van Wyk Louw is dit ’n “leef in ’n bestendige debat met die verlede.”

Die verlede strek ook nie net terug tot 1652 nie. Ons kultuur word immers deur diep wortels uit die breë beddings van die Joodse, Griekse, Romeinse, Christelike en Westerse tradisies gevoed. Die leef vanuit die rykdom van ons tradisie na die toekoms vra ’n ingesteldheid van openheid en aanpasbaarheid. Tradisionaliste se benadering tot kultuur is begeleidend en karaktervormend met die doel om te handhaaf en te bou.

Die gebalanseerde benadering koester die goeie uit die verlede en gebruik dit as boublokke vir die toekoms. Dit stel ’n lewenskragtige kultuurorganisasie in staat om met verbeelding vanuit ’n duidelike roepingsverstaan ’n positiewe toekomsbeeld anderkant die engtes van tydsomstandighede te ontwikkel. Afrikaners is nie reaktief nie, maar ’n gemeenskap wat in elke historiese krisis ’n positiewe toekomsbeeld deur denke ontwikkel het en daarna hulself aan die hand daarvan verwerklik het. Afrikaners is pioniers wat nuwe horisonne raaksien, nuwe spore trap, nuwe lande omploeg, wat groot kan droom en na die toekoms koers kan hou.

Afrikaners moet weer hul roepingsbewustheid en ideale herwin deur met groot erns na te dink oor wat vra die Here van ons in hierdie tyd, in hierdie land, in hierdie kontinent. Roepingsbewustheid is die vlammetjie wat selfs te midde van meesleurende stormwinde toekomshoop brandend hou.

Vanuit dié vertrekpunt word die blok opgetel, as deel van ’n eie identiteit gekoester, deur verbeeldingryke denke en dade geskaaf en geskuur totdat dit ’n ligter en gesellige reisgenoot op die bergpas is. Só word die blok nie ’n swaar las nie, maar ’n anker wat die fakkeldraer teen die stormwinde beskerm.

Die stormwinde kan maar waai en dreigende donker afgronde langs die pad wink, maar die fakkelvlam van Afrikanerkultuur brand helder. Hoekom? Omdat die goeie olie van ’n ryk tradisie die vlammetjie vandag steeds voed en diensbare hande die fakkel vorentoe dra.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Deur ons Afrikanergeskiedenis was daar ‘n Helper wat ons bygestaan het met voorwaarde dat ons Hom aanbid. Ons voorvaders was baie meer gelowig as ons vandag. Die Vader het nie verander nie, ons het. So, wat is dringend nodig?

Josef du Toit

Die oorgrote meerderheid van ons Duitse stamouers het gou deel geword van daardie “rigiede” Calvinistiese erfenis gestig deur Geus en Hugenoot. Hoe dan anders, gegewe die Heidelbergse Kategismus. Tereg behoort daar na die Boere-Afrikaner se stamouers verwys te word as Geus, Hugenoot en Heidelberger. By hierdie wortel van ons volksbestaan, sien ek niks behalwe “onbuigsame standpunte”, met “onwrikbare idees oor goed en kwaad”, en ‘n “strak onversetlike rigiditeit” nie. So ook by elke omwenteling in ons volksgeskiedenis, was dit “onbuigsame” en “onwrikbare” geloof in God en sy gebod wat ons staande gehou het, terwyl dit juis die “voorposdenkers” was wat… Lees meer »

OW

“Afrikaners is pioniers wat nuwe horisonne raaksien,nuwe spore trap en nuwe lande ploeg,wat groot kan droom en na die toekoms koers kan hou” Ek stem volkome met hierdie stelling saam.Wat se waarborg is daar egter dat daar nie weer ‘n herhaling van die verlede kan plaasvind dat dit wat vandag opgebou word,nie weer op ‘n skinkbord weggegee word nie?In Afrika is geen waarborge nie.Hoekom het adv John Vorster al in 1975 tydens die inhuldiging van die Taalmonument gesê,wie kan ons erfenis van ons wegvat.Hy het daardie tyd al geweet hier is moeilike tye oppad.Dit lyk nie vir my of die… Lees meer »

minnie

die grondwet is net geldig op papier….. wit afrikaan het geen regte nie…..